Nuuskommentaar: Vra my broer Frik …

waarheidDie Oxford Dictionary se verklaring van die woord “post-waarheid” tot 2016 se woord van die jaar, ruk ’n mens tot besinning. Hoeveel geloofwaardigheid kan daar in enige instelling, die regering ingesluit, wees as kluitjies bak deel van die werkswyse geword het?

Die Oxford Dictionary het die woord “post-waarheid” tot 2016 se woord van die jaar verklaar, skryf ds. Etienne Fourie, redakteur van die NHK se Blitspos, in ’n hoofartikel.

Is dit nie ’n verskriklike aanklag nie?

Suid-Afrikaners is immers gewoond aan ’n politieke styl wat wyd met die waarheid omgaan. ’n Private swembad op Nkandla waarvoor die belastingbetalers opgedok het, was lank ’n “brandpoel,” om maar een voorbeeld te gee. Dit is van bo tot onder uit deur die ANC verdedig.

Pres. Jacob Zuma en ander se stelling dat wit mense swart mense se grond gesteel het, word deur die ad hoc-komitee oor grondbesit as “die groot leuen” beskryf.

Kenners het lank politiek korrek hierdie soort blatante leuens probeer ontleed asof dit bloot gekodifiseerde weergawes van die werklikheid is. Hoogs ingewikkelde uitlegte waar onder meer die regering se woordeskat-kultuur (eie jargon) ingespan is om te verduidelik dat eintlik iets heel anders – en dan die waarheid – bedoel is.

Hier en daar probeer een nog om dit te doen, maar oor die algemeen slaan die agtergrond waarteen die destydse premier Mahlangu van Mpumalanga gesê het dis in die haak vir politici om te jok tog maar uit.

In ’n heterogene land met ’n verdeelde geskiedenis is dit vanselfsprekend dat gevalle sal voorkom waar die een se held die ander se muishond is. Pas het Solidariteit adj.pres. Cyril Ramaphosa aangespreek oor die helde-huldeblyk aan die ontslape diktator, Fidel Castro.

Maar het Ramaphosa in die konteks van die ANC se weergawe van die geskiedenis gejok? Is dit reg van ’n waarnemende staatshoof om so op die opvattings en gevoelens van ’n deel van die bevolking, wat geliefdes afgestaan het, te trap?

Politieke kluitjies in Suid-Afrika is nie nuut nie. Dink maar aan die R10 000 wat aan die volgende Suid-Afrikaanse atleet beloof is wat ’n wêreldrekord sou opstel, maar toe Zola Budd dit doen, is die belofte skoonveld. Of die referendum vir republiekwording BINNE die statebond, en ná die referendum is ’n republiek BUITE die statebond uitgeroep. Of die referendum oor die 1983-grondwet waar regeringslui almal dit hard op die hart gedruk het dat die uitslag nie as ’n “ja” vir hervorming gesien sal word nie, maar die oomblik toe dit blyk dat die ja-stem geseëvier het, is dit aangeprys as ’n “ja vir hervorming”.

Liefs moet min gesê word oor die referendum, en veral vermiste tweede referendum rondom die Kempton Parkse onderhandelings.

Tog is dit miskien nie gepas om Suid-Afrika as voorbeeld vir post-waarheid te gebruik nie. Hier is wyd omgaan met die waarheid al ’n baie ou verskynsel. Kort-kort word iemand van selfs meineed beskuldig. Die grappie oor hoe ’n mens weet wanneer ʼn politikus lieg? – (sy mond gaan oop) kom immers nie van gister af nie.

Die verkiesing van Donald Trump en die stemming oor Brexit belig dit veel meer as ’n verskynsel wat vanjaar die oog getref het. Fourie stel dit so: “Die gebruik van die term post-waarheid het na vore gekom tydens die Brexit-debat in die Verenigde Koninkryk toe albei kante van die debat of hulle die Europese Unie moet verlaat of nie, baie los en vas met die waarheid omgegaan het en veral daarin geslaag het om blote bespiegelings as feite aan te bied.

“Die absolute meester op die gebied van post-waarheid was egter Donald Trump. Die webwerf Politifact beweer dat Trump tydens die verkiesingsveldtog uitsprake gemaak het waarvan 70% van wat hy gesê het, gewissel het van onwaarhede tot flagrante leuens. Die ironie is dat meningspeilings gewys het dat Trump beskou is as verreweg meer eerlik as Hillary Clinton.”

Trouens, die peiligsagentskap Rasmussen het gister die uitslae bekend gemaak van ’n peiling wat nou daarop dui dat Clinton en baie van haar ondersteuners glo Clinton se bootjie is gesink deur valse nuus (fake news) op webwerwe. Hulle glo die doelbewuste verspreiding van vals inligting het hul kandidaat laat verloor (al het sy 200 000 stemme meer as Trump gekry).

Die New York Times berig teen die agtergrond van die verkiesingsuitslag omvattend oor hoe groot internetbedrywe soos Google en Facebook nou jag maak op nuuswebwerwe wat vals inligting versprei. Daar word onder meer druk op adverteerders uitgeoefen.

