Nuuskommentaar: Wapenhandel vertel ook Koue Oorlog is terug

Argieffoto ter illustrasie

Argieffoto ter illustrasie

Nuwe rekordvlakke in wapenverkope word nou in ’n dokument met die hervatting van die Koue Oorlog in verband gebring. Maar kan daar op sterkte van slegs een faktor aanvaar word dat die Koue Oorlog reeds in volle gang is? Is pres. Trump en sy span al ingegrawe en ingelig genoeg om die onderduimse aard van ’n Koue Oorlog die hoof te bied?

“Sedert die einde van die Koue Oorlog staan die internasionale wapenhandel nou op sy hoogste vlak in vyf jaar,” berig die Vlaamse dagblad, De Standaard. Die bron vir die verkoopsyfers is die Sweedse Internasionale Navorsingsinstituut vir Vrede, SIPRI; die afleiding dat die Koue Oorlog nou weer in volle gang is, kom ook uit die verslag van hierdie instituut.

Verskeie publikasies het die nuus oor die hervatting van die Koue Oorlog net so aanvaar, al is kenners wêreldwyd dit nog nie eens dat die Koue Oorlog hervat is nie. Min sal egter stry dat die wêreld in daardie rigting op koers is. Ná aanvanklike tekens dat die verkiesing van Donald Trump tot Amerikaanse president die spanning tussen Rusland en die Weste sou kon verlig, en Rusland die geleentheid benut het om sy invloed in die Oos-Oekraïne te verdiep, het die Trump-administrasie dit duidelik gestel dat Rusland se optredes in die Oekraïne onaanvaarbaar is.

In 2009 was kenners, insluitend die Sweedse SIPRI, nog onseker in watter rigting die wapenhandel sou koers inslaan. Daar was destyds nog geen sprake van ’n hervatting van die Koue Oorlog nie. Volgens ’n verslag van die Amerikaanse Kongres het die internasionale wapenhandel in 2008 met 7,6% afgeneem. Die internasionale wapenhandel sou toe tot “net” $55,2 miljard gekrimp het. Die destydse president, Barack Obama, wou geen enkele dollar onnodig aan wapenaankope bestee nie. Die steunpakket van $700 miljard dollar vir nywerhede het nie ’n enkele dollar vir die verdedigingsindustrie ingesluit nie.

Menige koerantopskrif het toe gelui dat die goue era van wapenhandel iets van die verlede is.

Tog het Amerikaanse wapenvervaardigers hul aandeel in wapenverkope op die internasionale markte met 50% uitgebrei.

Volgens SIPRI se jongste syfers is die VSA die grootste verkoper van wapens in die tydperk van 2012 tot 2016. Boonop het die VSA sy verkope in hierdie tydperk met 21% vermeerder, terwyl die internasionale wapenhandel oor dieselfde tydperk met 8,4% wêreldwyd toegeneem het. Rusland beklee die tweede posisie, en China het tot die derde posisie opgeskiet.

Benewens SIPRI se byna terloopse verwysing na die Koue Oorlog, fokus dié instelling op empiriese syfers oor wapenverkope.

Dit is egter insiggewend dat die term Koue Oorlog gebruik is, en dit gee aan ontleders ’n waardevolle input om tendense as uitvloeisel van die Koue Oorlog te ontleed, of as die Koue Oorlog (nog) nie as realiteit aanvaar word nie, die verwikkelinge in daardie rigting te volg.

’n Ander belangrike input is die stand van Navo. Aanvanklik het dit gelyk of die Trump-administrasie Navo soos ’n stiefkind gaan hanteer, maar die visepresident, Mike Pence, het pas die versekering gegee dat die VSA dit steeds as baie belangrik ag. Hy het dit egter ook duidelik gemaak dat Europese lande by hul ooreengekome bydrae tot begroting hiervan moet hou, wat insluit dat elke land ’n bepaalde deel van sy begroting ter ondersteuning aan sy eie weermag moet bestee. Slegs enkele Europese lande het hierby gehou, en meestal daarop besnoei wat druk op die VSA verhoog het. Terwyl dit hier in die eerste plek oor die veiligheid van Europa gaan.

Die Koue Oorlog kan nie in ’n enkele dimensie soos wapenbegrotings ontleed word nie. Die politieke terrein speel hierin ’n vername rol, en meer bepaald die verhouding tussen Rusland en die VSA. Die vernaamste brandpunt hier is die situasie in die Oekraïne, en volgens Pence word verwag dat Rusland hom by die bepalings van die Minsk-ooreenkoms moet hou. Pence beklemtoon dit egter ook dat Trump glo dit is moontlik om die spanning te verlig deur meer gemeenskaplike belange te soek. Maar, beklemtoon hy, wat die Oekraïne betref, sal Rusland aanspreeklik gehou word.

Die Koue Oorlog is ook ’n geostrategiese magspel. Op die oog af krap Isis (ook genoem IS) en soortgelyke organisasies in die Salafistiese dampkring sake deurmekaar, deur as ’n soort “derde mag” in die stryd te staan. Word ’n tree terug gegee, word die krane oopgedraai om Isis se vestings op die grond, waaronder baie doeltreffende “no go”-gebiede, te herower. Aan die einde van so ’n proses, so lyk dit, gaan Rusland met Sirië in sy invloedsfeer sit, en die VSA met Irak. Maar is Isis net ’n tussenspel?

