Nuuskommentaar: Vroeë lesse uit verkiesing

Argieffoto: Phillip Bruwer

Argieffoto: Phillip Bruwer

Dit is nog te vroeg om veel uit die verkiesing wys te word, maar ’n paar belangrike lesse staan tog uit.

Die eerste is: As al die OVK-blapse en teenspoed bymekaargetel word, haal dit ’n aansienlike hoeveelheid van die smaak uit die verkiesing. Hieronder tel veral vroeëre berigte oor kiesers wat onlangs nog seker gemaak het dat hulle op die kieslys is, en by die stemburo moes hoor hulle name is nie op die kieslys nie. Een van die slagoffers was die SAUK se verslaggewer uit die Oos-Kaap wat ’n paar keer seker gemaak het. Sy is toegelaat om te stem nadat sy ’n vorm ingevul het. Ook die naam van ACDP-leier Kenneth Meshoe se vrou was nie op die kieslys nie. Mev. Meshoe is lid van die Gautengse Wetgewer.

Ook was daar klagtes van mense wat vir spesiale stemme geregistreer het, maar geen tuisbesoek van OVK-amptenare gekry het nie, en dus nie kon stem nie.

In Gauteng het kiesbeamptes glo die stemmateriaal waarvoor hulle verantwoordelik was, getelde stembriewe ingesluit, by die provinsiale OVK-sentrum neergesit en geloop omdat die amptenare hulle glo nauurs nog nie gehelp het nie.

Moeder natuur het egter ook ingegryp, en onder meer meer as ’n dosyn tente van die OVK omgewaai. Die snerpende koue in die Vrystaat het gesorg dat die stempersentasie in dié provinsie net sowat 44 persent (56 persent met die vorige) was. Dit blyk dat veral swart kiesers stokkies gedraai het, in so ’n mate dat ’n paniekerige ANC sy waarnemers en kandidate laatmiddag by “wit” stempunte onttrek het om te help om kiesers in swart woongebiede by die stembus te kry. By oorwegende wit stempunte het mense plek-plek ellelange toue gevorm. In ’n provinsie met ’n ander bevolkingsamestelling sou dit ’n beduidende impak op die uitslag kon hê.

Op nasionale vlak was die stempersentasie minder as 60 persent, en met byna 70 persent van die stemme getel, was daar reeds meer as 82 000 bedorwe stembriewe.

En dan was daar die hele debakel met die SAUK.

Voorlopig lyk dit of die ANC agteruit geboer het. Trouens, ’n projeksie vanaf die vorige verkiesing na die volgende dui daarop dat die ANC met die volgende tot onder die 50 persent kan terugsak. Sou dit enduit die geval met hierdie verkiesing bly, gaan dit weer die druk binne die ANC op pres. Jacob Zuma se voortgesette presidentskap plaas. Dit sal baie skerper word as die ANC nog ’n metro of twee kwyt is. Die feit dat die DA die Kouga-munisipaliteit by Port Elizabeth oortuigend by die ANC afgeneem het, laat die rooi ligte oor die Nelson Mandela-metropool by die ANC flits.

Die EFF was toe nie die groot dreineringsfaktor op ANC-steun soos wat verwag is nie, en gaan na verwagting ’n raps minder as 8 persent van die stemme trek. Selfs gesoute ontleders wat sterk vertonings van die EFF in byvoorbeeld Rustenburg verwag het, is onkant betrap.

Van die voorlopige uitslae het ook die kop laat krap. Op een van die kaarte het die DA nog vroegoggend voorgeloop in verskeie Vrystaatse munisipaliteite. Hieronder het Ngwathe getel, waar die DA sou voorgeloop het nadat byna 90 persent van die stemme getel is. Ngwathe se hoofdorp, Parys, is die tuisdorp van die Vrystaatse premier Ace Magashule. Sou die DA hierdie munisipaliteit verower, sou dit ’n reuseskok wees. Op die jongste kaarte is die meeste van hierdie moontlike DA-winste skoonveld, en in Ngwathe loop die ANC voor nadat byna 54 persent van die kiesers gestem het. Op hierdie kaart loop die DA wel nog in Metsimaholo (Sasolburg) voor.

In hierdie verkiesing was dit duidelik hoe ’n groot verskil dit kan maak as die wegblyer wel gaan stem.

Nou is dit net geduld om te sien hoe die skaakspel hom gaan ontvou.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theuns ·

Op die man af, akkuraat en uistekende kommentaar. Dankie Herman.

Wern ·

Die gewag maak my senuwees klaar. Dit was so hoopvol deur die nag soos die resultate inkom maar soos die breinlose massas wat vrywilliglik Bly stem vir mense wat die konstitusie verbreek en dit Dan nog regverdig, laat my net besef dat demokrasie nie werk nie en dat sekere groepe maar net bestem is vir armoede en ellende.

Inge ·

My hart is gebroke dat dinge net maar sal aangaan en versleg soos dit in die laaste twee dekades al aangaan. Die vermetelheid van hoop darem!

Pietman ·

Eeeishh man! lyk my die opposisie speel te skoon-miskien moet die DA en ander kleiner partye dieselfde vuil politieke spel speel omsodoende die speelveld gelyk te maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.