Nuuskommentaar: Wanneer die e-pot die e-ketel in ‘n Twoorlog verwyt

twitter_battle_a_lHoewel nie heeltemal nuut nie, het die kuberruim met die afgelope verkiesing baie sterk gefigureer, en was selfs ‘n paar keer self nuuswaardig.

Dit het onder meer gemanifesteer in die onvrede oor die DA se SMS dat kiesers glo hulle stemme mors deur vir klein partye te stem, die ANC se onvrede oor ‘n DA-SMS wat meld dat pres. Jacob Zuma die geld vir Nkandla gesteel het, en die e-woordestryd tussen dr. Pieter Mulder (VF+-leier) en Bobby van Jaarsveld, waartoe ook Beeld in die gedaante van sy redakteur, Adriaan Basson, toegetree het. Dit het selfs ‘n naam gekry – Twoorlog (Twitter-oorlog).

In verskeie lande, soos onder meer die VSA, dui peilings daarop dat meer mense die internet gebruik en die nuus op die internet meer geloofwaardig vind as koerante. Volgens sommige peilings klop die TV nog die internet as gewilde en geloofwaardige nuusbron, maar oor die algemeen neig die internet al sedert 2010 om die neus voor te kry.

Soms is die internet en die koerante moeilik te onderskei. Die Christian Science Monitor, wat met byna ongeëwenaarde kwaliteit ondersoekende artikels oplewer, is bykans net ‘n internet-koerant. Media 24 se News24 het gedurende die verkiesing haas ongelooflike getalle besoekers getrek – op verkiesingsdag was daar 625 000 unieke gebruikers, en 4 miljoen besoeke aan die webwerf. Met die bekendmaking van die uitslae was daar 1,7 miljoen unieke besoeke, en 22 miljoen algemene besoeke aan die webwerf.

Die prentjie lyk nog indrukwekkender as in ag geneem word dat ander nuuswebwerwe ook besoek is, soos Maroela, asook Maroela se Facebookblad, IOL en vele meer. Voorts was daar toegang tot die regstreekse bronne, soos die OVK se webwerf, en daar het dit by tye so bedrywig gegaan dat die stelsel nie al die besoekers kon hanteer nie. Voeg hierby Twitter en die ander dienste, soos die SMS’e. Boonop maak partye van e-pos gebruik om hul nuusverklarings na die media en ingetekende lede te stuur. Daar was selfs berekenings watter partye die kuberruim die meeste, of doeltreffendste aangewend het.

Maar het dit ‘n invloed?
Volgens ‘n baie interessante artikel in die Washington Post, Research in India suggests Google search results can influence an election, kan selfs die volgorde waarin soekuitslae op Google verskyn ‘n verkiesing se uitslag beïnvloed. Volgens die navorsers kon hulle, deur die volgorde waarin Google se soekuitslae verskyn te manipuleer, ‘n swaai van 12,5 persent bewerkstellig onder onseker kiesers.

Die navorsing toon enersyds die waarde van die ou bemarkingsbeginsel dat die beste resultate verkry word as die teiken nie besef daar word probeer om hom te beïnvloed nie. Aan die ander kant gee dit ‘n idee van hoe suksesvol meer doeltreffende internetgebruik kan wees.

Amerikaanse navorsing toon dat die gemiddelde joernalis liberaler as die gemiddelde Amerikaner is. ‘n Baie onlangse Rasmussen-peiling toon dat die Republikeinse Party se beleid oor verskeie belangrike beleidskwessies, soos byvoorbeeld die ekonomie, meer vertroue onder kiesers inboesem as die Demokrate. Die Republikeine se benadering tot die ekonomie het ‘n sewe persent voorsprong bo die Demokratiese Party. Tog toon ‘n ander peiling dat die Demokrate ‘n vier persent voorsprong bo die Republikeine het as nou stembus toe gegaan moet word, al word die ekonomie as die belangrikste verkiesingsaspek beskou.

As die media in die VSA dan inderdaad kiesers so ver kan kry om eerder vir ‘n ander party te stem as die party met wie se beleid hulle saamstem, is dieselfde in Suid-Afrika ook moontlik. Dit sou dan vraagtekens kon plaas oor die geldigheid van Basson se aannames oor voortspruitend uit die Twoorlog tussen Mulder en Van Jaarsveld: “Hier is my lees daarvan. Die meeste Afrikaanssprekendes, ook Afrikaners, wil nie stem vir ’n klein party wat hom hoofsaaklik beywer vir minderheidsregte nie. Hulle voel nie die taal is bedreig nie… Die boodskap van Afrikaanse kiesers is hard en duidelik: Moet ons nie soos ’n minderheidsgroep behandel wat spesiale beskerming nodig het nie. Ons is deel van hierdie land, van sy suksesse én probleme, en ons stem vir ’n party wat diversiteit omarm én ’n verskil kan maak.”

(Basson se standpunt oor die Afrikaner en minderheidstatus is goed bekend sedert hy sy mond uitgespoel het in die gelykheidshof-uitspraak waarin Julius Malema aan haatspraak skuldig bevind is, en waaroor die ANC in die appèlhof geskik het.)

