Nuuskommentaar: Wanneer Suid-Afrika deur aardbewings geskud word

Skade in Orkney. Foto: ER24

Skade in Orkney. Foto: ER24

Die Orkney-skudding

Suid-Afrika is wel deeglik gewoond daaraan om op die politieke en ekonomiese terrein geskud te word, maar wat aardbewings betref, is Suid-Afrika nie as ‘n aardbewing-geteisterde gebied bekend nie. Sterk aardbewings is baie skaars.

Tog is ‘n groot deel van die land Dinsdag geskud, met die episentrum digby Orkney. Dit is tot in buurlande soos Botswana en Mosambiek gevoel. In die omgewing is 400 huise beskadig, 17 mynwerkers is vir ligte beserings behandel, en een hawelose man is dood toe ‘n muur op hom omgeval het. In die Noord-Vrystaat het ruite gebreek. Enkele kragonderbrekings het voorgekom en ‘n streekradio-sender was na berig word ‘n ruk van die lug af.

Die skudding het 5,3 op die momentmagnitudeskaal, wat meestal internasionaal gebruik word, en 5,5 op die aangepaste Richterskaal gemeet wat in Suid-Afrika gebruik word. Vanoggend vroeg was daar ‘n naskok, soos wat die Raad vir Geowetenskappe voorspel het, wat so ver as Bloemfontein gevoel is. Hieruit kan heelwat afleidings gemaak word. Volgens die raad is al verskeie naskokke gemeet, maar die mens is nie in staat om die ligte trillings te voel wat wel deur instrumente gemeet word nie.

Aardbewings wêreldwyd

Wêreldwyd vind meer as 90% van alle aardbewings plaas op verskuiwingsvlakke, en byna altyd op die verskuiwingsvlakke waar tektoniese plate teen mekaar bots. Die meeste mense ken hierdie verskynsel as kontinentale drywing. Dit is egter nie so seer die kontinente wat verskuif nie, maar die groot tektoniese plate waarop hulle lê. Dikwels loop van hierdie verskuiwingsvlakke deur kontinente, soos deur Siberië.

Waar kontinente weg van mekaar beweeg, en nuwe aardkors gevorm word soos by mid-oseaniese riwwe, is aardbewings, en veral baie groot aardbewings minder algemeen. Suid-Afrika is wat dit betref baie gelukkig, omdat al die plate weg van Suid-Afrika beweeg. Die verskuiwingsvlakke is boonop sowat 2 000 kilometer van die land af, en periodieke skuddings van ongeveer M6 word nie in Suid-Afrika gevoel nie. Selfs ‘n werklike tsnunami-gevaar kan as baie gering beskou word omdat tsunami’s, wat in elk geval net onder bepaalde omstandighede vorm, nie deur aardbewings van minder as M7 veroorsaak word nie.

Om ‘n idee te gee – beide die M-skaal en die Richterskaal is logaritmiese skale. ‘n Aardbewing van M7 sal dus tien keer so sterk as een van M6 wees, terwyl ‘n skudding van vyf 32 keer swakker as ‘n skudding van 6 op die Richterskaal is. Die groot Japannese aardskudding was dus byna 10 000 keer so sterk as die skudding by Orkney.

Trouens, al is berig dat Dinsdag se aardbewing die sterkste aardbewing in Suid-Afrika was sedert die Bolandse aardbewing 40 jaar gelede, was die skudding wat Tulbagh, Ceres en Wolseley soveel skade besorg het, in die orde van agt keer sterker.

Die rede waarom Suid-Afrika steeds die Richterskaal gebruik is juis omdat die M-skaal ontwerp is vir lande met groot verskuiwingsvlakke, en akkurater is vir sterker aardbewings. Suid-Afrika het nie sulke groot verskuiwingsvlakke nie, en sulke sterk aardbewings is dus onwaarskynlik.

Opsomming van Suid-Afrika se aardbewingpotensiaal

Die verslag oor Nkandla wat die parlement se gesamentlike komitee oor intelligensie bekend gemaak het, meld na berig word die moontlikheid van ‘n aardbewing van tussen magnitude vyf en ses by Nkandla. ‘n Navorsingsverslag wat aardbewings van sterker as M5 sedert 1809 en 2006 in Suid-Afrika lys, dui wel meer as 50 sulke aardbewings in Suid-Afrika aan, maar nie ‘n enkele een in dit wat vandag KwaZulu-Natal is nie. Dit beteken nie dat daar nie aardbewings was nie. Enkele jare gelede was daar ‘n aardbewing van M7 in die weste van Mosambiek, wat só sterk in Durban gevoel is dat mense uit hoë geboue ontruim is. Maar vroeg in die 1800’s is Kaapstad deur twee aardbewings getref van dieselfde sterkte as dié wat Tulbagh getref het, en redelike sterk aardbewings het in plekke so klein soos Koffiefontein tot so groot as Welkom en Johannesburg voorgekom.

Die wetenskap beskik oor die kennis om voertuie op Mars neer te laat, en het toerusting waarmee hulle miljarde ligjare ver die ruimte kan inkyk. Maar die een groot leemte is om te kan voorspel wanneer ‘n groot aardbewing in ons eie moeder aarde gaan plaasvind. Daar word dus op waarskynlikhede gewerk.

