Nuuskommentaar: Wat as daar nié aardbewings was?

Argieffoto

Argieffoto

Twee wêrelddele is pas deur sterk aardbewings getref, en dadelik was daar die gebruiklike lesersreaksies dat dit tekens van die eindtye is. Dit is egter nodig dat aardbewings teen die groter prentjie beoordeel moet word.

“Dis ’n teken van die eindtye,” skryf lesers gereeld in hul leserskommentaar op berigte oor aardbewings, veral groot aardbewings. So was dit ook nou nadat groot aardbewings eers Japan en toe Ecuador getref het en wat talle mense dood, vermis en beseer gelaat het.

In werklikheid is daar jaarliks meer as ’n miljoen aardbewings en -trillings wêreldwyd. Baie hiervan is te gering om gevoel te word, maar word tog deur instrumente geregistreer.

Dit is egter die groot aardbewings wat die verbeelding aangryp. Normaalweg word aardbewings van 7 of meer op die momentmagnitudeskaal as groot aardbewings beskou, maar faktore soos afstand, diepte, gehalte bouwerk, bodemformasie en ander kan maak dat veel swakker aardbewings veel groter skade kan aanrig as die grotes. Die aardbewing wat Christchurch in Nieu-Seeland in puin gelê het, was byvoorbeeld volgens die “7-norm” nie ’n grote nie, maar die gevolge vertel ’n ander verhaal. Dit gebeur uiters selde dat ’n aardbewing van minder as 7 ’n tsoenami veroorsaak, hoewel verskeie faktore soos die hardheid van die bodem en die diepte saam met die sterkte bepaal of daar ’n tsoenami sal wees.

Deur  die jare is verskillende skale gebruik om die sterkte van aardbewings te meet, waarvan die Richterskaal, en in ’n mindere mate die Mercalli-skaal die bekendstes was en veral die Richterskaal in die volksmond en skoolboeke voortleef. Weens gebreke met die Richterskaal om veral baie sterk aardbewings te meet, het die Amerikaanse sentrum vir geologiese opnames (USGS) die momentmagnitudeskaal ontwikkel. Dit is veral doeltreffender om aardbewings te meet wat op die aarde se groot verskuiwingsvlakke voorkom, juis daar waar byna al die grotes voorkom.

Enkele lande, waaronder Suid-Afrika, gebruik egter nog die Richterskaal, hoewel Suid-Afrika ook reeds ’n aangepaste Richterskaal gebruik wat weer in die proses van aanpassing is. Dit lei tot ’n Babelse verwarring in die media wat baie dikwels lesings wat op die momentmagnitudeskaal gemeet is, uitdruk as sou dit in die Richterskaal gemeet gewees het. Omdat die verskillende skale verskillende aspekte meet, kan die een ook nie, soos geldeenhede, na die ander omgereken word nie. Boonop gebruik Japan en Taiwan die shindo-skaal, wat ooreenkomste met die Mercalli-skaal het. Met die onlangse groot aardbewings in Japan het die USGS, wat aardbewings wêreldwyd meet, byvoorbeeld die grote se sterkte as 7 aangedui. Die Japanse meteorologiese agentskap het dit as 7,3 aangedui, wat in die hande van die media gou as 7,3 op die Richterskaal uitgedruk is – wat natuurlik nie akkuraat is nie.

Omdat die USGS aardbewings wêreldwyd meet, gebruik ernstige waarnemers van aardbewings die momentmagnitudeskaal, ook akademici in Suid-Afrika. Die aardbewings word grafies wêreldwyd op die webwerf hier bygehou. Vir die VSA en onderhorige gebiede word alle aardbewings van sterker as 2,5 aangedui; vir die res van die wêreld sterker as 4,5. Wanneer ’n aardbewing in Suid-Afrika voorkom, sal die media gewoonlik dit in Richterskaal uitdruk, hoewel die momentmagnitudeskaal ook beskikbaar is as dit sterker is as 4,5.

