Nuuskommentaar: Vrouekrag

Merkel krukkeMet die aanwysing van Janet Yellen as eerste vrou om die Amerikaanse Federale Reserwebank, algemeen bekend as die Fed, te lei neem hierdie klein vroutjie een van die invloedrykste ampte ter wêreld oor. Alles dui daarop dat sy ‘n formidabele mens is wat haar met die beste kundiges omring, na raad luister, maar ook uiteindelik self instaan vir die besluite wat sy neem.

Sy is egter nie al vrou wat bestem is om diep spore te trap nie. Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het pas weer ‘n nuwe termyn gekry terwyl sy steeds van krag tot krag gaan. As kind het sy erg gesukkel om te loop, en slegs met die grootste vasberadenheid geleer om opdraand te kan loop en trappe te klim. Terwyl sy nog glad nie die balanseerbalk kon baasraak nie, het sy gedroom om eendag ‘n figuurskaatser te word.

Niemand was verbaas toe sy eers ‘n paar dae na ‘n ski-ongeluk by ‘n dokter verneem het haar kneusing is eintlik ‘n kraak in die bekkenbeen nie. Hoewel van haar afsprake gekanselleer is terwyl sy drie weke moet rus, pak sy steeds haar belangrikste take met krukke aan, en word die krukke sommer ingespan om sake te verduidelik.

Yellen en Merkel is egter nie die enigste vroue wat in hul rigtings bo uitgekom het nie. Die voorsitter van die Internasionale Monetêre Fonds, Christine Legarde, het pas aangekondig dat die IMF sy voorspelling vir die groei van die wêreldekonomie opwaarts gaan aanpas. Dit is deels te wyte aan onverwagse sterk groei syfers uit die VSA – waar Yellen ‘n enorme rol gaan speel – en Brittanje.

Onlangs het oud-president Michelle Bachelet die presidentsverkiesing in Chili gewen. In 2006, toe dié pediater die eerste keer president geword het, was sy die eerste vrou om in dié land die hoogste amp te beklee. Bachelet, ‘n sosialis, beloof dat die inkomstegaping verklein gaan word, dat belasting verhoog gaan word, gratis na-skoolse onderrig ingestel gaan word, en dat die land ‘n nuwe, meer moderne grondwet gaan kry.

Met haar verkiesing beteken dit dat drie van Suid-Amerika se grootste lande nou vroue as presidente het, en dat sy haar aansluit by die vroue in Argentinië en Brasilië se hoogste ampte.

In sowat 20 lande is vroue nou die regeringshoofde. Sommiges, soos dié in Thailand en Bangladesj, het dit nie maklik nie. Die president van Suid-Korea moet koel kop bly in die aangesig van ‘n uitdagende skoorsoekery van Noord-Korea se duidelik onstabiele diktator, Kim Jong-un.

Tog kry vroue nie oral die kanse wat vroue in sommige lande en organisasies kry nie. In Saoedi-Arabië mag vroue nie bestuur nie, om maar een voorbeeld te noem.

In Suid-Afrika word ‘n vreemde teenstrydigheid aangetref. Die land het ‘n groot aantal vroue as ministers en adjunk-ministers, vroue-premiers is ‘n algemene verskynsel en skynbaar net so lief vir die peperduur blink rygoed as hul manlike eweknieë en die goewerneur van die Reserwebank is ‘n vrou.

Heelwat van hierdie vroue loop onder skerp kritiek deur, soos die minister van landbou en seevisserye, Tina Joemat-Pettersson, en die omstrede Dinah Pule is selfs ontslaan. Maar die oes vir ontslag uit die kabinet staan steeds geil – en nie net onder die vroue nie.

Die algemene konsensus is dat die polisiehoof, Riah Phiyega nie net nie die mas opkom nie, maar haar ook laat gebruik om die president teen selfgemaakte probleme te beskerm.

Hierteenoor word die huidige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, beskou as loshande die beste Openbare Beskermer wat die land tot dusver gehad het. ‘n Groot deel van die bevolking staan bankvas agter die duidelik geteisterde Glynnis Breytenbach.

Dieselfde land word egter ook as die verkragtingshoofsetel van die wêreld beskou. Die nuus word kort-kort oorheers deur die grusame lot van jong dogtertjies, soos nou met die vermoorde, vierjarige Jasmin Pretorius. Die driejarige Willemientjie Potgieter wat saam met haar ouers tydens ‘n plaasaanval vermoor is, wou graag by die Kinderkrans ‘n lofkleuter word.

In Suid-Afrika is vroue gelyk en ongelyk tegelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.