Nuuskommentaar: Vryheidsdag: Was vryheid se prys te duur?

Argieffoto

Argieffoto

Vandag word Vryheidsdag in Suid-Afrika gevier, maar nie almal is ewe opgewonde hieroor nie. Sedert 1994 het verskeie kommentators die stelling gemaak dat die Afrikaner saam met die res van Suid-Afrika bevry is. Nie almal stem met dié stelling saam nie. Het dit nie hoog tyd geword om meer genuanseerd na die konsep van vryheid in ’n heterogene land te kyk nie?

Verlede jaar het ’n interessante persoon die president van die Kanadese Assembly of First Nations geword. Perry Bellegarde is tot dié amp verkies nadat hy jare lank ’n byna aktivistiese rol in die Kanadese politiek gespeel het, en in die besonder die politiek van die Kanadese inheemse bevolkings, veral die Indiane. In sosiale kommentare word hy uit liberale kringe gereeld erg gestriem en daaraan “herinner” dat Kanada een land, een nasie en een regsbegronding het.

Maar is daar noodwendig soveel vryheid in hierdie konsep opgesluit? By geleentheid het die vermaarde politikus, wyle Harry Swartz, iets soortgelyks tydens ʼn politieke vergadering uitgeroep. Hy was op die plek siende kwaad toe iemand uit die gehoor dit in Duits vertaal: “Ein Volk, ein Land, ein Führer!”

Maar dit is duidelik dat minstens sommige mense in Kanada nie voel dat die “regsbegronding” (law) almal ewe billik behandel nie. Afgesien van die inheemse bevolkings is daar voortdurend woelinge in Quebec, met aanpassings om vir dié provinsie se eiesoortigheid voorsiening te maak dat daar in wese nie van een regsbegronding vir almal gepraat kan word nie.

Dwarsoor die wêreld word daar voorsiening gemaak vir minderhede, wat die “first nations” insluit. Soms word hierdie maatreëls as ontoereikend beskryf, terwyl lande wat nie hiervoor voorsiening maak nie, gereeld erg deurloop oor hoe sulke minderhede behandel word – die sogenaamde onverteenwoordigende volke van die wêreld.

Hierteenoor is daar diegene wat die fokus op die geheel plaas, en die geheel tot ’n tipe volmaakte ideaal verhef. Binne hierdie denke is enige amptelike minderheidsaspirasies erg politiek inkorrek, en grens dit selfs aan ’n tipe landsverraad.

’n Interessante aspek van Suid-Afrika se beeld as ’n etnies-juridiese eenheidstaat is dat die swart tradisionele leiers hier al hoe meer ooreenkomstig die “first nation”-konsep begin optree. Die ironie is dat die swart mense ook maar laat-aankomelinge in die land was, en dat dit eintlik die Khoisan sou moes wees wat ’n erkende liggaam vir tradisionele leiers moes gehad het.

Onder die bewind van pres. Jacob Zuma het die lede van die Huis van Tradisionele leiers baie prominensie begin kry. Die mees opspraakwekkende is waarskynlik die (R60 miljoen per jaar se) Zoeloekoning se uitsprake rondom die xenofobiese kwessie in Suid-Afrika. Die invloed op die ANC word egter ook goed gedemonstreer deur die konsepwet op tradisionele howe wat landelike vroue se regsverskyningsbevoegdhede ernstig sal inkort – mits dit natuurlik die toets van grondwetlikheid sal deurstaan. Die tradisionele leiers, wat almal in ’n mindere of meerdere mate “salarisse” uit die belastingbetalersakke verdien, dring daarop aan. Deur hul “vakbond, Controlesa, is hulle ’n beduidende mag.

Verskeie faktore maak dit moeiliker om duidelike tradisionele leierskapsidentifikasie binne die Khoisan-gemeenskappe in Suid-Afrika te doen, vir insluiting in die Huis van Tradisionele Leiers. Waar sommige taamlik onbetwis is, is hul stamme so klein dat daar eintlik ’n dispuut is of hulle nog werklik bestaan, maar dikwels is dit teenstrydige aansprake wat sake vertroebel.

Dié probleem kan natuurlik ooreenkomstig internasionale gebruik opgelos word – met die hou van demokratiese verkiesings. Byvoorbeeld, op dieselfde dag as wat die VSA sy jongste midtermynverkiesing gehou het, het die Navajo-Indiane ’n nuwe president verkies, Ben Shelly. Hierdie amp is in 1991 geskep.

Maar wat van die Afrikaner? Toenemend word gehoor dat Afrikaners soos vreemdelinge in hul eie land voel. Ritse rasdiskriminerende wette beperk die demokratiese regte van die Afrikaner. Maar die Afrikaner het geen tradisionele leiers nie – die Afrikaner het sedert sy beslaglegging die demokratiese konsep gekoester, soos blyk uit die ritse republieke, soos dié van Swellendam en Graaff-Reinet, Stellaland en Gosen, en die Boererepublieke van getuig.

Trouens, artikel 235 van die grondwet maak daarvoor voorsiening dat groepe met onderskeidende tale en kulture, territoriale of korporatiewe selfbeskikking kan hê.

