Nuuskommentaar: Vier Internasionale Moedertaaldag in Afrikaans

afrikaanse-taalmonument-leuse

Die Afrikaanse taalmonument in die Paarl. Foto: commons.wikimedia.org

Internasionale Moedertaaldag word jaarliks regoor die wêreld op 21 Februarie gevier. Hierdie viering geskied reeds sedert Unesco dit in 2000 as internasionale dag ingestel het. Unesco lê in hierdie viering besondere klem op die bewaring van moedertaal as die uiteindelike bewaring van wêreldwye kultuurdiversiteit.

Taal strek veel verder as ʼn blote kommunikasiemiddel en staan eerder in die kern van hoe mense se identiteit deur hul werklikheid gesmee word en hoe taal weer ten diepste hul waargenome werklikheid help vorm.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, verduidelik egter hoe ons wêreldwye taal- en kultuurskatte nie sonder enige bedreiging van uitsterf bestaan nie. Dit is juis weens groter globalisering en die afbreek van grense wat toenemend lei tot die redusering van taal as ʼn ekonomiese faktor – dit beteken dat kleiner en meer streeksgebonde tale dikwels sneuwel onder die ekonomiese welvarendheid van wêreldtale soos Chinees, Engels, Arabies en Spaans. Na beraming bestaan daar vandag sowat 6 000 tale ter wêreld met ten minste 43% daarvan wat binne enkele geslagte kan uitsterf.

Kleynhans verwys in sy kommentaar na die Kanadese filosoof en skrywer Charles Taylor wat juis klem lê op die rol wat taal speel om die gedagtes wat dit oordra ook te help vorm. Sodoende is die vertaling tussen tale ook nie so eenvoudig nie, omdat dit eerder neerkom op die vertolking tussen verskillende kulturele lewensbeskouings. Die wyse waarop een taal die wêreld beskryf, getuig regstreeks van die wyse waarop daardie taal- of kultuurgroep oor die wêreld dink en kan dink.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, verduidelik in ʼn insiggewende meningstuk hoe ons op Moedertaaldag juis met hierdie feit in gedagte ons eie Afrikaanse werklikheid moet vier. Hierdie unieke Afrikaanse werklikheid kry die geleentheid om ontbloot en gevier te word in uitstekende literêre werke soos Eugene Marais se “Winternag”. Die omvangrykheid van die werklikheidsontbloting kan uiteindelik nie doodeenvoudig in ʼn vertaling behoue bly en oorgedra word nie. Selfs nie eers ʼn vertaling van hoogstaande gehalte kan dié oorspronklike ervaringswerklikheid in ʼn ander taal vasvang nie.

Terugverwysend na die 43% van tale wat binne ʼn paar geslagte kan uitsterf – met elkeen van hierdie tale wat sou uitsterf, sal ʼn unieke werklikheidsbeskouing ook verlore gaan. Met elke unieke taal wat uitsterf, verskraal die ganse mensdom se volrondheidsbeskouing van die werklikheid. Elke moedertaalspreker se verantwoordelikheid is dus nie net teenoor die onderhouding van sy eie taal nie, maar ook teenoor die ganse mensdom – elke taal op aarde verdiep, verbreed en definieer gesamentlik die menslike werklikheidsbegrip. Selfs tale wat geen ekonomiese waarde het nie, het inherent ʼn kulturele waarde doodeenvoudig omdat dit ʼn taal is.

Ons eietydse vraag is dan wat die stand en toekomsvooruitsig van Afrikaans tans is. Afrikaans self bestaan in ʼn uitsonderlike diverse konteks met ʼn beraamde 35 dialekte wat in Suid-Afrika gepraat word. Ten spyte van hierdie wonderlike diversiteit van werklikheidsopvattings waarmee ons leef, is die oorkoepelende konteks uitsonderlik negatief teenoor formele taaldiversiteit.

