Nuuskommentaar: Was AfriForum reg oor lys?

kill-the-boer-boek-ernst

Ernst Roets van AfriForum. Foto: Reint Dykema.

Wie was reg oor die bekendmaking al dan nie van die beweerde lys van plase wat glo vir beslaglegging sonder vergoeding geoormerk is – AfriForum of Agri SA? Dis ’n kwessie met wortels en soms met komplekse regstegniese aspekte, het Herman Toerien, wat dieper gaan delf het, vasgestel.

AfriForum loop oor ’n wye front deur oor die bekendmaking van ’n lys wat glo byna 200 plase identifiseer wat deur die ANC vir beslaglegging sonder vergoeding geïdentifiseer is. Die lys bestaan nie, sê die ANC, en die lys kan (nog) nie bevestig word nie, sê Agri SA. Die lys bestaan wel, sê instansies na aan AfriForum, maar die korrektheid moet bepaal word, en daarom word ’n WBTI-aansoek (Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, Wet No. 2 van 2000) gerig.

Die tweede groot storie uit gister se nuusgebeure is die konstitusionele hof se beslissing dat adv. Shaun Abrahams se destydse aanstelling deur pres. Jacob Zuma, ongeldig is. Die twee stories is onderling, hoewel hoogs regstegnies, verbind.

In die bekendmaking van die omstrede lys is daar twee kante van die saak. Beide opsies het pragmatiese uitvalle soos paniek of vooraf behoedheid, maar wat was regstegnies die regte besluit? Die werklike fout word immers deur die ANC gemaak wat die hele ongrondwetlike kwessie hoegenaamd op die tafel geplaas het.

grondoudit-2017-11-01

Dan Kriek, president van Agri SA. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Tweedens hang dit af wie van AfriForum of Agri SA se regsmense die suiwerste regsuitleg gee. Analise Crosby, baie knap regsadviseur van Agri SA, bly onverbiddelik by die standpunt dat artikel 25 van die grondwet eers gewysig moet word en verskeie regsprosesse deurgegaan moet word alvorens die plase onteien kan word. Verskeie regsmense het egter uitgewys dat subartikel 9 van artikel 25 wel onder sekere omstandighede vir ’n afwesigheid van vergoeding gekyk kan word, en verskeie eksponente in die ANC wil dit op die proef stel. Reeds in 1997 het AJ van der Walt in sy monumentale werk, The Constitutional Property Clause, na die skynbare teenstrydigheid verwys, en gemeen die opstellers het moontlik ’n agterdeur oopgelaat.

Gewoonlik sal state waar vergoeding wel gewaarborg word, die regsprosesse só probeer vereenvoudig dat die onteieningsproses spoedig kan gebeur, en min struikelblokke voorkom. Tot tyd en wyl die regsposisie dus behoorlik “opgeruim” is, sal diegene wat die proses wil vlerke gee nie voete sleep nie, en die persoon of instansie wat dit wil teenstaan, liederlik met die broek op die enkels gevang word.

Regsuitlegte in Suid-Afrika, veral wanneer dit by die konstitusionele hof kom, het immers al gereeld vreemde weë ingeslaan, soos in die Modderklip-saak, maar was dan gewoonlik baie pragmaties en is gelewer ingevolge sekere regskrywende magte waaroor die hof beskik. (Gewoonlik word gebrekkighede in die regspraak na die parlement verwys vir regstelling.)

Min mense sal byvoorbeeld twyfel dat die hof gister enige dwaling beleef het met sy uitspraak oor Shaun Abrahams. Word egter uit ’n effens ander hoek gekyk, kan vrae oor die korrekte koersbepaling van die beginsel van causale verband gevra word.

(Causale verband kan volgens definisie vyf betekenisse hê. Dit wissel van ’n verband tussen twee of meer feite tot ’n verband tussen ’n feit en onregmatige optrede waaruit skade voortvloei.)

Shaun Abrahams. Foto: Flickr/GovernmentZA

Kan Abrahams se gespartel in sy pos en sy veral aanvanklike beskerming van Zuma inderdaad regstreeks verband hou met die wyse waarop Zuma van Abrahams se voorganger ontslae geraak het (omgekoop het volgens die regter)? Boonop is al Abrahams se beslissings nie ongeldig verklaar nie, en was hy dus minstens deels bekwaam genoeg om die regte besluite te neem.

Soos gemeld, sal min mense egter verskil van die uitkoms en die regter se logika onder skoot plaas. Die pragmatisme móét ’n plek in die regspraak hê, en as die hof sy magte gebruik om dit te sanksioneer, soveel te beter.

