Nuuskommentaar: Vrouedag se goeie ou dae deur geslagsbril bepaal?

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ons lees gereeld hoe Afrikaanssprekendes nostalgies verlang na die “goeie ou dae”. Ook vroue doop gereeld hul kuberpenne in die ink van nostalgiese herinneringe. Dit is verstaanbaar as syfers oor moorde en verkragting van vroue gelees word. Tog word gereeld geskryf oor hoeveel beter vroue nou daaraan toe is as 25 jaar gelede. Is dit werklik so, of speel politieke korrektheid ’n te groot rol?

Dit is Vrouedag, deel van Vrouemaand, en die een berig en artikel na die ander handel oor hoeveel beter vroue vandag daaraan toe is as 25 jaar of meer gelede. Maar een opskrif lui: “Veronica onthou hoe lekker alles toe was.”

Die algemene trant is egter dat vroue nou veel, veel beter daaraan toe is as 25 jaar gelede. Voorbeelde word genoem. Ander skrywers slaan gate daarin.

Wanneer sal gesê kan word vroue en mans in Suid-Afrika is gelyk?

Sou ons al by die punt verby wees waar na vroueregte as ’n groepreg gekyk word, en as individuele regte beoordeel word? Die statistieke toon immers dat die fisieke behandeling wat vroue van hul “metgeselle” kry tot ’n groot mate afhang van faktore soos sosio-ekonomiese omstandighede. Selfs vroue se lewe hang soms daarvan af, en die statistieke van die verskynsel in Suid-Afrika, wat ook in Afrikaans as femicide bekend staan, is skokkend hoog. Femicide is die verskynsel waar vroue deur mans vermoor word bloot omdat hulle vroue is. In die praktyk is dit dikwels die vroue se lewensmaats of metgeselle wat daarvoor verantwoordelik is. In minstens twee opspraakwekkende Suid-Afrikaanse sake is die vroue se eie mans aan die moorde skuldig bevind – in albei gevalle het die mans ook buite-egtelike verhoudings gehad.

Volgens die FW de Klerk-stigting is die voorkoms van femicide in Suid-Afrika vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld. In ’n uitstekende hoofartikel haal Die Burger syfers van die Mediese Navorsingsraad aan wat lui dat ’n vrou elke agt uur in Suid-Afrika deur haar metgesel vermoor word.

Daarby is jare lank aanvaar dat Suid-Afrika die wêreld se verkragtingshoofsetel (rape capital) is. Geen vroulike persoon, en dikwels ook manlik, was veilig teen sulke aanvalle nie. Enigeen van ’n pap baba (danksy die wolhaarstorie dat seks met ’n maagd iemand van vigs kan genees) tot ’n oumatjie van 103 was nie veilig nie.

Op die oog af lyk dit of Suid-Afrika moontlik nie hierdie “top-prestasie” verdien het nie, met veral Indië wat as waarskynlik die ware wenner uitgewys word, maar weer kompetisie van Swede en die DRK kry. Op die oomblik lyk dit of die Republiek van die Kongo die kampioenskapstitel hou. Wat belangrik is, is dat Suid-Afrika oor baie jare konstant op dié terrein skandes maak deur onder die “top-presteerders” te tel.

Alle diskriminasie teen vroue kan egter nie na fisieke geweld herlei word nie. Die uwe het in ’n era grootgeword waarin vroue, onder wie sy eie ma, rybewyse bekom het nadat hul kinders redelik groot was. Trouens, albei oumas het al kleinkinders gehad en was al etlike jare weduwees toe hulle rybewyse gekry het.

Maar hierdie era was weer niks in vergelyking met ’n vorige era toe dit in minstens dele van die land as bykans ondenkbaar beskou is dat ’n vrou agter die stuurwiel kan inskuif. Met die 50ste herdenking van Nieuwoudtville se NG Kerk is ’n bundeltjie met kerkverwante verhaaltjies oor die gemeente uitgegee. Een van die vorige predikante van die gemeente was dr. GTT Kikillus. Nadat hy ’n beroep elders heen aanvaar het, het hy ’n ouderling in die besonder bedank wat hom gereeld op huisbesoeke in ’n veraf afgeleë deel van die gemeente vergesel het. Die ouderling is veral bedank omdat hy mev. Dominee so mooi gehelp kar stoot het as die kar in die duine vasgeval het. Dit lyk of dit destyds bloot ondenkbaar was dat ’n vrou, selfs onder hierdie omstandighede agter ’n stuurwiel kon inskuif.