Oorhoofs lyk dit of die Trump-administrasie hom nog nie werklik veel met Sirië bemoei nie – ’n uiters komplekse situasie waar dit wys is om eers deeglik kennis op te doen voor ’n vinger gelig word (behalwe vir noodleniging).

Turkye, ’n lid van Navo, se rol is ook wisselvallig en pas nie mooi in ’n boksie nie. Op die oomblik lyk dit of Turkye se betrekkinge met Rusland dalk hegter kan wees as met die VSA.

Was die wêrelde weerskante van die ystergordyn werklik gereed vir die nuwe orde wat op die beëindiging van die Koue Oorlog moes volg? Of was die wêreld gewoon te gewoond aan die vyandskap, en voel nou effe kaal en verdwaal sonder hierdie vaste punt?

Ten slotte …

Dit sal wys wees om te kyk oor hoe sake in die nuwe Trump-administrasie ontwikkel alvorens te veel afleidings gemaak word. Daar sal inkonsekwenthede wees terwyl die verskillende rolspelers hul voete vind terwyl hulle berge (vir hulle) nuwe inligting baasraak.

Trump moet ook sy oog op sy steunbasis tuis hou. Selfs wetenskaplikes, veral in die klimaatwetenskappe, hou nou plakkaatoptogte teen Trump se verkleinering van die wetenskap. Een plakkaat het veelseggend gelui: “Trump’s team are like atoms – They make up everything.”

’n Nuwe organisasie, 314 Action, is gestig om wetenskaplikes wat aan verkiesings wil deelneem, te help.

En dis maar een van die terreine waar Trump op die tuisfront sake sal moet uitpluis.

Dis jammer dat ’n Koue Oorlog per definisie nie “op die ys” geplaas kan word tot wêreldsake meer uitgepluis is en in plek val nie. Maar hy wat te goeder trou sake eers laat prut, gaan vind sy belange is deur die opponente so geërodeer terwyl hy sake uitgekyk het. Dis maar die onderduimse aard van ’n Koue Oorlog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter ·

Herman, baie dankie vir jou gebalanseerde berig – groot waardering vir jou deurlopende goeie insig! Dance, skynbaar verstaan jy nie die inhoud van Herman se kommentaar nie – verwag jy dat insiggewende kommentaar altyd slegs uitgesproke “regs” moet wees, ten koste van goeie perspektief?

Johann ·

Ja, dit het my ook begin irriteer, gaats, as ons dan nou nie eens die Afrikaans kan baasraak nie, of probeer ons maar ‘n Engelse woord inwerk, omdat dir ‘posh’ klik. (Nou wat is posh nou weer in Afrikaans) en Herman, daar verloor jou skrywe sy trefkrag.

Herman Toerien ·

My eie ervaring mag verouderd wees. Toe ons op universiteit die stelselteorie (en een van sy toepassings, die behaviouralisme bestudeer het, was daar sterk pogings van die taalkundemense (en ek het self Afrikaans en Nederlands as vak gehad). Die probleem is dat woorde soos “inset” nie presies die betekenis weergee nie, bv insette vir ‘n verslag lewer. Nie alle vakterme word vertaal nie, bv die wiskundige begrip Pi. Die Amerikaners, wat aardbewings wêreldwyd meet, gebruik ‘n skaal bekend as die moment magnitudeskaal. Suid-Afrika is een van die min lande wat nog die Richterskaal gebruik. Japan en Taiwan gebruik weer hul eie, en dan is daar nog ‘n paar. Hulle meet verskillende aspekte, en daarom kan die een nie na die ander omgereken word nie. Dit was ‘n lang gespook met luisteraars wat eers aangedring het die Richterskaal moet gebruik word (wat ek net tov SA kan doen), en toe dat die Amerikaanse benaming in beter Afrikaans weergegee word. Na dit in die hoogste taalkringe gaan draai het, bly dit soos dit is.

Johann ·

Herman, ek lees wat jy skryf, maar waarom ‘n Engelse woord gebruik? In Afrikaans is dit tog ‘inset’, en dit beterken presies dit in Engels? Waarom dan nie maar die nuuskommentaar in Engels skryf nie? Afrikaans is dan ‘n wetenskaptaal. En as die regsberoepe, mediese beroepe, edm, Afrikaanse lektuur se taal sou begin mix, waar staan ons dan? (Kaaps?)

Johann ·

Kom ons probeer weer. Ja, die Engelse woord ‘input’ was onnodig en het my ook irriteer. Gaats nou lewer ek hieroor my mening ipv die inhoud van die skrywe.

Johann ·

Ek sien ietsie van my hier wat ek geskryf het. Ja, mens moet maar so fytjies om die woorde dartel, trap-trap om die regte woorde te soek, dan Eureka, dit het verby die redigeerders geglip, ook maar net-net.

Jan Gutter ·

Ek dink ook klimaat verandering of global warming is n leun nadat ek n dokumenter daaroor gesien het. Baie wetenskaplikes dink ook so maar word nie gehoor agv die media wat hulle eie agenda dryf. London bv het strate soos Vine street ens. Hulle het met tye druiwe daar geplant. Ook was die Theems rivier op n stadium ge-ys. As die see warmer word dan is daar meer verdamping en meer wolke wat weer die hitte uithou, so dit balenseer uit. Dis natuurlike prosesse.
Ek is dit eens dat die mens die natuur baie skade aandoen maar global warming is n plan vd die geldmag om wêreld belasting in te stel vir uiteindelik n wêreld regering soos voorspel in Openbaring 1900 jaar terug.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.