Nuuskommentaar: Waardegedrewe joernalistiek vir oorlewing

koerantTerwyl gedrukte koerante wêreldwyd noustrop trek, is daar ook hier en daar uitsonderings. Een daarvan is die Nederlandse Christelike koerant, Trouw.

Trouw is in Nederlandse terme nie ‘n baie groot koerant nie, maar kry gereeld erkennings, soos onlangs die aanwysing as Europa se beste koerant. Ook Suid-Afrika kom gereeld aan die bod, soos pas weer met ‘n artikel oor die slagting van renosters wat nou die 700-merk nader.

Vandeesweek, kort na aangekondig is dat Trouw se sirkulasie weer effens gestyg het, het die hoofredakteur Willem Schoonen (55) laat weet dat hy na ses jaar in die stoel aftree. Schoonen was waarskynlik ook die skrywer van die spesiale hoofartikel waarin die herverkiesing van pres. Jacob Zuma tot ANC-president goed-gemotiveer as fout, en baie sleg vir die land beskryf is.

In ‘n onderhoud met sy redaksie het Schoonen verduidelik dat hy aan die leuse glo dat iemand op die kruin moet aftree.

Maar hoe kry ‘n gedrukte koerant, nogal ‘n Christelike koerant in Nederland, dit reg om te groei terwyl vrae gevra word oor hoe lank gedrukte koerante nog sal voortbestaan?

Schooenen, ‘n oud-kommunis en ook oud-redakteur van ‘n kommunistiese koerant, stel twee sake. Hy verduidelik hoe hy die karakter van die tipiese Trouw-leser sien, en hy verduidelik hoe hy ‘n Christelike koerant beskou. En dit is bykans dieselfde.

Oor die lesers sê hy: “Hulle is betrokke, wat iets vir ander omgee, hulle word maatskaplik geraak, hulle stel in die politiek belang, is warm mense.”

Hy beskryf Trouw soos volg: “Dit is ‘n Christelike koerant, selfs nog meer as vyftien jaar gelede, maar wel op ‘n ander manier. Destyds is Christelik gelyk gestel aan kerklik-institusioneel. Nou verteenwoordig dit ‘n waardestelsel – die behoefte aan saambinding, identiteit, ‘n diepere dimensie, geloof, hoop en liefde. Dié waardes pomp deur die are van ons koerant. Dit word deur ‘n groeiende aantal mense gedeel.”

Gereelde Trouw-lesers sal weet dat hierdie stelling nie maar ‘n foefie is om ‘n aantal waardes bymekaar te maak en dan die Christelike baadjie aan te trek deur dit bloot Christelik te noem nie.

Voor die wind het dit nie altyd gegaan nie. Teen 2009 was die groep waarvan Trouw deel is, byna onderdeur, en is dit deur ‘n Belgiese mediagroep uitgekoop. Trouw was bekommerd dat die nuwe eienaars nie in die fokus op gehalte en waardes sou belangstel nie, maar die vrese was ongegrond. Maar in 2010 was daar ook nog ‘n re-organisasie, en sowat twintig joernaliste moes gaan. Die meeste hiervan het vrywillige pakkette geneem, maar die gebeure was traumaties. Heelwat kollektiewe geheue het saam met diegene wat weg is, ook verlore gegaan. Maar na die onvrede en saam huil het die mense wat agtergebly het, die besluit geneem hulle gaan ‘n fantastiese koerant lewer.

Hoewel Schoonen glo dat die gedrukte koerant oor tien jaar nog sal bestaan, is hy onseker oor waar sake oor twintig jaar sal staan. Hy bemerk reeds sekere patrone – lesers wat in die week die aanlyn-koerant op hul iPad lees, maar naweke die gedrukte koerant verkies omdat dit hulle laat voel dit is naweek.

Die groter fokus op die internet word juis as Schoonen se opvolger se grootste uitdaging beskou.

Sonder dat hy dit pertinent genoem het, het Schoonen wel ‘n aspek genoem wat wêreldwyd tot koerante se krisis bydra – geloofwaardigheid. Amerikaanse peilings toon gereeld dat die gemiddelde burger die geloofwaardigheid van koerante laag in skat in vergeleke met die radio, TV en selfs die internet, waar lesers moet onderskei tussen instansies wat ‘n gehalteproduk lewer, en ‘n oorvloed ongekontroleerde “nuusbronne” wat die grootste klomp kaf onder die son opdis. Dit is egter nie net oor die gedrukte media dat die Amerikaners krities is nie. Die Christian Science Monitor het onlangs juis die vraag gevra of iemand met die (liberale) waardes van pres. Barack Obama so goed in die Amerikaanse verkiesings sou vaar as hy nie so deur die media gerugsteun is nie.

Rasmussen het pas bevindings bekend gemaak oor wat vir die meeste nuusverbruikers belangrik is: “An overwhelming 86% of American Adults believe that when it comes to reporting of news events, it is more important for the media to get the story right than to get it first. A new Rasmussen Reports national telephone survey finds that just eight percent (8%) believe it’s more important for the news media to get the story first instead.”

In ‘n ander peiling het Rasmussen bevind dat 43 persent Amerikaners glo dat die sosiale media (bv. Twitter en Facebook) die publiek goed op hoogte hou van belangrike nuusgebeure, hoewel (nog net) 23 persent hulle hoofsaaklik hierop verlaat. Net 29 persent glo nie dat die sosiale media mense goed ingelig hou nie, en 28 persent is nog draadsitters.

Dit gebeur ook dat lesers en die media verskil oor die nuus wat die lesers wil bekom. Altesaam 54 persent Amerikaners meen die media oordoen die hoeveelheid nuusruimte wat aan die massa-skietvoorvalle in die VSA afgestaan word, en net 5 persent glo te min aandag word daaraan geskenk. Maar die media hét maniere om vas te stel nie net wat nuusverbruikers sê hulle wil lees of hoor nie, maar wat hulle in die praktyk lees of na luister.

Schoonen se uitgangspunt was om te hou by ‘n waardestelsel waarin lesers vertroue het.

Schoonen laat egter ook blyk dat daar ander aspekte is wat aandag moet geniet, en hy bevestig dat die rol van hoofredakteur nou baie anders is as ‘n klompie jare gelede – daar moet byvoorbeeld meer aandag aan geskenk word om adverteerders te bearbei.

Al is Schoonen verkeerd oor die redes hoekom sy koerant ten spyte van internasionale tendense (nog) groei, is die les ook duidelik dat dit minstens nie skadelik is dat ‘n nuusmedium ‘n waardestelsel nastreef nie.

Selfs al is dit die Christelike waardestelsel in ‘n land wat al as post-Christelik beskryf is.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae