Nuuskommentaar: Vir wie het die Guptas (na bewering) oorgeslaan toe hulle ministersposte aangebied het?

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

Met ministerposte wat na bewering deur die Guptas aan bykans elke Jan Rap en sy maat toegeken word, maak oom Herrie tong in die kies ook ʼn saak uit waarom hy vir ʼn kabinetspos, met ʼn splinternuwe portefeulje, in aanmerking moet kom.

Ope brief aan pres. Jacob Zuma

Mét benadeling van regte

Geagte pres. Jacob Zupta, ekskuus, Zuma

So met die lees van nuusberigte die afgelope tyd, kom die uwe tot die gevolgtrekking daar is nóg iemand belangrik wat die Guptas na bewering met die aanbied van ʼn ministerspos oorgeslaan het – vir my, oom Herrie.

Ek weet die regte Afrikaanse uitdrukking is dat kabinetsposte aan elke Jan Rap en sy maat aangebied word, maar hier is dit nou ʼn geval van elke Jonas, Vytjie en oom Herrie. Net oom Herrie se aanbod bly nog agterweë.

Ek het ook die beste kwalifikasies op papier vir die portefeulje wat ek in gedagte het. Dis ʼn nuwe portefeulje, Staatkundige Ontwrigting. Die studente-onluste sal een van die hooffokuspunte wees. Dan hoef Comrade Blade u nie kort-kort so met dolke in die oë aan te gluur nie. Insidente soos die Omar al-Basjir-geval kan ook by hierdie portefeulje ingedeel word.

Wat is een ekstra ministerie nou in u massiewe kabinet?

Soos u, as eertydse hoof van MK Intelligensie, weet, het ek die eer gehad, onder enorme uitlokking, om in die ou bedeling ʼn NP-LP hard te “blaai.” Ek moet bieg: ek is nie heeltemal so knap hiermee soos Johnny de Lange nie, wat ʼn NP-LP tot binne-in die ANC gemoker het.

Hiervoor moes ek, soos pres. Mbeki-hulle, ook ʼn “kombers”-vrywaring by die WVK kry. Dit was nogal ʼn mooi kombers, wat gemaak het dat een van die WVK se amptenare my naam ook op ʼn lys geplaas het van mense wat vrywaring gekry het.

Soos u seker ook weet, is my gesondheid ook nie tans te waffers nie. Die dokter sê dit gaan my nog ʼn jaar of twee neem om te herstel. Maar dink net, ʼn minister met ʼn doktersbrief wat bevestig hy sal vir die volgende jaar of twee amper niks kan doen nie. Met die jaarlikse rapporte van die DA en die Vryheidsfront Plus, sal daar dus gewaarborg iemand wees wat swakker punte as u kry en u sal nie die gevaar loop om laaste in die klas te staan nie.

Die enigste probleem wat ek hiermee sien, is dat heelparty mense in u kabinet se punte waarskynlik beter sou wees as hulle ook niks gesê en gedoen het nie.

Voorts het ek die onderskeiding dat ek een van die min mense is wat u idees oor ʼn ontwikkelingsekonomie verstaan. Dis eenvoudig: u maak ʼn omstrede uitspraak en die ekonomie ontwikkel die een of ander krisis.

Soos u sal sien, die aanbod om my minister te maak, het reeds ongesond lank gesloer.

Ek het die Guptas self gaan probeer spreek en die bus hier van die Rosestad na Saxonwold toe geneem. Daar gekom, sê die wagter hulle kan niemand toelaat sonder ‘n uitnodiging wat die prez gemagtig het nie. My uitnodiging het seker met die Poskantoorstaking in die pos verlore gegaan.

Die wagte het heel onplesierig geraak toe ek gevra het watter prez? Want so ver ek weet, het ons nou eintlik vier – u, as koning van Nkandla, pres. Atol Gupta, pres. Pravin Gordhan wat omtrent alles nou via sy finansies-portefeulje regeer en pres. Koning Goodwill, wat veral na die sake van buitelanders omsien.

Wat my laat dink, wat is die moontlikheid van die agbare pres. Oom Herrie?

Maar die herrie sal seker los wees.

Tog moet dit tegnies mos moontlik wees. ʼn Stellenbosse proffie het mos pas geskryf grondwetlike regte in die grondwet is nie altyd nodig en goed om op te neem nie. Nou, as ʼn mens kan kies en keur oor watter regte opgeneem behoort te word, dan kan ʼn mens seker ook kies en keur oor watter regte mens tot die grondwet wil byvoeg. En so kan daar mos maklik plek vir ʼn vyfde president gemaak word.