Die waarde wat partye aan mediadekking heg blyk onder meer uit Zuma se verwyt dat Nkandla as kwessie deur die media geskep is. Voorts het die ANC ‘n kwalik bedekte dreigement aan koerante gerig wat voor die verkiesing hul lesers ontmoedig het om vir die ANC te stem. Die ANC word op sy beurt deur opposisiepartye daarvan beskuldig dat dit die SAUK, en spesifiek die TV, deurlopend as propaganda-instrument vir die ANC inspan.

Terwyl sommige partye nog relatief min aandag aan die kuberruim geskenk het, het ander wat “by voorbaat” aanvaar het die gevestigde media gaan hulle snoep, juis internetgedrewe veldtogte gevoer. Ander het steeds na ‘n volledige mediamengsel gemik, maar dan vir minder toeganklike media gekompenseer deur eenvoudig die kuberruim op nog groter skaal aan te wend. Die toeganklikheid van die internet speel immers ‘n toenemende rol om die speelveld gelyk te maak, en ‘n party wat dit onderskat, sal aan die agterspeen bly suig.

Navorsing toon dat relatief min Suid-Afrikaners – selfs onderwysers – internettoegang het, maar dat byna almal toegang tot selfone het.

Die feit van die saak is dat die meerderheid Afrikaners vir die DA gestem het, en nie ‘n party wat minderheidsregte hoog op, of selfs hoegenaamd op die agenda plaas nie. Uit die sosiale kommentare het daar ook reeds ‘n weeklaag opgeklink van mense wat heel duidelik nié hierdie stemkeuse gemaak het nie, en nou meen Afrikanerbelange is finaal daarmee heen. Verskeie het plegtig verklaar dat hulle nou die handdoek ingooi weens die Afrikaner se onmag om iets aan sy eie heil te doen.

Maar so iets berus op ‘n gebrekkige begrip oor wat ‘n grondwetlike demokrasie behels. Die groot werk lê nou na die verkiesing voor, onder meer die volgende:

– Beskerm ten alle koste mediavryheid, soos gewaarborg deur die grondwet. Mediavryheid word nie net beperk deur staatsoptrede nie, maar ook deur media wat uit eie beweging nie die politieke pluraliteit weergee, soos onder meer deur Verslaggewers Sonder Grense vereis nie, en wat die jaarlikse persvryheidsindeks opstel. Fokus op die media en ondersteun hulle wat korrekte inligting versprei, debat ontlok en nie self die werklikheid probeer polities manipuleer nie.

– Veg verbete vir ‘n werklike onafhanklike, bekwame regbank.

– Sorg vir behoorlike burgerlike strukture wat bekwaam en bereid is om die middele in hand te benut – selfs indien nodig die internasionale geregshowe, om toe te sien dat die land wel regverdig teenoor al sy mense optree. Anders as wat ‘n paar swartgalliges nou probeer te kenne gee dat burgerlike instellings “nog niks” gedoen het nie, het instansies soos Freedom Under Law, Outa, Afriforum, Solidariteit, TLU-SA en Agri SA reeds enorme werk verrig en dikwels deur regsaksie die regering se optrede gestuit, bv. in die bekende Modderklipsaak. As dit nie vir burgerlike instellings was nie, het Suid-Afrika ‘n baie omstrede persoon aktief aan die hoof gehad van misdaadintelligensie – nou bly hy minstens geskors. Hoeveel swakker sou Afrikaansmediumskole nie reeds daaraan toegewees het as burgerlike instellings nie bereid was om die howe te nader nie? Nog enorme werk lê voor, en daarvoor moet dié instansies selfs nog meer lede en ondersteuning kry, want sterk burgerlike instellings word as noodsaaklike boustene van ‘n volwasse grondwetlike demokrasie beskou.

– Dra aktief by tot versoening in hierdie land. Dit is duidelik dat die regeerders bitter min erg hieraan het – plekname word “ter wille van versoening” verander, rasdiskriminerende wetgewing word verskerp, kulturele anneksasies vind plaas onder die vyeblaar van misplaaste transformasie … iets waarvoor die aptyt sal verdamp wanneer daar werklik versoening is.

Nog ‘n persepsie wat behoorlik aangespreek sal moet word, is die opvatting onder baie dat hul stem geen verskil gaan maak nie, of geen invloed gaan hê nie. Wat dit betref is Suid-Afrika nie uniek nie. ‘n Peiling deur die Eurobarometer toon dat net 37 persent van die Europese kiesers glo hul stemme gaan of kan ‘n verskil in die komende verkiesing vir die Europese parlement maak. ‘n Opname van die Pew Review stel dit op slegs 29 persent.

Soos in Suid-Afrika is frustrasie aan die wortel van hierdie opvatting. En min dinge kry so maklik momentum in die kuberruim as frustrasie. Dit is veel beter om hierdie negatiewe energie in ‘n positiewe energie om te sit en aktief aan burgerlike instellings deel te neem wat bewese wel ‘n verskil maak.

Maak maar gereed daarvoor, daar gaan nog baie Twoorloë plaasvind, en dit gaan ongevalle eis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.