Nuuskommentaar: Wanneer wit en swart enigiets kan beteken – die BLF se ‘verweer’

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

Die BLF se registrasie as politieke party is opgeskort omdat dit slegs swart mense as lede toelaat. Die BLF se verweer is nou dat “swart” ook enige ander ras kan beteken, ’n pikantheid wat wyer as net die BLF neerslag gevind het, soos ironies, juis by die Menseregtekommissie.

Die omstrede organisasie Black First, Land First, oftewel BLF, se deregistrasie as politieke party moet verwelkom word. Die BLF se verweer, naamlik dat ook ander rasse as swart beskou kan word, is laf, maar dit staan ook nie sonder diep politieke wortels nie. Die mees onlangse aktuele manifestasie hiervan is die Menseregtekommissie se erkenning dat wit mense se skuld of nie, en gevolglike graad van optrede daarteen, weens historiese redes deur ’n velkleur bepaal word.

Trouens, dié vrot draad (in teenstelling met ’n goue draad) wat deur die werklikheid kan loop, loop ook sterk deur die hele konsep van Swart Bewussyn. Heel per toeval, en per ongeluk, is die BLF in een opsig reg. Ander rasse kan ook as swart beskou word. Maar eintlik ook nie meer nie. Dit sou wel in beginsel die regsposisie kon wees as die vorige regering se skrapping in 1991 van die wet waarvolgens mense in rasse geklassifiseer is, die einde van die saak was. Dan sou dit nie saak gemaak het of ’n persoon wit, swart, bruin, groen, blou of welke moontlike kleur op ’n kleurkaart of in die reënboog was nie. Maar die rasbehepte ANC het die wet effektief in plek gehou deur allerlei wetlike kleurvoorskrifte in te span wat die mense se lewe van geboorte tot die graf rig. En die vermetelheid aan die dag gelê om dit nie-rassigheid te noem. Maroela Media het al verskeie kere berig oor die invloed van gebruike en opvattings van die Amerikaanse swartbewussynsbeweging wat neerslag in Suid-Afrika gevind het.

Maar voor daar vingers na net swart gewys word, wittes doen dikwels net so hartlik mee. Dink maar aan Steve Hofmeyr se uitsluiting uit die KKNK destyds, maar die uitsonderlike moeite deur die KKNK-bestuur om swart deelname te verhoog deur uit te reik na swart organisasies wat kunstenaars verteenwoordig. Die onewehandige behandeling wat mense van verskillende velkleur aan die hand van onder meer die SA Menseregtekommissie kry, is al telkemale in Maroela uitgewys. Ander instansies wat gereeld hieroor stem dik maak en daarteen optree, soos Solidariteit, gebruik ander terminologie wanneer na dié rassediskriminasie verwys word.

Maar heel pikant sal instansies en die Seunse Weenkoor, met gaskunstenaars, gereeld die vinger wys na die einste Solidariteit, met AfriForum saam in die sakkie van rassisme, en hul eie beheptheid met ras probeer verdoesel. Adriaan Basson het onlangs nog geskryf: “Rampant corruption, stubborn racism, pervasive inequality and a surging crime-rate have battered the rainbow nation into submission. Add to that the emergence of organisations like AfriForum, the EFF and BLF who actively promote polarisation between racial groups to drive membership and votes, no wonder the term [rainbow nation] had lost its shine.” Basson se byvoeging van die BLF en die EFF by die “rasgedrewe” organisasies moet verwelkom word, maar die insluiting van AfriForum is pikant en waarskynlik moedswillig.

Die inspan van kluitjies om die wysvingers ’n rat voor die oë te draai is nie nuut nie. Die BLF het na die kieshof se bevinding dat dit gederegistreer moet word, onder meer die VF Plus beskryf as die wittes se politieke organisasie vir gronddiewe.

