Nuuskommentaar: Was daar ANC-vuilspel met koverte verkiesingsoperasie?

Argieffoto

Argieffoto

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) is duidelik taai in die bek om “bewerings” te ondersoek dat die ANC met verlede jaar se plaaslike regeringsverkiesing ’n koverte (geheime) liggaam ingestel het om met ’n begroting van R50 miljoen deur gemene spel veral die DA en EFF te diskrediteer, en die ANC se agenda te bevorder.

Die ANC ontken die bewerings, maar ’n bekende beeldpoetser het die hof genader om deur die ANC vergoed te word vir haar aandeel in die projek.

Die OVK meen hy sal beslis optree as dit sou blyk dat daar waarheid in die bewerings steek, maar in dié stadium beskou hy dit as “voortydig”.

Maar hoe kan so ’n ernstige bewering “voortydig” wees? Is dit nie van halsstarrig vasskop met ondersoeke dat die OVK homself so in ’n blik gedruk het oor adresse op die kieslyste nie, wat die konstitusionele hof die huidige kiesersrol in effek tydelik geldig verklaar het dat die verkiesing binne die grondwetlike interval kon plaasvind nie? En toe ook maar net-net betyds.

Wat van ’n stukkie proaktiewe optrede? Die kwessie staan nie in isolasie nie.

Op 20 Desember 2016 het Maroela Media in ’n nuuskommentaar breedvoerig die skepping van die Workers Association Union (WAU) onder die loep geneem. Kortliks kom dit daarop neer dat die “grootbaas” van die WAU vir pres. Jacob Zuma en verskeie ander regeringslui voor die hof sleep omdat Zuma na bewering die veiligheidsdienste ingespan het om WAU as teenvoeter vir ANCU te skep, en mildelik gefinansier het. Die milde finansiering is gestaak en nou word meer as R100 miljoen van Zuma en verskeie ministers geëis.

Zwelinzima Vavi het Zuma by die aanhoor van hierdie nuus as “struikrower” beskryf. WAU is intussen tot niet.

Sou die bewerings oor WAU se stigting en finansiering juis wees, kwalifiseer die projek as wat in Engels as “dirty tricks” bekend staan.

Hoekom klink die twee sake so eners, afgesien daarvan dat albei deur verontregte individue in die hof aan die lig gekom het?

Terwyl dit volgens die internasionale reg in sekere omstandighede vir ’n staat geregverdig is om in belang van sy eie veiligheid koverte operasies in die buiteland te voer, is die tuisfront heeltemal buite perke. Almal in die land is immers veronderstel om binne bereik en onder die jurisdiksie van die regspraak te wees. Dit vereis dat wettige middele aangewend word.

Die interessantheid is dat die bestaan van ’n propagandadiens vir Rusland, wat in St. Petersburg gesetel is, ook aan die lig gekom het toe ’n personeellid die diens in ’n arbeidsregsaak voor die hof gesleep het. Die agentskap, met die welluidende naam van Agentskap vir Internetstudies, word vanuit ander minder simpatieke bronne ’n trolfabriek genoem. Na afloop van die Amerikaanse presidentsverkiesing is Rusland beskuldig daarvan dat dit deur propaganda met die verkiesing ingemeng het.

Duitsland en ander Wes-Europese lande wat binnekort verkiesing hou, het reeds voorsorg begin tref, en die saak het ook ’n draai in die Europese parlement gemaak.

In die praktyk het propaganda-aksies, of dalk eerder gepoogde strategiese kommunikasie-aksies, selde by die grens tussen hul eie lande se veiligheidsoorwegings en belange gebly. Trouens, die grens tussen landsbelang en die belang van sekere leiers het ook yl geraak.

Teen hierdie agtergrond is dit gebiedend noodsaaklik dat die OVK die saak indringend moet ondersoek. Die DA gaan so ’n versoek rig, asook self feite versamel met die oog op siviele en strafregtelike vervolging.

Die Suid-Afrikaanse kiesers verdien om te weet of daar waarheid in die bewerings steek, en indien wel, wie binne die ANC almal meegedoen het of selfs net daarvan geweet het. So ’n persoon kan immers nie as geskikte presidentsmateriaal beskou word nie.

En wie ná so ’n onthulling aan hul regeringsampte bly klou, moet weet hul eie geloofwaardigheid is te erg ge-Zuma om ooit weer vertrou te word.

Was die proses so krimineel gekontamineer dat die ganse verkiesing eintlik as ongeldig verklaar moet word, of dan in dele van die land waar die beweerde veldtog aktief besig was?

Ons leef in die post-waarheid-era, waar propaganda en fopnuus te dikwels ware feite vir ’n ses slaan.

Ons is op ’n glybaan na rommelstatus as hierdie soort bewerings bloot so onderdruk bly dat dit bewerings bly, want dit verseker uitgerekte politieke onstabiliteit.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AL ·

Die ANC is inherent korrup natuurlik sal hul so laag daal. En hul finansies is beroerd – karma is besig om hul in te haal!

Johanna Botha ·

Met alles anders skelm hoekom sal dit nou enigsins anders wees …anc is to so voorspelbaar ….skandes op skandes …so sink ons almal saam

Bruno Stef ·

Die Nasionale party was die voorbokke teen opposisie Partye in die 70/80 en vroeg negentigs met hulle “Dirty Tricks Department” wat absolute leuens en verdraaings deur die nuusmedia versprei het.Vra maar vir Party Werkers van destyds hoe hulle moes sukkel sonder n betroubare Media om die werklikheid by die kiesers uit te kry.

Vaalseun ·

Idi Amin se titel: Lord of All Beasts of the Earth and Fishes of the Sea and Conquerer of the British Empire in Africa in General and Uganda in Particular. Hy het van sy teenstanders se koppe laat afkap en hul liggame vir die krokodille laat gooi. Die koppe het hy laat vries. Tydens ‘n noenmaal is die bevrore koppe op die tafel uitgestal sodat Idi met hulle ‘n “gesprek” kon voer.

Basson ·

De Klerk het ook van Bell Pottinger gebruik gemaak vir ’94 se verkiesings strategie.
(Dieselfde firma word ook deur die Gupta’s (en baie ander) gebruik, Google die naam gerus.)

John ·

Die sg beeldpoetsery van die NP destyds sal nooit kers kan vashou teen die gruwelike twak wat die Engelse al die jare oor die Boere kwytgeraak het nie. Briewe is aanhoudend na buitelandse koerante gestuur waarin die lesers ingelig is oor die ‘ware’ toedrag van sake in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.