Nuuskommentaar: Wanneer die dood van werkers ʼn gemeenskap ruk

Die toneel by die Rheinmetall Denel-depot in Somerset-Wes in die Wes-Kaap (3 September 2018).(Foto: ANA)

Elke eerste Maandag van September vier die VSA Werkersdag. Op dieselfde dag vanjaar in Suid-Afrika is verskeie gesinne in rou gedompel en die gemeenskap van Somerset-Wes getraumatiseer toe daar ’n ontploffing in ’n ammunisiefabriek was en dit die lewens van agt mense geëis het.

Die fabriek word gesamentlik deur Denel en ’n Duitse firma bedryf.

Ongelukke waarin werkers omkom, is nie vreemd in Suid-Afrika nie. Veral mynongelukke eis gereeld lewens, maar ook ander bedrywe soos seevissery is gereeld hieroor in die nuus. In 2017 het CompareGuru die vyf gevaarlikste bedrywe in Suid-Afrika soos volg gelys:

  • mynbedryf
  • brandweer
  • SA Polisiediens
  • nooddienste en paramedici
  • konstruksiewerkers

Die samestellers van die lys het destyds daarop gewys dat 27% van die land se potensiële werksmag werkloos was. Dit noop mense om hul brood in gevaarlike situasies te gaan verdien. Boonop is die kriteria wat gebruik word, nie altyd wat almal as die mees toepaslike vind nie.

Landbou kom byvoorbeeld glad nie onder die eerste vyf voor nie, hoewel die moordkoers onder boere en hul gesinne aansienlik hoër is as dié van die polisie. (In die VSA tel landbou, wat nie so deur plaasaanvalle geteister word nie, wel onder die mees gevaarlike beroepe, veral oor oestyd wanneer produksie daartoe lei dat groot vragte op die paaie in transito is. Bronne gee landbou as die sesde tot die agste gevaarlikste beroep in die VSA aan, terwyl die polisie nie onder die eerste tien is nie. Mynbou tel ook nie onder die eerste tien nie. (Volledige lys kan hier bestudeer word).

Wanneer met springstowwe of ander gevaarlike stowwe gewerk word, is dit vanselfsprekend dat groot klem gelê sal word om veiligheid te verseker. Ouer inwoners van Somerset-Wes en omliggende dorpe soos Stellenbosch, sal stellig nooit vergeet toe die dinamietfabriek in die 1960’s by die dorp ontplof het nie. Die fabriek het in daardie dekade twee keer groot ontploffings opgelewer.

Die toneel by die Rheinmetall Denel-depot in Somerset-Wes in die Wes-Kaap (3 September 2018). Foto: Phando jikelo/African News Agency

Suid-Afrika was sedert die 1940’s vir verskeie dekades die grootste vervaardiger van dinamiet ter wêreld met die grootste vraag daarna wat uit die mynsektor gekom het. Ná die twee groot ontploffings het vakbonde die fabriek by Somerset-Wes gedwing om die vervaardiging van dinamiet uit te faseer, en te vervang met ’n veiliger springstof.

Tot vandag is dit moeilik om ’n presiese ongevallesyfer vir die twee ontploffings uit die sestigerjare te kry, behalwe dat gesê word dat die lewensverlies danksy ’n indrukwekkende stel veiligheidsmaatreëls beperk was. Selfs die bome was so geplant dat dit die windrigting van die ontploffing sou beïnvloed om skade te beperk.

Ontploffings as manier om te sterf is traumaties. Die Los Angeles Times het pas die FBI se sterftes tydens Al Kaïda se aanslag op die VSA in herinnering geroep. Ontstellende syfers is verskaf oor hoeveel FBI-agente in die 17 jaar sedertdien aan kanker omgekom het weens die inaseming van kankerwekkende stowwe tydens die ondersoeke. Altesaam 15 is in daardie tydperk dood en drie van hulle sedert Maart vanjaar.

’n Opname toon dat meer Amerikaners vanjaar die “labor in Labor Day gevier het”. Hoewel die bevindinge oor jare min verander het, word nou tot die gevolgtrekking gekom dat werkers meer geëer word.

Dit is so dat werkers moet verdien om geëer te word, en die indruk hier te lande word te dikwels geskep van oormatige verwagtinge in luilekkerland, maar die sterftesyfers vertel darem ook ’n verhaal van die hoogste prys betaal terwyl ander die vrugte pluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Die afsterwe van enige persoon is na my mening 1 sterfte te veel ! Sterkte aan die FAMILIES wat GELIEFDES verloor het ! GOD sal Julle vertroos

Stuiwer ·

Ek woon in Somerset-Wes en voel dat die artikel bietjie meer inligting kon gee van gister se ontploffing . Die VSA inligting is nuttelose inligting en die artikel gaan meer daaroor as oor die eintlike doel daarvan.

Vaalseun ·

Baie dankie vir die inligting, Herman. Daarby kan ons nog voeg dinamiettrein ontploffings.
Die gevaarlikste bedryf in Amerika, Suid-Afrika en die meeste ander lande, is die vervoerbedryf.
Verlede jaar is 14,050 mense dood in motorongelukke in Suid-Afrika. Dit verbaas my dat die Depte van Arbeid en Mynbou toegelaat word om onmiddellik fabrieke, werkplekke en myne vir soms onredelik lang tye sluit nadat daar ongelukke plaasgevind het, maar oorvol, stukkende, swak-ontwerpte en gevaarlike paaie word maar net weer oopgestel vir verkeer na ‘n noodlottige ongeluk. Dit was mos die drywers se skuld!
Ek het al gevra wat is die veiligheids- en ontwerpstandaarde vir sekere tolpaaie, want ek het self padontwerp gedoen en paaie gebou. Die antwoord was dat dit ‘n vertroulike saak tussen die toloperateur en die regering (SANRAL) is. Is fabrieksveiligheidregulasies en die toepassing daarvan ook ‘n vertroulike saak net tussen die eienaar en die Depte? Mag die werkers nie weet wat dit is nie? Nie?
Nou hoekom dan so met padontwerpveiligheid? Of skuil die regering agter die (bankrot) Padongelukkefonds wat jou vir jou padongeluk trauma (hopelik) sal vergoed? Dis heelwat goedkoper vir die regering as om op groot skaal padherbouwerk en -verbeterings aan te bring wat lewens sal spaar.
Die vervoerbedryf stel elke dag die grootste aantal lede van die publiek se lewens op die pad, spoorweë, in die lug en op die water in gevaar. Ons moet ook aandring op die beste tegniese en veiligheidstandaarde vir ons vervoerinfrastruktuur en -bedryf.

White Rhino ·

Jy is reg Stuiwer – ek stem saam.
Wat het ontplof, wanneer het dit gebeur , hoeveel mense was daar toe wat ook ontplof het. Hoe lank het die paramedics geneem om daar uit te kom, ens ens,
Hoeveel dames en hoeveel mans het omgekom.
Hoeveel is beseer.
Sal graag wil weet.

Versigtig ·

Net so versigtige vraag….Waar is die skip met die kernwapen/plofstof op?????????????staatsgeheim?

adriana ·

Sal ek ook wil weet ‘Versigtig’ Kan Maroela daaroor uitvind en daaroor berig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.