Nuuskommentaar: Wapen-skandaal onder loep

Gripen-vegvliegtuie wat aangekoop is.

Suid-Afrika word byna daagliks deur nuwe skandale getref – of dan gebeure wat deur ‘n deel van die bevolking as skandaal beskou word. Onder die sake die afgelope paar dae tel pres. Jacob Zuma se voortydige gelukwense aan Mugabe met sy verkiesingsoorwinning, terwyl die finale verslae van veral die SAOG-waarnemers oor die billikheid van die verkiesing nog afgewag word, en na Mugabe in sy voorverkiesingspropaganda verskeie skokkende voornemens wat teen die Suid-Afrikaanse grondwet indruis, tot ontsteltenis van die verantwoordelike internasionale gemeenskap gemaak het.

Die een groot konstante Block, ekskuus, blok aan die been bly egter die wapen-skandaal. Trouens, hierdie albatros om die nek word al hoe groter soos daar nuwe, verwante bosluise bly opklim. In ‘n bisarre kinkel lyk dit of ‘n filiaal van een van die geïmpliseerde buitelandse maatskappye, nou ook ruim uit die e-tolstelsel gaan oes.

Die duidelikste uitkringende vervolgverhaal is egter ‘n voortsetting van Zuma se eie, beweerde betrokkenheid. In die verhoor en skuldigbevinding van die bedrieër Shabir Shaik het die verhoorregter na die “korrupte verhouding” tussen Shaik en Zuma verwys. Zuma het egter die politieke hoogste sport bereik, en die aanklagte teen hom is laat vaar met ‘n motivering wat regslui die kop laat skud. Die implikasies hiervan woed in die vorm van die sogenaamde opnamebande-saak voort.

Die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapen-skandaal het ook net gekom na ‘n gewone burger ongelooflike beginselvastheid aan die dag gelê, en die president voor die Grondwetlike hof gesleep het. Zuma het op die laaste nippertjie buite die hof geskik. Oor of die Seriti-kommissie die waarheid uiteindelik sou laat blyk, is ‘n ander vraag na vorige ondersoeke eerder die karakter van toesmeerdery aangeneem het, en die Kabinet van oud-pres. Thabo Mbeki ‘n verslag onherkenbaar “geredigeer” het.

En algaande het die albatros maar bly groei.

Intussen het Eskom begin noustrop trek, na bewering omdat die kabinet besluit het om fondse wat vir Eskom se noodsaaklike uitbreidings bestem was, eerder op die wapens te spandeer. Die wapentransaksie sou so gestruktureer word dat die suksesvolle maatskappye ook teenbeleggings in Suid-Afrika sou doen wat werksgeleenthede sou beteken. Trouens, daar is periodiek flouerig getoon dat daar wel sulke teenbeleggings is of was, maar die algemene opvatting by die publiek is dat hierdie maatskappye eintlik hul “plig” teenoor die kabinet nagekom het deur omkoopgeld in sakke te laat verdwyn, en dat die teenbeleggings eerder bestaan het daaruit om die Suid-Afrikaanse publiek met yslike donkie-ore toe te rus.

Daar was ‘n internasionale konteks waarbinne die saak plaasgevind het. In die eerste plek word internasionale wapentransaksies as van die vuilste soort transaksies denkbaar beskou. Die internasionale bedryf is gelaai met “makelaars” wat op die mees bedenklike wyse denkbaar markte vir wapenvervaardigers skep, en dié makelaars steur hulle nie juis aan die bedenklike karakter van die aankopers nie. Trouens, hoe bedenkliker die aankopers, hoe groter is die “kommissie” wat verdien kan word gewoonlik. Wapenvervaardigers wat etiese norme nagestreef het, is eenvoudig deur mededingers van die tafel afgevee.

‘n Tweede aspek was dat talle lande, waaronder Europese lande, aanvaar het dat omkopery in Afrika ‘n gegewe is om sake te doen. Dit was dus in baie lande nie teen die wet om Afrika-leiers om te koop nie, en dis ook openlik gedoen en in maatskappye se belastingopgawes aangetoon, en min moeite is gedoen om dit te verdoesel.

Wat laasgenoemde betref, het daar in of meer in die middel van die wapentransaksie onder die Westerse lande ‘n kentering ingetree en is omkopery oral ter wêreld verbied. Skielik het inligting in die buiteland bekend begin word oor hoeveel watter maatskappye aan omkopery betaal het, en soms selfs aan wie. Dit het onder meer aan die lig gekom dat ‘n presensielys toon dat die destydse president, Mbeki, self so ‘n vergadering bygewoon het – ‘n vergadering wat hy nie kan onthou hy bygewoon het nie.

Ook Zuma se naam is via Shaik met die Franse wapenvervaardiger Thales verbind, en selfs die aansienlike bedrag wat Zuma jaarliks aan gunslone sou ontvang het in die openbare domein beland. Nkandla het uit die heuwels begin groei.

Nog ‘n rede waarom die internasionale wapenhandel “skoongemaak” moes word hou veral verband met die opkoms van Al Kaïda en sy “filiale. Met ‘n korrupte internasionale wapenhandel is dit bykans onmoontlik om te keer dat lande soos Noord-Korea en Iran kernwapens ontwikkel, en daarby die tegnologie om dié kernwapens oor lang afstande doeltreffend aan te wend. Trouens, ‘n groot deel van die motivering van Westerse intelligensiedienste om die gewone burgers se private kommunikasie te onderskep, hou verband met pogings om vas te stel hoe en waarheen wapens versprei word. Bykans geen land het nie ‘n belang oor waarheen wapens gaan nie – van renosterstropery in Suid-Afrika en die ooste, tot ivoorstropery in Afrika, tot massaslagtings in Noorweë, België en kort-kort die VSA.