Dit gaan u ook help, want ek lees vanoggend daar is drie mense wat hulle messe slyp om u op te volg, naamlik adj. Pres. Cyril Ramaphosa, oud-pres. Kgalema Motlanthe en oud-eggenoot Nkosazana Dlamini-Zuma. Met nog een in die “poel” kry u darem lekker die geleentheid om te verdeel en heers.

Kyk net hoe mooi kry u dit reg met Gordhan en Monyane. Die ene verwarring en die ontwikkelingsekonomie het pas nog ʼn krisis ontwikkel.

Soos u kan sien, is ek ideaal vir ʼn ministerspos en ek sal die pos dophou vir ʼn formele uitnodiging.

Groete van huis tot huis.

Oom Herrie.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Theresa B ·

Hier is soveel gemors nou aan die gang, mens sien nie eers meer die begin of einde nie.
Wonder nou maar net of hulle regtig gedink het hulle kan wegkom met al hierdie snert en dat dit nooit uit gaan kom nie…………………….

Johann ·

Môre Oom, askuus, Minister Herrie. Baie geluk met die aanstelling wat nog moet kom. Dink net hoe lekker dit gaan wees om van die begin by die huis te wees met volle betaling en voordele! Ai tog, Oom is so slim, hoekom het ek nie daaraan gedink om Oom te nomineer nie! Want sien, ek is ‘n skadu-minister! Ek vermy die warm son en sit in die skadu en koeldrank drink terwyl Oom Herrie hom afsloof voor die tikmasjien. Ek sal tog met die volgende verandering sorg dat die Oom se naam nie bo aan die lys is nie, maar sommer klaar in die prez se oor gefluister is!
Sterkte met die gesondheid en al die mooi meisies in die blondheid. Groetnis agbare minister.

Esme Buitendag ·

Wat vir my kommerwekkend is, is die feit dat persverklarings slegs teen middernag uitgereik word. Ek is geleer dat saggies praat, duiwelsraad is en dat donkerwerk, konkelwerk is. Sonder om bevooroordelend te wees – kan dit beter gaan in ‘n sonskynland as daar net in die maanlig gekonkel word? Ek weet nie – vra maar net.

ALWYN BEETGE ·

Johann ek sien jy is sommer ministeriele kwaliteit deur en deur!

Vliegie ·

Minister van Staatkundige Ontwrigting! Oom Herrie ag ek bedoel Minister jy my nou lekker laat lag!

Wondertog ·

Ek is nou net effens nuuskierig oor u “kwalifikasies/ bevoegdheid”, oom Herrie….
Was u ook in die gevangenis opgesluit gewees vir etlike jare vir onder meer terroriste aktiwiteite, bomme wat geplant is, verraad en dies meer? Of dalk net beskuldigings in u rigting geslinger [alles ongegrond natuurlik sooswat Nkandla dan ook blykbaar is] rakende korrupsie, geldwassery, rampokkery en dies meer?

Indien wel….waar kan ek my kruisie trek om u in te stem.
Indien nie….wel, u gaan desvolgens nie so lekker “inpas” by die huidige korrupsie [verskoning] struktuur nie.

**hie-hie-hie….

Johann ·

Middag Esmé, onthou net dat alles so bietjie baie tong-in-die-kies is! Ons kyk na politiek in ligter trant en lag maar saam. Dankie vir die kompliment Alwyn, ek leer vinnig by die grootste klomp narre wat nog ooit bestaan het!

Pietman ·

….oor ons ver verlate vlaktes, waar die kranse antwoord gee…. klink die kekkel lag van oom Jacob op! Selfs hy sal die skrywe van oom Herrie as ‘ sharp sharp’ moet beskryf.

Johannes Meintjes ·

Jip, – en op die grond brand Rome met padblokkades, branstigting, aanrandings, saakbeskadiging, ekonomiese verliese, moorde, plaasaanvalle (al 17 hierdie maand) … maar wie in die Nuwe SA Gekkeparadys gee om?

KP ·

Oom Herrie, jy is op die verkeerde pad. Maak eers goeie tjommies met die Guptas en jy word enige ministers pos aangebied, solank jy net vir hulle ook sorg.

tierq ·

Oom Herrie, wat van “groete van president tot president”!!!! Dankie vir jou vlymskerp humor… nou lekker gelag!
Ai ons ou landjie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.