Nuuskommentaar: Vrystaat en Noord-Kaap se bedenklike korrupsie-voorbeeld

Argieffoto

Argieffoto

Met die onlangse hoofraadvergadering van die ANC het daar luide stemme opgegaan dat die party sy houding jeens korrupsie, wat deur sy lede gepleeg of na bewering gepleeg word, moet verander. Die party se beeld ly skade en dra vermoedelik by tot die krimpende ledetal.

As die kommer maar net was omdat korrupsie verkeerd is en die land se ekonomie skaad eerder as ’n party se stembusprestasies. Om nie te praat van ’n refleksie op morele verrotting nie.

Dit sou beteken dat lede wat van korrupsie aangekla word, geskors word. Tot dusver is hoofsaaklik verweer dat iemand onskuldig is totdat hy skuldig bevind is. Maar skynbaar nie in die Vrystaat nie. Daar is drie amptenare van die premierskantoor wel aan bedrog met reis-en-verblyfeise skuldig bevind is en toe as “straf” na ander departemente ontplooi is. Voorheen was dit vir joernaliste ’n interessante oefening om munisipale bestuurders wat vasgebrand het, te volg soos hulle ontplooi, herontplooi en nogmaals opwaarts herontplooi is totdat die bottel bars.

Tegnies is daar ’n verskil tussen skorsing en afdanking. Met skorsing word iemand se posisie effektief in suspensie geplaas, onder meer om te verhinder dat hy of sy met amptenare wat as getuies gebruik kan word, kan inmeng. Tensy iemand sonder salaris geskors is, is dit nie ’n werklike straf nie, en die land dok jaarliks miljoene rande op aan amptenare en ampsbekleërs wat tuis sit, maar volle salarisse verdien – iets wat eintlik ook maar op korrupsie neerkom as sake onverklaarbaar sloer.

Op die ANC-beraad het een stem teen die skorsingvoorstel uitgestaan – dié van premier Ace Magashule van die Vrystaat. Hy voel die beginsel van onskuldig tot die hof skuldig bevind behoort steeds te geld. Twee van sy LUR’e, dr. Benny Malakoane, Vrystaatse LUR vir gesondheid, en Mathabo Leeto, Vrystaatse LUR vir sport, kuns en kultuur, staan in die hooggeregshof tereg op aanklagte van bedrog van altesaam R13 miljoen.

Boonop is die Vrystaatse LUR vir landbou, Mosebenzi Zwane, as minister van minerale hulpbronne herontplooi. Dit word Zwane teen die kop geslinger dat hy ondersoeke wat ongerymdhede met die Vrede-suiwelprojek bevind het en optrede teen persone vereis het, gebêre het. Die leier van die DA, Mmusi Maimane, het Magashule en Zwane as tsotsi’s beskryf wat net hulself wil verryk (Volksblad). Voorts word ’n verband getrek tussen die beskerming van Gupta-belange by die Vrede-projek en Gupta-belange in die mynwese.

Die feit dat Magashule ’n verbete Zuma-lojalis is, help ook nie om die Vrede, ekskuus, vrede te bewaar nie.

Die jongste storm is egter dat die premierskantoor ’n omvattende kommunikasie-kontrak aan die omstrede firma Letlaka Communications toegeken het sonder om die regte prosedure te volg. Dit gee aan Letlaka effektief beheer oor die wetgewer en provinsie se kommunikasie, waaronder die “uitdeel” van provinsiale advertensies in die media. Dis die einste Letlaka wat die omstrede R40 miljoen webwerf ontwerp het (wat deur die Openbare Beskermer ondersoek word), en besit ook minstens nog een koerant wat volgens die DA se leier in die wetgewer, Roy Jankielsohn, feitlik al die advertensies kry, waaronder vakatures.

In die buurprovinsie, die Noord-Kaap, word nou uitspraak gelewer in die uitgerekte Trifecta-saak. Die regter het reeds skerp woorde gehad oor die rol van die ANC se provinsiale tesourier, Yolanda Botha, wat intussen dood is. Ook die provinsiale leier van die ANC, John Block, en LUR vir finansies en ekonomiese ontwikkeling, het reeds onder die regter se tong deurgeloop. Nóg ’n LUR, Alvin Botes, is aangekla.

Die uitspraak kan nie vooruitgeloop word nie, maar Block is al lank erg omstrede en is vir die ANC al lank ’n blok aan die been.

Dis nie asof die Vrystaat en Noord-Kaap so ’n tekort aan kundigheid het dat aangeklaagdes ten alle koste in poste en ampte moet aanbly, of ondergaan nie. Inteendeel, die twee provinsies vaar as provinsies nie te waffers nie. Die Vrystaat, eens ’n modelrepubliek, staan nou voor in die tou as dit kom by munisipale skuld aan Eskom en waterrade. Die werkloosheidskoers is ook nou nie juis iets om huis toe oor te skryf nie, selfs nadat migrasie uit dié provinsies in berekening gebring is. Die Vrystaatse departement van ongesondheid bly in die nuus, en om die verkeerde redes.

Die mooi munisipale name soos Naledi (ster), Nala (voorspoed) en Mafube (heuglike sonsopkoms) staan as bespotting teenoor wat werklik aangaan. Twee wonderlike provinsies met sout-van-die-aarde mense wat ly omdat die leiers hulle laat ly eerder as om self behoorlik te lei.

Volle krediet aan Volksblad wat onvermoeid berig oor dinge wat krom en skeef verloop, en opposisiepartye wat te midde van enorme druk in die wetgewers, aanhou werk om sake uit die duisternis te lig. Gemeenskapsradiostasies soos Radio Rosestad stook dan verder in aktualiteitsprogramme soos Brandpunt.

Kollektief is die probleme egter van ’n veel groter omvang as bloot plaaslike kwessies (en daaroor kan boekdele geskryf word).

En hoeveel wurms gaan uitpeul as die soeklig met die dieselfde intensiteit op ander provinsies skyn?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

irene ·

Wie pleeg korrupsie nie die gewone mens nie maar die ho’er gesag hahaha
wil korrupsie glo vadvat maar hulle! Stop self nie

Ronnie ·

Dis so hartseer. Ek ry ten minste twee keer per week in QwaQwa rond. My hart wil breek vir paaie wat daar nie isnie. Skole wat nie papier het nie. Dakke wat uitmekaar val. Verwaarloosde geboue. Het julle al gesien hoe lyk mnr Ace se vlagskip “gastehuis? Of die “Secure Care Child Centre” in QwaQwa wat al aan die begin van die jaar oopgestel is, maar ek sien geen kind daar nie. Waarom al hierdie wit olifante? Kom kyk asseblief hier as jy wil sien hoe lyk wanbestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.