Nuuskommentaar: Vorentoe met Agang of kreeftegang?

Agang se leier, dr. Mamphela Ramphele. Foto: Werner Beukes/Sapa

Agang se leier, dr. Mamphela Ramphele. Foto: Werner Beukes/Sapa

Min dinge het so ‘n negatiewe uitwerking op ‘n party se verkiesingsaanslag as die bekendmaking van sy kandidatelyste. Onvermydelik is daar teleurgesteldes wat nie hoog genoeg op die lys beland om verkies te word nie. Dikwels vereis partye dat diegene op die lyste, al is hul name hopeloos te laag om enigsins ‘n kans te staan om verkies te word, ‘n fris bedraggie tot die party se koffers bydra. En word jy nie verkies nie, word jy, of bly jy dikwels werkloos. ‘n Enorme kontras oor hoe die dobbelsteentjie val.

Met die bekendmaking van die DA se kandidatelyste is gou bepaal wie beslis “in” sal wees, wie dalk “in” sal wees, en wie selfs onder die beste scenario “uit” sal wees. Die geval Niekie van den Berg, die oud-RSG-man wat met die vorige verkiesing spesiaal as kandidaat gewerf is, maar nou te laag op die lys is om “in” te kan kom word genoem.

Met die bekendmaking van die DA se lyste is ‘n aantal name geheim gehou. Van die name, soos die bekende Glynnis Breytenbach, het intussen bekend geword. Maar spoedig het die nuus begin loop dat Agang SA, die jaar-oue party van dr. Mamphela Ramphele, met die DA gaan saamsmelt. Na berig word, word die aankondiging vandag om 10:00 gedoen.

Onvermydelik word berig dat daar waarskynlik ook lang lippies in die DA sal wees van kandidate wat in die proses sal moet terugstaan of wie se verkiesbaarheid op die lys in die gedrang gaan kom.

En na ‘n belowende begin en nog groter verwagtinge – presies wat kan Agang nog as waarde tot die DA toevoeg? Die peilings dui aan dat Agang in die orde van een persent steun het, en as dit net so na die DA oorgeplaas kan word, sal dit ‘n bykomende vier, en miskien vyf setels beteken.

Maar die geskiedenis het geleer dat in die politiek 3 + 1 nie altyd 4 oplewer nie. Daar was al gevalle dat die sommetjie 2, of selfs net 1 opgelewer het, en daar was gevalle waar die sommetjie 5 of meer opgelewer het. Koalisies en samesmeltings vereis ‘n eiesoortige vernuf om te voorkom dat kiesers wat van die oorspronklike partye gesteun het, veral as dit nispartye was, nie voet in die wind slaan nie. ‘n Paar van Patricia de Lelle se vernaamste ID-ondersteuners is nou na die samesmelting met die DA van die ANC se voormanne.

In die Suid-Afrikaanse politiek waar dit egter baie dikwels nie oor sake soos beginsels en beleid handel nie, maar ‘n blinde instink van saamstaan om die ANC te stuit, of deur pragmatiese oorwegings soos om deur die oorname van munisipaliteite en provinsies “eilande” te begin skep waar dienste wel gelewer word, en verkieslik doeltreffend gelewer word, en waar geglo word geen, of ten minste minder ruimte vir korrupsie gelaat word.  Pres. Jacob Zuma se stelling tydens ‘n verkiesingstoespraak dat die ANC die enigste party is wat korrupsie beveg, word erg skepties en selfs minagtend buite die ANC ervaar.

Daarvoor “skree” Nkandla net te hard, en hoekom sou Suid-Afrika dan die afgelope aantal jare byna 20 plekke op die korrupsiepersepsieindeks val, en op die omkoopindeks deur lande soos die DRK en Nigerië “uitgestof” word?

Dit is baie moeilik om te bepaal wat Agang tot die DA sal toevoeg. Dit is selfs moontlik dat Agang los van die DA vir die DA meer werd sou wees, omdat die bestaan van partye soos Agang en Julius Malema se EFF dit moeilik vir die ANC maak om weer van die verkiesing ‘n rassesensus te maak. Daar is nou net te veel swaargewig swart gesigte buite die ANC, swart gesigte wat nie as “coconuts” afgemaak kan word nie, wat dit vir Zuma en kie moeiliker maak om swart kiesers te oortuig swart mense verraai hul eie belange as hulle nie vir die ANC stem nie.