Hier en daar was dit tot betreklik onlangs feitlik ondenkbaar dat ’n boer in sy testament ’n dogter grond sou laat erf as daar ’n seun of meer was. Van die dogter is bloot verwag om haar huweliksmaat so te kies dat sy goed versorg sou wees.

Maar kan hierdie outydse onregte, kwaadwillig bedoel of nie, werklik opweeg teen die lewensgevaarlike omstandighede wat vroue deesdae daagliks moet trotseer, en waaroor me. Rebecca Sibanda van die FW de Klerk-stigting uitgebreid skryf?

Dit lyk inderdaad nog so ’n groot probleem te wees dat dit nog lank as ’n kollektiewe probleem beskou moet word waarin groepregte ’n belangrike deel van die teenoffensief moet uitmaak. Individuele regte kan die probleem net so min doeltreffend oplos as wat Afrikaanssprekendes in hul individuele hoedanigheid doeltreffend die aanslag van Panyaso Milner die Tweede kan opponeer. Hier moet groepregte in die vorm van internasionaal erkende minderheidsregte saamstaan.

Ten slotte, dis toevallig, maar jammer dat ’n paar vroue juis nou gekies het om swak voorbeelde te stel. Die OB het nou ’n lang rits hofsake verloor, en sien steeds geen fout aan haar kant nie, en verduidelik dat net die Here haar uit haar pos kan verwyder. Oudminister Faith Muthambi het self haar bes gedoen om die beeld van vroue te skaad, maar besef dit klaarblyklik nie. Die uitspraak teen minister Maite Nkoana-Mashabane oor versuim met Distrik Ses is skandalig, en die getuienis teen Thandi Modise, speaker in die Nasionale Vergadering, in ’n dieremishandelingsaak skreeu teen hemele. Tot hul krediet het hulle nie een so ver bekend die optrede teen hulle geblameer omdat hulle vroue is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Christa ·

Vroue is nie beter daaraan toe nie. In vroer dae was vroue gerespekteer. Vroue het beter behandeling gekry, want vroue was nog hoe die Bybel hulle beskryf het, die man se hulp. Deesdae is dit Andersom, mans Moet vroue se hulp wees, hulle Wil selfde gelykheid he, juis daarom word vroue nie meer gerespekteer nie, hulle word die selfde as mans behandel.

marco polo ·

Vandag is Vrouedag. Wanneer kry ons eendag ‘n Mannedag? Anders is daar mos nie gelykheid nie, of hoe?

Delia ·

Marco. Ek stem saam vir n Mannedag.
Mans is net so belangrik vir n gebalanseerde samelewing en speel net so n belangrike rol in n kind se lewe.

Michelle leR ·

In die slotparagraaf word individuele optrede gekoppel aan die algemene beeld van vroue. Vroue is tog nie verhewe bo ‘wangedrag’ nie. Vroue is gewone mense, net soos mans, en almal van ons doen soms verkeerde dinge. Bedoel die skrywe nie dan tog om sekere optredes te tipeer onder geslag?

Anne ·

Herman, doen bietjie navorsing oor Georgina Solomon. Sover ek weet was sy die stigter van die SAVF en het ook in die tronk geslaap oor hul optog vir die stemreg vir vroue. Ek is nie 100 persent seker nie maar joernaliste hou mos van navorsing, of hoe?

