Nuuskommentaar: Waar het Zuma van “demokrasie” geleer?

Pres. Jacob Zuma Sondag in Nelspruit. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Pres. Jacob Zuma Sondag in Nelspruit. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Pres. Zuma het onlangs opnuut in ʼn toespraak laat blyk dat hy geen snars verstaan van wat die term “demokrasie” beteken nie. So bly hy skade aanrig aan die beeld van die land waarna kredietgraderingsagentskappe kyk wanneer hulle besin of Suid-Afrika rommelstatus moet kry, of steeds op die randjie daarvan moet huiwer.

President Jacob Zuma het geen benul wat die term “demokrasie” beteken nie en nog minder wat “grondwetlike demokrasie” beteken. Dit was onlangs weer duidelik toe hy die ANC se provinsiale verkiesingsmanifeste in veral Mpumalanga bekend gestel het. Hy het onder meer bitter teen die opposisiepartye uitgevaar wat “howe toe hardloop” en sodoende wetgewing sink.

“Demokrasie is ʼn verskoning vir ʼn parlement om op ʼn nie-gewelddadige wyse ʼn burgeroorlog na te boots om die samelewing juis daarvan te vrywaar,” skryf die bekende Nederlandse akademikus en filosoof, Ger Groot.

Groot is geen pleitbesorger vir anargie nie – in teendeel, wanneer hy leemtes in die demokrasie uitwys, is dit juis met die oog daarop om verbeterings aan te bring.

Voorts kan die staatkundige bedelings van Nederland en Suid-Afrika nie heeltemal met mekaar vergelyk word nie.

Nederland is ʼn konstitusionele monargie maar, anders as in Suid-Afrika, kan regters in Nederland (wat nie ʼn konstitusionele hof het nie) nie die grondwetlikheid van wetgewing en internasionale verdrae bevraagteken nie. Naas die grondwet wat, anders as in Suid-Afrika, ewe veel klem op menseregte as op minderheidsregte plaas, het Nederland ook ʼn statuut waar die howe wel oor die grondwetlikheid kan beslis.

Groot lê egter baie klem op die land se referendumstelsel, waar die hele volk oor sekere sake inspraak kry. Hy is krities hieroor, omdat dit selde afsluiting bring – die verloorders probeer maar weer, soos met die onafhanklikheidsreferendum van Skotland. In verskeie Switserse kantons is etlike kere gestem totdat vroue stemreg gekry het.

Ook oor die rol van die regspraak is Groot nie te gelukkig nie, maar hy kom tog tot die gevolgtrekking dat dit effektief is.

Hy haal ou staatsfilosowe aan wat pleit die breë bevolking moet nie te interaktief met die parlementêre stelsel bly verkeer nie. Deelname aan verkiesings is belangrik, maar daarna moet die beroepspolitici (wat hy ʼn beroepskaste noem) toegelaat word om die land “tot die orde van die dag” te regeer.

In Suid-Afrika sou dit ondenkbaar wees dat kiesers hul kruisies gaan trek en sake dan bloot aan die politici oorlaat totdat hulle weer stem. Selfs met gemeenskappe wat gereeld oor verbreekte beloftes en swak dienslewering protesoptogte hou, asook grondwetlike prosesse van openbare deelname, is daar steeds te veel politici wat vir soustreinonthalwe in die “ampte” is.

Die protesoptogte, wat soms bloedig kan wees en baie skade aan infrastruktuur kan aanrig, demp skynbaar nie ʼn groot segment van die politici se stropersmentaliteit nie. Soms lyk die botsings tussen betogers en die polisie nogal heelwat meer na die ware Jakob van ʼn burgeroorlog as die “nagebootste burgeroorlog” in die parlement waarvan Groot praat. (Boonop het die EFF ook ʼn eiesoortige betekenis aan die term “nagebootste burgeroorlog in die parlement” gegee).

Tog was Zuma tot onlangs nog meestal heel gemaklik met van die protesoptogte wat die “mense se demokratiese reg is.” So tussenin het die boodskap, dat die grondwet vereis dat dit vreedsaam moet wees, verlore gegaan en noudat dit die ANC hard aan die hakskene byt (en met die #ZumaMustFall-veldtog ook vir Zuma), word groot fout gevind met protes wat die ANC teiken.

Miskien moet mens net na ʼn paar basiese eienskappe van demokrasie kyk om te sien hoe Zuma die kluts kwyt is. Demokrasie gaan nie, soos Zuma aanhou aandring, oor die opdwing van meerderheidswil nie. In ʼn demokrasie word in algemene belang regeer en dit word ook in Zuma se ampseed vereis. Zuma word gereeld daarvan beskuldig dat hy sy ampseed verontagsaam, soos om te verklaar sy lojaliteit lê eerstens by die ANC en dan by die land. In die politieke wetenskap word dit wat Zuma as demokrasie verstaan, die tirannie van die meerderheid genoem.

