Nuuskommentaar: Wanneer kom nuussatheid oor Covid-19?

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Dit maak nie saak hoe belangrik of aktueel nuus is nie, as die nuusverbruikers te lank aan dieselfde nuus blootgestel word, word ’n toestand van satheid daarvoor bereik. Die nuusverbruikers verloor belangstelling in die “belangrikste nuus” en wil weer weet hoe dinge in Israel daaruit sien, hoe die stryd teen Christenvervolging vorder, wat pres. Donald Trump se kanse is om herverkies te word, en hoe lyk dinge in die onderwys waar my kind hipoteties vanjaar matriek skryf?

Dít, terwyl verskeie pandemiekenners daarop wys dat Covid-19 se “hardste, hartseerste” oomblik in die VSA op hande is. (Dit duur gewoonlik tussen ’n week en nege dae.) Dit verwys na die tydperk wanneer ’n pandemie in ’n land of streek met al sy silinders die hardste vuur.

Indien nuus oor Covid-19 die perk van nuussatheid sou bereik, wanneer sal dit wees? En watter vorm sal dit aanneem?

In sy gunstigste vorm beteken nuusversadiging daardie punt waar nuusdekking oor ’n onderwerp so volledig was dat dit alle belangrike elemente voldoende dek. Die volgende stap, naamlik om dit te oordoen, nuussatheid, word glad nie in Google ondervang nie. Ook nuusoordadigheid bestaan volgens Google nie. Maar ’n ieder en ’n elk weet dit bestaan. Elke mens se verdraagsaamheidsvlak vir oordadigheid verskil – dink maar hoe afgesaag het die wapenskandaal geword, hoe lyk dit soms of belangstelling in ’n onderwerp soos plaasmoorde begin afplat, te oordeel na die aantal leserskommentare, en vele meer.

Selfs met Covid-19 is daar aanduidings van ’n nuussatheid onder talle mense wat normaalweg as nuusverbruikers sou tel. Kort-kort is daar nuusberigte wat lyk of sommige mense glad nie van die pandemie weet nie, of hulle eenvoudig nie daaraan steur nie. Die aantal ontkenners wat “ontstaan”, soos met klimaatsverandering, is nog ’n aanduiding.

Gewoonlik sal ’n nuusverspreider gou waarneem wanneer die nuuspiek oor ’n onderwerp sy spits bereik, en daarop reageer. Tydens algemene verkiesings (ook in Suid-Afrika) was dit lank opmerklik dat koerante se lesersgetalle begin afneem het hoe nader ’n verkiesing kom. Veral koerante wat openlik kant kies, moes vir die afname voorsiening maak, en het soms baie diep in reserwes gaan delf om met die partydige nuusdekking te kan voortgaan. ’n Groot koerantgroep se opskrif van sy gedeelde hoofartikel vanoggend dat Suid-Afrika nou wyle genl. Constand Viljoen se pragmatisme nodig het, sal seker baie wenkbroue laat lig.

Daar is heelparty aanduidings dat baie nuusverspreiders nog ver van die punt af is dat Covid-19 nuusversadiging begin bereik. Verskeie koerante, veral oorsee, het benewens hul gereelde daaglikse nuusbriewe, nou ook daaglikse nuusbriewe wat slegs oor Covid-19 handel, of oor bepaalde aspekte daarvan. Trouens, die massa inligting wat daagliks nuut verskyn, is oorweldigend. Daar het trouens ’n nuwe nuusvertakking ontstaan – die groeiende aantal terapeute en beraders wat self alarm maak dat hulle nou self berading nodig het.

Elke dag blyk dit al meer dat daar haas geen aspek van die werklikheid is wat nié geraak word nie. Met die een groot sportgebeurtenis ná die ander wat in die stof byt, word die een Pandoraboks ná die ander oopgedwing, en elke keer is daar ’n uitkringeffek – met GELD ewe dik daaroor geskryf. Dit raak miljoenêrsinkomste van onder andere spelers tot klubs waar spelers tradisioneel gelukkig was om ’n bietjie sakgeld te kry. Verwante sportsoorte soos rugby en Amerikaanse voetbal hou mekaar se optredes fyn dop – die eerste wat skietgee, kan ’n uitvloei van spelers na die ander sportkode verwag. Selfs Amerikaanse bofbal wei mildelik onder Karibiese krieket. Sommige klubs probeer voortgaan asof daar geen Covid-19 is nie. In sommige groot sokkerlande soos Italië en Spanje word salarisverminderings van spelers gelate aanvaar, terwyl in Brittanje blou moord geskree word.

Statistieke oor aanstekings, nuwe gevalle, gevalle in intensiewe sorg, sterftes en gevalle wat genees, kry baie media-aandag. Statistiese metodes word nie altyd ewe vaardig aangewend nie.

Selfs die ontwikkeling van teenmiddels is al ’n groot nuusonderwerp. Die Los Angeles Times berig vanoggend hieroor soos volg: “Over the past several days, Trump has repeatedly touted chloroquine and hydroxychloroquine — used to treat malaria, rheumatoid arthritis and the autoimmune disease lupus — as a potential ‘game changer’. But those are far from the only drugs that scientists are testing in hopes of finding a proven, effective treatment for Covid-19. Among the best known are some antiviral medications — remdesivir, lopinavir and ritonavir — that were developed to treat Ebola and AIDS, along with a range of less celebrated drugs and therapies.

“Inhaled nitric oxide is also being tested as an experimental treatment for Covid-19 and may prove helpful in protecting healthcare workers on the front line of the pandemic from getting sick.”

Nog ’n onderwerp wat met wye belangstelling gepaardgaan, is waar kerke en ander Christengroepe neig om teen die staat van inperking in opstand te kom, en begin aandring op die reg om deur groot massavertonings teen die siekte in opstand te kom. Baie van hierdie groepe het juis hul bestaan aan massa-emosie-opsweping te danke.

En dan is daar nog die fopnuuspandemie wat met fopnuusmasjiengewere sarsie op sarsie met dodelike koeëls afvuur.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
twaalfboor

Ek is klaar op daardie punt.

Danie

Ek hoor presies wat jy se maar op die oomblik is covid19 nie net n alledaagse nuusbrokkie nie maar n baie ernstige geval waar duisende al dood is en om nuusdekking te gee bring bewusmaking want daar is nog te veel mense wat dit nie ernstig opvat nie. Dan wil ek ook net die volgende se oor die” Christengroepe” wat nie dit eers genoem kan word nie. Die rede hoekom ek dit se die groepe moet Romeine 13 gaan lees en ek se nie daarmee dat ek gelukkig is met die heidige regering nie, maar dit is ons eie skuld… Lees meer »

Piet

Goed gesê Herman. Mens bereik ‘n punt van emsionele afstomping. Dis juis op sulke oomblikke wat regerings soos ons s’n opslagballe na sy vuisvoos inwoners afstuur.
Opppas!