Nuuskommentaar: Vooruitsigte vir 2014

Argieffoto

Argieffoto

“Omtrent al wat seker is, is dat alles onseker is.” As gekyk word hoe sake in 2013 verloop het, is daar min rede om te aanvaar dat toekomskundiges dié keer meer akkuraat sal kan bepaal wat gaan gebeur.

Maar daar is wel een aspek waaroor die Christen binne die raamwerk van God se raadsplan ‘n bydrae kan lewer, hoe gering ook al, om die koers van 2014 te bepaal – dit wat hy of sy self gaan doen. In die Ou Testament lees ons verskeie kere dat Dawid en ander onderneem om sekere dinge te doen “so seker as dat die Here leef”. Ons kan kies om die regte ding te doen, of ons kan kies om die verkeerde ding te doen. Om die regte ding te doen het ook nie altyd aangename gevolge vir die doener nie, maar in 1 Petrus 3: 11 – 14 lees ons: “Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie.

In vers 17 lees ons: “As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.”

Word die nuwejaarsboodskappe van regeringshoofde met mekaar vergelyk is dit opvallend hoe die boodskappe uit die meer suksesvolle lande verskil van dié van regeringsleiers van ploeterlande. Een van die sterkste boodskappe het van die Duitse kanselier, Angela Merkel gekom. Sy het die individue aangeraai om saam te staan, hulself te verbind en toegewyd te wees. “Wat elkeen op sy eie doen mag klein in omvang wees, maar dit bepaal wat die staat as geheel bereik.” Sy het daarop gewys dat die staat kan investeer en omstandighede kan skep wat bevorderlik is vir vooruitgang, maar beleid self kan min vermag sonder die energie van die burgers.

Hierteenoor beskryf die bekende politieke kommentator Theo Venter op sy Facebook-blad pres. Jacob Zuma se nuwejaarsboodskap as oninspirerend (en met ‘n vlieg in sy gesig). Zuma se boodskap fokus inderdaad nie op die hand aan die ploeg slaan nie, maar eerder op die uitoefening van regte. Oor die “harde werk” wat voorlê is die beste riglyne wat hy verskaf ‘n verbintenis tot die nasionale ontwikkelingsplan. As die fokus op ontvang, eerder as die moue oprol val, sal uitpresterende gemeenskappe steeds ervaar dat hulle as die hennetjie beskou word wat die goue eiers lê, en ter wille van “gelykheid” geslag moet word.

Die rol van burgerlike instellings soos Outa, AfriForum en Solidariteit om die slopersmentaliteit, en die mentaliteit van teer op ander eerder as arbeidsaamheid te stuit, word al hoe belangriker. Vanjaar is daar wel ‘n verkiesing, en kiesers wat die land iewers heen wil neem het ‘n dure verantwoordelikheid om ‘n skoon administrasie en hardwerkendheid so te bevorder.

Omdat die volgende persvryheidsindeks binnekort vrygestel word, lyk dit onafwendbaar dat Suid-Afrika te midde van die Nkandla- en Guptagate-kwessies en die beplande snoerwet die afwaartse momentum nou sal volhou. Wat die korrupsiepersepsie-indeks betref, is daar byna ‘n jaar oor om die tuimeling die afgelope aantal jare te stuit.

Elke burger het ‘n verantwoordelikheid om te help keer dat die misdaadsyfers net “op die boeke” beter lyk, maar om te help verseker dat die land inderdaad ‘n veiliger plek word vir elkeen om in te leef.

‘n Mentaliteit soos om te redeneer dat “almal op die paaie jaag en roekeloos bestuur, en ek daarom ook” is die reep vir anargie en rampspoed.

Zuma en ander lê baie klem op die belangrikheid om die nalatenskap van Madiba te eer deur dit uit te leef. Die probleem is dat die herinneringe aan wat dit is, baie selektief word, en Mandela se rol as versoener dikwels heeltemal vergete raak. En waar versoening wel onthou word, word ‘n bisarre inhoud daaraan gegee, soos die burgemeester van Tshwane wat Pretoria, die stad, se naam wil verander “ter wille van versoening”. Versoening is immers ‘n tweesnydende swaard.

Dit is altyd goed om te put uit die lesse van die verlede – lesse afkomstig van veel meer as net Mandela. Bou op die lesse wat positiewe gevolge gehad het, en vermy om dieselfde foute oor en oor te maak.

In 2014 gaan die rol van die kuberruim nog groter word as in die verlede. Ontleders probeer juis ‘n perspektief ontwikkel oor hoe dit die komende algemene verkiesing gaan raak. Maar terwyl die impak van die kuberruim hand oor hand toeneem, word daar wêreldwyd kop gekrap oor maniere om dit ook te suiwer van haatspraak en om ander misbruike te stuit. Dit is ongelukkig so dat die opsies van anonimiteit dit vir mense met persoonlikheidsgebreke moontlik gemaak het om hulle ten koste van ander uit te leef.

Voorspoed word vir elkeen in 2014 toegebid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jj els ·

Hein, goeie rubriek. Ek dink jy moet net kyk na jou spelling. Mens “vermy” iets, nie “vermei” nie.

Sune van Heerden ·

Dankie, ons het die wysiging namens Herman Toerien aangebring.

Groetnis
Suné
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.