Nuuskommentaar: Vrae oor vlae as simbool van eenheid

Foto: Combicraftshop.nl

Met die ou landsvlag nou vir alle praktiese doeleindes vir vertoon as haatspraak verbied, word nie net baie vrae gevra soos onder andere die impak op die Nasionale Vredesakkoord nie, maar of die Gelykheidshof nie juis deur die styl van uitspraak eerder as gevolgtrekking méér verdeeldheid gesaai het, en so ook die nuwe vlag as reënboogvlag, onder verdenking plaas nie. Ironies is daar nou in die verre Friesland ’n soortgelyke debat oor hoe inklusief die Friese se eie vlag is, en of dit nodig is dat die internasionale reënboogvlag van die gay gemeenskap daarnaas moet hang om volwaardige burgerskap uit te beeld.

Vlae as simbole van eenheid

Soos die geval met baie ander landsvlae beeld beide die ou en nuwe landsvlae simbolies eenheid uit. Die ou vlag deur die invoeging van klein vlaggies van die ZAR, die Vrystaat en die Union Jack, terwyl die nuwe vlag deur die middelste bane wat saamvloei ook eenheid uit ’n verdeeldheid uitbeeld. Hoewel dit nie as simbool deur die Grondwet so uitgewys word nie, is dit ook bekend dat die vlag wat bane en kleure betref, ’n samestelling van die ou en die nuwe vlae se kleur is. (Beteken dit nie nou tegnies en tong in die kies dat die nuwe landsvlag nou ook halfpad ’n simbool van haatspraak is en verbied behoort te word nie?)

Hoewel blou in die nuwe vlag voorkom, het dit volgens die Grondwet nie die simboliek wat internasionaal wyd op die kleur van blou in vlae van toepassing gemaak word nie. Blou is juis die simbool van eenheid. Eenheid kan egter slegs voortvloei as daar vrede en rustigheid heers. Blou verteenwoordig ook hoop, lojaliteit en vriendskap, ook voorvereistes vir eenheid.

Die onlangse gewelddadige protesaksie van taxi-drywers in Bloedstraat, Pretoria, plaasaanvalle en vandalisme tydens diensleweringsbetogings maak dit nie so vanselfsprekend as na Suid-Afrika verwys word nie.

Lojaliteit en eenheid is ideale wat nie deur ’n kleur op ’n vlag outomaties gebeur nie, en nog minder afgedwing kan word nie. Die onewehandige optredes op grond van ras oor haatspraak deur die regbank, regsprekende liggame en die regering dra niks sinvol tot daardie ideale by nie.

In die buiteland is ook verskeie pogings om deur vlae eenheid te simboliseer, waaronder die Union Jack deur ’n paar groot storms moes vaar.

Die Union Jack is op sy beurt self die samestelling van die Engelse, Skotse en Noord-Ierse vlae, en verteenwoordig ook Wallis hoewel Wallis se vlag met die rooi draak nie daarop voorkom nie. (Ten tyde van die samestelling van die vlag was Wallis lank nie meer ’n volwaardige land nie, maar is as prinsdom by Engeland ingelyf.)  En hoe pas die Friese se vlag, en die internasionale “reënboogvlag” van die gay gemeenskap hierby in?

Die Union Jack (eintlik die Union Flag omdat die Union Jack strenggesproke net so genoem is as dit op die boeg van ’n skip gewapper het) het ’n baie interessante ontwikkelingsgeskiedenis. Wat egter belangrik is, is dat die Britte die eerste mense was waar die konsep ontstaan het dat ’n vlag ook vir die gewone publiek bedoel was. So laat as in 1902 het die Britse parlement nog ’n wet oorweeg wat sou bepaal wie watter vlae waar en wanneer kon laat wapper. Toe was daar twee vlae (om Brittanje te simboliseer), te wete die Union Flag en die “Royal Standard”. Die Royal Standard was eintlik net veronderstel om die monarg se ampsvlag te wees. Dié vlag het wel in ’n stadium die Walliese rooi leeu ingesluit, maar ironies, hoewel daar nou verskeie leeus op is wat Engeland (drie) en Skotland verteenwoordig, is die rooi leeu afwesig.

