Nuuskommentaar: Waarheen met ubuntu?

vlag suid-afrika

Argieffoto

’n Boek en ’n musiekspel met ubuntu as tema het toevallig byna gelyktydig in Nederland die lig gesien. Albei skrywers is besonder ingenome met ubuntu en meen die wêreld kan daarby baat vind, maar ironies het onlangse kampusgeweld getoon dat ubuntu in Suid-Afrika nog geen oorheersende nes kon skop nie. En dis nie net die wit mense of regses of Afrikaanssprekendes se skuld nie.

Net toe dit lyk of die ergste kampusgeweld in die land hokgeslaan is, verskyn ’n boek in Nederland met die titel, Ubuntu en Nelson Mandela. Afrikaanse filosofie van verzoening (Henk Haenen). (In Nederland beteken Afrikaanse iets van Afrika – so sal Xhosa ook ’n Afrikaanse taal wees. Die taal Afrikaans word dikwels Zuid-Afrikaans genoem, of die “Zuid-Afrikaanse taal”.) Die koerant, Trouw, berig breedvoerig hieroor onder die opskrif, “Ubuntu is wat de wereld nodig heeft”.

Terselfdertyd het ’n vernuwende nuwe musiekspel op die planke gekom met dieselfde tema. Die regisseur, Koen van Dijk, is ook ’n skrywer wat na berig word omvattend navorsing gedoen het, en duidelik ’n enorme aanhanger van oudpres. Nelson Mandela is. Die boek en die verwerkte musiekspel se feitlik gelyktydige verskyning en opvoering het toevallig gekom omdat die twee skrywers nie van mekaar se projekte bewus was nie.

Hoewel plek-plek subjektief en selfs naïef, bied Van Dijk sekere waardevolle insigte.

Van Dijk beskryf ubuntu as dat dit … “staat voor evenwicht en broederschap. Het is een manier om recht te spreken door middel van inleving en vergeving. Wie een conflict heeft, moet zich verdiepen in de beweegredenen van de andere partij. Dan heb je het conflict al half opgelost.”

Hy is so beïndruk daarmee dat hy meen dis wat die wêreld nodig het. Hy is blind daarvoor dat ubuntu in Suid-Afrika onder enorme druk verkeer.

Trouens, hy is ingenome met die staanplek wat Afrikaans (as taal van die onderdrukker) weens Mandela se vergewensgesindheid kon kry, wat Afrikaans in die tronk by ’n bewaarder geleer het. Hy meen om iemand se taal te leer is ’n vorm van inlewing.

Met die aanslag teen Afrikaans wat as een van die brandpunte van die hopelik pas afgelope onrus se brandpunte beskou word, en jong swart stemme wat verraad skryf oor die onderhandelde skikking, is die boek en musiekspel tegelykertyd gepas en onvanpas as uitvoerproduk.

Dat die wêreld iets nodig het wat al die konflik kan hokslaan wat tot soveel bloedvergieting, hongersnood en ander ellendes lei, is bepaald so. Die opkoms van bewegings soos Al-Kaïda en die IS toon immers duidelik dat daar by ten minste sommige mense ’n behoefte is aan streng reëls en ononderhandelbare sanksie teen oortreders. Ubuntu staan op die oog af baie ver hiervandaan, en het sterk animistiese elemente. Juis dit maak ubuntu skynbaar so geskik om ook religieuse grense oor te steek waar daardie grense juis die oorsaak van konflik is.

Uit die artikel in Trouw is daar geen aanduiding dat die twee skrywers bewus is van die feit dat Mandela saam met die res van die ANC-leierskorps ’n keuse ten gunste van die gebruik van geweld gemaak het nie. Die gevolglike terreurdade word dus ook nie belig of enigsins gepoog om dit in konteks te plaas nie. Dit word bloot gekoppel aan Mandela se gelykstelling van die Anglo-Boere-oorlog en die ANC se stryd – beide het gegaan oor die verwerwing van regte.

Op eie bodem het verskeie kommentators, veral uit die dampkring van die Seunse Weenkoor, juis sterk elemente van ubuntu getoon deur by herhaling te pleit vir die aanhoor en begrip vir die ander se griewe. Die historikus en kommentaarskrywer, dr. Leopold Scholtz, het naderhand in ’n artikel op Maroela Media daarop gewys dat begrip vir die griewe van die ander nie daarop neerkom dat die gevolglike gewelddadige optrede geregverdig is nie. Uit verskeie gemelde uitsprake van leiers van die molesmakers was dit egter presies wat verwag is – begrip vir die griewe moet noodwendig die goedkeuring van die metodiek behels.

’n Tweede probleem met die toepassing van ubuntu in hierdie situasie is dat die oproermakers ’n totaal eensydige houding ingeneem het. Daar is geen sprake van wedersydse begrip, soos ubuntu vereis nie. Die boodskap van wedersydsheid het ook nie altyd sterk uit die skrywes van die Seunse Weenkoor geblyk nie (en dan juis weer tot ’n verharding aan die ander kant gelei).

Ubuntu-aanhangers moet in gedagte hou dat ubuntu net kan werk as albei (of meer) kante van ’n konflik daardie filosofie aanhang. Volgens eie aansprake uit die geledere van die molesmakers (maar sonder ’n besliste aanduiding oor die verteenwoordigendheid daarvan) speel die foutief-vertaalde werke van Franz Fanon ’n sleutelrol in die vertrekpunte van die molesmakers. En dan, uiteraard, speel ras ’n groot rol asook die aanwending van geweld. Dit staan bitter ver van ubuntu.