Tershia ·

Wil maar net se ek is self n vrou maar weet ook ek verskil van n man Sal nooit kan gelyk wees aan n man nie want dit is nie hoe God my geskape het nie Mans is mans Na wie gaan n vrou as sy iets nie kan oopdraai nie n man Mans verskil in baie opsigte van n vrou Hoekom wil vrouens gelyk wees aan n man Baie bly ek is n vrou want as ek in alles gelyk was aan n man dan het ek mos nie n man in my lewe nodig gehad nie

Bekommerd ·

Glo die skrywer regtig wat fw stigting skryf…..ons het regtig nie nodig om enige nuus van hulle te lees nie . Ek dink jou vergelyking van vroue toe en tans is buite verband. Oor die algemeen ding ek jyt die kat aan die stert beet. As jy weer skryf, lees dit jou skrywe weer deur.

Riena ·

Wel, of ons daarvan hou of nie, vroue is gemaak om kinders te kry en goddelik groot te maak. In die verlede, maar ook vandag nog. Net om die getalle konstant te hou moet `n ouma agt kleinkinders he.
Om daarvan “bevry” te wees beteken lee skole, lee kerke en `n bitter eensame oudag. Daar is werk om te doen! Kry meer kinders!

Michelle leR ·

@Christa: Bedoel jy vroue kan net respekteer word as hulle in ‘n voorafbepaalde rol gegiet kan word? Of kan ons mans en vroue sien as individue wat respek moet verdien en nie net voor gegee word omdat hulle net inpas waar hulle rol gesien word.
‘n Hulpfunksie alleen is tog ‘n minderwaardige funksie by implikasie, maw nooit volledig genoeg om ‘n onafhanklike funksie te vervul.?
Hierdie bly (vir my) ‘n tameletjie om te interpreteer.

Swannie ·

Los Chridta uit ! Sys is `n vrou so na my hart en vir haar soort het ek baie respek. Sy is `n vrou EN `n dame en tussen die twee is daar `n hengse verskil.

Vrouens wil deesdae nie eens meer gelyk wees aan mans nie, maar bo mans verhewe.
Wanneer `n vrou wel soos n man se gelyke behandel word, klae hulle gewoonlik onmiddellik dat mans nie respek het vir hulle nie, so dit maak nie saak wat ons mans doen of nie doen nie, ons bly maar net verkeerd.

Dit is weer vir my verkeerd dat vrouens tot afgode verhef word en selfs `n vroue dag het wat `n vakansiedag regverdig.

Boer-in-die-Wind ·

“Femicide or feminicide is a gender-based hate crime term, broadly defined as “the intentional killing of females (women or girls) because they are females”

Ek dink die twee hoe profiel sake waarna jy verwys val buite die definisie van Femicide.

Riena ·

Moedertaal en Moederliefde…. dit is wat ons land `n kritieke tekort aan het wat per definisie deur vroue in stand gehou word. Laat ons skouer aan die wiel sit en hierdie twee woorde laat gedy in oormaat.

William ·

Ja nee, net soos sekere rasse is daar nou ‘n geslag wat bo alle kritiek verhewe is. Die waarheid lyk heelwat anders as die feminatopia wat die betotteldes wil voorgee.

Christa ·

Hi Michelle Soos EK die Woord verstaan is die man die hoof van die huis en broodwinner. Vrouens Wil gelyk wees aan die man, dan Moet hulle ook Kan vat as hulle Soos n man behandel word.

Christa ·

Swannie jy slaan die spyker op die kop. As vroue Soos vroue behandel word dan Moet hulle ophou met die man’s mee te ding. Die man is die hoof van die huis, dis tog wat die Woord ons leer. Hy het laaste sê. As vroue Wil uitwerk, hoekom Moet man’s dan saans nog die huis houding ook doen. Man’s hoort saans tuis verwelkom word met glimlag en bord gekookte kos

Kobus ·

Bekommerd – wanneer lees ons artikkel uit jou pen.? Een van die edelste beroepe wat daar is no die van Tuisteskepper word dikwels deur haar suster in die beroepswereld afgekraak.

Connie ·

As mans van die begin af die hoof van die huis was het vrouens nie nodig gehad om die broodwinner te word nie. Meeste mans is slap papperds en niks werd nie. Wat van vrouens en kinders wat verkrag word? Daarvoor het hul seker ook vetskoning.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.