Die VSA se Stars and Stripes se sterre verteenwoordig die 50 deelstate. Aanvanklik was daar net 13, maar nog sterre het bygekom soos ander state bygevoeg is, of entiteite genoegsaam ontwikkel het om staat-status te bereik.

Friesland en die reënboogvlag

Friesland is een van Nederland se provinsies, maar is ook uniek in vergeleke met die ander. Die taal Fries is nie ’n Nederlandse dialek nie, maar ’n taal wat soos die oorspronklike tale van die Angele, Saksers en Jutte (wat Engels gevorm het) van Nordiese herkoms is. Taalkundiges leer dat die taal nader aan Engels as aan Nederlands is. Hoewel dit ’n ou taal is, het die herlewing betreklik onlangs begin, en het eers in 1995 die status van bestuurstaal naas Nederlands in Friesland gekry. Lees Maroela se nuuskommentaar van 23 September 2015 hier vir ’n kort weergawe oor die proses hoe ’n eie status van Fries in Nederland, en veral Friesland, ontwikkel het. Lees ook Maroela hier vir meer agtergrond.

Soos die ander provinsies het Friesland ook sy eie vlag, maar hierdie vlag is histories baie ver terug in die vroeë verspreiding van die eens talryke Friese wat oor ’n baie groot gebied verspreid was.

Trouens, die sewe “hartvormige” voorwerpe op die vlag simboliseer die sewe gebiede wat eens die oorspronklike Friese gebiede uitgemaak het. Dit is geskoei op die blare van die geel waterlelie, en word in Fries die pompeblêden genoem, wat weer van Wes-Friese herkoms is.

Dié vlag is nou in die nuus omdat daar tans in sekere kringe weerstand is dat die internasionale gay-vlag, die Reënboogvlag, plek-plek naas die Friese vlag wapper.

Die reënboogvlag moet sorg dat die bestaan en regte van die gay gemeenskap as volwaardig en normaal beklemtoon moet word. Die teenstanders meen die Friese vlag verteenwoordig almal in Friesland op gelyke voet en is dus daarom inklusief. Hulle meen verder dat die gebruik van die reënboogvlag juis die andersheid (onnatuurlikheid) van die gay‑gemeenskap beklemtoon.

Die opskrif van die vermelde artikel in die dagblad Trouw, “Wappert de Friese vlag echt voor iedereen?” is selfverduidelikend.

Opsommend word daar dus met die eenheid/samesmelting wat sekere vlae deur simboliek of die blou kleur uitbeeld, veel wyer bedoel as net die heterogeniteit wat uit die elemente bestaan wat verskillende volke onderskei, soos taal en kultuur.

Wie word almal deur die nuwe vlag verenig?

Die kontroversie oor die nuwe vlag is die gevolg van selfuitsluiting, om verskeie redes, van mense eerder as amptelike of formele uitsluiting. Die geskiedenis wat volg op die Nasionale Vredesakkoord, Kodesa en soortgelyk, die “verdwyning” van die beloofde tweede referendum na die Kodesa-onderhandelings, en die weiering om aan die verkiesings sedertdien deel te neem om onder meer te voorkom dat die legitimiteit van die huidige bedeling erken word, is aan Maroela se lesers goed bekend. So ook die teenargumente: juridies en de facto. Dit spoel oor na ’n weerstandigheid teenoor die nuwe vlag, wat insluit die spottende verwysing daarna as die gestreepte pajamapak en nog andere.

Met die verklaring van die wye vertoon van die ou landsvlag tot haatspraak in die Gelykheidshof is die gewone konsep van wat onder ’n vredesakkoord verstaan word ’n nekslag toegedien. Gewoonlik beteken dit dat nie een van die voorheen strydende partye volledig hul sin kry nie, en ook opofferings moet maak ter wille van die vrede. Die hof, ironies sittend as Gelykheidshof, het hierdie gelykheidsbeginsel vir ’n ses geslaan. Vir die regsleek (en ander) voel dit grootliks of die hof die konsep wat in Engels bekend staan as “the winner takes it all” gevolg, en weer ongelukkiges aan die ander kant vervreem het.  Die besware van regslui en andere, soos van onder meer Ernst Roets en dr. Leopold Scholtz (ervare joernalis en historikus) sou in ’n ommesientjie boekdele vul. Lees gerus Scholtz se artikel in Maroela hier.

