Nuuskommentaar: Vrot regering, landsvyand of maaifoedies?

Presies ‘n jaar gelede het prof. Jakes Gerwel in sy rubriek in Rapport oor die ANC geskryf: “’n Vrot regering mag hy wees, maar ’n party wat in ’n vry en regverdige verkiesing deur meer as 60% van die kiesers ingestem is, kan nie die landsvyand wees nie.”

Dié logika is effe bisar – dit beteken Hitler wat ook demokraties aan bewind geword het kan ook nie as ‘n Duitse landsvyand beskou word nie. Die interessantheid is egter wat in die afgelope jaar sedertdien uit die penne van eertydse ANC-ondersteuners en apologete gekom het.

Die afgelope week skryf Henry Jeffreys, voormalige redakteur van Die Burger en New Age, onder meer die volgende: “Dit is geen geheim nie dat daar in die ANC elemente is wat die howe, en veral die konstitusionele hof, met groot agterdog en openlike vyandigheid bejeën. Dit is waarskynlik een van die redes waarom adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke, wat by uitstek die ideale opvolger vir oud-hoofregter Sandile Ngcobo moes wees, vir die soveelste keer met politieke koudbloedigheid oor die hoof gesien is.“

Rhoda Kadalie se vlammende pen is ook al bekend, ook wanneer sy haar pen in gal doop wanneer sy die ANC bydam: “Die ANC kan praat en praat, maar hoe moet kinders opsien na ’n president wat glo aan veelwywery en ’n jeugliga wat skelm is? Ons land het liederlik gefaal in sy plig om ’n nasie te bou.”

Max du Preez. Foto: Facebook

Toevallig, ‘n jaar sedert Gerwel ontken het dat die ANC landsvyande is, meen die kommentator, Max op sy blog dat die ANC-leiers maaifoedies is, en verwys na die oorspronklike Maleis-Portugese betekenis waar kru verwys word na iemand wat seks met sy ma het. Volgens die aanvanklike berigte het Du Preez gemeen dis ‘n paslike manier om die ANC-leiers te beskryf. Die ANC is woedend.

Om voorbeelde te kry oor waar die ANC nie in die beste belang van die land en al sy mense optree of opgetree het nie is so maklik om te vind dis eintlik hartverskeurend. Pas het die land weer ‘n paar beeldklappe weg na met die visum-aansoek van die Dalai Lama verbrou is, en Suid-Afrika toe weer sy stemreg in die VN se Veiligheidsraad gebruik het om nié teen menseregteskendings te stem nie – die keer in Sirië waar burgers deur hul eie regering afgemaai word.
Die ANC veg verbete vir die reg om liedjies te kan sing wat nie net die teiken nie, maar volgens ‘n peiling die meerderheid Suid-Afrikaners meen blote haatspraak is. ANC-planne en optredes laat die land op die persvryheidsindeks terugsak.

Jeffreys vervat: “Hy (adjunk-hoofregter Moseneke) verwerp die persepsie, wat klaarblyklik diep geanker is in die psige van invloedryke ANC-leiers – dink maar aan hoofsekretaris Gwede Ma¬n¬ta¬she, jeugleier Julius Malema, en dalk die president self – dat grondwetlikheid per se neerkom op die beperking van regeringsmag. Hy beskou dit as nie net misleidend nie, maar ook gevaarlik.

Mantashe het regters van die konstitusionele hof al teen-revolusionêre genoem. Malema dra sy bepaalde minagting van die howe soos ’n medalje van verdienste. Zuma, die politieke leier belas met die taak om die Grondwet tot elke prys te beskerm, versuim klaaglik om ondermynende uitsprake van sy kamerade – soos bogenoemde twee – te repudieer.”
Amper ‘n jaar later skryf Gerwel weer: “Miskien, meneer die president, behoort u ’n slag voor die kaggel te gaan sit en op ’n nasionale uitsending vir ons wat in dié land bly glo, verduidelik oor dié (regter Mogoeng Mogoeng se aanstelling as hoofregter) en ander kommerwekkende nasionale kwessies.”

Dié en ander opmerkings wat moeilik te onderskei is van onomwonde stellings dat die ANC as landsvyand optree, kom nie uit die geledere van die AWB, Praag of selfs die DA nie. Trouens, opposisiepartye wat ‘n persepsie het dat hulle wit is, en flikkers vir swart kiesers gooi, sal nie sommer die mond so uitspoel nie. Te maklik nog word kritiek op die ANC as kritiek op swart mense ervaar.

Miskien is dit tyd dat meer meningsvormers uit die UDF-dampkring dit duidelik maak dat die ANC te dikwels téén landsbelang optree – en sodoende ook op die duur nie in belang van sy eie ondersteuners nie. Die VGK het wel volgens aanvanklike berigte kort na Zuma van sy omstrede godsdiensuitsprake gemaak het, ‘n beroep op sy lidmate gedoen om nie vir die ANC te stem nie.

Biskop Desmond Tutu het ook pas gesê die oomblik kan aanbreek dat hy en sy geesgenote sal bid dat die ANC die beheer oor die land moet verloor.

Vir die voorsienbare toekoms lyk dit nie of die kiesers hul sosiale kontrak met die regering gaan opskort nie – al is dit ook hoe glashelder dat dit in hul en die land se belang dat dit dringend moet geskied. Hoe dan anders as nog ‘n groot kerk Zuma voor die ultimatum gestel het dat hy sy omstrede godsdiensuitsprake moet staak of die kerk sou ook sy lidmate vra om nié ANC te stem nie; maar toe Zuma hom daaraan afvee, blaas die betrokke kerk stert tussen die bene die aftog?

Die politieke gesegde lui: “In ‘n demokrasie kry die bevolking die regering wat hulle verdien.” Almiskie, maar dit laat diegene wat hul kruisies elders getrek het niks beter voel as selfs dié wat vir die ANC gestem het so ongelukkig is dat sommiges selfs oproerig in opstand kom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobie ·

Die gehalte van Maroela se joernalistiek word al beter. Een van die dae het Afrikaanssprekendes nie meer nodig om die Media24 Monopolie te dwangsluk nie.

Herman, dis uiters goed geskryf dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.