Nie dat Zuma nie probeer nie. Hy het pas in die Oos-Kaap weer die land se probleme voor die wette van die vorige regering se deur gaan sleep.

Stel Ramphele haar nie nou bloot daaraan om ook maar tot die geledere van die “Coconut”-galery gevoeg te word nie, ongeag hoe ‘n senior amp sy in die DA gaan beklee? Of word gemeen dat sy as leier van Agang en in haar vorige hoedanighede haar spore genoegsaam verdien het om nié die slagoffer te word van persepsies oor die DA wat die ANC lewend probeer hou nie?

Gaan die jongste, verwagte verwikkelinge die kantelpunt beklemtoon waar meer Afrikanerlede wat via die NNP-huwelik in die DA beland het, so ontuis gaan begin voel dat daar ‘n beduidende uittog sal wees? Die Vryheidsfront Plus het immers op 21 Januarie reeds ‘n mediaverklaring uitgereik waarin gemeld word dat die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuku, gesê het die DA moet van wit nasionaliste ontslae raak. Die VF Plus se parlementêre leier het hierop gesê: “Wat sy eintlik sê is dat enige wit kieser wat nie skaam is dat hy/sy ‘n Afrikaner is nie, is nie welkom in die DA nie.”

Die Burger meld dat baie van Ramphele se eertydse vennote haar die rug toegekeer het. Vroeër was daar berigte van geldnood. Agang het nie aan tussenverkiesings deelgeneem nie, en nie oortuigend op brandpunte soos die tussenverkiesings in Potchefstroom toegeslaan nie. Stemme uit swart akademiese kringe wat as duidelike steun vir Agang vertolk is, het stiller geraak. Sy is deur die weerbarstige snuiter Malema in die skadu gestel, selfs is dit indruk gewek dat sy nog ‘n stewiger “mediavakansie” geniiet as wat die werklikhede bepaal.

Die algemene indruk was dat hoe gouer Agang sy eie eindfluitjie blaas, hoe meer van sy eertydse statuur word beredder. Sou die samesmelting wel plaasvind, sal die DA en Ramphele nog heelwat reputasie-kapitaal hê om Ramphele ‘n tweede politieke lewe in te blaas.

Soos wat nuus oor die ANC se kandidatelyste bekend word, so sal die samestelling daarvan ook uit opposisiegeledere onder skoot kom. Die teenwoordigheid van mense wat op die oomblik vir sake soos bedrog tereg staan, sal goeie skietgoed wees. Die ANC se verweer dat dié mense nog nie skuldig bevind is nie, word yl teen die agtergrond dat van die destydse “Travelgate”-oortreders (wat wel skuldig bevind is) nog steeds parlementêre sitplekke warm hou, en die komitees se peperduur verversings verorber.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Die nuus is natuurlik nou reeds bekend dat dr Mamphela Ramphele die DA se presidentskandidaat in die komende verkiesing sal wees. Dit gaan ‘n nuwe dimensie aan die DA en dusdanig aan die gang van sake in die politiek ook gee.

Diegene aan die rand van die DA sal waarskynlik nie hou van die verloop van sake nie maar andersyds kon daar nie iets meer konkreets gebeur het om die politiek in Suid-Afrika meer momentum te gee nie. Met hierdie brawe en vernuftige stap, het die DA nou finaal sy etiket as ‘n blanke-oorheerste party afgeskud en behoort hy nou met nuwe selfvertroue voort te stu na die verkiesing later vandeesjaar.

Dit is ‘n onbetwisbare feit dat ‘n enge ras- of kleurgedrewe politieke party nie meer veel bestaansreg het nie – rasgeintegreerde politiek is die voorland vir Suid-Afrika en het alle rede, vir die afsienbare tyd, om te oorleef. Dit is gegrond op samewerking en huldig ander waardes as byvoorbeeld die ANC wat steeds ‘n “bevrydings- en haatpolitiek” verkondig en wat regeer by wyse van politieke aanstellings wat hoofsaaklik gekenmerk word deur onbevoegdheid.

Die DA behoort ‘n kans gegun te word om die momentum wat hy nou opbou, voort te sit en verder bewys te lewer dat hy beter as die ANC kan regeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.