Nuuskommentaar: Wanneer anti-rassisme deur rassisme sneuwel

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

ʼn Moontlike joernalistieke flater werp reeds ʼn skadu oor die komende week teen rassisme, omdat dit impliseer dat die een ras ʼn groter aandeel in rassisme het as die ander. Gelukkig is daar ook ander inisiatiewe wat duidelik nié die kwessie deur vooroordele skeeftrek nie.

Van 14 tot 21 Maart word ʼn groot anti-rassismeweek gehou. Die stigtings van Nelson Mandela en Ahmed Kathrada is van die hoofdeelnemers. Sowat 80 organisasies het daarby aangesluit.

Intussen het dit, met Media 24 se aansluiting, wyd nuusdekking gekry omdat een van die doelwitte is om “ʼn nasionale gesprek oor wit mense se rol in die veldtog teen rassisme” in te sluit. Die herkoms van hierdie ongelukkige stelling, wat die fokus weer op ʼn eensydige en enkeldimensionele “skuldig by verstek” plaas, is blykbaar ʼn berig op Netwerk 24.

Dit is nie duidelik waar hierdie stelling vandaan kom nie, want dit word gladnie op die webwerf van die Anti-rassisme-netwerk van SA (ARNSA) genoem nie, ook nie by die doelwitte wat eintlik baie sinvol uiteengesit is nie. Dit word ook nie in Media 24 se formele mediaverklaring hieroor vervat nie.

Dit is jammer, want dit is intussen met hierdie skynbare invoeging deur ander media, verder gedra.

Dit is jammer, want as dié gewraakte doelstelling wel deel van die program uitmaak, moes dit vir Media 24 ʼn duidelike alarm laat afgaan het dat hierdie poging skeefgetrek is en ernstige reperkussies vir die verdere verbrokkeling van die doel kan inhou.

Veral twee Media 24-berigte trek vanoggend die aandag en toon duidelik dat so ʼn eensydigheid onvanpas is. Die eerste is die weduwee van die vermoorde SAKP-leier, Chris Hani, se reaksie om die regter wat parool aan Janusz Walus toegestaan het, ʼn rassis te noem. Die berig laat verder die indruk dat ras-determinasie, indien nie rassisme nie, sterk onderliggend aan die weduwee en die ANC se reaksie is.

Die tweede handel oor die jongste geval van ontwrigting wat deur Open Stellenbosch by die Woordfees by Maties aangerig is.

Hiermee word geensins te kenne gegee dat rassisme van swart kant erger is as rassisme van wittes se kant, of van bruin kant of welke oord ook al; dit beteken bloot dat ewehandig beoordeel en reageer moet word.

Die opvatting dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie, is self erg rassisties, ongeag die geskiedenis (Fanon) en filosofie daaragter. Miskien nie volgens die woordeboekdefinisie nie, maar om hare te kloof oor wat die ergste is – ʼn wit mens wat te kenne gee, deur optrede of ʼn woord, dat sy ras beter as ʼn ander is, of ʼn swart mens wat sy haat teenoor wittes op sy T-hemp of in graffiti “uitbasuin”, dit bly haatspraak. Die impak en effek, eerder as die woordeboekdefinisie, bepaal die skade wat aangerig word, al is laasgenoemde “toelaatbare vryheid van uitdrukking”.

Met hierdie yslike pynlike klip uit die skoen, is dit kwalik te betwyfel dat ʼn spesiale poging aangewend moet word om die spanningsvlakke wat rassisme in die land teweegbring, aangespreek moet word.

Dat dit bitter moeilik sal gaan terwyl die ANC die raskwessie as ʼn vername, indien nie vernaamste verkiesingstrategie inspan nie, is baie duidelik. Dat dit moeilik sal gaan terwyl vernielsugtige betogers kampusaktiwiteite ontwrig en terselfdertyd die rassetamboer kliphard moker, is so.

Dat kwaad nie met kwaad vergeld moet word nie, is ook so, maar dat die owerhede ferm moet optree, kan nie ontken word nie. Dit is ook so dat die slagoffers afdwingbare regte het.

Gelukkig toon onlangse peilings dat die meeste Suid-Afrikaners in vrede met mekaar wil saamleef. Vir die meeste is daar ander, dwingender kwessies as die raskwessie.

Die welbekende stelling van dr. Tjaart vd Walt, indertyd president van die RGN, geld steeds: “As die mense van ʼn land mekaar nie verstaan en vertrou nie, sal geen staatkundige model, nie eens die beste ter wêreld, doodeenvoudig nie werk nie.”

En dit geld enige denkbare model – van ʼn baie sterk gesentraliseerde eenheidstaat tot sesessie, met al die variasies tussenin.

Mens kan jou dus nie verlekker daarin dat die produk van die Kemptonparkse onderhandelinge onder allerlei soorte druk geplaas word nie.

Daar is ook ander inisiatiewe teen rassisme, soos dié van oorwegend Afrikanergroeperings, soos AfriForum, Solidariteit, die FAK, die FW de Klerkstigting, die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika en die Nederduitsch Hervormde Kerk.