Voorts word ʼn demokrasie gekenmerk deur die skeiding van wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag. Die wyse waarop Zuma die ANC-meerderheid in die parlement vanuit Luthuli-huis georkestreer het, die ontplooiing van napraters in ander regeringsfere en vele meer, skreeu teen die grondslag van demokrasie.

ʼn Demokrasie vereis ook ʼn vrye pers. Verskeie optredes van die SAUK die laaste ruk is moeilik hiermee versoenbaar. Die opskorting van die program, The Editors, se tydsberekening in die aanloop tot die verkiesing stink.

In ʼn grondwetlike demokrasie verskuif die oppergesag van die parlement na die oppergesag van die grondwet en daarmee saam die howe. As die opposisie dan die howe nader en wen, beteken dit die ANC het met die handhawing en beskerming van die grondwet drooggemaak en nie dat die opposisiepartye ondemokraties optree nie.

Zuma se klagte dat die ANC so dikwels gekniehalter word om die nodige wetgewing vir vooruitgang deur te voer, dui meer op ʼn neiging tot ʼn tirannie van die meerderheid as demokrasie. Van regeer in algemene belang is daar geen sprake nie.

Voorts is sulke onsinnige opmerkings ook nie juis musiek in die ore van kredietgraderingsagentskappe nie, veral nie waar die agentskappe se aandag skerp op Suid-Afrika toegespits is nie.

Dit is lank nie meer ʼn geheim dat die land Zuma nie as president kan bekostig nie, maar Zuma het sy magsposisie in die ANC so ingeweef dat sy verwydering baie moeilik gaan wees. Volksblad sluit sy hoofartikel vandag soos volg af: “Suid-Afrikaners moet besluit hoe lank hulle met hom (Hlaudi Motsoeneng) opgeskeep wil sit. Soos Zuma is hy ʼn reuse verleentheid vir die land. Elke dag wat hulle aan bewind bly, rig hulle meer skade aan.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Morne

Seker maar in die KFC “bones” gelees…?

Henk

Soos gewoonlik Herman, slaan jy die spyker op die kop wanneer jy praat van “tirranie van die meerderheid ” Dit is tog wat die meerderheid verstaan onder demokrasie,. Dit is kennend dat daar herhaaldelik verwys word na die meerderheid sal “rule”, nie regeer nie, maar oorheers. Die ander baie groot probleem is die kwalifikasie van die heersers. ‘n Man met as voorbeeld, ‘n standard 3 wat nie behoorlik kan lees of skryf nie as staatspresident, wat kan jy van die res verwag? In watter mate kan hulle leiding bied aan alle Suid Afrikaners, nie net die sheeple van die ANC… Lees meer »

Hendrik

Demokrasie vir wie. Ek kan op die oomblik nie deelneem aan die demokratiese stelsel nie omdat daar so teen my gediskrimineer word met BEEE, AA, kwotas. ens. Minderhede het geen se in die demokrasie nie en kenners soos Prof Koos Malan, Andre Duvenhage ens het dit al openlik herken. Daar is ‘n wesenlike probleem met die land se grondwet. As dit nie was vir burgerregte groep soos Afriforum wat hierdie onregte deur die hof die staat aangevat het nie was S.A. nog in ‘n swakker posisie. Minderhede moet soos een man wegbly vanaf die stembusse om ons beswaar te wys.… Lees meer »

Marietjie

Dit gaan my verstand in die eerste plek te bowe, hoe iemand met slegs st3 twee keer president van die land geword het, terwyl iemand wat werk soek matriek of meer moet kry. Dit is die eenvoudige rede hoekom die president nie n clue het wat demokrasie beteken nie, vir hom is dit om te steel en te lieg en dan soos n nar uit sy maag te lag, maar van lekker lag kom lekker huil, sy dag kom al hoe nader.

Theuns

Dankie Herman. Ons sien ook wat jy se maar jy verwoord die situasie en gee dit lewe. Net ‘n vraag. As die onvergenoegde situasie van regeer en beskaafde oorlog voering in die Parlement dan nie moontlik is nie, wat gaan die uiteinde wees? Hoe kan daar hoop in ‘n hopelose situasie wees? Sou die eerste prys nie ‘n beter onderhandelde bedeling gewees het nie? En as jou antwoord ja is op laasgenoemde is dit nie ‘n verskriklike klad op die naam van die 1994 onderhandelaars nie?