Nuuskommentaar: Wanneer ʼn gemeenskap ‘reg in eie hande neem’

Argieffoto: SAPD

As in ag geneem word dat ’n wetenskaplike opname bevind het aannames van luiheid en korrupsie is die hoofoorsake van groeiende wantroue in die polisie, dan is dit onvermydelik voorspelbaar dat gemeenskappe in sekere gevalle die “reg in eie hande sal neem”.

In die komplekse Suid-Afrika skuil egter nog ’n gevaar – dat daar onewehandigheid is in die beskouing en erns, verkeerdheid en gevolglike optrede van verskillende gemeenskappe wanneer eiemagtig opgetree word.

Maandagoggend helder oordag, net suid van Durban en vlak voor ’n skool, het kapers toegeslaan om ʼn gesin se motor, met kinders en al, te kaap. Daar word beweer ’n omstander het op die motor losgebrand. Die uiteinde? Een van die kapers is gevang, een is dood en een het ontvlug. ’n Negejarige meisie wat in die motor onderweg skool toe was, het aan ʼn koeëlwond gesterf.

Die vermeende kaper wat dood is, is glo deur lede van die gemeenskap aangeval en aangerand tot hy dood is. So vertel ’n omstander doodluiters aan die SAUK, wat dit landwyd beeldsend.

’n Ander vertel in geen onduidelike taal nie aan die TV-kamera dat die gemeenskap “g*tvol” is vir al die misdaad waaraan hulle blootgestel word.

Dit is geen geïsoleerde voorval nie. Kort-kort boet ’n verdagte met sy lewe nadat hy eers wreed aangerand is. Soms is die persoon op heter daad betrap, soms is ’n vermoede genoeg om ’n verdagte skuldig te bevind en die hoogste tol te laat betaal.

Die sogenaamde doodskisverhoor dien tans voor die appèlhof, en uitspraak is voorbehou. Met die verhoor in die hooggeregshof het sake so verloop dat verskeie gerespekteerde strafregkenners hul bedenkinge oor die houding van die regter en haar strawwe vonnisse uitgespreek het. Ook hierdie saak is ongelukkig nie ʼn alleenstaande geval nie.

Aangeblaas deur sekere politici is daar nou bykans deurlopend, en ook landwyd, voorvalle van oproer wat met onwettige grondbesetting begin het. Die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding druk die kwessie boonop ryp vir gesagsuitdaging.

Aan die ander kant word dit bekend dat ’n groot aantal senior offisiere in misdaadintelligensie oor misdaadrekords beskik. Sommige hiervan is baie ernstig. Die baas van Opod laat dieselfde dag blyk dat tien top-polisiegeneraals by bedrog van miljarde rande betrokke is. Die voormalige Wes-Kaapse polisiehoof is vir korrupsie tronk toe gestuur.

Bogenoemde prentjie is geskets in ag genome dat heelwat sake nog ondersoek word, dat baie hul oorsprong in bewerings het, en dat sekere sake onder appèl is. Die geheelbeeld bly egter een van ’n staat wat polities toegelaat is om nie net gekaap te word nie, maar as die persoonlike jagveld van ’n soort Mafia vir stroping en wetteloosheid beskikbaar gestel te word. Dié politici is op hul beurt beveilig deur veiligheidskonfooie wat van die bekendste Latyns-Amerikaanse kartelbase geel van jaloesie sou laat.

Die redes vir die hoë vlakke van wantroue in die polisie in Suid-Afrika is interessant. Volgens die uitslae van ’n opname ’n jaar gelede tel luiheid en korrupsie as onder die vernaamste oorsake van wantroue. Die “luiheid” lei daartoe dat die polisie gereeld laat opdaag – in Noordwes gereeld meer as twee uur laat, aldus die opname. Die opname het getoon dat daar ’n opmerklike afname in die vertroue in polisie was (behalwe interessant genoeg onder Indiërs, die groep wat die jongste g*tvol “selfhelp”-gemeenskapslede opgelewer het).

In die komplekse Suid-Afrika speel die hele kaboedel van g*tvol gemeenskappe af teen die stand van die land op ’n trajek van rasseharmonie. Kortom, moenie mense van verskillende kleur se erns van hul beweerde oortredings meet aan die hand van hul velkleur in plaas van die erns en omstandighede van die misdryf self nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Liberaal ·

Liberale waardes bepaal dat misdadigers beskerm moet word en dat hulle baie meer regte het as hulle teikens of gewone mense. Gewone mense moet opsystaan en hulle lewens en besittings prysgee vir misdadigers sonder om vrae te vra. Dit is hoe die liberales se leiers die middel- en werkersklas wil vernietig, want die ryk liberale leiers bly in veilige, beskermde omgewings en het niks om te verloor nie, en vernietiging van die massas baat die superrykes finansieel.

Hansie slim ·

Ek is tans in Switserland (vir mediese redes) en al wat op TV is, is die grondbesettings. En die wêreld het nie vreeslik begrip vir ons probleme nie.
Ek is op pad terug van ‘n land waar besittings op die sypaadjie en garages staan sonder dat enige-iets verdwyn…

Jaycee ·

Ons polisiediens bestaan net op papier. Statistieke is belaglik aangesien ten minste 75% van misdaad glad nie meer aangemeld word nie of nie deur polisie geregistreer wil word nie. Ons verkeer in ‘n staat van misdaadoorlog. Jy mag nie jou eiendom beskerm nie, dan word jy ‘n krimineel. Publiek vertrou glad nie meer polisie.

Peet van Breda ·

Ek sidder as ek dink aan die emosionele impak wat die misdaad in Suid Afrika op die volgende generasie gaan he. Daar is n geweldadige groepering uit die ” struggle ” en dan die teen pool van behoudenheid en self verdedig of selfs wraak. Suid Afrika gaan n donkerder tyd binne met n geweldige emosionele gelaaide bevolking. Ek hoop iemand werk aan n projek om dit te hanteer.

thinus ·

Dink aan Nebukadneser se droom, so is die misdaad in SA, ‘n bal wat voort rol teen ‘n afdraend en al hoe groter word en vinniger rol. Die regering (deurspek met korupsie en misdadigers) dink misdaad is ‘n gereedskapstuk in hulle hande om rykdom en gesag te kry en behou. Maar dit sneeubal en word so groot dat geen individu, of groep dit meer kan hanteer nie.
Die ou ANC slagspreuk “we shall make SA un-governable” gaan nog in hul bewind waar word.
Dink nou aan die Franse rewolusie…….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.