Hulle het ʼn gesamentlike verklaring onderteken, met die opskrif: “Ons verwerp rassisme”. In hierdie verklaring word gebalanseerdheid aan die dag gelê: “Ons verwerp rassisme uit enige oord ondubbelsinning en ons waarsku die uitbuiting van rassisme vir politieke doeleindes is uiters gevaarlik. Ons doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners uit al ons gemeenskappe om respek teenoor mekaar te betoon ten opsigte van menswaardigheid, verdraagsaamheid met verskille en die oorweging van almal se bekommernisse, belange en aspirasies.”

Ten slotte, om ras as vertrekpunt te neem by staatkundige en politieke aspirasies, is om by voorbaat ʼn teiken op die rug te verf. Nie die grondwet of die internasionale reg erken ras as kriterium om ʼn volk te definieer wat op minderheidsregte op staatkundige terrein kan aanspraak maak nie. Dit is natuurlik ʼn ope vraag of ʼn volk wie se gemeenskaplike kultuurgebondenheid so swak is dat dit op iets soos ras moet terugval, verdien om as volk met regte te bestaan.

Maar in die grondwet en in die internasionale reg word daar wel ʼn magdom sogenaamde negatiewe regte aan rasse toegeken, byvoorbeeld dat teen niemand op grond van sy ras gediskrimineer mag word nie, dat daar nie haatspraak teen iemand op grond van sy ras gepleeg mag word nie, dat daar nie uitdelging op grond van ras mag wees nie, ensomeer.

Dis by hierdie punt, waar die land nou is, om rassisme behoorlik aan te vat. Dis eintlik skreiend dat dit nodig is, ongeveer ʼn kwarteeu na die vorige regering die laaste spoor van ras uit die wetboek verwyder het. Maar dis seker die prys as die nuwe regering weer ras as hoeksteen terug in die wetboek inskryf.

Moet net nie die dood in die pot by die aanvang inbou met tierlantyntjies soos dat die een groep groter rassiste is as ʼn ander is, of dat ʼn bepaalde groep “per definisie” nie rassisties kan wees nie. Dan ontspoor die projek al klaar.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

pieter ·

n nuwe siekte wat erger is as aids steek nou sy kop uit,ons noem dit rasisme hierdie bom gaan nog baie lewens ys.

Sarie ·

Ek stem saam. Die term rassisme (wat dit ook mag beteken) het ‘n modewoord geword. Dis of joernaliste en die sogenaamde meningsvormers aan ‘n kompulsiewe, psigiese siekte ly wat daartoe lei dat alles wat gebeur van die kat wat kleintjies kry tot mense wat hulle gesigte verf tot rassisme gereduseer word. Dis nie net hier ter plaatse nie, maar reg oor die wêreld.

francois ·

‘n Gebrek aan voldoende beskrywende woorde laat die mense ,die woord rassis uitspreek, het sy dit aan die regter, die polisieman wat ‘n saak gouer oplos as ‘n ander , of waar hul dit goed dink. Dit is hier om te bly en sal nog vir geslagte nuuswaardig wees, sal nooit uitgeroei word nie.

John ·

Geniet die anti-rassisme-kongres. Ek hoop daar is baie kos en drank en Engels en baie foto’s en voorbeelde van hoe sleg die Afrikaners was en is en gaan bly want dit is al waarop nog teruggeval kan word as iets iemand ongelukkig maak. Dit sal ook die eerste verskoning wees wat die Aardsengels by die Hemelpoort sal moet aanhoor as iemand toegang geweier word.

Emile ·

Die titel kon ook gelees het: Wanneer rassisme deur anti-rassisme aangevuur word.

Sarie ·

Sien vanoggend op internasionale TV waar die vlugtelingkrisis in Swede bespreek word dat een van die meningsvormers van mening is dat politieke korrekheid die oorsaak is van rassisme. Laat mens dink as ons na gebeure in ons eie land kyk. Dink hy is reg.

Trolle ·

Jy is reg Sarie dis die grootste probleem in die wereld.En gaan kyk wie is die mense wat besluit wat is en wat is nie politiek reg nie.Trump is van die eerste politieke leiers wat besluit het hy worry nie oor dit nie.Ek bid hy kom in wereld gaan dan baie verander.

Rupert Ashford ·

Klaar doodgebore ou maat. Solank die regering van die dag ras inspan as hulle hoofkriterium vir elke stuk beleid sal dit slegs ‘n fees word om een rasgroep se boosheid te bestudeer.

Johannes Meintjes ·

Soos wat aborsie die kerke besig hou so hou rassisme nou die samelewing besig. My mening is dat rassisme sal taan as die regring en alle leierskap sorg vir volhoubare sosio-ekonomiese modelle op alle bevolkingsvlakke van SA. Dan is belasting, prysstygings, inflasie en ekonomiese diskriminasie nie so fel en druk op ons mense. Rassisme is nou maar die noodgedwonge uitlaatklep van ondeurdagte en onbevoegde leierskap in SA, – al van voor 1994.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.