Nuuskommentaar: Vlugtelinge ‘noodsaak’ hande uitreik na muishonde

Argieffoto/Jaz O'Hara/Facebook

Argieffoto/Jaz O’Hara/Facebook

Dit lyk of die vlugtelingkrisis nou so ’n indruk op Europa begin maak dat die Europese Unie bereid is om met van die wêreld se ergste muishonde saam te werk om die stroom te help keer. In die proses word miljoene euro aangewend.

Europa is op die oog af betreklik weerloos om te keer dat honderde duisende vlugtelinge die vasteland oorspoel – in so ’n mate dat die media-artikels wat priemend in dié taboe delf (om die gevolglike kulturele diversifikasie en selfs verdringing te ondersoek en bespreek) duidelik toeneem.

Plek-plek bly die “normale” morele kwessies in die slag, word grense gesluit en word ooreenkomste met omstrede politieke karakters soos pres. Recep Tayyip Erdoğan van Turkye gesluit. Intussen is dit ’n voltydse aksie om die Middellandse See te patrolleer om vlugtelinge te red wie se lendelam bote nie die ruwe seetoestande kon weerstaan nie. Nogtans word die Middellandse See as die begraafplaas van vlugtelinge beskryf met derduisende wat jaarliks verdrink. Vanjaar het na raming reeds sowat 2 500 só omgekom.

Al die gate word eenvoudig nie toegestop nie.

Maar voordat na die jongste plan gekyk word wat samewerking met van die wêreld se ergste slagters insluit, is dit nodig dat vlugtig gekyk word na die kwessie van moraliteit.

Veral die Europese Unie en sy lidstate was die laaste aantal jare baie uitgesproke oor hoe voorkom moet word dat ontwikkelingshulp uiteindelik diktators bevoordeel. In baie eenvoudige terme – daar waar die regering hom goed gedra is daar geen probleem om die ontwikkelingshulp in die staatskoffers te stort nie, en verskeie Afrikalande se ganse parlementêre begroting of groot dele daarvan, word uit hierdie skenkersgeld gefinansier. Die staat word ook daarmee toevertrou om toe te sien dat genoeg van die geld só in die begroting toegewys word dat dit tot maksimale voordeel van die hulpbehoewende bevolking aangewend kan word.

In lande waar nie geglo word dat die voordeel na die hulpbehoewendes gekanaliseer gaan word nie, en eerder gebruik gaan word om die soustrein nog weelderiger te maak, word die hulpfondse dan nie in die staatskas gestort nie, maar na nie-regeringsorganisasies gekanaliseer wat aktief met die hulpbehoewende deel van die bevolking werk. In ’n stadium het Mugabe hom telkemale baie bitter teenoor NRO’s uitgelaat.

Kortom, allerlei maniere is bedink om te voorkom dat muishond-regeringsleiers hul hande op die skenkersgeld kan lê.

Nou het die Europese Unie opnuut na die prioriteite en maniere van die aanwending van skenkersgeld gaan kyk. Die prioriteit word skynbaar nie meer bepaal deur waar die grootste nood is nie, maar aldus ’n bylaag van 18 bladsye tot dié nuwe plan, daar waar die stroom vlugtelinge die beste gekeer kan word.

En dit wil al te veel lyk of heelwat werk al aan die implementering gedoen is, al is die plan pas eers by die Europese Parlement ingedien.

Die breë plan is gesamentlik deur Frans Timmermans, eerste vise-voorsitter van die Europese Kommissie, en Frederica Mogherini, koördineerder van buitelandse sake van die EU, ingedien.

Die breë plan behels dat ontwikkelingshulp gekoppel sal word aan die skep van werkgeleenthede in die vlugtelinge se lande van herkoms, en dat daardie lande ook diegene sal terugneem wie se aansoeke om asiel afgekeur is. Daardie lande moet ook beter grensbeheer toepas.

Die plan is om 8 miljard euro oor die volgende vyf jaar vir die projek beskikbaar te stel, en dit sal ook geleidelik met lande ingefaseer word. Nadat Jordanië en Libanon aan die beurt gekom het, kom Ethiopië, Mali, Niger, Nigerië en Senegal aan die beurt. Later sal ander lande moet volg.

In dié stadium bestaan daar groot onsekerheid of die EU se lidlande saam 8 miljard euro vir die plan gaan opdok.

Nie-regeringsorganisasies is erg krities oor die plan en sê Europa wil hiermee arm lande afdreig.