Dit kom uiteindelik daarop neer dat AfriForum se jongste optrede eerder pragmaties as regstegnies gemeet moet word. AfriForum het immers die reputasie dat regsoptrede ingespan word waar moontlik, en ook buitelandse verdrae en die internasionale reg nie agterweë bly nie. AfriForum het selfs ’n private vervolgingseenheid ingestel wat die land veral onder die “bewind” van Abrahams so bitter nodig gehad het.

Wat is dan die pragmatiese? U koop ’n motor net om te verneem die regering wil sonder vergoeding daarop beslag lê. Het u die vorige dag snuf in die neus gehad, het u wyd gehou. Sou u, onder watter omstandighede, vooraf snuf in die neus wou hê dat die regering sy oë op van die eiendom het, of sou u verras wou wees?

Argieffoto: led.co.za

En reeds slaan die moontlikheid van korrupsie uit, met verslae dat van die plase op die beweerde lys baie ryk aan minerale is. Op die oog af wil dit voorkom of minstens sommige plase danksy die howe se uitleg oor mineraleregte deur wakker “entrepreneurs” gekaap gaan word. Selfs sonder die “sonder vergoeding”-deel word reeds genoeg grys hare en onregte mildelik uitgedeel.

Tweedens is die instansies wat regs- en ander optredes beoog nou op hul tone. In sekere ANC-kringe is daar groot haas om voor volgende jaar se verkiesing minstens ’n aanvang te maak, ongeag die internasionale regs- en ekonomiese gevolge vir die land. Suid-Afrika het juis nie ’n goeie reputasie dat dit buitelands baie suiwer optree nie, soos die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Venezuela wat glo pas gesê het Suid-Afrika sal nie aarsel om aan die kant van Venezuela met soldate teen die VSA op te tree nie.

Om vooraf gewaarsku te wees, is om vooraf voorbereid te wees, en dit raak algaande duideliker dat die regering nie altyd volgens sy eie aangekondigde skedule werk nie.

Maroela het dit reeds genoem. Vroeër jare het politieke wetenskaplikes gereeld verkondig dat ’n post-koloniale regering graag die skuld vir wat verkeerd loop op die koloniale periode of vorige regering pak. Ná twee verkiesings wil die kiesers nie meer veel hiervan weet nie. Uiteindelik word op iets populisties, soos die uitdeel van grond, teruggeval, soos inderdaad in Zimbabwe gebeur het. Verskeie kenners het reeds daarop gewys dat dít wat vir Suid-Afrika beoog word, nie veel van die Zimbabwiese voorbeeld verskil nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Piet ·

Dit maak nie regtig saak of die lys eg, voorlopig of finaal is nie. Indien nie die ware lys nie bly die feit van die saak staan. Daar bestaan wel iewers ‘n ware lys eiendomme wat nou al oorweeg word vir onteiening. Alle eienaars van eiendom moet nou al voorsorg tref en ‘n regsstrategie in konsultasie met ‘n regskenner uitpluis. Ek sou sê diegene op Afriforum se lys moet veral proaktief in hierdie opsig wees.

christa ·

dit is elkeen se reg om te weet as sy grond in gedrang sou wees. Met die ANC spul is jy nooit seker van elke dag nie. Boere het nou genoeg tyd om plan te maak en voorbereiding vir die diefstal

DieWaarheid ·

Hoekom vra mense nog of daar n lys is , as die ANC gese het daar is 139 eiendomme, dink julle dit is net n nommer wat hul uit hul duime gesuig het???

En nou? ·

As jy destyds na Zuma se uitspraking geluister het as dit by syfers gekom het, wonder ek of die 139 nie dalk ten minste 1399 is nie!

koos1 ·

Die ANC/Regering speel aan beide kante van die veld hulle (gemene?) spel.
Die ANC het die lys opgestel, volgens die media berigte, maar die Depart. van Landbou (Regering) word aangesê om dit te ontken. Nou is beide mos gedek as iets verkeerd loop, en boonop kan die een die ander blameer!

Jj van wyk ·

Jong as hulle n grondwet kan herskryf om hulle te pas kan hulle enige iets doen ,ek weet nie of daar iets is wat ons kan doen om hulle te stop nie ,al wat ek weet is die bloed gaan loop!!!!!!!!!!

Wanda ·

Boere moet hulle grond beskikbaarstel vir selfbeskikking, ons kan dan saam daar eiendomsreg en alle ander regte respekteer.

Donderstorm ·

Soos n bak koekies voor n honger kind sal dit nie bly by daai totaal nie of soos lekertjies voor n kind hul eet als op nie net n paar nie.