In Suid-Afrika self is daar kleiner verskuiwingsvlakke, waarvan een, die Milnerton-verskuiwingsvlak, nogal naby die Koeberg-kernkragsentrale verbyloop. Dit word met die sterk aardbewings 200 jaar gelede in verband gebring. Met die konstruksie van die Van der Kloofdam is ook in die ontwerp en bou rekening gehou met die gewoonlik ligte aardbewings wat in die omgewing voorkom.

Maar Nkandla? Die Andrew Bain-verskuiwingsvlaksone wat ongeveer by Port Shepstone begin, word met die verskuiwingsvlak geassosieer wat die Afrika-slenkdal veroorsaak het, en waar Oos-Afrika geleidelik van die res van die kontinent wegbeweeg. Die tempo van beweging in Suid-Afrika word op ongeveer 2mm per jaar bereken, teenoor die meer as 2cm per jaar wat die meeste verskuiwingsvlakke beweeg, en dit beweeg ook weg van mekaar.

Geen geoloog wat sy sout werd is sal sê dat daar nie moontlik vandag ‘n taamlike groot aardbewing Nkandla, of meer waarskynlik Durban gaan tref nie, maar op die waarskynlikheidsvlak is die kanse veel beter dat die president in ‘n bloulig-jaagtog kan omkom, of dat hy in die stort kan gly as dat Nkandla weens ‘n aardbewing in puin gelê kan word.

Oorsake

Die feit dat die aardbewing by Orkney in Junie deur ‘n voorskok voorafgegaan is, en daar ook reeds minstens een groot naskok was, dui daarop dat daar in die omgewing ‘n verskuiwingsvlak moet wees. Boonop was daar in 2005 in dieselfde gebied ‘n aardbewing van 4,9 op die Richterskaal. Die skuddings hou nie met die mynbedrywighede in die gebied verband nie. Die episentrum was tien kilometer ondergronds – wat as betreklik vlak beskou word, maar ongeveer ses kilometer dieper as die diepste myn in Suid-Afrika. Hoe nader aan die oppervlak, hoe erger is die bogrondse skade, maar die diepte van tien kilometer was ook diep genoeg dat die skudding so besonder ver gevoel is.

Maandag het die myn by Postmasburg 940 ton plofstof binne vier sekondes laat ontplof wat 1,6 miljoen ystererts losgeruk het. Dit sou ongetwyfeld ‘n baie groot skokgolf veroorsaak het maar dit is te vroeg om met sekerheid te sê dat dit ‘n invloed op Dinsdag se aardbewing 432 kilometer daarvandaan kon hê.

Die SA se Raad op Geowetenskap wat die aardbewing ondersoek, beoog om hul verslag teen die einde van die maand te voltooi, en dan aan die regering verslag te doen. Dit is dus nie bekend wanneer die publiek volledige insae in gister se aardbewing en die oorsake sal kry nie.

Maar selfs al sou daar ‘n verband met die Postmasburg-ontploffing wees, kon dit nie die aardbewing veroorsaak het nie. Dit kon hoogstens bydra tot die “losskud” van die spanning wat reeds in die verskuiwingsvlak opgebou het. Was daar wel ‘n verband, het dit Suid-Afrika waarskynlik ‘n guns bewys deur te voorkom dat die spanningsvlak nog verder opbou.

Vooruitbeskouing

Die skudding by Orkney het ‘n geruime tyd die posisie as sterkste aardbewing die afgelope 24 uur ter wêreld ingeneem, maar dit is bloot toevallig. Gewoonlik is daar byna daagliks veel sterker aardbewings wêreldwyd. Die Orkney-skudding was die afgelope week wêreldwyd die elfde sterkste aardskudding. Die skudding in Suidwes China wat honderde lewens geëis het was op M6,1 die tweede sterkste die afgelope week. Die Orkney-skudding was die tweede sterkste die afgelope week in Afrika, met ‘n sterker skudding van M5.7 wat in Algerië voorgekom het.

Die afgelope aantal jare het daar gereeld sowat 20 skuddings per jaar van M7 of sterker wêreldwyd voorgekom. Dit vind gewoonlik in die see of weg van dig bewoonde gebiede plaas, en daarom word min hiervan gehoor.

Die sterkste aardbewing vanjaar was een van M8,2 in die noorde van Chili. Tot dusver vanjaar was daar nog “net” agt aardbewings van M7 of meer. Dit is aardbewings wat ongeveer 70 keer so sterk soos die aardbewing by Orkney was.

Verskeie geoloë meen dat Suid-Afrika wel eendag ‘n baie sterk aardbewing sal beleef, maar niemand wil voorspel oor wanneer en presies waar so iets kan gebeur nie. Daar is trouens kaarte wat hoër risiko-gebiede aandui, maar ironies val die Orkney-omgewing nie in die gevaargebiede wat byvoorbeeld deur die USGS se kaart aangedui word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Theo ·

Hi Maroela Media, Val julle ook in die strik van die foto saam die berig!! Die foto is beslis nie van Orkney Spar nie…..weet nie waar die foto vandaan kom nie maar is al verskeie kere versprei vanaf gister!! Ek is van Orkney en dit is nie hoe die Spar gelyk het na die aardbewing nie!! Stel dit reg asb!!!! Om so foto verder die wêreld in te stuur is mense aan hulle neuse rond te lei…..of is dit om so veel as moontlik reaksie te kry?? Dankie like julle kwaai!!!

Suné van Heerden ·

Dagsê Theo,

Dankie, ons het die foto by die berig verander.
Ons het aanvanklik die foto van ‘n gemeenskapsradiostasie af ontvang wat een van hulle luisteraars glo ingestuur het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.