Die teenoorgestelde siening is intussen samevattend redelik omvattend bewoord deur dr. Azille Coetzee, onder andere genoot van die US se leerskool vir genderpolitiek. Sy is ook die skryfster van die boek In my vel, ’n reis. In haar reaksie hier meen sy Roets se reaksie op die hof se uitspraak kom beslis op haatspraak neer.

Kortom, die uiteenlopendheid van die reaksies op die hofuitspraak dui daarop dat die hof moontlik eerder verdeeldheid as samewerking of eenheid in die hand gewerk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Ignatius Smith ·

Het dit nie tyd geword vir ‘n nuwe vlag vir afrikaners nie? Wat van ‘n ATKV vlag, of sal dit ook as haatspraak bekou word

Koos de Meyer. ·

Nou vra ek, wat van die groen, geel en swart in die nuwe vlag. Ons het net soveel pyn met al die terreur wat die ANC in hulle vryheidstryd gepleeg het. Daarvan word niks gesê nie.

skurweberg ·

Hulle sal niks daarvan se nie, omdat hulle nie die geskiedenis en die doel waarom die Westerling in Afrika betrokke moes raak, verstaan nie. Ek hoop net dat ons eie visie van hierdie doel en roeping nie deur materialisme verswelg is nie. Dit is vandag duidelik dat die ANC in hierdie slagyster getrap het en so verblind is dat niks belangriker meer is as hulle eie welvaart ten koste van ander nie.

lewies ·

Dis naief om te dink dat enige vlag nou enige versoeningssimbool in die RSA gaan wees. Die ou vlag is ge-etiketeer met onregte van die verlede soos die nuwe vlag ‘n simbool geword het van diefstal, rampokkery, geldwassery, bedrog, wanbestuur, opstande, rooftogte, vernietiging van eiendom, ENS… ENS… ENS…

Theo ·

Stem oor die nuwe vlag. Dit is die simbool van ‘n mislukte staat

Ben ·

‘n Vlag is ‘n Simbool en nie spraak nie en ja as ‘n simbool nou spraak geword is die huidige vlag ook onder verdenking asook die “Union Jack” en andere . Ek dink ons regstelsel kort ‘n opdatering. Die huidige wet omskryf spraak en nie simbole nie. Dit beteken dat die wet opgedateer moet word of die regter se uitspraak moet gewysig word. In die Tegniese wêreld, as iemand nou ‘n Foto wys beteken dit nou Klank en Multimedia? My ID foto praat nie met my nie? Dit is nie spraak nie?

JohanL ·

Ben, tegnies en juridies praat jy baie sin. In hoe ‘n mate het Wette tred gehou met media, waar ons oor die afgelope dekades al hoe meer digitaal geraak het.

Om net egter by te voeg, ek wonder of die regters op die regbank die begrip en vermoe het om veranderde Wette korrek te interpreteer? Ek twyfel baie sterk.

John ·

Wat het van die destydse sg Eie Sake geword wat die Afrikaner se regte op ‘n eie kultuur sou omsluit? Afrikaners sit met ‘n eie tammeletjie weens die feit dat sekere groepe nou die minderheidsgroepe almal saam wil groepeer; selfs ‘n eie ministie daarvoor begeer. Dit is die domste ding wat die VF Plus nou wil najaag in die hoop op meer stemme. Watter vlaggie gaan die spulletjie opkook want selfs godsdiensverskille wil minag? Taal as bindbindmiddel is vergesog. Alle Engelsprekendes sal sekerlik nie deur die queen in haar land onder haar vlag verwelkom word nie. Dwaas en wys was nog nooit familie nie.