Maar hoe laag moet ’n mens daal dat jy ’n webwerf sal skep en bedryf met die doel om vals inligting te versprei?

Boonop moet mense nog sin maak te midde van geplooide nuus van ’n paar lande se propagandadienste. Die bekendste is seker die Russiese diens wat vanuit St. Petersburg bedryf word, en onlangs eers aan die lig gekom het toe ’n oud-personeellid ’n arbeidsregsaak teen die diens aanhangig gemaak het.

Fourie skryf voorts: “Navorsers aan die University College London sê dat die amigdala, dié deel van die brein wat emosies verwerk en daarom verantwoordelik is daarvoor dat ’n mens skuldig voel as jy ’n leuen vertel, stelselmatig minder reaksie toon hoe meer leuens jy vertel. Selfs noodleuens werk mee dat die amigdala onsensitief raak en daarom minder reaksie toon wanneer mense jok.”

Daar is natuurlik kultuurgebruike, soos dat dit jou plig is om ’n familielid of stamverwant wat verbrou het los te probeer lieg. Hierdie gebruike word gelukkig geleidelik afgetakel omdat dit byvoorbeeld die regspraak erg frustreer het.

Daar is ook die probleem van mense wat patologiese leuenaars is, waar die sielkundige probleem diep gesetel is.

Tog is behoorlike regering, of dan bestuur op alle vlakke, gegrond op die vereiste dat inligting korrek moet wees. Regerings hou onder meer om hierdie rede professionele intelligensiedienste aan.

As die post-waarheid egter gaan inwurm waar dit nie bekostig kan word nie, dan is ’n land in die moeilikheid.

As Suid-Afrika meen hy kan deur bekpraatjies en beloftes graderingsagentskappe sover kry om die land nie op die langer duur tot rommelstatus af te gradeer nie, maak hy ’n fout. Daardie bekpraatjies moet in die praktyk begin neerslag vind.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Schalk ·

Politikuste is soos die spreekwoordelike mooi weers vriende. Hulle verskyn en verdwyn soos hulle jou benodig. As jy op hulle reken is daar geen reaksie of toegang tot hulle ondersteuning nie. Kom verkiesing tyd is daar net plakate en optredes en beloftes van die mooie Eden Paradys wat hulle gaan skep. O ja, en T-Hempde en pap en braaivleis. Busse vir gratis vervoer na stemlokale ens. ens ens. Die DA is gehelp deur die meerderheid blankes om so goed te doen in die onlangse verkiesings. Daarna sien of hoor ons niks. Die EFF is elke dag in die nuus met gemors pos. Die ANC vrot voort. Die res byt hakskene. STEM het tydmors geraak want korrupsie is KONING

Theuns ·

Uitstekende kommentaar Herman. Dit was nou sommer lekker lees! Dankie.

Johann ·

Probeer nou díe intelligente feitelike gesprek met n paar prominente “leiers” voer en sien hoe vinnig absurdhede na vore kom. Verklarings en verskoni ngs vir regverdiging van LIEG!

Hendrik ·

As ek so kyk na Trump se gewildheid, lyk dit nie vir my of meeste Afrikaners n probleem het met “post-waarheid” nie. Of is obs dalk net sleg ingelig? Hoekom sou ons dit van Trump verduur, maar nie van Zuma nie?

John ·

… en dis maar weer die media wat ons die ‘waarheid’ vertel. Peilingsagentskappe kan ook nie vertrou word nie, is uit die perd se bek verneem. Hulle is ook gemuilband. Soos voor die gedrukte woord, dra die pers ‘n storie oor en las stertjies by. Clinton het haar veldtog tot op die uiterste vlak gevoer. Volgens berigte is sy nou besig om onder ‘n dekmatel stemme te laat oortel en die datum van bevestiging van Trump te oorskry en hom sodoende uit te druk. Clinton speel vuil en die media speel dieselfde deuntjie omdat dit nie nou skielik gaan erken dat hulle deur ‘n ou slapriem gevang is nie.

Rupert Ashford ·

Hendrik praat jy nou van dieselfde storie as die sg “fake news” polimiek wat ook tans rookseine opstuur? Die ironie is almal probeer nou vir ou Donald aan die eeee….. kraag gryp oor die sg “post waarheid” maar as mens die wikileaks DNC dinge gaan lees was dit juis sg “betroubare” nuusbronne soos CNN, MSNBC, CBS, MSN, Politico en andere wat blatant betrokke was by manipulasie van nuus, data, meningspeilings ens. En nou is dit daardie selfde organisasies die wat die hardste huil oor sg “fake news”. So is dit nou ‘n kwessie van “dis reg om propaganda die wereld in te stuur solank ons net die plebs dwing om na ‘ons’ propaganda te luister en net nie ongewensde propaganda nie? En wie besluit wat is gewens en ongewens? Nog steeds 1984…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.