Nuuskommentaar: Waar sal ek (my betroubare) nuus vandaan kry?

Grafika: Nico Strydom

Grafika: Nico Strydom

Wanneer na die uitslae van verskillende opnames in die VSA gekyk word, kan benewens ’n paar vaste patrone ook genoeg los drade geïdentifiseer word om te toon dat die Amerikaners nie regtig weet waarheen met die media nie. Maar hoe lyk die saak in Suid-Afrika? Uit ’n rits onlangse terugvoer op Maroela se leserskommentaar-funksie kom dit voor asof baie lesers die algemene media, of sektore daarvan, verdink dat nuus om ander redes as die nuuswaarde daarvan selektief opgedis word.

Die vernaamste agtergrond is dat ’n peiling pas getoon het dat twee uit drie Amerikaners glo die VSA het nie vryheid van spraak nie. Die grootste bedreiging vir vryheid van spraak is politieke korrektheid, iets wat in Suid-Afrika al deur die rissieskerp kommentator Rhoda Kadalie as die diktatuur van die liberalis beskryf is.

Terselfdertyd het ’n Gallup-peiling getoon dat Amerikaners se vertroue in die media sy laagste vlak ooit bereik het sedert Gallup in die lewe geroep is. Net 32 persent Amerikaners het baie of redelik baie vertroue in die media. Maar laat dadelik onderskei word, onder die Republikeine beloop die wantroue 51% terwyl dit onder die Demokrate net 24% is. As ’n kantlynaantekening kan ’n mens net wonder of dit nie ’n rol kon speel hoekom die omvattende mediaveldtog om Donald Trump se presidentskandidatuur te sink, onder die Republikeine relatief min impak gehad het nie.

’n Studie van die BBC wat ongelukkig ongedateer is, toon dat die Amerikaners se sienings oor verskillende soorte media baie verskil. (Studies hieroor se uitslae verskil dramaties.) Volgens die BBC-studie is die televisie in ’n tipiese week die meeste Amerikaners se vernaamste nuusbron, naamlik 50%. Koerante volg met 21%, die internet met 14% en radio met 10%. Die peiling toon ook aan dat  20% van die volwasse mans die internet as vernaamste nuusbron gebruik. Boonop raadpleeg 87% van die Amerikaners ook ander, asook buitelandse nuusbronne. Slegs die Suid-Koreane troef hulle hiermee.

Oor die jare was daar ook ander interessante peilings oor die Amerikaanse media. So is by geleentheid bevind dat die gemiddelde Amerikaanse koerantjoernalis meer liberaal as die gemiddelde Amerikaner is, en ’n voormalige leier van die piepklein Kanadese Christian Heritage Party, Ron Gray, het gereeld groot gewag hiervan gemaak.

Wat ook uit die peilings duidelik blyk, is dat inter-nuusbronne hulle dikwels teen ’n muur van vooroordeel vasloop. Die vooroordele word gewoonlik gevoed deur ’n horde “nuusbronne” van lae gehalte wat op hierdie wyse die nuusmark betree het, en gereeld die grootste klomp bollie verkondig. Die bron wat in gehalte wil uitstaan, veral as sy redaksionele inslag nie volkome in harmonie met die “hoofstroommedia” is nie, moet homself oor tyd vestig.

Terselfdertyd bevind die internetmedia hom egter ook in die geselskap van heelwat aanhangers van samesweringsteorieë, ontkenners van ’n ongelooflike wye verskeidenheid, fundamentaliste wat elders uitgebak het, en is daar gereeld galbitter aanvalle in die kommentaarkolomme.

Want daar is mense wat verbete hieraan glo.

Dit is dikwels ’n uitdaging om met waardigheid en steeds klouend aan beginsels uit sulke aanvalle van vitrioel te tree.

En dan het elkeen min of meer sy eie politieke mening waarvoor hy sterk intree.

In die stryd om geloofwaardigheid is daar dikwels ’n konflik tussen onverbonde wees, en objektief wees, maar dit is noodsaaklik dat minstens probeer word om sowel onverbonde as objektief te wees. (Dit is nou uitgesluit om byvoorbeeld openlik te verklaar dat die nuusbron Christelike beginsels nastreef – wat ongelukkig vir verskillende mense heel uiteenlopende dinge beteken.)

En wat is onverbonde en objektief in Suid-Afrika? Maroela Media het onlangs die vraag in ’n nuuskommentaar gevra of dit nog moontlik is om objektief oor pres. Jacob Zuma te wees. Of is die Zuma-bashing wat so gereeld plaasvind wel ’n objektiewe weergawe van die man se handel, wandel en vlieg (en ’n paar ander aktiwiteite). Miljoene aanhangers van Zuma voel anders.

