Nuuskommentaar: Waarmee is die SAKP nou besig?

Die SAKP het die afgelope aantal jare sterk gegroei, maar is dit genoegsaam om die oorverteenwoordiging wat dit via die ANC geniet op te offer? Of is die dreigemente om meer op sy eie bene te staan en selfs aan verkiesings deel te neem ’n poging om die ANC met ’n blufspel af te pers?

Die SAKP se besluit om voortaan op eie bene aan verkiesings deel te neem as pres. Jacob Zuma nie as president bedank of afgesit word nie, is so vaag gestel dat baie waarnemers meen dis bloot ’n poging om die ANC af te dreig. In dié stadium is daar geen sprake dat die SAKP die alliansie wil verlaat nie.

Sonder behoorlike agtergrondkennis is dit moeilik verstaanbaar hoekom die SAKP ongemaklik sou raak met sy posisie binne die alliansie. By tye het die SAKP trouens die ANC byna totaal oorheers deur feitlik al die top-poste in die ANC te beklee. Oud-presidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki was onder andere in stadiums lede van die SAKP, en ook Zuma was, en het eers in 1990 opgehou om lid te wees.

Hoewel Zuma nie meer formeel ’n kommunis is nie, het hy besonder baie SAKP-lede in die kabinet aangestel, asook gewese SAKP-lede soos Pravin Gordhan. Trouens, hy het die ekonomiese portefeuljes soos handel (dr. Rob Davis), ekonomiese ontwikkeling (Ebrahim Patel) en finansies (Gordhan) vir SAKP of gewese SAKP-lede gereserveer. Ook verskeie ander SAKP-lede soos (minister in die presidensie, Jeff Radebe), Tina Joemat-Pettersson en ander het in die kabinet gedien, of dien steeds.

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Flickr/GovernmentZA

Dr. Blade Nzimande, grootbaas van die SAKP, dien as minister van hoër onderwys in die Zuma-kabinet, maar dit is duidelik dat daar nou min liefde tussen Zuma en Nzimande is.

Tog het Zuma onlangs ook gesê die ANC streef ’n sosialisties-kommunistiese staat na.

In die proses is die SAKP oor die jare erg in die ANC-strukture oorverteenwoordig, en sou ’n poging om op sy eie te gaan, geboemerang het.

Dit blyk uit die volgende syfers:

In 2012 het die ANC reeds die 1 miljoen-merk met lede verbygesteek. Dieselfde jaar was die SAKP se ledetal 150 000. Tog het dié syfer aangedui dat die SAKP sterk begin groei het. In 1928 was dit nog 1 750 lede. Sedertdien verloop dit soos volg: 1991 – 10 000; 1995 – 75 000; 2002 – 19 385; 2007 – 50 000; 2012 – 150 000; 2015 – 213 551; 2016 – 230 000; 2017 – 240 000.

Dit sit om in ongeveer ses setels in die nasionale vergadering, sou elke lid van die SAKP vir die party stem. Baie is egter ook ingeskrewe lede van die ANC, en kan dalk eerder hul stem by die ANC inwerp. Aan die ander kant: Politieke partye reken op veel meer stemme as net diegene wat formeel lid is.

Voordat Cosatu se grootste vakbond, Numsa, uit die federasie geskop is, was Cosatu se ledetal 1,9 miljoen. Numsa het egter toe ook pas die grootste vakbond in Cosatu geword nadat NUM voorheen dié rol vervul het en eintlik ook die ruggraat van Cosatu gevorm het. NUM het egter sleg gebloei nadat die nuwe vakbond, Amcu, op die toneel verskyn het, en het ook uiteindelik tot die Marikana-slagting gelei.

Hoekom sal die SAKP sy posisie van oorverteenwoordiging in die ANC prysgee?

Pres. Jacob Zuma tydens die Jeugdagvieringe in Ventersdorp (2017) Foto: @PresidencyZA, Twitter

Die eerste relevante faktor is dat die SAKP, soos Cosatu, nou al ’n geruime tyd dit duidelik maak dat Zuma moet bedank of die trekpas kry. Iewers gaan hierdie organisasies begin geloofwaardigheid inboet as Zuma en die ANC oor minstens hierdie kwessie vir hulle die koue skouer gee. Die skroewe is geleidelik stywer gedraai, soos om Zuma uiteindelik nie meer as spreker by die twee organisasies se geleenthede te duld nie. In Bloemfontein het Zuma in weerwil van teenkanting sy opwagting by Cosatu se hoof-werkersdagverrigtinge gemaak, maar is só uitgejou dat die president druipstert die pad gevat het sonder om sy toespraak af te steek.

Op die pasafgelope SAKP-kongres is dit duidelik gemaak Zuma is nie welkom nie.

Die SAKP se eie sterk groei sou ook bydra tot ’n versoeking tot groter onafhanklikheid binne die alliansie, of selfs om volledig op sy eie te gaan.

Voorts neig die ANC om soms met die toepassing, of gepoogde toepassing van ekonomiese beleid, betreklik ver te staan van wat normaalweg as ’n kommunistiese benadering bekend staan. Terwyl dit die SAKP via die alliansie inbind, kan ander instansies en partye in wese die SAKP wat die Marxisties-Leninistiese ideologie betref, oortref. Die EFF is so ’n (skyn)voorbeeld, terwyl Numsa hom ook baie sterk in hierdie deel van die politieke dam bevind.

Die SAKP kan in ’n sterk versoeking wees om tot ’n groter mate op sy eie bene te staan, maar sou daar in ’n verkiesing nie baie nie-lede vir die SAKP stem nie, verval die party onmiddellik tot die geledere van klein nis-partye wat sukkel om te groei, maar ook nie sommer noemenswaardig krimp te midde van groot oorhoofse politieke strome nie.

En is dit nie die beeld wat die publiek nou van die relevansie van die SAKP het nie? En dis klaarblyklik die beeld wat die SAKP en die media van die party het. Tot tyd en wyl lyk dit of die SAKP se posisie in die ANC onveranderd gaan wees, maar dit mag wees dat die SAKP se onaptytlikheid met Zuma hom tog gaan dwing om minstens ten dele sy dreigemente ten uitvoer te bring

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Siende blind? ·

Ag julle moes dit seker sien kom het met die groot SAKP vlag agter Mandela en de Klerk op elke geleentheid na die 94 verkiesing?

Annette Stander ·

Die SAKP sal nooit van sy bosluisstatus kan afsien nie. Hy usbte gewoond om op die ANC se rug te ry, net soos Cosatu

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.