Nuuskommentaar: Waarom is ons steeds so oningelig?

Verslaggewers met verskeie vorme van fopnuus. Illustrasie uit 1894 deur Frederick Burr Opper via Wikimedia Commons

Met die ontploffing in inligting wat deur tegnologie tot byna elke mens se beskikking is, word die vraag ook gereeld gevra hoekom daar steeds verdomming intree. Is daar bloot te veel nuus en van ʼn onaangename aard dat baie mense hul ore aan “alternatiewe” nuus uitleen en selfs ooglopende fopnuus vir soetkoek opvreet?

In vanoggend se Daily Maverick handel die hoofstorie juis oor hoe valse inligting ’n alternatiewe “werklikheid” kan skep. ’n Onlangse peiling toon dat net een uit drie Amerikaners meen dat The New York Times gewoonlik sy feite reg het. (Tog lees 49% die koerant minstens af en toe.)

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, verwys na ’n onlangse peiling wat getoon het altesaam 54% van Suid-Afrikaners het nog nooit van klimaatsverandering gehoor nie. Dit is meestal plattelanders – juis die mense wat die meeste deur klimaatsverandering geraak word – wat die minste daarvan weet. Die peiling wys ook dat 37% van die mense wat tersiêre onderwys deurloop het niks van klimaatsverandering weet nie.

Hoe is dit moontlik dat mense te midde van ’n oorvloed nuusbronne so oningelig kan wees? Enige persoon wat toegang tot die internet op hul rekenaar of selfoon het, kan besonder goed ingelig wees, met ʼn reeks nuusbronne op die internet beskikbaar.

Maar hoekom word na die huidige geslag as die slagoffers van “verdomming” verwys?

Uit ’n ontleding van leserskommentare is dit duidelik dat baie lesers nie die berig, rubriek of artikel waarop hulle kommentaar lewer, behoorlik gelees het nie. Antwoorde wat gesoek word, is dikwels in die einste artikel reeds beantwoord, of vooroordele maak dat feite in die artikel heeltemal verkeerd gelees of geïgnoreer word.

internet-tabletrekenaar-koffie

Foto: Kaboompics/Karolina/Pexels.com

Daar is soveel onaangename nuus dat baie mense eenvoudig volstruispolitiek verkies. Ander het skynbaar ’n onblusbare voorkeur om fopnuus vir soetkoek op te vreet, eerder as om van regte nuus kennis te neem. Ontkenners en samesweerders speel ook ’n rol.

Die vraag is egter hoeveel van die nuus wat beskikbaar is, en waarvan wel kennis geneem word, kan die mens inneem en in sy verwysingsraamwerk opneem? Verdrink baie mense dalk onder ʼn vrag nuus?

Dié kwessie is onlangs ook in een van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se elektroniese publikasies opgeneem. Tessa Opperman skryf onder die opskrif, “Sê jou sê, ongeag…” die volgende: “Ek worstel deesdae met dié kwessie: Word ons progressief dommer? En nee, ek praat nie van minder geleerd, met minder kwalifikasies, ’n onvermoë om wiskundige of natuurwetenskaplike feite te snap nie. Daarvoor ag ek die geesteswetenskappe en gepaardgaande vermoëns eenvoudig te hoog.

“Soveel hoofde, soveel sinne. En dis reg so. Dis waarom spanwerk so effektief is: Met meer menings en perspektiewe kom ons uiteindelik by beter besluite uit. Dit is nag as gedans moet word rondom die mening of besluit of wil van ’n enkele persoon wat glo dat hy of sy altyd reg is….”

Tussen die baie nuus, propaganda, fopnuus, ingewikkelde nuus, vooraf opgesette idees en blatante leuens wat amper elke leser teen die agtergrond van sy eie psigo-werklikheid ontvang en vertolk (en dikwels verwerp), moet die analis en meningsvormer hard werk om objektief en akkuraat ingelig te bly.

Hy of sy moet ook hul eie subjektiwiteit of strewe na nie-bestaande utopia oorkom. Geen regdenkende analis sal sy eie nes bevuil deur hom doelbewus tot fopnuus te wend nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

jennefer ·

“Verpaupering” die mens se verstand moet voortdurend gestimuleer word en rondhang voor n televisie is definitief nie stimulerend.

Arak ·

Snaaks dat as mens nie met die hoofstroom mening saamstem nie, dit maklik afgemaak kan word as verdomming/ontkenning/samesweerders. Ongelukkig het die media oor en oor hulself bewys as ‘n onbetroubare en partydige bron van nuus en inligting. Die aantal kere wat die media blatant gelieg het is legio. Dalk is wat hier waargeneem word eerder die reaksie van mense wat nie meer net blindelings glo wat die media opdis nie, maar eerder vir hulself begin dink. Ja, daar gaan foute wees, ja die media is ook nie altyd verkeerd nie, maar om nou voor te gee dat daar geen rede is om die media se weergawes te wantrou nie is ook nie eerlik nie.

sweis ·

Heeltemal reg ,neem die media waarop ek hierdie kommentaar plaas belowe om die feite te gee soos dit is ,die realiteit is hulle spandeer so baie tyd om polities korrek te wees dat die feite ingeboet word .Ek gaan n voorbeeld noem die media was n groot faktor om apartheid te beëindig deur feite te gee soos dit was,nou kom ons by plaasmoorde, woorde soos beweerde plaas aanvallers of vier mans was betrokke maar as daar na die ras verwys word en die feite gegee word soos dit is kan ons leiers na die wêreldhof gaan en n klagte indien wat meer gewig gaan dra agv die bewyse dat een ras verantwoordelik is vir die aanval en doodmaak van n ander ras,en sal en moet die regering aandag gee,nou lyk dit asof daar net n klomp misdadigers in SA is wat boere aanval en almal weet dit is nie die geval , ek plaas die skuld by elke joernalis wat hy/haar integriteit opgee om polities korrek te wil wees.

Hans ·

Sg hoofstroom media het eie storielyne volgens redaksionele beleid en SANEF. Ek dink hul voer ons dikwels sak poep as nuus. Nie alle sg alternatiewe media is vol fopnuus met agenda vir SA nie.

Koos ·

Intelligent wees beteken ook om te weet wanneer jy niks van ‘n onderwerp weet nie, en dan eerder te luister/lees/dink as om kommentaar te lewer. Niemand weet alles van alles af nie, behalwe blykbaar sommige lesers, veral op sekere ander nuuswerwe

Leon ·

Die rede is dat die media berig selektief oor sake. Hulle moet so polities korrek wees dat hulle nie die waarheid berig nie. As die media die waarheid praat oor die ANC is hulle môre toegemaak en in die hof. So is die met alle berigte. Jy mag nie die waarheid praat nie so dan lieg die media maar, net om uit die moeilikheid te bly.
Dit is maar een van die probleme hoekom mense nie weet wat aangaan nie en hulle “dommer” word.
“n Ander een is, die media behhort aan die regering en hulle kan die grootste klomp tjol skryf en die arme mense is niks wyser nie.

aj ·

Slim (hoë IK) vroue studeer verder en kry een kind … of geen kind!

Dom vroue (lae IK) woeker van vroeg af met hulle ander talente en kry baie kinders.

In enige verkiesing WEN die (dom) massas kiesers en hulle voorkeure word ‘gediens’.

Daarom ‘verdom’ die wêreld!

En die verdomming tempo neem skrikwekkend toe …!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.