JR ·

Ben ek stem saam met jou geen wonder geskiedenis tel nie meer nie ek maak n punt daarvan om so veel as moontlik geskiedkundige stories tevolg dit bly intresant veral van die boere oorlog eerste en tweede wêreld oorlog as jy dit lees besef jy wie swaar gekry het en wie maak of hulle swaar gekry het

Jerry ·

Goeie huiswerk. Hier is stof tot nadenke. Sekere Afrikaners sal nooit kan aanpas en vorentoe beweeg as hulle aanhou om al die onverdedigbare aspekte van die verlede en van apartheid te probeer verdedig nie. Om met hierdie tipe van sake, soos nou die verbanning van die vlag, net soms te wen omdat jy voor jou heilige siel weet jy kan nie die onverdedigbare verdedig nie, is tekenend van n motief om mense op te sweep, te verdeel en teen mekaar af te speel. Burgerregteorganisasies kan n honderd goeie dinge doen vir die regte van die Afrikaner minderheid, maar wanneer hulle die Afrikaner minderheid insleep en opsweep met regte wat taboe en onverdedigbaar is, dan doen hierdie domastrante handeling afbreek aan al die goeie dade. Die Afrikaner was ingesleep by apartheid en toe uitverkoop en n mens sou reken dat die Afrikaner tog seer sekerlik lesse daaruit geleer het. Dit blyk egter nie die geval te wees nie met Afriforum/Solidariteit wat die onverdedigbare aspekte van die verlede en van apartheid gebruik om die nuwe geslag Afrikaner by in te sleep by n heimlike hunkering terug na n apartheid tipe bestel. Net soos met die vorige apartheid is daar geen waarborg dat Afriforum/Solidariteit nie ook die Afrikaner sal uitverkoop nie, veral die Afrikaner wat nie altyd ja en amen se vir veral sulke onbesonnendheid soos nou met die vlag nie! Diegene van die Afrikaner minderheid wat hierdie tipe gedrag en dade ondersteun het heel duidelik nog geen lesse geleer nie!

skurweberg ·

Jy is reg Jerry daar is Afrikaners wat nie nou sal kan aanpas en voorentoe beweeg nie. Dit is hulle wat JA gestem het en geglo het dat Suid-Afrika na die referendum Etopia-status bereik het. Die wereld het dit ook geglo. Die ontnugtering en veral die teleurstelling wat nou verwerk moet word, gaan baie jare neem. Dit is soos iemand wat rou oor ‘n geliefde se afsterwe. Tyd is die enigste geneesheer wat ook die wat tans swartgallig is oor die toekoms, en sukkel om voorentoe te beweeg, totdat die doel van alles duidelik gaan word. Hierdie beweeg aksie sal nie kan gebeur, voordat die tyd wat daarvoor bestem is, aangebreek het nie.

Mite ·

Die hele konsep van “eenheid” in SA is ‘n klug en ‘n mite.

Deon ·

Jy is reg, hier sal nooit eenheid wees nie. SA is ‘n gedrog wat onwerkbaar is en moet so gou moontlik opbreek.

Rubber ·

Het nog nooit die reënboogvlag van die anargiste as my vlag gesien nie.

CHAPPIES ·

Agge,neee…wat!
Geen stuk dooie lap,kan versoening of eenheid of vrede of vergifnis meebring, in enige land ooit nie!
GOOI WEG dis n mors v tyd

Gert Midstream ·

Verwys weer na vervaldatums. Alles maar alles het in die land verval. Die totale spektrum van integriteit tot noem dit maar. My dag lyk so: Beplan roete na werk volgens staking, protes of elektriese disfunksie. By werk aangekom werk rekenaars nie agv wanbetaling of swak onderhoud. Geen tegnikus agv laat rapportering en swak beplanning. Hou my besig met eie beplanning rondom hierdie gemors. Deur die dag word dringende vergaderings bele om situasie te beredder waar nie eens 50% “bestuurders” opdaag. Teikens word opgestel. Onrealisties. Geen monitering. Regte tov teetye en etes word deeglik bestuur. Tyd bly belangrik. Klagtes oor kwaliteit van kos word prioriteit. Nou vir huistoe gaan. Verkeersopeenhoping by sekuriteit. Selfde proses as vroegoggend. ‘n Gawe dag se werk gedaan. Tuis oorweeg ek verandering van werkgewer. Reeds 50 jaar oud. Nerens meer diensbaar. Blank. Daar gaan die son weer onder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.