Hoewel aardbewings soms enorme skade aanrig en selfs, veral as dit met ’n tsoenami gepaard gaan, honderde duisende lewens kan eis, sou die aarde waarskynlik in ’n veel slegter toestand gewees het as aardbewings nié op die manier waarop dit geskied, voorgekom het nie.

Kontinentale drywing, wat die meeste groot aardbewings langs die aarde se groot verskuiwingsvlakke tot gevolg het, is weer die gevolg van konveksiestrome onder die aardoppervlak. Hierdie konveksiestrome wek die energie vir die aarde se magneetveld op. Die afwesigheid van ’n magneetveld soos op die maan, of selfs ’n beduidende magneetveld soos op Mars, laat die atmosfeer blootgestel en word deur die sonwind weggewaai. Dit beskerm saam met die atmosfeer en veral die osoonlaag, lewe op aarde teen skadelike kosmiese bestraling. Een van die redes waarom ’n bemande ruimtereis na Mars so moeilik is, is omdat die ruimtemanne binne die ruimtetuig genoegsaam beskerm moet word teen die blootstelling aan kosmiese bestraling. Die reis na Mars sal sowat ses maande duur, en weer ses maande terug. Die internasionale ruimtestasie wentel so laag as moontlik om die aarde sodat dit deurlopend deur die atmosfeer gerem word, en periodiek weer ’n vuurpyl-hupstoot moet kry om in sy wentelbaan te bly, alles sodat die tuig soveel as moontlik die beskerming van die magneetveld kan geniet.

Die meganisme van kontinentale drywing verhinder ook dat groot ruimtes onder die harde aardoppervlak ontstaan wanneer die bodem daaronder oor tyd weens afkoeling krimp en wegsak. Studies van die maanoppervlak en dié van Mercurius toon dat enorme gebiede weggesak het nadat die “dak” van hierdie ruimtes ingegee het. So iets op aarde sou selfs die grootste aardbewings soos ons dit ken, na nietighede laat lyk.

Dit alles dui op die wonder van die skepping en gee ’n klein kykie van wat alles op die aarde in reg moes wees om dit bewoonbaar te maak. Voorts is die groot gevaargebiede vir aardbewings bekend, en hoewel dit meestal onder die see is, woon miljoene mense in gevaargebiede. Dit plaas ’n groot onus op argitektuur, bou-ingenieurswese en noodmaatreëls, want almal wat op of naby ’n verskuiwingsvlak woon, weet dat die grote die een of ander tyd gaan kom.

Suid-Afrika word op ’n afstand van sowat 2 000 kilometer van die kus deur sulke verskuiwingsvlakke begrens, en redelike groot aardbewings kom gereeld daar voor.

Op land is kleiner verskuiwingsvlakke soos dié by Ceres en van Kaapstad noordwaarts wat reeds redelike groot aardbewings veroorsaak het. Die kanse is egter gering dat die land ’n werklike groot aardbewing sal beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Tiger ·

Baie dankie Herman Toerien vir hierdie baie insiggewende verduideliking van hoe dinge hier op aarde geologies gesproke werk.Ek het gewonder wat van die Richterskaal-lesings vir aardbewings geword het.Nou weet ek!Ek is onsettend dankbaar ek bly nie naby waar die tektoniese plate se bewegings plaasvind van tyd tot tyd nie!

Dee ·

Tier, jy het rede ombly te wees jy woon nie in aardverskuiwingswêreld nie maar jy bly steeds in swart SA.

Koos1 ·

Dannkie Herman, ek het iets geleer.
Die tekens van die eindtye soos ons daarvan in die Bybel lees, is al met ons vanaf die begin tye soos ons dit ken. Ek persoonlik dink die tekens van die eindtye moet as waarskuwing gelees word, met die besef dat die Here Jesus enige tyd kan terug kom. Ook dink ek dat ons moet besef dat dit moet dien as bewys dat God nog in beheer is. Onthou ook Sy woorde: Net my Vader in die hemel weet wanneer die tyd daar is.