Ook Marxisme en ubuntu het min raakvlakke, veral in die revolusionêre fases.

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, het Sondag syfers geplaas waaruit dit onder meer blyk dat daar soms groter verskille oor kwessies binne rassegroepe is as tussen rassegroepe. Hy skets ’n versoberende beeld.

Dit beteken egter nie dat die tikkie ironie nie raakgesien moet word dat die gees van ubuntu in Suid-Afrika ten minste plek-plek onder druk kom, terwyl twee Nederlandse skrywers dit as model vir die wêreld voorhou nie. Dat die twee skrywers skynbaar die brak kolle in hul beskouing van Suid-Afrika miskyk, is ’n heel ander kwessie en deel van die problematiek van instansies soos AfriForum wat onder meer die kwessie van plaasaanvalle probeer internasionaliseer.

Tot alle partye (nie net politieke partye nie) hulle ernstig tot ubuntu verbind, of dan die Christelike beginsels wat hiermee ooreenstem, sal die land sy weg moeisaam tot vrede vind. Dit word verder gekompliseer as van die instansies hulle afvee aan die Grondwet, wat juis die produk van ’n ubuntu-tipe proses was. Nie dat die Grondwet volmaak is nie.

En terwyl almal so aangemoedig word om mekaar te hoor en te verstaan, verstaan ’n mens ook die Afrikaner en Afrikaanssprekende se vrese en kommer oor die wyse waarop transformasie dikwels as transformania konflikwekkend toegepas word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Pieter ·

Baie jammer maar ek kon nog nooit die uitlewing van ubuntu soos beskryf in aksie sien nie, inteendeel dit lyk vir my na ‘n totale droom en misleiding ( selfs van die Holllanders). Kan enige iemand wat hierdie droom nastreef hul ook vereenselwig met: Lobola, Ukuthwala en muti moorde?

Grassie ·

Die Kase daar in Holland was gedurende die “struggle” jare een van ons grootste teenstanders. Hulle het mildelik bygedra tot die ANC se “Defence & Aid Fund” en die gewapende terroristestryd daardeur finansieel ondersteun. Dit beteken dat hulle Afrikanerbloed op hul hande het. Hulle is deels verantwoordelik vir die ellende waarin die land tans verkeer en ek dink dit is aanmatigend van die here Haenen en Van Dijk om nou op voorskriftelike wyse verder in te meng.
Ek wil net byvoeg dat die Hollanders wat daardie tyd in ons land gewoon het, gekant was teen die optrede van hul landgenote.

Soekie ·

Self in die Oos-Kaap grootgeword en neem aan ubuntu verwys na die verwagting by (meeste arm) mense, nie net swart nie, dat kos ens gedeel moet word, veral waar mense onderworpe is aan dinge buite hulle beheer, soos boere aan die weer. Maar die wat het, deel dit allermins altyd vrywillig en die wat nie het nie, skroom nie om alles in hul vermoe te doen om die vrygewigheid af te dwing nie. Emosionele afpersing veral en beslis geweld as dit moet. Al die verromantisering van sulke dinge is bra snaaks.

Poplap ·

Die ou spul Kase se doen en late verdien geen kommentaar nie.

Dawie ·

Ubuntu is maar net nog ‘n lugkasteel wat die inheemse inwoners aan ons voorhou van hoe goed hulle geleef het voordat ons hulle grond gesteel het. ‘n Amerikaanse skrywer Robert Ruark het die boek UHURU in die sestigerjare geskryf. Elke Afrikaans sprekende behoort dit te lees om te verstaan wat aan die gang is. Ek weet nie of dit nog beskikbaar is nie en of dit moontlik al verban is nie, maar dis beslis die moeite werd om te lees.

Sarie ·

Mandela het ook maar die vyand gespeel. Hy moes die hoë grond behou en het dinge gedoen soos die rugby trui aangetrek, Afrikaans geleer (wou ook hoor wat die wagte praat), en die Afrikaanse kerkdienste bygewoon. In die buiteland is hy as die vriendelike omie bekendgestel. Weinig word daar oor sy kommunistiese verbintenisse berig. Tipe van ‘n oëverblindery sou ek sê

Flippie ·

Ubuntu is ‘n filosofie wat rofweh beskryf word as die Afrika weergawe van humanisme. Waar daar bewyse is dat humanisme as filodofie ‘n opheffende basis vir die sosiale ragwerk van gemeenkappe kan wees, is dit nie die geval met Ubuntu nie.

Humanisme erken en bevorder uitnemenheid en stel die prestasies as doelwitte vir die bevolking sonder dat die kern van humanisme. In gemeenskappe waar humanisme sentrsal is, sal daar ook vooruitgang wees.

Ubuntu aan die andetkant is totaal anti-prestasie en presteerders word of afgetrek van die algemene ontwikkelingsvlak van die betokke gemeenskap of word vermy. Daar is dus geen vooruitgang by die gemeenskap oë nie.

Dit lyk of Van Dijk se “navorsing” baie oppervlakkig en naief was, om tot sulke gevolgtrekkings te kom.

Ubuntu is een van die groot redes hoekom Afrika so stadig ontwikkel of soms agteruitgaan.

Bly weg van Ubuntu

Soekie ·

Dankie vir daardie uiteensetting Flippie. Presies soos ek dit nog altyd in die praktyk sien gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.