Nuuskommentaar: Was AfriForum reg oor lys?

kill-the-boer-boek-ernst

Ernst Roets van AfriForum. Foto: Reint Dykema.

Wie was reg oor die bekendmaking al dan nie van die beweerde lys van plase wat glo vir beslaglegging sonder vergoeding geoormerk is – AfriForum of Agri SA? Dis ’n kwessie met wortels en soms met komplekse regstegniese aspekte, het Herman Toerien, wat dieper gaan delf het, vasgestel.

AfriForum loop oor ’n wye front deur oor die bekendmaking van ’n lys wat glo byna 200 plase identifiseer wat deur die ANC vir beslaglegging sonder vergoeding geïdentifiseer is. Die lys bestaan nie, sê die ANC, en die lys kan (nog) nie bevestig word nie, sê Agri SA. Die lys bestaan wel, sê instansies na aan AfriForum, maar die korrektheid moet bepaal word, en daarom word ’n WBTI-aansoek (Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, Wet No. 2 van 2000) gerig.

Die tweede groot storie uit gister se nuusgebeure is die konstitusionele hof se beslissing dat adv. Shaun Abrahams se destydse aanstelling deur pres. Jacob Zuma, ongeldig is. Die twee stories is onderling, hoewel hoogs regstegnies, verbind.

In die bekendmaking van die omstrede lys is daar twee kante van die saak. Beide opsies het pragmatiese uitvalle soos paniek of vooraf behoedheid, maar wat was regstegnies die regte besluit? Die werklike fout word immers deur die ANC gemaak wat die hele ongrondwetlike kwessie hoegenaamd op die tafel geplaas het.

grondoudit-2017-11-01

Dan Kriek, president van Agri SA. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Tweedens hang dit af wie van AfriForum of Agri SA se regsmense die suiwerste regsuitleg gee. Analise Crosby, baie knap regsadviseur van Agri SA, bly onverbiddelik by die standpunt dat artikel 25 van die grondwet eers gewysig moet word en verskeie regsprosesse deurgegaan moet word alvorens die plase onteien kan word. Verskeie regsmense het egter uitgewys dat subartikel 9 van artikel 25 wel onder sekere omstandighede vir ’n afwesigheid van vergoeding gekyk kan word, en verskeie eksponente in die ANC wil dit op die proef stel. Reeds in 1997 het AJ van der Walt in sy monumentale werk, The Constitutional Property Clause, na die skynbare teenstrydigheid verwys, en gemeen die opstellers het moontlik ’n agterdeur oopgelaat.

Gewoonlik sal state waar vergoeding wel gewaarborg word, die regsprosesse só probeer vereenvoudig dat die onteieningsproses spoedig kan gebeur, en min struikelblokke voorkom. Tot tyd en wyl die regsposisie dus behoorlik “opgeruim” is, sal diegene wat die proses wil vlerke gee nie voete sleep nie, en die persoon of instansie wat dit wil teenstaan, liederlik met die broek op die enkels gevang word.

Regsuitlegte in Suid-Afrika, veral wanneer dit by die konstitusionele hof kom, het immers al gereeld vreemde weë ingeslaan, soos in die Modderklip-saak, maar was dan gewoonlik baie pragmaties en is gelewer ingevolge sekere regskrywende magte waaroor die hof beskik. (Gewoonlik word gebrekkighede in die regspraak na die parlement verwys vir regstelling.)

Min mense sal byvoorbeeld twyfel dat die hof gister enige dwaling beleef het met sy uitspraak oor Shaun Abrahams. Word egter uit ’n effens ander hoek gekyk, kan vrae oor die korrekte koersbepaling van die beginsel van causale verband gevra word.

(Causale verband kan volgens definisie vyf betekenisse hê. Dit wissel van ’n verband tussen twee of meer feite tot ’n verband tussen ’n feit en onregmatige optrede waaruit skade voortvloei.)