Maroela sal voortgaan om te werk aan ’n objektiewe beeld deur ’n massa nuus van oor die wêreld te bestudeer, tendense waar te neem en daaroor kommentaar te lewer al pas dit nie in die raamwerk van politieke korrektheid nie.

Maar altyd fatsoenlik probeer wees, want selfs die bitterste pil proe beter as dit ’n lagie om het wat die medisyne sagter op die mond maak.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theuns ·

Skote petoors! Relevante kommentaar. Dit is een ding van jou Herman en Maroela Media, julle kan nie van politieke korrektheid beskuldig word nie! Wat julle wel doen is om baie versigtig met woorde omtegaan! Partykeer kry ek die indruk dat daar ‘n effense vrees by Maroela is, daardie vrees wat jy in ‘n kommunisties land sal kry van ‘Pasop ouboet loer oor jou skouer’! Dit kan Vryheid van spraak sleg benadeel as jy nie bewus is van die oorversigtig wees implikasie nie!

JC ·

Wat ‘n bitter oulike, aktuele en relevante artikel IN AFRIKAANS.
Herman, ek weet eerlikwaar nie WAT ons sonder jy en MAROELA SOU DOEN NIE.
Ek is ook moeg nes Rhoda vir die DIKTATUUR VAN DIE LIBERALISTE!!
HOPELIK IS DIT EEN VAN DIE DAE IETS VAN DIE VERLEDE, INSLUITENDE DIE GEWRAAKTE SEUNSE WEENKOOR.
DANKIE, JULLE IS WONDERLIK!
HOU SO AAN!!

Rynhardt ·

Waar kry jy jou nuus? My kennis van plaaslike-en internasionale politiek is onsettend goed en ek het myself bewys in hoofstroommedia! As jy die Woord vandag meesterlik verstaan help dit baie saam met bogenoemde aspekte om meer duidelikheid oir alles te kry.Hoofstroommedia en media24 staan nie vir die storie agter die storie vandag nie, en was in verlede en nog steeds verantwoordelik vir valse propagande teen Afrikaners.Dit is realisme, want vir 22 jaar het obs mense geen toekoms in SA nie! Dit weier hoofstroommedia om te openbaar op hul voorblaaie.Daar is goeie en slegte aspekte ook m.b.t. tot Maroela media. In verlede was baie interessante dinge deur my nooit geplaas deur maroela media nie.Dit kan maroela nie ontkwn nie Maar dan moet ek ook erken dat Maroela weer ook baie unterssante dinge van my geplaas het om publiek se oe oop te maak.Dit is n groot positiewe aapek! n Mens vra net n regverdige kans op vryheid van spraak en die storie agter die storie.Dit is waarvoor ek staan en dit is ook wat baie mense wil hoor.

John ·

Dis orals ‘n probleem. Selfs Maroela duld ook net menings wat hul eie standpunte onderskryf. En dit is nie noodwendig oor onderwerpe wat op hofsake gaan uitloop of venyn nie. Breinspoel is orals ‘n probleem… Afrikaners is nou baie angstig en mense wat kamtig ons saak verdedig, misbruik hierdie behoefte aan sekerheid en oorlewing. Sekere plaaslike tv-kannale maak grootliks van hul lugregte gebruik om net die saak van die ANC en sekere karakters of standpunte te bevorder of te verdedig. So net die Bybel is betroubaar…

Henry ·

Goeie artikel!
Soos Herman tereg uitwys is een van die mees algemene probleme wat internetmedia kenmerk, die aanwesigheid van ‘n verskeidenheid holruggeryde samesweringsteorieë. Dat die leuens wat verkondig word, dikwels afgestorwenes beskuldig wat hulself nie kan verdedig nie, is een van die kenmerke van komplotters se beswadderinge. Leuens wat genoegsaam herhaal word, verseker ook dat daar altyd sommiges sal wees wat die samesweringfabels as die waarheid gaan aanvaar.
O ja en wanneer die ‘kenners’ versoek word om die afgryslike dade en samesweringe aan die vervolgingsowerhede te verskaf, word jy begroet met die gewone lamsak verduideliking dat die betrokke ‘verskriklikhede’ gewoon dood geswyg word.
Ek kan aan geen goeie rede dink waarom die huidige regime nie enige inligting met ope arms sal verwelkom om voormalige NP lede en hul burokrate se ‘wandade’ bloot te lê nie. Waarom sal die huidige owerhede nie ondersoek instel na die sg komplotte wat Dr Verwoerd se moord vooraf gegaan het nie??? Wat ‘n wonderlike geleentheid indien sulke wandade ook om die nekke van Mnr Vorster en Gen van den Bergh se nekke gehang kan word en bygevolg ook op al hul ondersteuners – die Afrikaners – nie!!!
Maar nou ja. So moet daar ook vir elke positiewe ‘n negatiewe wees.
Is maar hoe dit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.