Grassie ·

Baie dankie vir jou kommentaar, Herman, ‘n Mens word inderdaad nooit te oud om te leer nie. Dit laat ‘n mens al hoe meer besef hoe sorgvuldig ons Skepper die aarde aanmekaargesit het sodat sodat ons daarop kan voortbestaan. Dit bring ook groot skaamte mee as ons besef hoe ons mensdom hierdie wonderlike kunswerk verniel en plunder.

AARDBEWINGTJIE ·

Net n paar punte .En dis nou nie dat ek bang is om te sterf of dat n aardbewing SA op die grond sal bring nie ,daar is mos baie ander dinge wat ons land kan afbreek en tog besig is om te gebeur .As jou lewe reg is sal jy nie vrees oor waneer jy gaan sterf nie .Die punte wat ek wil raak .My bronne vir die volgende punte is uit die Bybel en ons media en die Mensdom se gedrag.
1.Mateus 24: Gaan lees gerus
2.Buitensporige abnormale Vulkaan aktiewieteite
3.Abnormale aardbewings
4.Abnormale weersomstandighede
5.Die woedende solar uitbarstings op die son.
6.Mense doen goed wat heeltemal teen die mensdom gekant is .En die hartseerste is dat ons dit maar aanvaar en dink dis maar n nuwe era.
Die probleem met n aardbewing en dit is nou die grote en abnormale ardbewing is dat dit gepaart gaan met abnormale vulkaan aktiewieteit wat beteken die aarde word maar nou net baie viniger warm .Nou normaal weg doen die aarde dit al miljoene jare en kan dus so iets absorbeer maar ons mensdom het die afgelope 100 jaar baie groot bygedra om die hele proses vinniger te maak .Aardsverwarming is kla n probleem ons het die probleem geskep en die aarde sal nou maar doen wat hy al baie gedoen het met die miljoene jare se bestaan .Hy sal hom self reset .En maar weer van vooraf begin .
Kry jy net jou lewe reg.

Ilze ·

Dit mag dalk tekens wees maar die Vader kan ons dalk nog 100 jaar op aarde laat wees selfs meer of minder voor HY Sy besluit neem. Wees net reg vir daai tyd dan sal daar geen vrese wees

Cherokee ·

Ek dink dat Isis eerder as ‘n teken van die tye beskou kan word. Wil jy ‘n mening waag hieroor Herman? Dit is immers die antichris.

neelsie ·

Cherokee,
Antichriste is al lankal met ons, almal wat teen Jesus is ,is n antichris.

Cherokee ·

Neelsie, daar was hulle wat teen Jesus was regdeur die eeue maar die skrywer van die Openbaringe het ‘n spesifieke antichris uitgesonder in sy profesieë oor die laaste dae. So spesifiek dat daar nie verseker gesê kan word of dit ‘n enkeling of groep is waarvan gepraat word nie.

Peet J ·

Herman baie dankie vir die inligting. Heelwaarskynlik kan jy dalk meer lig werp op die volgende:
Meesal onder die see word aardbewingsgolwe veroorsaak wat op hulle beurt in ‘n vloedgolf verander en dan ‘n aardbewingskudding van ‘n deel van die aardkors op land veroorsaak. Dit is alombekend dat die Europese lande diepsee kern eksperimente uitvoer vir die vervaardiging van kernwapens en toerusting. Hierdie eksperimente kan sekerlik nie vir niks afgemaak word nie want dit veroorsaak mos ‘n geweldige hitte toestand en onstabiele situasie onder die see wat sekerlik ook ‘n uitwerking op die seelewe sowel as die mens op land het.

Armando ·

Aiaiai!! Dankie Herman, jou artkel is insiggewend en wetenskaplik korrek vir sover ons weet. Wat my grief is hierdie aanhoudende getjommel oor die “eintyd” wat altyd aangepas en aangeskuif word. Ja, ‘n eindtyd sál kom, maar definitief nie in die sin wat meeste Christene en vir al wat ek weet, Moslems en voorvadergeeste-aanbidders glo nie, maar deur “verkoling” van die aarde deur die son. Ons sal dit egter ook nie sien nie, gelukkig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.