Shaun Abrahams. Foto: Flickr/GovernmentZA

Kan Abrahams se gespartel in sy pos en sy veral aanvanklike beskerming van Zuma inderdaad regstreeks verband hou met die wyse waarop Zuma van Abrahams se voorganger ontslae geraak het (omgekoop het volgens die regter)? Boonop is al Abrahams se beslissings nie ongeldig verklaar nie, en was hy dus minstens deels bekwaam genoeg om die regte besluite te neem.

Soos gemeld, sal min mense egter verskil van die uitkoms en die regter se logika onder skoot plaas. Die pragmatisme móét ’n plek in die regspraak hê, en as die hof sy magte gebruik om dit te sanksioneer, soveel te beter.

Dit kom uiteindelik daarop neer dat AfriForum se jongste optrede eerder pragmaties as regstegnies gemeet moet word. AfriForum het immers die reputasie dat regsoptrede ingespan word waar moontlik, en ook buitelandse verdrae en die internasionale reg nie agterweë bly nie. AfriForum het selfs ’n private vervolgingseenheid ingestel wat die land veral onder die “bewind” van Abrahams so bitter nodig gehad het.

Wat is dan die pragmatiese? U koop ’n motor net om te verneem die regering wil sonder vergoeding daarop beslag lê. Het u die vorige dag snuf in die neus gehad, het u wyd gehou. Sou u, onder watter omstandighede, vooraf snuf in die neus wou hê dat die regering sy oë op van die eiendom het, of sou u verras wou wees?

Argieffoto: led.co.za

En reeds slaan die moontlikheid van korrupsie uit, met verslae dat van die plase op die beweerde lys baie ryk aan minerale is. Op die oog af wil dit voorkom of minstens sommige plase danksy die howe se uitleg oor mineraleregte deur wakker “entrepreneurs” gekaap gaan word. Selfs sonder die “sonder vergoeding”-deel word reeds genoeg grys hare en onregte mildelik uitgedeel.

Tweedens is die instansies wat regs- en ander optredes beoog nou op hul tone. In sekere ANC-kringe is daar groot haas om voor volgende jaar se verkiesing minstens ’n aanvang te maak, ongeag die internasionale regs- en ekonomiese gevolge vir die land. Suid-Afrika het juis nie ’n goeie reputasie dat dit buitelands baie suiwer optree nie, soos die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Venezuela wat glo pas gesê het Suid-Afrika sal nie aarsel om aan die kant van Venezuela met soldate teen die VSA op te tree nie.

Om vooraf gewaarsku te wees, is om vooraf voorbereid te wees, en dit raak algaande duideliker dat die regering nie altyd volgens sy eie aangekondigde skedule werk nie.

Maroela het dit reeds genoem. Vroeër jare het politieke wetenskaplikes gereeld verkondig dat ’n post-koloniale regering graag die skuld vir wat verkeerd loop op die koloniale periode of vorige regering pak. Ná twee verkiesings wil die kiesers nie meer veel hiervan weet nie. Uiteindelik word op iets populisties, soos die uitdeel van grond, teruggeval, soos inderdaad in Zimbabwe gebeur het. Verskeie kenners het reeds daarop gewys dat dít wat vir Suid-Afrika beoog word, nie veel van die Zimbabwiese voorbeeld verskil nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rien

Hulle het dit beslis nie uit hulle duim gesuig nie …

Piet

Dit maak nie regtig saak of die lys eg, voorlopig of finaal is nie. Indien nie die ware lys nie bly die feit van die saak staan. Daar bestaan wel iewers ‘n ware lys eiendomme wat nou al oorweeg word vir onteiening. Alle eienaars van eiendom moet nou al voorsorg tref en ‘n regsstrategie in konsultasie met ‘n regskenner uitpluis. Ek sou sê diegene op Afriforum se lys moet veral proaktief in hierdie opsig wees.

christa

dit is elkeen se reg om te weet as sy grond in gedrang sou wees. Met die ANC spul is jy nooit seker van elke dag nie. Boere het nou genoeg tyd om plan te maak en voorbereiding vir die diefstal

Monty

Dan kriek lewe in n fools paradise

DieWaarheid

Hoekom vra mense nog of daar n lys is , as die ANC gese het daar is 139 eiendomme, dink julle dit is net n nommer wat hul uit hul duime gesuig het???