Nuuskommentaar: Vrouedag – deur die glasplafon

Vrouemonument in Bloemfontein

Vrouemonument in Bloemfontein

Is dit gepas dat iemand wat tien jaar gelede suksesvol owerspel as verweer teen ’n aanklag van verkragting in die hof kon aanvoer, nou die hoofspreker is op Vrouedag? Of is dit simbolies daarvan dat vroue in Suid-Afrika gelykheid kan geniet solank, en waar ’n patriargale stelsel inskiklik daarmee is?

So onlangs soos 2014 het die Wêreld-ekonomiese Forum (WEF) beraam dat mans en vroue in die wêreld eers teen 2095 volle gelykheid sal bereik. Skaars ’n jaar later is beraam dat daar soveel remmende faktore is dat hierdie doelwit eers teen 2133 behaal sal word.

Vanjaar se tema vir Internasionale Vrouedag is #PledgeForParity.

Suid-Afrika se Vrouedag word vandag gevier en val nie met Internasionale Vrouedag saam nie. Dit is die gevolg van ’n eiesoortige verloop waar vroue in Suid-Afrika die stang vasgebyt het en verandering tot gevolg gehad het – dikwels nie soseer sektoraal in vrouebelang nie, maar ’n wyer doel soos volksopheffing.

Vrouedag in Suid-Afrika se datum is uit die struggle-geskiedenis gekies, maar dit sou minstens net so gepas gewees het as Emily Hobhouse se geboortedatum, die stigtingsdatum van die destydse Oranje-Vrouevereniging en nou Vrystaatse Vroue in Aksie en ’n groot verskeidenheid ander organisasies gekies gewees het. Tot vandag speel die vrouebeweging in die Nederduitsch Hervormde Kerk ’n enorme rol in opheffing en bemagtiging deur onder meer beurse (nie net vir vroue nie) beskikbaar te stel.

Ongelooflike neseiers is dikwels opgebou deur die maak en verkoop van koeksisters, pannekoek en vele meer keurgebak.

Waar vroue, veral in die politiek die ys breek en die hoogste sport bereik, word dit “deur die glasplafon breek” genoem. Terwyl talle lande reeds vrouepresidente en -premiers opgelewer het, was dit in talle lande soos die VSA nog nie die geval nie.

Hillary Clinton, die Demokrate se presidentskandidaat vir vanjaar se presidentsverkiesing, loop op die oomblik voor in die meeste peilings en kan die eerste wees om in die wêreld se sterkste land deur die glasplafon te breek.

Wikepedia lys sowat 70 vroue wat reeds presidente of regeringsleiers geword het. Terwyl sommiges soos Angela Merkel, Margaret Thatcher, Golda Meir en Indhira Ghandi bekend is of was, en hulle deeglik in die geselskap van mansregeringshoofde laat geld het, is daar talle minder bekend omdat hulle as premiers in die skadu van uitvoerende manspresidente staan of gestaan het. Wie weet byvoorbeeld dat Namibië nou ’n vrouepremier, Saara Kuugongelwa, het?

Selfs Moslemlande soos Pakistan, Bangladesj, Turkye en Mali het al vroue-regeringshoofde gehad.

Sommige vroue se bewind was van korte duur, ander het as’t ware instellings geword.

In Suid-Afrika is dit duidelik dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma besig is om haar kaarte te speel om haar gewese man, Jacob, as president van die land op te volg. Slegs enkele jare gelede het die Zuma-administrasie alles in sy vermoë gedoen om haar na die hoof-uitvoerende pos van die Afrika Unie te rangeer om haar uit sirkulasie te plaas wat die Suid-Afrikaanse politiek betref.

Hoewel sommige partye in Suid-Afrika, waaronder die ANC, kwotas vir 50-50-verteenwoordiging in byvoorbeeld die parlement stel, was die vier vroue se stille “onthou Kwezi”-betoging (totdat hulle hardhandig deur die presidensiële wag verwilder is) tydens Zuma se toespraak by die verkiesingsuitslae, ’n tydige herinnering oor die verskriklike lot waaraan baie vroue in die land onderwerp is. Suid-Afrika word steeds in sekere kringe as die verkragtings-hoofsetel van die wêreld beskryf. Dit staan soos ’n klad oor die viering van Vrouedag in hierdie land.

Wat dit moeilik maak is dat dit uit soveel verskillende hoeke gevoed word – van bloedskande tot die verkragting van babameisies nadat ’n tradisionele geneser gesê het seks met ’n maagd kan iemand van vigs genees. Verkragtings op kampusse word so stil-stil hanteer dat dit na onder die mat ingevee ruik omdat dit so dikwels politiek sensitief is, en daar sprake van “verkragtingskultuur” is waar verskillende kulture in kontak met mekaar tot “misverstande” lei.

Zuma is wel aan verkragting onskuldig bevind, maar hoewel sy verweer dat dit nie verkragting was nie, maar owerspel, hom regstegnies vryspreek, is dit laat in die dag as gemeenskapsnorme so verwater het dat owerspel as minder as ’n nietigheid gereken word. Is dit gepas dat so ’n persoon president kon word, en boonop die hoofspreker wees by die 60ste herdenking van die gebeure wees wat tot die instelling van Vrouedag gelei het?