Dr. Pieter Mulder, voormalige VF Plus-leier, wat deel van onderhandelinge tydens die 1990’s was, verduidelik dit ook in sy kommentaar op die grondwetlike artikels wat veronderstel was om moedertaalonderrig te bewaar. Mulder verduidelik hoe die artikels wat uiteindelik voorgestel is so wyd geformuleer is dat enigeen uit enige oord dit kon interpreteer nes hulle wil. Die Konstitusionele Hof se uitsprake wat sedertdien oor taaldiversiteit betreffende hoër taalfunksies gelewer is, is uiteindelik ook aan die hand van die politieke agenda aan die orde van die dag geformuleer. Engels het as’t ware die amptelike landstaal, universitêre taal, hoftaal en algemene omganstaal geword – ten koste van elke ander taal se hoër taalfunksies. Daardeur is nie net Afrikaans nie, maar ook alle tale in die land vervlak deur die moontlikheid van onder andere moedertaalonderrig finaal te dood.

Dit ten spyte van die magdom wetenskaplike, internasionaal erkende bewyse van die voordele van moedertaalonderrig. Dit sluit onder meer in dat abstrakte konseptualisering vir enige mens die beste in sy eie moedertaal ontwikkel word. Hoe langer mense in hul moedertaal onderrig word, hoe beter is hul uiteindelike akademiese prestasie. Moedertaalonderrig het ʼn wesenlike impak op mense se algemene geletterdheidsvlakke en sodoende ook op die taalgemeenskap se werkloosheidsvlakke.

Dit is dan byna ondenkbaar dat ons huidige regering met mag en mening moedertaalonderrig in alle gemeenskappe agterweë laat in die najaag van gestandaardiseerde homogeniteit in Engels. Veral in die lig van ons swak geletterdheidsvlakke en gepaardgaande sukkelende arbeidsmark. Dit is selfs meer ondenkbaar dat die regering ook dikwels ʼn politieke agenda teen Afrikaanse skole en Afrikaans as sodanig voer in die lig van die voortgesette prestasies van en in dié taal.

Goosen benadruk hoe belangrik dit is om nie net ʼn taal in mense se harte te laat voortleef nie, maar ook in die howe, universiteite en openbare ruimtes. Die bewaring van ʼn taal se hoër funksies is net so belangrik soos die koestering daarvan. Nes die verlies aan ʼn taal neerkom op ʼn werklikheidsverlies, kom die verlies aan hoër funksies vir ʼn taal ook neer op die verlies aan dieptedimensies. Dit is waarom dit van kritiese belang is om formele instellings uit te bou waarin en waardeur Afrikaans hierdie dieptedimensies kan behou.

Akademia hou vandag op Internasionale Moedertaaldag ʼn taalkonferensie met die tema “Afrikaans, ʼn taal met ʼn toekoms”. Die paneel bestaan uit swaargewigte in die Afrikaanse taalgemeenskap wat elkeen reeds ʼn uitsonderlike bydrae tot die florerende voortbestaan van die taal verseker het. Akademia as hoëronderriginstelling staan self as bastion vir uitnemende voortbestaan in Afrikaans en dien sodoende ook as ʼn tasbare baken van dié tema.

Deel vandag in die viering van Internasionale Moedertaaldag ín Afrikaans en word begeester deur die toekoms van uitnemendheid wat reeds bestaan! Afrikaans is in die politieke verdrukking daarvan hoegenaamd nie besig is om uit te sterf nie, maar juis om op enige en elke moontlike terrein te floreer. Daar waar dit uit openbare ruimtes verwyder word, blom dit in gemeenskapsinstellings en privaatinstellings soos waarvan Akademia self getuig.

Prof. Hans du Plessis, bekroonde skrywer, vat dit raak saam deur te sê: “[As] jy ʼn taal wil red, verbied dit!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christine

My taal, my trots. Pragtige Afrikaans, beskywende taal met die mooiste woorde. Mag Afrikaans nog lank leef en voortbestaan en met trots gepraat word op alle vlakke.

annie

Dit is skynbaar die erns van die Nuwe Suid-Afrika II-woordeboekmakers om ‘ n nuwe nie-Germaanse ge-streamline-de-woordboek daar te stel van net twintig bladsye; 18 daarvan sluit in, die slapband-cover plus foto’s van goeie ou dae voor JvR se verwoestende aankoms… Volkleur. Vir verdere woordgebruik please check Chambers, Oxford of die 6,000 jaar oue ChingXqangCxungz¥√.