Celtis Africana ·

Soos altyd n puik artikel uit die skrywer se pen wat aan die kwessie perspektief verskaf.
Myns insiens het Afriforum korrek en prysenswaardig opgetree deur die lys bekend te maak.
As n organisasie wat voortdurend op voetsoolvlak ongeëwenaarde betrokkenheid aan die verguisde minderheid openbaar, is hul optrede in die verband in die kol.
Dit is nie Agri SA wat berading verskaf aan slagoffers van plaasaanvalle nie, ook nie Agri SA wat die bebloede plaashuise skoonmaak nie.
Inteendeel, ek het ernstige kommer oor Agri SA se motiewe met die aanval op Afriforum.
Dan Kriek, het hom reeds in die openbaar uitgespreek dat hy n politieke agenda het. (Volksblad 4 Augustus 2018) Verder dat hy nie Afriforum ondersteun nie en beskou as n regse organisasie wat van die tafel gaan afval en geen invloed op die toekoms gaan hê nie. Verder, dat hy nie die Afrikaner of die taal verteenwoordig nie.
Dit is myns insiens belangrik om die boodskapper te ken wat die boodskap oordra ten einde n waardebepaling oor die inhoud te kan vel, ongeag kundiges in diens.
Afriforum het reeds n plan in plek om grondbesitters teen afslagpryse met regsdienste by te staan tydens besettings. TLU het nou begin met n fondsinsamelings veldtog met dieselfde doel.
Boere sal vinnig moet besluit waar hul, hul skaar.
Die polities korrekte Agri SA, of oorlewing.
Die kantoorboere van Agri SA of die mense wat opereer daar waar die tyre die teer slaan! (Met erkenning aan Louis Malherbe vir die woorde)

Waarheid ·

Afriforum hoef nie te verduidelik nie. Ons kan self sien wat gebeur om ons. Daar is ‘n lys as daar nie een is nie sal daar een gemaak word.

Thinus Oosthuizen ·

Die agterdeur wat sogenaamd oopgehou is deur die regering om die handves van regte te verander is deur die Grondwethof ongelukkig toegemaak toe die hof die beginsel van “separation of powers” as regsbeginsel aanvaar het en Art 23 van die voorlopige Grondwet as Art 33 aanvaar, let wel Art 33 is verskans in die Handves van Regte en is dus “Intra Vires ” terwyl die Regering itv Art 7 “Ultra Vires ” is en dat selfs die Grondwethof dit nie kan verander nie. Terwyl Art 165 (5) van die Grondwet duidelik en ondubbelsinnig is dat die howe onderworpe is aan die wet en dit moet toepas. (UNCAC UNITED NATIONS CONVENTION AGAINST CORRUPTION) asook die Wet op die Bekamping en Voorkoming van Korrupsie, Wet 12 van 2004 Art 1 tot 9. Die beginsel van die noem van n spesifiek handeling in die reg sluit die ander uit, dws as die howe die Wet moet toepas dan kan hy dit nie vertolk of gevolgetrekkings maak nie, En slegs dien Aankondiging van die Ondersoek na die verandering van die Grondwet, het die ANC UK hulle skuldig gemaak aan die Oortreding van Wet 12 van 2004 deur n Gratifikasie te maak om stemme te werf. Art 1 (aa-hh) van Wet 3 van 2000 is reeds geskrap in Jan 2014 en moes in die Staatskoerant en media gepubliseeer gewees het. Die Regering het dit egter goed gedink om my op te sluit en al my werk te vernietig. Ek is egter amper weer daar.

ZAR ·

Go Thinus!! Jy moet nog vertel hoekom jy vir Lamprecht wou arresteer.
Ek hoop jy kry jou werk gou klaar. Tyd is min.

Jerry ·

Hoe ons ookal daarna kyk was en bly die bekendmaking van n verkeerde lys onregmatig en onverantwoordelik synde dit traumatiese skade veroorsaak vir die persone wie se plase en eiendom op die lys is en wie onder die indruk gebring word dat hulle grond onteien gaan word, wat egter blyk nie die geval te wees nie. Dit lei ook onnodig tot vrees en aanhitsing tot weerstand wat kan lei tot konflik en waarvoor daar nie ingeoefende gebeurlikheidsplanne in plek gestel is nie. Gebeure soos hierdie grens aan fopnuus en kwaadwillige propaganda en mag nie goedgepraat word nie. Ons moet ware feite die praatwerk laat doen sodat ons aan die waarheid se kant bly en nie na die ANC en EFF se vlak toe daal nie. Ernst was mislei, of deur ANC agente of deur sy eie bronne en het hoek en sinker in die strik getrap. Hy sal moet begin om verantwoordelikheid te neem vir foute en lesse daaruit leer. Dit is kinderagtig en lafhartig deur elke keer wat jy n fout maak of as iets nie volgens jou sin verloop nie in ontkenning daarvan te staan en ander daarvoor te blameer. Al wat die Afrikaner vra is volwasse optrede van diegene wat tog so graag namens die Afrikaner wil optree en politiek wil praat. N skrywer van Herman Toerien se statuur behoort ook te besef dat dit die Afrikaner duur te staan kan kom om sulke foute te duld en te probeer goed praat.