Kortom, sou die Raad van Tradisionele Leiers nie meer statuur en geloofwaardigheid hê as al die volke van die land daarin ingesluit was nie? Volgens die grondwet is almal immers gelyk voor die reg.

Die doel van hierdie oefening was nie om ʼn moontlike koers aan te dui nie, maar bloot om te toon dat baie Afrikaners nie aan die een kant steen en been kan bly kla oor vervreemding en diskriminasie nie, maar aan die ander kant te “politiek-korrek” bly optree in byvoorbeeld stemkeuses, terwyl daar inderdaad ander opsies is.

Net so help die geraas oor hoe die NP-regeringsonderhandelaars te lig in die broek was, en van hul mandaat in die onderhandelings afgewyk het, en ’n tweede referendum wat soos mis voor die son verdwyn het, net mooi niks as nie daadwerklik van die grondwetlike opsies wat wel bestaan, gebruik gemaak word nie. Daar is net mooi geen kans dat ’n galbrakery op die internet die horlosie na 1990 sal terugdraai nie.

Dit is net so futiel soos die “politiek-korrektes” wat enige vorm van selfstandigheid slegmaak, omdat die oplossing volgens hulle in die geheel geleë is. Dit sou miskien ’n ander prentjie kon wees as die regering werklik in algemene belang, en nie in belang van die (swart) meerderheid regeer het nie. Dit sou miskien water hou as die strewe na om deel van hierdie eenheid te wees, nie uitgebuit is om Afrikaans in die staat- en private sektor eenvoudig in onbruik te laat verval nie.

Hoe meer minderhede en hul kultuurbelange weggekalwe word, hoe moeiliker raak die oortuiging in die motivering dat minderhede – en so ook die Afrikaner, ook in 1994 bevry is. Hoe meer die regering aandring op kwotas vir “etniese swartes” in sportspanne, hoe lawwer klink gekussingde bruin intellektuele se aansprake dat hulle self swart is.

Daar is nog ’n toets of die Afrikaner inderdaad nou meer vry is as voor 1994, en dit is die mate waartoe die Afrikaner weer kultuurbande met sy stamlande herstel kan kry. ’n Deel van die probleem is dat die Afrikaner tydens sy isolasiejare in ’n sin “Afrikaanssprekende Engelse” geword het en baie só totaal kontak met Nederland, België Duitsland en ander stamlande verloor het, dat daar ook by baie nie meer ’n behoefte aan die herstel daarvan gevoel word nie.

’n Tweede faktor wat hiertoe bydra is dat staatsliggame soos die Nederlandse Taalunie, moeilik regstreeks met die Afrikanergemeenskap kan skakel, en ooreenkomste via die Suid-Afrikaanse regering sluit. As die regering dit afskeep, is dit daarnatoe. Immers het die Afrikaner nie ’n soortgelyke statutêre liggaam soos die Vlaamse regering wat dié Belgiese segment volwaardig verteenwoordig nie.

Het daar nie ’n geleentheid oopgegaan toe Suid-Afrika internasionale nuusdekking oor die beeldestorm wat op veral Afrikaanse geskiedkundige figure gemik is (en die Afrikaner so in wese van die “res” onderskei is), en toe deur die xenofobiese aanvalle (waaraan die Afrikaner nie meedoen nie), dat die Afrikaner en ander minderhede groter buitelandse empatie kon bereik nie?

Of is die wil om hierdie yster te smee terwyl dit warm is, net afwesig?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
M van Dyk

Al wie “vry” is, is die regering en hul maaitjies wat maak en breek soos hulle wil. Moordenaars is vry om te moor en vekrag. Diewe is vry om te steel. Meeste “vry” mense sit vandag in hul eie tronke by hul huis en werk. Selfs ons Kerke lyk eerder soos tronke. Vry ? Dis ‘n mite.

Bert

Die wil is daar, maar hoe gaan ons te werk? En by wie kla ons of waar doen ons aansoek vir wat? Ons yster is ook steeds warm vir die Volksmoord wat gedurende 2015 in intensiteit toegeneem het. Ons het geen Leier nie.

Peet Schabort

Ja, van alles vry behalwe die duiwel. En die bewyse daarvoor sien ons elke dag.

Pretorius

Ek kan nie glo die die ANC regering net kan doen wat hulle wil nie as dit kom by korrupsie is hulle die meesters. Elke dag word daar gelees hoe hiedie mense miljoene rande steel en verduister asof hulle geregtig is om dit te doen. Wat vir my so snaaks is hoe hulle altyd daarmee wegkom. Dan is daar die honderde ondersoeke wat gelots word teen die korupsie maar daarvan kom ook net mooi niks. Hulle steel en steel en die korupsie hou net nie op nie. Wanneer gaan ons iets daaraan kan doen, wel soos ek dit sien nooit!!… Lees meer »

Bertha

“vryheid” vir die BLANKE Afrikaner bestaan nie, en die prys wat ONS moet betaal vir Volksveraad is Volksmoord en onderdrukking. JA die prys is te hoog!