Nuuskommentaar: Vredemakers

Argieffoto

Argieffoto

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Word onder meer na die kommentare in die sosiale media gekyk, lyk dit dikwels of hierdie vers, Matteus 5: 9, nie in die Bybel staan nie.

Môre herdenk ons Christus se geboorte – oor Hom wat reeds in Jesaja geskryf is: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.” Met die aankondiging van Christus se geboorte aan herders in die veld sê die engeleskaar: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

Ons lees ook in twee gedeeltes dat Jesus gesê het hy het nie gekom om vrede te bring nie. In Matteus sê hy dat Hy gekom het om die swaard te bring, waar Hy ook, soos in Lukas, sê dat Hy verdeeldheid bring. Dit is uit die konteks egter duidelik dat Hy besef het dat getrouheid aan Hom verdeeldheid sou bring, ook in huisgesinne (pa teen seun).

Die konteks is egter duidelik. In Kol. 1: 19 – 20 lees ons: “God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”

Jesus se koms na die aarde was dus in die eerste plek om die mens met God te versoen. Dit beteken egter nie dat ons daarom net in ‘n verhouding met God leef, en dat die verhouding met die medemens van geen belang is, of dat dit selfs wenslik is om in vyandskap met die medemens te leef nie. In Matt: 25: 40 lees egter: “En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen’.”

Ons weet nie op watter dag Jesus gebore is nie, of selfs in watter jaar nie, en miskien is dit goed so dat ons nie maar net een keer per jaar herinner word aan die redes waarom Jesus in ‘n nederige stal gebore is nie. Dit hou ‘n ewigheidsboodskap in wat elke dag deel van ons behoort te wees.

Ons is selfs voorsien van ‘n lysie eienskappe van die goeie vrug van die Heilige Gees om vir ons as rigsnoer te dien: Verstaan die genade van God, die goeie, Regverdigheid, Waarheid, Leer wat gee God vreugde, Liefde, Vreugde, Vrede, Geduld, Vriendelikheid, Getrouheid, Sagmoedigheid, Selfbeheersing, Inskiklik, Vol genade, Onpartydig, Nie veroordelend nie en Ja is ja en nee is nee.

Maar eie aan die mens se aard is dit dalk makliker om te verstaan hoe die Geesvervulde persoon nié moet wees nie – hy wat die slegte vrug in hom dra: Deelname aan ongehoorsaamheid, Dade wat in die geheim gepleeg word te erg om te noem, Verwaandheid, Uitlokkend / skoorsoekerig, Jaloers wees, Selfsugtig, Vertel leuens, Skynheilig en Veroordeel kwaadwillig.

Vanaand kom miljoene gesinne wêreldwyd op die tradisionele Oukersaand byeen en geskenke word uitgedeel in die gees van dat dit saliger is om te gee as om te ontvang. Baie kinders se vreugde gaan oorloop, en dit is belangrik dat hierdie vreugde van jongs af reg gekanaliseer word.

Dié soort vreugde is egter nie almal beskore nie. Volgens onlangse syfers is daar nou meer as 50 miljoen vlugtelinge wêreldwyd, waaronder ook Christene. Baie van hierdie vlugtelinge is kinders wat nie meer deur ouers of ander volwassenes vergesel word nie.

Soveel mense voel juis nou die eensaamheid, en selfmoorde is nie vreemd aan hierdie tyd van die jaar nie.

Die Christen se taak is groot.

‘n Baie geseënde Christusfees word u almal toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Demokraat ·

Dankie Herman vir ‘n nugtere stukkie wysheid asook die boodskap daarin. En het die volgende my opgeval maar ook sterk aangespreek:

“Jesus het na hierdie aarde gekom om God met die mens te versoen. Dit beteken egter nie dat ons slegs met God in ‘n verhouding moet leef en nie ook met ons medemens nie.” En dan die gedeelte uit Matt: 25 wat daarop volg.

Tot watter mate gee ons uitvoering aan ons Christelike beginsels wanneer dit by die liefde tot ons naaste kom ? Of is ons bloot selektief wanneer ons bepaal wie ons naaste is ?

Deon ·

Herman mooi uiteengesit. Aan ‘n boom se vrugte sal jy hom ken of hy in die Lig wandel of nie. Politiek darenteen kan vuil wees veral omdat ons stryd nie altyd teen vlees is nie maar teen die magte in die lug. Die vyand volg ook nie altyd Bybelse waardes nie. Alhoewel ons Sy leiding nodig het moet ons liewer kerk en politiek skei, want daar is ‘n tyd vir alles, ons kan nie kerk hou wanneer ons met antichristusse, ateiste, en kommuniste deel nie, en soms is Sy opdrag selfs om die vyand met die banvloek te straf of vir oorlewing is stryd nodig (bloedrivier). Terselfdertyd moet ons met almal in vrede lewe so ver dit moonlik is. Maar onthou olie en water meng nie – so ook Lig en duisternis nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.