Gerhard ·

As ek een van die eienaars was op daardie lys sou ek wou he die lys moes bekend gemaak word en ek is seker meeste eienaars sal met my saamstem.

Paul ·

Jerry, “Minerale en rykdom is agter die lys”, gaan lees gerus hierdie artikel vanoggend in Volksblad, dit verskyn ook op Netwerk24, en as jy ‘Pressreader’ het, kan jy dit gratis in Afrikaans op die internet lees, dws as jou leser ook op Afrikaans ingestel is. Daarin kon die verslagspanvan die artikel, deur die lys te ontleed en ondersoek te doen, duidelike waarnemings maak oor watter plase geteiken word. Dus is dit reg dat mense in hierdie land vroegtydig oor gebeure ingelig moet word, veral betreffende grondhervorming en Taalbeleid in skole, universiteite, sodat hulle bedag en paraat kan wees. Lees ook my kommentaar hier onder.

Hanna Hoekom ·

Hoekom kan Afrikaners NOOIT saamstaan nie? Hulle wil altyd teen mekaar werk. Ons land brand! Staan tog net vir eenmaal saam sodat ons kan probeer red wat nog te redde is. En ja, ek sou wou weet of my swaarbetaalde eiendom op daardie verdomde lys is. Ek het die reg om te weet!

Gerhard ·

Want sommiges sal sy eie kind verkoop om self baat te vind. Ons het hulle al met ons van die Anglo Boere Oorlog.

TP ·

En ek se weer: die saadjie is gesaai by die massas, ongeag of die lys bestaan of eg is – free for all

Johan ·

Die ANC sal nou die lys ontken om Afriforum in n slegte lig te stel en dan hulle tweede lys eerste implimenteer. Hulle het immers die hele Suid-Afrika om uit te kies

Paul ·

Herman, ‘Minerale en rykdom’ is agter die lys. Dit is die opskrif van ‘n moetlees artikel vanoggend op Volksblad betreffende plase op die lys. Onder andere is boere wie se insette die verslagspan bekom het dit eens: “PLase met minirale regte daarop, grond sonder skuld en trustgrond is die teiken”.

Henry Horne ·

Jammer maar die lys is saamgevlans, onvolledig en is nie in n profesionele format uiteengesit nie.

Ellisras ·

Juis. Die feit dat die lys onprofessioneel is, laat my dink dit is van die regering afkomstig.

Flippie ·

Wat wou jy nog bygevoeg hê? Wat is profesionele formaat? Reken jy dat Xcell nie profesionele formaat is nie? Die lys is gepubliseer soos dit ontvang is, moes Afriforum daaraan peuter? Ek verstaan regtig nie die opmerkings nie. Wat het jy verwag?

Paul ·

Ek sien nou ‘n berig op Netwerk24, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) (Frans Cronjé) betwyfel nie die egtheid van die lys met plase wat geteiken word vir onteiening sonder vergoeding nie. Die instituut sê SA kan soos Zim, Venezuela raak.

Herman Toerien ·

Nie iets wat ek elke dag doen nie, maar vandag is ek amper verslae oor die hoë gehalte van die insette. Hier is nie nie net wonderlike toevoeging nie, maar insette waarvan ons kampvegters deeglik rekening moet hou., en beslis baie waardevol kan gebruik. Dit is vir my ‘n bo-verwagting hoë riem onder die hart na die groot K my omtrent ‘n maand lank uit sirkulasie gehaal het. Baie, baie dankie aan almal.

Nikita ·

Stem saam daar is iewers n lys, en daardie lys bestaan defnitief in hulle koppe. Het nie verniet n sesde sintuig nie…..en daardie sesde sintuig se vir my daar bestaan al lankel n lys. Hoekom konkel agter mense se rue, asof ons nie bestaan nie. Hulle kan dit tog nie vir altyd n staatsgeheim hou nie! Praat gaan daar gepraat moet word. Leun het kort beentjies, Waarheid haal hom in!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.