Nuuskommentaar: Vroue van die kalifaat

Foto: Skermskoot/YpuTube/TomoNews US

Foto: Skermskoot/YpuTube/TomoNews US

Terwyl daar blykbaar ’n afplatting is van mans wat uit onder meer Westerse lande na die Islamitiese Staat se kalifaat in Sirië en Irak reis om te gaan veg – eerder terreur en vandalisme pleeg – neem die aantal vroue wat by die huis wegglip na die kalifaat kommerwekkend toe. Meisies so jonk soos 14 glip in groepe weg na ’n lewe waar hulle onder meer binne drie maande met ’n IS-terroris moet trou, en as hulle weduwee word, soos dikwels die geval is, weer binne drie maande moet trou.

Tuis laat hulle dikwels ’n lewe en gesin agter waar hulle maksimale geleenthede tot selfvervulling sou kry. Ontleders het al verskeie studies gedoen oor hoekom hierdie jong dogters so dros, en selfs uitgesproke ten gunste van die IS-wreedhede word al mag hulle nie self meedoen nie.

Die antwoorde is kompleks, maar hou dikwels verband met ’n jeug-subkultuur – maar een van baie wat moderne samelewings ken – waar ’n onderlinge warmbroeiery alle kontak met die werklikheid verdring. Die IS se werwingsagente, wat dikwels moderne tegnologie soos die internet inspan, sien sover moontlik toe dat die meisies in groepe reis om nie die band van warmbroeiery te verbreek nie. Uiteindelik kry van die meisies in die IS, wat tuis vaardighede geleer het, die kans om self deel van die internetwerwing en ander gesofistikeerde take te word. Hulle voel hulle word na waarde geag.

In die IS se kalifaat bevind hulle hulle in ’n erg vyandelike omgewing. Die kalifaat word van alle kante aangeval en gebombardeer, met Rusland wat ook nou in Sirië tot lugaanvalle oorgegaan het. Rusland se deelname is nog omstrede omdat dié land as bondgenoot van Sirië se pres. Basjar al-Assad optree, en volgens eie erkennings nie net IS-teikens aanval nie. Die Russe erken dat hulle ook teikens van die Al Kaïda-geaffilieerde groepe aanval, maar verskeie instansies soos die Siriese Observatorium vir Menseregte hou vol dat ook die pro-demokratiese beweging wat teen Assad se diktatuur veg, onder skoot kom. Pas was Turkye, ’n Navo-lid, en Navo baie boos vir ’n Russiese vliegtuig wat, volgens Rusland, net vir ’n rukkie die Turkse lugruim geskend het om ’n dorp aan die Siriese kant van die grens aan te val.

Intussen probeer Assad, self ’n lid van die Alawiete wat ’n sekte van die minderheid Sjiïete in Sirië uitmaak, ’n front van Sjiïtiese magte teen die bedreiging van sy bewind opvorder. Hier kyk hy veral na Iran, maar ook na Irak waar die Sjiïete-meerderheid aan bewind is sedert Saddam (’n lid van die Soenni-minderheid) se val. In sy oproepe op Iran se TV het Assad versuim om te meld dat die Libanese Hizbollah – ’n Sjiïtiese terreurorganisasie, lank reeds die ruggraat van sy verset teen die IS en die demokratiese magte is.
Kortom, dis ’n uiters komplekse situasie wat die beste, en mees ingeligte strategiese breine verward laat pik.

En nou kom hierdie jong meisies onversetlik in hul geloof dat hulle die aller-antwoord ken. En dat die stigting en bestendiging van die kalifaat maar die eerste fase is van ’n wêreldbedeling waar die radikale Islam, soos spruit uit die radikalisering van die Salafistiese vertakking van die Soenni-Islam is. En plek-plek is meisies ’n belangrike deel van die strategie, soos vir Boko Haram in Nigerië en omliggende state waar jong meisies gereeld ontvoer en as vroue geneem word.

Die impak van ’n jeug-subkultuur op elemente van die jeug – ongeag godsdiens – moet egter ook in Suid-Afrika haarfyn bestudeer word. Presies hoe ver in beginsel staan die persepsies wat die EFF deur onderlinge warmbroeiery lewend hou en uitbrei van dit wat die gemeenskap as geldend aanvaar? Deur bondeldapperheid word die onafwendbaarheid van uiteindelike selfvernietiging ’n veraf begrip. Gebrekkige kennis en insig bied ’n ideale broeiplek om radikale gedagtes soos onteiening sonder vergoeding, blatante rassisme en vele meer brandend en uitgesproke lewend te hou.

Ons weet mos ouers is bekommerd oor hul kinders wat soms min weet en verstaan wat in die wêreld aangaan en so vatbaar word vir allerlei twak en propaganda. Algemene kennis, of dit wat die ouer garde as algemene kennis beskou het, bestaan byna nie meer nie (hoewel dit deur slimfone en ander tegnologie dikwels net ’n knoppie of twee weg is). Terselfdertyd skud die jonges kop oor die ou toppies wat “niks weet nie”.

Intussen is die mensdom “wat niks weet nie” onderweg na ander planete, word nuwe medisyne ontdek en ontwikkel, en die tegnologie geskep wat die jonges so opslurp. Tot die krediet van baie jonges; hulle werk en studeer hard om deel hiervan te wees, en mededinging is selfs baie straf. Die gaping tussen hulle en diegene wat die “sin” in radikalisering en bondeldapperheid soek, raak al groter en uiteindelik word die ekonomiese beleid van ’n land vir sosio-ekonomiese ongelykheid geblameer (wat nie altyd heeltemal onwaar is nie). Maar ’n werklike greep op die lewe kry en die hande uit die moue steek, word net te dikwels as “onsinnig” afgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Genis ·

Barak en Poetin staan eintlik hand om die blaas, al probeer die media ons anders oortuig. Ons gaan binnekort sien hoe daar ‘n ooreenkoms met Assad aangegaan sal word. Of hulle hom gaan laat lewe, wel ek glo nie. Ja, dis wat ou Genis dink van die hele kalamiteit.

jacques ·

Natuurlik sal Russia die rebele ook aanval want ISIS het van hulle af ontstaan ,en gaan jy weet wie is ISIS en wie is die rebele want altwee baklei teen Sirie.N mens het maar net n bietjie comencence nodig om dit uit te werk.Nou is die USA kwaad en wil nou beter wapens gee vir rebele om Russian vliegtuie af te skiet.Russia is besig om die wereld n guns te doen en almal kap hulle wat gaan aan, is die USA getroud met ISIS.
Die rede hoekom soveel kinders aansluit by hulle is haat vir wat die USA wat te ver gegaan het in hulle brein, en dink hulle doen goed min weet hulle wat regtig aangaan.
Ek dink nie mese besef dat daar is n baie goeie kans dat ISIS die hele werld gaan oorvat nie
Ek bid dat Putin suksesfol gaan wees ISIS het net groter en sterker geraak terwyl die USA teen hulle baklei het.
Al sit julle nie my post op nie weet ek darm jy het dit gelees.

Grassie ·

Herman – ek sal graag kommentaar wou lewer maar Maroela is in ‘n vernietigende bui vandag. Dit lyk vir my ek word nou “persona non grata” hier.

Genis ·

Ek het net kom kyk of staan my kommentaar nog. Ja sowaar. Lyk my die trolpolisie (aka die paTROLLIE) is nog op tee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.