Noudat die detail van die bylaag aan die lig kom, staan die hare nog meer regop. Die twee prioriteitslande in Afrika is volgens die bylae in werklikheid Eritrea en Soedan. Eritrea se menseregterekord, gebrek aan persvryheid en bykans enige ander moontlike vergryp soos marteling, staan op al wat indeks is soos ’n seer duim uit. ’n Ondersoekkommissie van die VN het pas sy tweede verslag oor Eritrea die lig laat sien, en bevind dat dié land reeds sedert 1991 hom skuldig maak aan misdade teen die mensdom, wat foltering, moord, die verdwyning van mense, verkragting, slawerny en ander insluit. Die kommissie beveel aan dat die saak na die Internasionale Strafhof verwys moet word.

Suid-Afrikaners is wel deeglik bewus daarvan dat die Internasionale Strafhof twee lasbriewe vir die inhegtenisname van Soedan se pres. Omar al-Basjir uitgereik het.

Nou word met hierdie regerings saamgewerk weens hul sleutelposisies nie net in die herkoms van vlugtelinge nie, maar omdat veral Soedan as belangrike deurgangsroete vir vlugtelinge van elders beskou word om Libië te probeer bereik, en van daar Europa. “Entrepreneurs” buit vlugtelinge genadeloos uit met die “pakkette” wat hulle aanbied om mense via smokkelroetes in Europa te kry.

’n Woordvoerder van die Europese Unie beklemtoon egter dat die projek, wat 46 miljoen euro sal kos, nie deel uitmaak van die projek waardeur die EU ’n vennootskap met Afrikalande oor vlugtelinge wil sluit nie. Hy sê ook dat nie ’n sent van die geld na die twee lande se owerheidstrukture sal gaan nie.

Daar is dus steeds ’n sensitiwiteit oor die moraliteitskwessie, maar die hoë prioriteit wat aan die twee swartskape geheg word, dui daarop dat die impak van die migrasie op Europa ook reeds ’n gleufie van skisofreniese denke oopforseer het.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

G J de C K ·

Shakespeare het geskryf: “Misery acquaints a man with strange bedfellows…” maar ek wonder of hy in sy gedagtes sulke tye vir Europa voorsien het.

Dit is teleurstellend vir die ganse Westerse beskawing dat die beste ekonomiese en politieke masjienerie ten beste ingespan word om dié enorme (en snel-groeiende) probleem bloot te verskuif pleks van dit aan te spreek: nie omdat die vermoë ontbreek nie maar die politieke wil (ware leierskap) lamgelê is deur die moderne “wysheid” van liberale demokrasie.

Rupert Ashford ·

En so sal Europa vernietig word terwyl hulle tob oor moraliteit. En in nog ‘n deel van die derdewereld omskep word. Meerderheid is nie vlugtelinge nie maar fortuinsoekers wat nie belangstel om hulself te gaan verbeter nie maar op die welsynstate wil gaan teer.

Grap ·

Die instroom van die vlugtelinge gaan die Europese lande se ekonomie seermaak en oor ‘n paar jaar gaan hulle minderheid groepe in hulle eie lande wees dan is dit te laat

Julie J. van Rensburg ·

Soos ekj sake tot dusver bekyk het, is hierdie hordes sg. “vlugtelinge” inderdaad niks meer as militante MANS (mens sien feitlik nie ‘n enkele VROU of KIND onder die invallers vanuit die sg. “oorlog-gebiede’ nie – en hierdie “vlugtelinge” is eintlik daarop uit om Europa in ‘n kalifaat te omskep, “come hell or high water” want hulle dwing die Europeërs om aan hulle eise gehoor te gee; hulle moor, roof, verkrag, steel sover hulle gaan en dreig dat Christene na die Islamietiese geloof moet oorgaan -of anders. Met ander woorde, al hierdie dinge is ‘n set om die hele wêreld na die Moslem geloof oor te dwing…. Reg of verkeerd? En as hulle WERKLIKE vlugtelinge uit oorlog-geteisterde lande kom, waarom bring hulle nie hulle hele gesinne saam nie? Nee – dis twak, daardie – as dit werklik die geval was, is hierdie militante mans niks anders as ‘n spul lafaards nie wat bereid is om na hulle families om te sien en dink net aan hulleself – inderdaad, baie van hulle gedrag stem presies ooreen met wat hier in ons eie heimat gebeur – die sogenaamde “mans” (nie almal nie maar die oorgroote meerderheid ) steek die land aan die brand, vernietig alles voor die voet en “demand, demand, demand” so ver hulle gaan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.