Nuuskommentaar: Voortrekkermonument se noodkreet: Help ons om dié ramp te oorleef

Die Voortrekkermonument. Foto: Facebook

Die Voortrekkermonument en verwante bedrywe van die monument en Erfenisstigting is weens die Covid-19-pandemie diep in geldelike moeilikheid. Dit kry geen staatsfinansiering nie. Kan veral die Afrikaanssprekende gemeenskap dié kultuurbaken red te midde van die enorme finansiële eise wat die pandemie aan elkeen stel?

Min dinge simboliseer die Afrikaner se ryke kultuur soos die Voortrekkermonument, maar juis noudat ’n beplande verslapping van die landwye afsondering weens die Covid-19-pandemie aangekondig is, gryp dié noodkreet aan die hart: “Help asseblief, red die Voortrekkermonument!” (Die volledige verklaring kan hier gelees word.)

Die omvang van die negatiewe implikasies van die pandemie is so groot dat dit moeilik in een oogopslag ingeneem kan word. Die eerste, ooglopende gevolg is ekonomies van aard, wat self ’n wye front bestryk. Dit bestryk die hele ekonomiese spektrum op makro- en mikro-ekonomiese skaal. Dit raak huishouding tot huishouding, en elke liewe mens word geraak. Daar word wyd ondersoeke gedoen om die sosiologiese en sielkundige aspekte te verstaan, en daar word mildelik uit die ervaring van ruimtevaarders geput. Maar daar word ook nou omgekeerd gekyk na die effek van die staat van inperking op gewone mense, ook sodat daar beter voorafkennis is wanneer ruimtevaart nie meer streng gekeurde mense die ruimte laat betree nie, maar ander pioniers op ’n wye verskeidenheid terreine.

Die afsondering noodsaak ook die behoorlike inspan van die kuberruim, soos kubertoerisme wat nou ’n versnelde poging aanwend.

“Ná Covid-19 sal niks ooit weer dieselfde wees nie. Nie eens hierdie monument nie. Help ons om dié ramp te oorleef,” lees die Voortrekkermonument se noodkreet.

Hoewel deel van ’n nasionale erfenisterrein, kry die monument geen duit uit die staatskas nie. Die direksie se verhouding met die regering is goed en die nood wat nou beleef word, is die ongelukkige verloop van die pandemie, en nie kwaadwilligheid nie. Met die verklaring van die ramptoestand is die Voortrekkermonument gesluit en verbeur hy inkomste uit sowat 180 000 besoekers per jaar.

Met daardie inkomste was die monument dikwels finansieel beter daaraan toe as ander monumente en museums wat staatsfinansiering ontvang, en boonop veel erfenis moet verbeur, soos uitgebreide funksies, gewoonlik slegs in Engels, veral in terme van literatuur en navorsing, en dikwels bykans verwoestende verwaarlosing. Só het die oorlogsmuseum in Bloemfontein slegs ’n Engelstalige webwerf. Die Afrikaanse Facebook-blad is afgesien van bydraes deur die Afrikaanse Taalmuseum ook eintlik slegs in Engels.

Dít, terwyl die Afrikaner ook gereeld wal moet gooi teen veldtogte om Afrikanerstandbeelde teen aanslae van veral die EFF-ondersteuners te beskerm. Ook die Afrikaanse Taalmonument op Burgersdorp is al gevandaliseer.

Die aanslag teen Afrikaans word deurlopend gestook al is die meeste Afrikaanssprekendes nie wit nie. Pansat, wat eens bevind het die Vrystaat se nommerplate behoort ingevolge die Grondwet naas die FS ook VS toe te laat (en eens die regering self as die grootste oortreder van taalregte uitgewys het), is wesenlik tot niet gemaak en nou ’n vaal politieke instrument. Selfs die Konstitusionele Hof is al as ANC-transformasieagent uitgewys.

Die destydse grootliks verarmde Afrikaner het met sy pennies en tiekies wondere verrig om geld in te samel ter ondersteuning van sy kultuur, soos om die Vrouemonument te kon oprig. Nou, waar die verarmde status weer dreig, onder meer weens die hardkoppigheid van sekere ministers, is daar weer ’n aanslag om wit mense van hulp uit minstens sekere aspekte van die hulppakkette van die ramptoestand te weer. Solidariteit en AfriForum is onderweg hof toe hieroor.

Lees gerus ook Agri SA en TLU SA se gesamentlike verklaring waarin hulle hul keelvolheid uitspreek teenoor die regering se algehele ontkenning van landbouers en hul behoeftes. Die strekking van die verklaring herinner sterk aan Piet Retief se manifes. Dit val nou saam met wydlopende kommer oor voedselsekerheid, wat ook weer met plundering verband hou.

Lees gerus Hanno Labuschagne se artikel in My Broadband, asook sy verwysing na ’n opmerking van dr. Jackie Cilliers van die Instituut vir Sekerheidstudies: “Head of African Futures and Innovation at the Institute for Security Studies Jakkie Cilliers, said the threat of violence over a lack of food and income is real. ‘The reality is simply that poor people in informal settlements have no option but to find ways of getting food and sustenance on the table. So I think there is a significant threat and concern about this.’”

Selfs al sou die regering die Voortrekkermonument “red” deur dit ’n Engelstalige regeringsvasaal te probeer maak (waarvoor daar nie nou geld is nie), sou dit ’n belangrike kultuurverlies vir die Afrikaner wees as staatsafhanklikheid ook hierdie stukkie kulturele outonomie moet insluk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

die covid-19 gaan baie goed, besighede ingesluit laat toemaak, slegs die plekke wat die kaders hulle vingers in het sal oorleef

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.