Nog ’n klippie in die skoen is as ’n hele rits vroue wat as ministers in Suid-Afrika aangestel is, niks anders is as wandelende verleenthede nie. Dit troos darem om te weet daar is veel knapper vroue beskikbaar, maar dat Zuma in sy keuse van vroue in sleutelposte dikwels heel ander norme as knapheid toepas (van die mansministers is ook maar nulle op die kontrak).

Suid-Afrika het nog ’n steil paadjie voor voordat vroue werklik gelykheid sal ervaar.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

jaco ·

Hoekom het Khwezi dan nie teen Zuma se onskuldigbevinding geappelleer nie???

Zumie ·

Kwezi kan nie appelleer in ‘n strafsaak nie. Die Direkteur van Openbare Vervolging wel ..

Theuns ·

Herman weereens is jou kommentaar in die kol en maak jy dit moeilik om kommentaar te lewer behalwe om te se Zuma staan soos ‘n seer vinger uit en ons moet duidelik van hom onslae raak vir veskeie redes wat ons almal ken! Ek ondersteun vroue regte maar het my bedenkinge oor sekere dames in Zuma se invloedsfeer. Ek hoop regtig nie die dame wat ‘n gat in haar kop gekry het van water dra of Zuma se eks of die een by die SAL kry die job nie? Dit sal ‘n algehele tragedie wees? Groete.

Cherokee ·

Zuma moet bly waar hy is. Ek sal selfs ondersteun dat hy nog ‘n termyn dien want behalwe daarvoor dat hy goeie werk doen met die afbreek van die ANC is daar bewerings dat Malema gesê het dat hy sal teruggaan na die ANC as Zuma nie meer staatspresident is nie. Dit sal die EFF terugplaas by die ANC en vanselfsprekend is dit ongewens. Vir die huidige is dit dus beter dat Zuma aanhou om hulle uitmekaar te jaag.

Sarie ·

Om vrouedag op n ander dag as in die res van die wêreld te vier is net om weer n politieke standpunt te maak. Daarom word die nimlike Nommer Een gevra om die hoofspreker te wees. Dit gaan nie om vroueregte nie By die Oscar verhoor was die ANC Vroueliga teenwoordig maar hulle skitter in hulle afwesigheid by die hofsake van byvoorbeeld die meisie in Bredasdorp Hulke wil net gesien word deur die res van die wêreld en omdat ‘n wit man die skuldige was.

christine ·

Asseblief net nie nog n Zuma nie. Goeie hemel nee die een is n irretasie wat onverstaanbaar mompel. Dis ook sy wat heel aan die begin by die verkeerde land van die vliegtuig afgeklim het. Kan n zulu wetlik skei? Tradionele huwelike is nie wettig nie dis se mens net loop dan loop sy ,kom terug dan kom sy terug nou wonder ek net gaan die Pres Zuma die land steeds deur haar regeer en ons almal aan die neus rondlui

John ·

… en ons dra nog almal pasboekies…e? ID’s om te stem, om toegang tot ons bankinligting te verkry, om ‘n ‘pas’poort te kry, om te trou/skei, in te skryf by ‘n onderwysinrigting en ‘n aanstelling vir ‘n betrekking ens, ens. So waaroor gaan dit eintlik? Aandag-aan-die-groot-klok-gehang. Mens wonder net wie pas die kinders op as al die vroue elke dag op die een of ander ‘mission’ is. Ouma’s Hillary en Nkosazana (en antie Grace, as die ou kerel tog net eendag die aftog wil blaas) staan voor in die koor in die hoop op die vervolmaking van hul drome.
‘n Skip sonder sy kaptein is baie erger as ‘n kaptein sonder sy skip: Muitery wag op eersgenoemde…

Frederik ·

John, jy het in jou stukkie kommentaar beweeg van binnelandse sake tot by seevaart. Ek, en ek glo menige ander, verstaan glad nie wat jy probeer sê nie.

Renier ·

Dit is die toenemende betrokkenheid van vroue in die politiek wat ons in chaos dompel.

Cherokee ·

Vele vroue sal vir jou ore aansit met politiek. Die meeste mans op hierdie forum weet nie ‘n duit van politiek nie en ek weet nie waar pas jy in nie. Van die grootste politici in die wêreld was/is vroue.

John ·

Frederik, skuus man, ek wou ‘n bietjie opkom vir die mans. Sal nie weer nie. Miskien is vroue tog beter met tussen-die-lyne-lees. Ek sal in die toekoms reguit praat. Ek wou net se, mans is beter wanneer kritiese koelkop bestuur nodig is. Jy het my oortuig dat vroue dalk tog oor daardie vermoe beskik. Jammer dames!

Rupert Ashford ·

Wat? Vandat vroue in die politiek betrokke geraak het (stemreg gekry het ens.) het ons al twee wereldoorloe gehad.

Cherokee ·

Met ander woorde hulle ruk selfs oorbevolking in die bek en verskaf werk aan vele mense met die heropbou van lande na oorloë.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.