Nuuskommentaar: Wanneer klikbekke helde word

sensuur-sensorDie regsoptrede teen die SAUK se omstrede redaksionele manewales kan sterk ondersteun word as groot getalle fluitjieblasers binne ’n beskermde omgewing na vore tree. So help hulle nie net hul kollegas wat openlik die rug styfgemaak het nie, maar bevry hulle hul eie gewete en kan help keer dat ’n vry en regverdige verkiesing en die Grondwet onder ons neuse uit gesteel word.

Die huidige gebeure by die SAUK, wat na die mening van verskeie kenners en instansies die Grondwet en selfs die verkiesing bedreig, belig reeds die rol van ’n sekere soort held – die werknemer wat vasskop en beginselvas bly by dit wat reg is ondanks stappe wat teen hulle ingestel word. Hierdie helde word egter erg blootgestel as hulle nie deur “klikbekke” ondersteun word nie.

Nie almal wat op onwettighede of ander ongerymdhede by hul werkplekke afkom, het die moed om met die sak patats vorendag te kom nie. Hoewel “klikbekke” (of die sagter woord, die anglisistiese fluitjieblasers) deur wetgewing en regspraak beskerm word, is daar byna altyd ’n vensterperiode (wagtydperk) waartydens die fluitjieblasers aan viktimisasie en intimidasie blootgestel word – of erger – die regsproses kan hom (tydelik) faal en hy kan sy werk kwyt wees. En tuis is daar ’n vrou en kinders …

’n Fluitjieblaser kan beswaarlik die proses sonder die bystand van ’n vakbond aanpak. Juis daarom is die kombers-beskerming wat Solidariteit aan werknemers by die SAUK bied, ongeag of hulle Solidariteitlede is of nie, ’n belangrike stap om te verseker dat die verkiesing en Grondwet nie onder ons neuse uit gesteel word nie.

Solidariteit gaan juis aansoek doen om die konstitusionele hof regstreeks oor hierdie saak te nader – die verkiesing is immers net ’n maand weg, en daar kan geen sprake van ’n vry en regverdige verkiesing wees solank die openbare uitsaaier nuus blatant manipuleer, en ’n skrikbewind oor joernaliste voer nie.

Maroela Media, Solidariteit en AfriForum  is lank nie die enigste instellings wat meen ’n vry en regverdige verkiesing word bedreig nie. Die bekende Judith February neem die kwessie omvattend in Netwerk24 onder die loep. Sy noem dat die Raad vir die Bevordering van die Grondwet gesê het dat die gebeure by die SAUK ’n ernstige invloed op verkiesings kan hê: “Om vry en regverdige verkiesings te verseker, moet openbare uitsaaiers . . . relatief gelyke toegang vir alle politieke partye verseker en gebeure in die land regverdig en objektief weerspieël. Toegang tot sulke inligting deur die publiek is die kern van die betekenisvolle uitoefening van die reg om te stem, asook van vry en regverdige verkiesings. Ons moet hierdie hoekstene van ons demokrasie vreesloos bewaak.”

Sy dring daarop aan dat die Onafhanklike Uitsaai-owerheid en die Onafhanklike Verkiesingskommissie hul plig doen om in te gryp.

Sonder fluitjieblasers is dit egter baie moeilik om ’n volledige prentjie te vorm, en kan diegene wat dapper hul koppe uitgesteek het baie blootgestel wees.

Seker die treffendste verhaal van hoe ’n persoon as fluitjieblaser ’n verskil kon maak en regsbeskerming geniet, is die verhaal van Mike Tshishonga, indertyd adjunk-direkteur-generaal van justisie. Die destydse minister van justisie, dr. Penuel Maduna, het druk op die DG, destyds Vusi Pikoli, uitgeoefen om weer druk op Tshishonga uit te oefen om gereeld ene Enver Motala as likwidateur aan te stel.

Tshishonga  het lont geruik, en oral waar hy kon, ook via dr. Essop Pahad, minister in die Kantoor van die President (Thabo Mbeki), beswaar gemaak. Hy het egter die koue skouer gekry. Oplaas het hy ’n mediakonferensie gehou en met die sak patats vorendag gekom. Hieroor is hy dissiplinêr aangekla, en hy is eers arbeidshof en later arbeidsappèlhof toe waar hy deurgaans die stryd gewen het. Dit het uiteindelik tot die einde van Maduna se politieke loopbaan gelei.

Later, in ’n saak waarby Solidariteit betrokke was (die Aurora-saak), het dit geblyk dat Enver Motala in werklikheid Enver Dawood was, wat nog voor die Tshishonga-geval sy van verander het nadat hy weens ongerymdhede as likwidateur geskrap was.

Tshishonga is ’n regsgeleerde en kon so ’n saak sonder die hulp van ’n vakbond aanpak. Nie almal is egter toegerus om dit te kan doen nie, en daarom is dit wys om ’n vakbond in vertroue te neem en in vertroulikheid die aap uit die mou te laat, sodat op kundige manier bepaal kan word hoe om die saak verder te voer. ’n Fluitjieblaser beskik net dalk oor daardie brokkie inligting wat nodig is om ’n saak waterdig te maak, en die pad na reg en geregtigheid in te lui.

Sonder die rugsteun van ’n goeie, betroubare vakbond is dit, in die woorde van Hlaudi Motsoeneng, baie koud daarbuite.

Met ’n goeie, betroubare vakbond aan die sy kan almal wat weens ongerymdhede daagliks sy gewete in ’n kassie moet toesluit, nie net sy gewete bevry nie, maar in hierdie geval ook die land van grondwetlike vergrype.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wern ·

Hierdie fluitjieblasers is die nuwe generasies vryheidsvegters, en JZ en al sy ondersteuners is die “oppressive regime”.

Leeukop ·

In die land is daar nie veel soliede vakbonde met integriteit nie, Solidariteit is een van die min, en die enigste een wat vir sosiale goed opstaan. Meeste ander vakbonde is daar net om te staak, moeilikheid te maak, af te breek, AKs vir eie gewin van die vakbondleiers en hulle meesters met verskuilde agendas.

Wern ·

Die waarheid agter alles is JZ en sy aanpaksels wat verkiesing wil wen, en die krag daaraagter weer is die powers that wanabe wat ons land in chaos wil dompel soos Zimbabwe, want Dan kan hulle ons hulpbronne stroop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.