Nuuskommentaar: VSA-Noord-Koreaanse ooreenkoms – Te veel gesplete tonge?

Pres. Donald Trump van die VSA saam met die Kim Jong-oen, die Noord-Koreaanse leier, tydens die geskiedkundige beraad tussen dié twee leiers op die Sentosa-eiland in Singapoer (11 Junie 2018). Foto: AP Photo/Evan Vucci

“My hele lewe lank gaan ek ooreenkomste aan. Ek is ’n meester met die sluit van ooreenkomste.” Só het pres. Donald Trump, Amerikaanse president, gesê by die afsluiting van sy beraad met die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen.

Baie waarnemers is egter onrustig oor hoe die twee lande die ooreenkoms verstaan, en hulle het rede. Die Noord-Koreaanse staatsbeheerde pers is duidelik vooraf van teks voorsien waarop ooreengekom sou word, en was blykbaar onder opdrag om hierdie teks te gebruik. Dit sluit verskeie bepalings in wat nié in die teks van die formele ooreenkoms voorkom nie, en sekere dele waarop volgens die ooreenkoms ooreengekom is, ontbreek in die Noord-Koreaanse media se weergawe.

Noord-Korea het op Verslaggewers Sonder Grense se jongste persvryheidsindeks die laaste plek van 180 lande ingeneem. Kortom, die land ken geen persvryheid nie.

Aan Amerikaanse kant is daar ook maar ’n erge bontpratery en die media krap kop oor hoe uitlatings weerskante van die onderhandelingslyn verstaan moet word.  Breedweg word omvattende stappe tot die voordeel van Noord-Korea voorsien, en sal daar deurlopende, voortgesette diplomasie hieroor wees, wat aan die VSA se kant deur Mike Pompeo, Amerikaanse minister van buitelandse sake, gelei sal word.

Waar die VSA ’n langer proses, tipies van ’n demokrasie, voorsien, verwag Noord-Korea ’n sneller proses waar die twee regerings bloot opdragte gee, en die betrokke opdragte dadelik uitgevoer sal word. Noord-Korea het byvoorbeeld groot verwagtinge dat die VSA se “war games” saam met Suid-Korea nou iets van die verlede is. Die opheffing van sanksies en hulp om Noord-Korea op te bou, word ook as feitlik onmiddellike prosesse beskou.

Pres. Donald Trump van die VSA saam met die Kim Jong-oen, die Noord-Koreaanse leier, tydens die geskiedkundige beraad tussen dié twee leiers op die Sentosa-eiland in Singapoer (11 Junie 2018). Foto: Kevin Lim/The Straits Times via AP

Oor die aftakeling van sy kernarsenaal is Noord-Korea vaag, veral omtrent die tydlyn.

Dis egter duidelik dat Noord-Korea uit die ooreenkoms verstaan dat ook Suid-Korea en sy bondgenote geen kernvermoë op die skiereiland mag hê nie.

Dit is duidelik dat dit vir Noord-Korea belangrik is dat veral sy eie bevolking, maar verkieslik almal, moet glo dat Noord-Korea met sy aggressiewe ontwikkeling van kerndraende missiele, as die VSA se gelyke in die onderhandelings kon optree.

Die Los Angeles Times spreek hom sommer in sy inleiding soos volg oor die ingeboude moeilikheid in die ooreenkoms uit: “North Korea made clear Wednesday it viewed the commitments that President Trump and ruler Kim Jong Un made about denuclearization and sanctions during their summit in strikingly different terms than the White House, suggesting trouble going forward.”

Die Vlaamse De Standaard is meer optimisties en beklemtoon dat die twee leiers mekaar oor en weer na hul lande uitgenooi het, en vertolk die Noord-Koreaanse reaksie as dat hy, soos Trump, die uitnodiging aanvaar het. Trump het ook te kenne gegee dat Kim “snel” sal werk om die Koreaanse skiereiland te demokratiseer. Kim, van sy kant, sê die ou boek se blaaie word nou omgeblaai, en die wêreld sal binnekort ’n heel nuwe bedeling sien tot stand kom.

Pres. Donald Trump van die VSA saam met die Kim Jong-oen, die Noord-Koreaanse leier, tydens die geskiedkundige beraad tussen dié twee leiers op die Sentosa-eiland in Singapoer (11 Junie 2018). Foto: AP Photo/Evan Vucci

Daily Maverick skryf egter ook dat die “fallout” oor die ooreenkoms die dag ná ondertekening begin het. Veral Suid-Korea en Japan is bekommerd oor Trump se uitlatings dat die “war games” opgeskort word, sonder dat daar oënskynlik ’n teenprestasie voor is. Japan het die VSA daarop gewys dat die Amerikaans-Suid-Koreaanse militêre oefeninge lewensnoodsaaklik is.

En hoe lank Trump daaraan gaan slaag om Kim se beeldpoetser te wees, is ook nie duidelik nie. Trump se antwoord op medianavrae oor hoekom iemand wat so bloeddorstig is / was omarm word, is dat Kim nog bitter jonk was toe sy vader (sy voorganger as diktator) hom ontval het. Tog kon hy as jongeling as ʼn sterk leier na vore tree.

Die jong Amerikaner wat in Noord-Korea aangehou is en toe in ’n koma huis toe gestuur is waar hy onder die beste Amerikaanse mediese sorg gesterf het, word nou deur Trump tot held verhef wat sou bygedra het tot die vredesberaad en ooreenkoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rupert Ashford ·

Wel, Trump gaan nerens kom deur die mannetjie nogsteeds sleg te se nie. Hy probeer seker nou maar eers die heuningkwas vir ‘n ruk om te sien wat gebeur. As hulle die nukes kan afbreek en die staat van oorlog beeindig met ‘n ontspanning van die Koreas se verhouding, en dalk kos kan kry vir die Noord Koreane kan dinge net betergaan vorentoe. Kom ons kyk wat gebeur.

