Nuuskommentaar: Wanneer moord die wet word

crime-scene-tapeHeel onbedoeld het die minister van polisie in ‘n TV-onderhoud die spyker op die kop geslaan toe hy moord, aanranding, intimidasie en viktimisasie as die “reg” beskryf het. Hy het naamlik na die mense wat hulle hieraan skuldig maak verwys as mense wat “die reg (law) in eie hande neem.”

Heel waarskynlik is dit eerder sy vermoë om hom behoorlik in Engels uit te druk wat hom in die steek gelaat het, as sy party se gewelddadige struggle-geskiedenis, maar dit gee nogtans ‘n siniese weerspieëling van ‘n land wat deur geweldsmisdaad (en ander misdaad ook, wat korrupsie insluit) geteister word.

Die gebeure in die platinum-gordel bied inderdaad ‘n uitdaging aan die regering wat eens presies dieselfde metodiek aangewend he om sy doelwitte te bereik. Die verskil, dié keer, is dat die vakbond wat die tegniek toepas, AMCU, nie by die ANC se koalisievennoot Cosatu geaffilieer is nie.

AMCU het sy lede die wêreld plus nog ‘n paar sterre beloof. Die lede het hulle in ‘n maak of breek staking begeef, en omdat die eise onhaalbaar is, moes AMCU noodwendig die knie buig, of dit moes op ‘n breekspul uitloop.

En noudat van die stakers wil terug werk toe na die myne se reserwes uitgeput begin raak, en waarskynlik die beste moontlike aanbod op die tafel geplaas het, nou word moord (na berig word reeds minstens ses slagoffers) aanranding, intimidasie, brandstigting, viktimisasie en ander afbrekende metodes ingespan.

En terselfdertyd steeds die wêreld en miskien ‘n paar sterre minder aan die stakers beloof.

Intussen is daar slagoffers wat niks met die staking te make het nie – ook sake-ondernemings en sekondêre bedrywe wat onder die kleiner koopkrag vou. Solidariteit se Helpende Hand moet ingryp en help onder andere deur groot besendings kos na die gebied te stuur. Julius Malema se EFF dra weer geldelik by om die stakers se “lewensverwagting” te verleng.

AMCU het selfs die hof genader in ‘n poging om te keer dat die myne regstreeks met hul werknemers mag skik.

Die situasie herinner al hoe meer aan die era toe die Britse ystervrou, Margaret Thatcher, die radikale vakbonde wat besig was om Brittanje gyselaar te neem, die stryd aangesê het en gewen het. Sy is tot haar dood toe in die Marxistiese wêreld hiervoor verkwalik.

In Suid-Afrika lyk die prentjie effens anders. Hoewel die regering aanvanklik skoorvoetend, en dikwels minagtend, op AMCU se opkoms gereageer het, met die Marikana-skietery uiteindelik as ‘n manifestasie, is die mynbase nog grootliks op hul eie aangewese om ‘n Thatcher op AMCU te trek. Groter gevalle polisielede is wel ontplooi om nie-stakers te probeer beskerm, en volgens die minister is daar die afgelope paar maande 5 000 mense in die gebied in hegtenis geneem.

Hierop het AMCU se president, Joseph Mathunjwa, geregeer deur te dreig dat die ontplooiing van die polisie ‘n resep vir ‘n ramp is. Na berig word het sowat 1 000 stakende mynwerkers in een gebied begin om jag te maak op die “sell outs” wat wil terugkeer werk toe. Minister Mthethwa se reaksie was dat mynwerkers wat ander aanval en in besit van onwettige wapens is, nie borgtog behoort te kry nie.

Na afloop van gister se massavergadering wat deur Mathunjwa toegespreek is, het die vakbondbaas ook gedreig dat die myne se SMS-veldtog om werkers te oorreed om terug te keer werk toe, ‘n resep van ‘n ramp is.

Verantwoordelike burgers van die land sal verwag dat die owerhede hierdie uitsprake van Mathunjwa deeglik bestudeer om te bepaal of dit nie dalk op misdrywe soos aanhitsing tot geweld, en selfs sedisie neerkom nie. Die probleem is dat só ‘n inhegtenisneming en vervolging in alle waarskynlikheid daartoe sal lei dat die stakers, in die woorde van die minister, die “reg” in eie hande neem.

Volgens vanoggend se RSG-nuus is een persoon in hegtenis geneem (wat moontlik weer as martelaar voorgehou sal word) en nog vyf belhamels geïdentifiseer. RSG berig soos volg: “Die hoofekonoom by die maatskappy, Economists.co.za, Mike Schussler, sê Mei of Junie kan dalk meer gematigde ekonomiese bedrywighede toon weens die uitgebreide stakings. Hy het gereageer op BankservAfrica se Ekonomiese Transaksie-indeks,wat daarop dui dat die jaarlikse groei verlede maand tot slegs 0.2 persent gedaal het. Vyf van die laaste agt maande het ‘n agteruitgang getoon. Schussler sê die uitwerking van stakings word gewoonlik gevoel ‘n maand of twee nadat dit verby is. Boonop loop die ekonomie gevaar om negatief te groei weens die hoë verbruikerskuldvlakke en die onvermoë van die ekonomie om nuwe werk te skep. Schussler sê sake-ondememings sukkel met die pas van ekonomiese verandering.”

Wat die land nou nodig het, is ‘n platinum-vrede, maar die kanse lyk goed dat nog ‘n Marikana of twee die land se voorland, of liewer, gatland is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.