Nuuskommentaar: Vrae oor die waarheid kenmerk 2020-begin

Fopnuus het so alledaags geword dat die mate waarin moraliteit ’n rol in die waarheid se toepaslikheid speel bloot van die voorsiene “pragmatiese” uitkomste afhang, eerder as dat dit nog ’n element van die sogenaamde morele hoë grond is. Moraliteit het eintlik irrelevant geword. Of anders gestel, die waarheid word slegs ’n geriefsinstrument as dit ’n voordeel inhou, en met leuens vervang as die leuens meer voordele inhou. Nou is daar praatjies van ’n Derde Wêreldoorlog.

Die manier waarop mense wêreldwyd met die waarheid omgaan, het so ontwikkel dat die woord “fopnuus” (fake news) net so alledaags soos die aanwending van fopnuus self geword het. Dit herinner ook aan die speletjie waarin ’n geblinddoekte die fopstert met ’n naald vir ’n ander deelnemer moet probeer aansteek.

Die invloed van fopnuus word selfs beskryf as die laagtepunt van ’n dekade van Britse hedendaagse politieke geskiedenis. Maroela Media het verskeie kere in hierdie rubriek ook na die verskynsel en die implikasies verwys. In ’n baie onlangse voorbeeld, en spesifiek in die konteks van pres. Cyril Ramaphosa se Versoeningsdag-toespraak waarin ’n erg kritiese “weergawe” van die gebeure rakende die slag van Bloedrivier vir die tweede agtereenvolgende jaar opgedis is, is onder meer na Ramaphosa as Ramannoccio verwys.

Hierdie verwysing het gisteraand by die naam op die RSG-program, Kommentaar, onder die loep gekom, en daartydens het die aanbieder, Ivor Price, aan die paneellede gevra of hulle saamstem. Dit sou subjektief wees vir die uwe om op die reaksie te reageer, of woorde in die paneellede se mond te lê, en daarom is die potgooi van die program die beste getuie. Die opmerking dat Ramaphosa waarskynlik deur swak raadgewers ingelig word, is wat die uwe betref voldoende bevestiging dat die president die burgery met kluitjies bedien. Of dit nou doelbewus is, dalk op ’n rasgebaseerde narratief gegrond is, kwaadwillig en dus in stryd met die president se ampseed is – dit was nie deel van die oorspronklike standpunt nie.

Die probleem bly dieselfde – die onjuiste weergawe is verdelend. Heel toevallig neem Rapport se bekroonde rubriekskrywer, Nathan Trantaal, in sy kenmerkende Kaaps die kwessie van die rol van die waarheid ook gister onder die loep onder die titel As iemand iets stupid glo en dit sy “truth” noem. Trantaal glo nie die waarheid kan subjektief wees nie, maar menings en opvattings wel.

Die enigste waarheid is dus nié dat die waarheid die grondslag van “feitestellings” is nie, maar wel hul aannames daarvan. Die modewoord wat nou gereeld gebruik word, en daarom ook gereeld in hierdie rubriek opduik, is “narratief”. In die sewentigerjare het ’n afgetrede geskiedenisonderwyser van Winburg vertel dat hy as latere dosent aan ’n swart onderwyskollege in Pretoria afgedank is omdat hy weerstand gebied het teen die narratief van die swart studente dat swart mense met die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap reeds daar gevestig was, en dat die traktaat tussen Dingaan en Piet Retief ’n vervalsing was. Dit wil voorkom of die kollege-owerhede reeds destyds vir studente-onvrede gegrond op ’n narratief gevrees het.

Van ’n president word immers verwag om sy hulpbronne te kan aanwend om die waarheid vas te stel, eerder as om narratiewe as waarheidsbron in te span. In hierdie rubriek is al verskeie kere gemaan oor die konflikpotensiaal in die opvatting dat wit mense hul grond bekom het deur dit by swart mense te steel, terwyl onder meer die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit dit as die Groot Leuen uitgewys het.

Nou, volgens verskeie waarnemers, is daar ’n sterk moontlikheid dat Iran en die VSA in ’n volwaardige oorlog betrokke kan raak, of selfs dat die kanse vir die uitbreek van die Derde Wêreldoorlog moontlik is. Dis ironies nie soseer die ware feite wat die konflikpotensiaal bepaal nie, maar ’n uiteenlopende klomp narratiewe wat fopnuus as feite voorhou. Die ware werklikheid, daarenteen, temper eerder die konflikpotensiaal. Iran se generaals sal immers besef dat die VSA se militêre mag so oorweldigend sterker as dié van Iran is dat ’n oorlog met konvensionele kenmerke op ’n verpletterende neerlaag vir Iran gaan neerkom. ’n Terreuragtige konflik vanuit die skadu is meer waarskynlik en realisties.

’n Groot kopsorg is dat feite geneig kan wees om oor tyd heen vloeibaar te wees. Die feit dat Iran en Irak se bevolkings hoofsaaklik Sjiitiese Moslems is, het nie ’n oorlog tussen die twee lande voorkom nie. Destyds was Irak deur Saddam Hoessein, ’n aanhanger van Irak se Soenni-minderheid wat die Sjiiete en Koerde erg onderdruk het, ’n groot faktor in die konflik. Verder is die Irakkese byna almal Arabiere, terwyl die meerderheid Irannese Indo-Germaans is.

Intussen het die winde van verandering ingetree, en is die Irannese militêre leier wat deur die VSA gedood is, Kasem Soleimani, in Irak gedood. Sy begrafnis is ook in Bagdad gehou – iets wat enkele jare gelede nog ondenkbaar was. En nie baie lank gelede nie was die VSA en sy (gewese) Koerdiese bondgenote instrumenteel om die Islamitiese Staat (Soenni-Salafiste) in Irak te verslaan.

Die waarheid, waar in die wêreld ook al, kan nie maar ’n strategie wees waarvan die aanwendbaarheid van omstandighede afhang nie. Moraliteit moet darem ook ’n rol te spele hê. Maar nou ja, opportunistiese politiek en waarheidsgerigte moraliteit is maar taai bedmaats.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Laevelder ·

Waarheid behoort te wees oor wat thaba Chweu ons vertel oor die meter tarief op ons munisipale rekeninge wat etlike duisende rande beloop. As ons durf waag om te kla, wors ons gedreig met die Eskom paal huurgeld wat binnekort bykom en meer as die meter kan beloop. Btw, die meter is no en behalwe die water wat ons gebruik het.

pan ·

Dit is net so in suid afrika, joernaliste berig n halwe verdraaide waarheid net om polities korrek te wees vat nou bv die jerm spotprent wat is nou nader aan die waarheid as dit,en nou is daar glo n herrie daaroor die waarheid blyk seer te maak

André André ·

Dus bring nuwe tegnologie nuwe geleenthede en ‘n arsenaal van nuwe “wapens” wat mens kan ontwikkel om aan te aanwend.

Rupert Ashford ·

Fopnuus is nie ‘n hedendaagse uitvindsel nie. Dit was nog altyd daar maar Trump het net die “guts” gehad om die media aan te vat daaroor en dit op die voorgrond te laat kom. Mark Twain het gese (en laat ek dadelik kwalifiseer en se ek het hom nie persoonlik dit hoor se nie…:-)): “If you don’t read the newspapers you’re uninformed, and if you do read them you’re misinformed”. Sela

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.