Nuuskommentaar: Wag voor die mond én oor voor gevolgtrekking

‘n Skermskoot uit die video van die voorval toe Ashwin Willemse tydens ‘n regstreekse uitsending van die Supersport-stel af gestap het.

Plaaslik onder meer die Ashwin Willemse-sage en internasionaal die afstel of hopelik net uitstel van vredesamesprekings toon hoe versigtig uitsprake in multikulturele omgewings gemaak moet word, maar ook hoe fyn luistervaardighede ontwikkel moet wees.

Dit blyk toe ’n nierassige, onskuldige opmerking te wees wat tot die uitval tussen Willemse en sy mede-aanbieders op SuperSport gelei het. Nie net tussen hulle nie, maar volgens verskeie ontleders wat met baie skerp ontleedmesse ingeklim het, het dit ou wonde langs die land se heterogeniteitslyne getrek. Daarvan is so baie, min mense is oorgesien, hetsy as slagoffers of as passief aandadig. Lees hier.

Maar baie van hierdie ontleders hou nou by hul grofgeskut, en meen die kwessie van onskuldig, en losstaande van ras of rassisme, is eintlik net ’n toesmeerdery.

’n Baie soortgelyke stryd het hom rakende AfriForum en veral sy leiers afgespeel. Trouens, dit lyk nie of die twis verby is nie, en so onsinnig soos dit klink, dui al meer van die molshope met dieselfde verdraaiings en wanvoorstellings wat AfriForum bykans oortyd moet weerlê, op ’n komplot – ’n woord wat nou al in die media opgeduik het.

So asof sekere mense, onder andere wat hul titels van akademici verbete aankleef, nie suiwer akademies bereid is om die saak objektief te betrag nie. Lees gerus Kallie Kriel se repliek op prof. Amanda Gouws se petisie teen Ernst Roets hier.

Niemand sal stry dat dit in ’n heterogene land met uiteenlopende geskiedenisvertakkings onwys is om die spreekwoordelike halwe woord te spreek nie, veral nie nog met ideologiese voorkeure wat in mededinging staan nie.

Dan is die kommunikasieproses eintlik ook uiters kwesbaar. Breedweg word gepraat van ’n sender, medium van kommunikasie en ’n ontvanger. Die proses gaan egter ook deur ’n stelsel waarin talle invloede, van belangrike sake soos eie oortuigings en beginsels, tot skynbaar onbenullige sake soos die kant van die bed waarvan mens die oggend opgestaan het, ’n invloed uitoefen oor hoe die boodskap ontvang en vertolk gaan word.

En dié bietjie kwasi-akademikaans is baie, baie oorvereenvoudig.

En dan is daar wêreldsake. Dit geskied ook teen ’n agtergrond van heterogeniteit, asook tradisionele vyandigheid, botsende tradisies, en vele meer.

Die toenadering tussen die twee Koreas het dus ’n skeptiese wêreld verstom, maar van buite af was dit baie moeilik om swak of oneerlike plekke in die proses op te merk. Die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, het skynbaar daarin geslaag om oornag sy beeld en rol in wêreldpolitiek om te keer.

Vredesamesprekings tussen Kim en pres. Donald Trump van die VSA het egter nog onwaarskynliker gelyk, maar is skynbaar met min haakplekke vir 12 Junie in Singapoer beplan. En toe kanselleer Trump dit ná uitlatings uit Noord-Korea hom nie aangestaan het nie. Hy voorsien wel dat die samesprekings nog later wel kan plaasvind, maar dan moet die Noord-Koreane hul beste diplomatieke tong voorhou.

Dit blyk egter dat ’n vroeëre opmerking oor Noord-Korea en die voormalige Libiese diktator Ghaddafi, deur visepresident Mike Pence, in Noord-Korea bly krap het. Kim het naderhand ’n noot ingesit wat Trump boos gelaat het. Die Amerikaners se volledige verduideliking kan in ’n brief aan Kim hier gelees word.

Die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-un, tydens ʼn militêre optog in Pyongyang, Noord-Korea (15 April 2017). Foto: AP Photo/Wong Maye-E, File

Kim se sensitiwiteit oor ’n opvatting dat Noord-Korea die knie simbolies teenoor die VSA moet buig, herinner aan Willemse se opvatting dat hy ’n onskuldige opmerking van Naas Botha as ras-kwetsend ervaar het.

Verskillende aannames oor historiese (en huidige grondbesit) in Suid-Afrika lei ook tot spanning wat baie moeilik deur allerlei versekerings (sommige wat maar bra misplaas voorkom teen die agtergrond van die rol wat departementele onbevoegdheid en korrupsie in die mislukkings van die verlede gespeel het, en die hand van bereidwilligheid wat telkemale met soliede planne aangebied, maar weggeklap is) gesus kan word.

En hoe ’n groot prys is die wegbêre van Die Stem en die ou landsvlag? Veral solank ’n deel van die ou volkslied in die huidige volkslied beredder kan wees, al is die aanslag hierteen ook al sterk en met kwetsende woorde belaai?

Veral as toegewings al vantevore ter wille van dié of daai as swakhede ervaar en verder uitgebuit is.

Strooipoppe is volop, maar, so lyk dit, die ware karakter waarvan strooipoppe gemaak word, kan soms nogal ruggraat hê en gaan vasstaan.

En dan, soos AfriForum agtergekom het, hom teen ’n situasie vasloop waar die teenstanders en die vyfdekolonners ’n soort kollektief vorm, al is dit hoe onbedoeld.

En net soms omdat iemand nie omgee oor die gevolge oor die onversigtige inspan van die tong nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Haibo

ASHWIN moet dan aangekla word vir naamskending omdat hy Naas en Mallett apartheidspelers genoem het en beweer het dat hulle na hom as kwotaspeler verwys. Dit is met ander woorde ONWAARHEDE en ‘n klad op hulle naam wat HY geplaas het. OM nou hande te skud en aan te gaan los GEEN probleem op nie. Almal weet nou wat gaan in sy kop aan … en hulle moet hom vasvat … !!

Alida

Mense en veral die media span mos altyd die wa voor die perde in. Wag tot julle die regte redes het en praat dan.

Eier

Hoekom word ASHWIN nie vir naamskending aangekla nie?

Al

Ek is bly die debakel van Ashwin Willemse het gebeur.
Dit is ñ goeie pluimpie vir Afriforum wat buitelandse steun werf.
Wat gaan Trevor Noah met die debakel doen – of gaan dit ook ñ stille dood sterf.
Voortydige uitsprake het Min van Sport en Castle en joernaliste rooi van verleentheid – en skerm nou vir sg. toesmeerdery. Gaan Castle nou sy sosiale blaps herstel en nog sy label-lose bier ten toon stel nadat Naas en Nick Malett daardeur juis ge-ettikeer is.

Vra

Ek wonder of die Springbokke gaan afstap as hulle teen Engeland speel? Willemse het die voorbeeld gestel.