Gerda ·

Soos gewoonlik ruk die pers alles uit verband. Pres Trump is baie slim hy weet wat hy doen. En sanksies teen Noor Korea word nie onmiddelik opgehef nie dit het Pres Trump duidelik gemaak
Almal onderskat Pres Trump
Die pers mense het hom probeee uithaal maar hy hul almal een voor
Alles wat plaasvind is alles telens van die eindtyd wat in besig is om in vervulling te kom lees 1 Thessalonicense 5:3 want wanneer hul sê vrede en veiligheid dan oorval n skielike verderf hul soos die barensnood van n swanger vrou ….
Laat mens dink.

nico k ·

Ek dink ook nie Trump het ‘n ander keuse gehad as om te probeer met onderhandelinge nie. ‘n Kernoorlog is niemand se eerste keuse nie. Maar ek self het geen vertroue in die Kim nie en glo nie daar gaan veel verander na hierdie ooreenkoms nie.

Jaycee ·

Om daar wesenkike veranderinge in NK se situasie tuis en in sy internasionale optrede gaan kom moet seker gesien word. Ten minster het NK en die VSA se leiers bymekaar gekom, wat ‘n prestasie op sigself is. ‘n Lang pad lê agter die rug en realities kan mens verwag dat die pad vorentoe nie maklik gaan wees nie. Die eensydige linkse anti-Trump nuusmedia moet net nie krap waar dit nie jeuk nie.

Magaretha van heerden ·

Ek het volle vertroue in Trump. Hy weet presies wat hy doen en wat hy sal doen indien N Korea stroppie raak. N Korea baat te veel by die ooreenkoms om dit sommer te verongeluk. Trump is reguit en N K weet presies hoe hy dit sien. Die media wat deel is van die Deep State en die Illuminatie sal nie n goeie woord he vir dit wat gebeur nie. Onthou in elk geval God se plan sal lyk soos dit mnoet. Op die einde is die God wat in beheer is.

James ·

Trump dek al sy “bases”, soos hulle in bofbal se. Hy het nou groots, die hand van vriendskap uitgesteek. As die hand weggeklap word, gaan hy Noord Korea sink – en niemand sal kan vinger wys na hom nie, want hy het alle ander opsies uitgeput..

DIT, is wat die liberale media nie verstaan nie

gatiep ·

Die boogieman is nou weg.
Met wie gaan die media ons nou probeer bang maak.Seker weer Rusland?
Meeste mense besef nog nie dat die ou wereld orde is klaar nie.Hy het sy tyd uit gedien en genoeg gahos veroorsaak wat niks sin maak nie.Ons is besig met n nuwe beskaafde een.
Lyk my sekere mense haat Trump so dat hulle niks goed kan sien wat hy doen nie.
Veral CNN. Dit raak eintlik pateties soos hulle iets vout soek.

Jongboer ·

Kom aan Herman. Ek geniet jou artikels, maar sjoe jy kan duidelik nie vir Trump vedra nie. Dink jy Clinton sou beter gewees het. Of gaan mens net heeltyd kla oor dat hy president is..

Herman Toerien ·

Hallo Jongboer en ander lesers. Dankie vir die reaksie. Ek was gister vir mediese prosedures in die hospitaal, en oa ‘n ruk onder narkose. Ek het dus nie soveel nuus soos gewoonlik ingeneem nie. Vanoggend kon ek weens die gevolge nie vroeg opkom nie, en toe ek uiteindelik begin werk, het ek Maroela om verskoning gevra dat die nuuskommentaar laat sou inkom. Ek raadpleeg daagliks sekerlik die mees objektiewe meningspeiling oor Trump, die Rasmussen Reports. Ek wou weerskante van die Trump-sienings kyk, dus die Los Angeles Times wie se redakteur baie anti-Trump is, en De Standaard wat tussen objektief en naïwiteit drentel. Nog baie ander bronne.
Dit voel werklik vir my julle het ‘n ander nuuskommentaar gelees as wat ek geskryf het.

Will ·

Kan hierdie arme President in die opinie van die eensydige pers en eenogige nuuskommentators enigsens iets reg doen? Wat soy hulle verkies: ‘n mislukte beraad en meer vyandiggesindheid met moontlike kernoorlog? Trump is so ‘n wonderlike vars bries na Obama se 8-jaar van progressiewe liberale regering en chaos met die Arab-Spring, Benghazi, nikswerd saamgeflanste “appeasement” met die diktatorskap in Iran (net miljoene $ onder die tafel) en verhoogde rassisme in die VSA.
Dankie vir ‘n president wat ophou om die VSA af te takel en uit ‘n posisie van mag onderhandel. Moenie na ‘n eerste ontmoeting tussen jarelange vyande verwag alle eise moet bevredig wees nie. Gee diplomasie en voortgesette gesprekke en onderhandelinge kans, met Pompeo en verskeie rolspelers betrokke en nie net Pres. Trump nie. Dankie vir ‘n president wat doen en nie net mooi gepaaide toesprake lewer nie!

Jongboer ·

Sterkte Herman. Hoop jy voel gou beter. Mag die son op ons almal skyn. Hou aan skryf, jy het wonderlike Gawe…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.