Hierdie vingers wat oral heen wys om “skuldiges” aan sabotasie van die reënboog uit te wys, verdien nou ongelukkig verdere opheldering oor die vorige twee nuuskommentare wat die kwessie van die Springbokke se Wêreldbekerglorie en moontlike post-euforiese trauma onder die loep geneem het. Sommige kommentators het blykbaar daarin gelees dat die uwe mense ontmoedig het om met vreugde op die prestasie te reageer. Die bedoelde boodskap was egter dat daarteen gewaak moet word dat die post-euforiese trauma nie, soos na vorige euforiese momente, al die positiewe uitwis nie. Trouens, dat in die proses, die kontras tussen euforie en werklikheid, so groot is dat dit die trauma erger laat voel as die werklikheid. Die voorbeeld van nageboortedepressie is gebruik, maar moontlik sou doodgewone dronkverdriet ’n meer toepaslik beskrywende, maar minder stylvolle voorbeeld gewees het.

Nee, daar is niks mee verkeerd om enige beskikbare geleentheid te benut om na ’n beter plek te gaan nie. Dis dalk net goed dat die seepkis waarmee die afdraande na die gloriepunt aangedurf word brieke moet hê om te keer dat die karretjie by die gevaarlike skerp draai nie reguit oor die afgrond hou nie.

Wie bou nou ’n heerlike houtstrandhuis op stewige houtbalke wat as pilare moet dien, maar die onbehandelde balke is reeds vol florerende houtvretertermiete? Met soorte soos die EFF-spesie en die BLF-spesie. En ja, alle spesies is nie swart nie.

Die uwe is wel minder eufories oor die Wêreldbeker, maar om ’n heel ander rede, naamlik dat die Vrystaat uitgesluit word van die Springbokke se oorwinningstoer. En dis juis aan die Vrystaat te “danke” dat die Bokke die beker kon verower. Statistieke bewys immers die Bokke kan die beker net wen in jare wat die Vrystaat die Curriebeker verower het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Judge Dredd ·

Blykbaar – Moenie dat die waarheid in die pad staan van ‘n goeie verhaal :-)

Herman Toerien ·

Ek is jammer. Het self geen syferaanvoeling nie. Het dit uit soveel oorde gehoor en selfs uit NS op skrif egkry (gaan dt hieronder probeer plak). Miskien het die een wat dit uitegedink het net bedoel daar was in 1995 nog 12 oud-Vrysters in die Natalse span dat dit maar eintlik die Vrystaat was. Uitslag van die Wêreldbeker-eindstryd voor die tyd bepaal? (Of nie?)
Teen die tyd dat die meeste van ons hierdie brokkie lees, sal dit al bekend wees wie van die Bokke of Engeland die nuwe wêreldkampioen is. Ek het voor die wedstryd gewonder hoe betroubaar hierdie soort ‘voorspelling’ is!
1995: Die Cheetahs (MY CHEETAHS!) verower die Curriebeker.
1995: Die Springbokke verower die Wêreldbeker.
2007: Die Cheetahs verower die Curriebeker.
2007: Die Springbokke verower die Wêreldbeker (nogal teen Engeland).
2019: Die Cheetahs verower die Curriebeker.
2019: Die Springbokke speel weer teen Engeland in die eindstryd, en die uitslag is…???

Adam ·

Goeie rubriek, maar ongelukkig is Adriaan Basson nie net deels reg nie, maar is sy stelling waar. “The lady doth protest too much” is nogal van toepassing op sg burgerlike organisasies wanneer ras ter sprake kom, meestal met ‘n goeie skeutjie opportunisme daarby

Naomi ·

Alle merkers van Gr 12 vraestelle word nog ingedeel volgens ras. Elke vorm wat voltooi moet word, vra nog die ras-vraag.

Die WB is hoop. Dit verander nog nie plaasaanvalle of crime nie. Korrupsie ook nie. Die euforie sal afwas.

Leon ·

Iemand het vergeet om die ANC in Adriaan Basson se lys in the sluit. Hulle stook die vuur met dinamiet.

JohanR ·

Self was ek soe wit soos kalk, sou ek nie by BLF of EFF aansluit nie! Dink om elke dag in Andile Mngxitama en Julius Malema se bakkies vas te kyk, en te luister na die snert wat hulle praat? My mense is Afrikaners….. boere musiek, aartapels, vleis en rys, braai, Springbok, meltert en Ouma en Oupa met stories.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.