Van die Suid-Afrikaanse opposisiepartye is effe bedees oor die wapentransaksie. Die argument in privaat  gesprekke is dat die kombinasie van die befaamde lêer wat in Patricia de Lille besit beland het, en die buitelandse omkeerbenadering oor omkopery, veroorsaak het dat hierdie wapentransaksie in vergelyking met destydse internasionale praktyke eintlik besonder skoon verloop het. Dit bly natuurlik ‘n drogargument aangesien dit enersyds bedenklik is om “grade van verkeerdheid” aan korrupsie te koppel, en tweedens omdat die werklike omvang van die korrupsie nog nooit na behore bepaal is nie. Slegs relatiewe klein vissies, Shaik en Tony Yengeni, het tot dusver aan die pen gery – as hul straf en Yengeni se helde-behandeling as straf kwalifiseer.

In Suid-Afrika het ‘n tweede generasie argumente ontwikkel – die “ons het julle mos gesê”-argument. Van Grippens wat nie vlieg nie tot duikbote wat nie duik nie. Hierdie kritici wys daarop dat gemaan is dat Suid-Afrika nie die vaardighede het vir onderhoud en selfs bedryf nie, en waar dit wel bestaan het of geskep is, dit nie volhoubaar sou wees nie.

En toe kom die Seriti-kommissie. En dit kom nie van die grond af nie. En terwyl die kommissie skynbaar voete sleep, het dit nie voete met oorsese reise, selfs reise waar eggenote saamgegaan het, gesleep nie. Nog voor die eerste sitting is al laat blyk dat die begroting onvoldoende gaan wees om die taak te voltooi.

Daar was ook al drie prominente bedankings, waaronder ‘n regter, Francis Legodi. Twee het bevestig, en oor die derde is berig dat die bedankings die gevolg is van ‘n “tweede agenda” wat die voorsitter, regter Willie Seriti eintlik bedryf. Die gevolg is dat die kommissie reeds in omstredenheid gedompel is nog voor dit sy eerste sitting gehou het.

Waarnemers is dit betreklik eens dat die kommissie so sal voete sleep dat die bevindings nie voor aanstaande jaar se verkiesing bekend sal wees, en Zuma veilig in sy tweede termyn in gelanseer is nie. Boonop blyk dit dat daar eers ‘n voorlopige verslag slegs vir die oë van die president, opgestel gaan word. Dit roep herinneringe aan die “geredigeerde” verslag van die Mbeki-era op, en die so genoemde Zuma-bande wat die Nasionale Vervolgingsgesag in plaas van soos deur die Appèlhof gelas na die DA gegaan het, na Zuma gegaan het waar dit weer ‘n hofsaak kos om dit te probeer “herwin.”

Nog ‘n aspek waaroor nog heelwat duidelikheid moet kom, is Seriti se vroeë oordeel dat dit onnodig is om die ANC tot verantwoording te roep omdat daar geen getuienis is dat dié organisasie betrokke was nie. Minstens een klaer maak egter daarop aanspraak dat hy oorweldigende bewyse van betrokkenheid aan die kommissie voorsien het. In Sondag se RSG-besprekingsprogram, Kommentaar, het die deelnemers ook vrylik gepraat van geld wat na die ANC gevloei het. Met die brandende vraag of die Zimbabwiese verkiesing as vry en regverdig beskou kan word terwyl die speelveld nie gelyk was nie, verskuif daardie vraag nou na volgende jaar se verkiesing in Suid-Afrika – is die speelveld hier gelyk?

Die Seriti-kommissie het kort voor sy eerste sitting begin het, geloofwaardigheid probeer herwin deur onder meer aan te kondig dat “die publiek” die geleentheid sal kry om getuies onder kruisondervraging te neem. Die toets van geloofwaardigheid kom egter daarby dat Seriti selfs sal besluit water “publiek” hierdie voorreg sal kry, en uiteraard uiteindelik, watter getuies hoegenaamd gevra, of toegelaat sal word om getuienis af te lê.

Gister se twee weke uitstel met die aanvang van die eerste sitting laat ook ‘n wrang smaak. Terwyl daar begrip kan wees dat Zuma moet besin oor die vervanging van Legodi, lyk die weermag se versoek om eers dokumente te deklassifiseer verdag. Soos opposisiepartye uitwys, kon en moes dit al lankal gedoen gewees het.

Dit is hoog tyd dat die wapen-skandaal behoorlik ondersoek, en die uitslag bekend gemaak word. Nie net om die skuldiges na meer as 13 jaar aan die pen te laat ry nie, maar ook om diegene oor wie se koppe nou vraagtekens hang maar nie aandadig was nie, se name skoon te kry en hul geloofwaardigheid te herstel. En ook sodat die verdagmakery van klaers kan end kry.

En daardie verantwoordelikheid rus op Seriti, wat ook nou heelwat werk het om sy eie aansien te herstel. Intussen kan die albatros maar net nie vlerke kry nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae