Nuuskommentaar: Wat bly oor ná kernoorlog?

Donald-Trump

Donald Trump. Foto: Gage Skidmore/Commons.wikimedia.org

Dit lyk aan die hand van verskeie gebeure in verskillende lande of die wêreld nog ’n geruime tyd onder die wolk van kernwapens sal moet leef, en leer om daarmee saam te leef.

Net ’n dag ná die Trump-administrasie gesertifiseer het dat Iran hom by die ooreenkoms hou wat sy kernvermoë aan bande lê, het pres. Donald Trump nuwe sanksies teen 18 Iraniërs en instellings ingestel. Dit is bekend dat Trump nie gelukkig met die ooreenkoms met Iran is nie, en dit graag wil opskort omdat hy dit as oneffektief beskou.

Tog het die motivering vir die nuwe sanksies niks met kernsake te make nie. Trouens, die amptenare het dit duidelik gemaak die nuwe sanksies is die gevolg van Iran se “kwaadwillige optrede” op terreine soos die ontwikkeling van ballistiese missiele en weens Iran se steun aan terroriste-organisasies. Die Trump-administrasie oordeel dat Iran se bedoelings die kernooreenkoms ernstig bedreig.

Maar die Iran-kwessie is nie al wat die wêreld ongemaklik maak nie. Pres. Wladimir Poetin van Rusland het onlangs te kenne gegee Rusland moet sy kernarsenaal uitbrei, waarop Trump weer getwiet het dat die VSA dan ook so sal maak.

Op die oomblik is daar na raming sowat 14 900 kernwapens in die wêreld. Hiervan besit Rusland en die VSA saam 88%. (Bronne verskil, met sommiges wat meen die VSA en Rusland besit saam 93% van die wêreldvoorraad.) Ander lede van die kernsperverdrag is Brittanje, China, Frankryk en Groot Brittanje. Nog ’n paar lande het kernwapens, maar is nie lid van enige organisasie om kernwapens te beheer en te verminder nie. Hulle is Indië, Pakistan en Noord-Korea. Die Daily Telegraph voeg Israel by asof dit ’n feit is, hoewel Israel nog nooit erken het dat hy oor kernwapens beskik nie. Dit het voor die 1994-oorgang geblyk dat Suid-Afrika ook oor sy eie kernwapens beskik het, maar dat dit toe reeds afgetakel was.

Noord-Korea se kernvermoë en uitgesproke doelwit om die VSA onder kernbomme te steek sodra hy die vermoë daartoe het, was onlangs weer baie in die nuus – ook in Maroela, nadat Noord-Korea ’n interkontinentale ballistiese missiel getoets het.

Die leerstelling oor kernwapens is dat die doel van die besit daarvan is om dit nié te gebruik nie. Die blote besit daarvan behoort enige vyand ’n paar keer te laat dink voor hy ’n land wat (vermoedelik) oor kernwapens – selfs net een – beskik. Om as voorbeeld te dien, Rusland se grootste kernbom wat nog getoets is, die Tsar Bomba uit die USSR-era, sal 7,6 miljoen mense dood en 4,2 miljoen beseer as dit oor New York sou ontplof. ’n Gebied van byna 8 000 vierkante kilometer sal geaffekteer word deur radio-aktiewe afval wat deur die wind gedra word.

Op die oomblik word die VSA en Rusland beide deur ’n rits internasionale verdrae ingebind, maar as Poetin en Trump die daad by die Twiet sou voeg en nog wapens bou, kan daardie verdrae soos kaartehuise inmekaar stort.

Wladimir-Poetin-president-van-Rusland-Foto-Rusland-regeringskantoor-

Pres. Wladimir Poetin van Rusland.

Die werklike gevare van kernwapens is enersyds om ’n land wat kernwapens het (of vermoedelik het) militêr so in die knyp te hê dat die land as laaste troef sy kernwapens inspan. Verskeie van Israel se bure is besonder kwesbaar teen kernbomme. Sou Israel byvoorbeeld as laaste uitweg die Aswan-dam opblaas (daar is waarskynlik doeltreffender bomme hiervoor as kernbomme) kan Egipte se bevolking wat grootliks in die Nyldelta woon, so te sê uitgewis word. En Egipte huisves ongeveer die helfte van die wêreld se Arabiese bevolking. Ook Sirië, maar veral Irak, is besonder kwesbaar, sou damme in die Tigris en Eufraat gebombardeer word.

Die werklike gevaar sou wees wanneer ’n diktatuur, en veral ’n diktatuur met ’n onstabiele leier, soos Noord-Korea, kernwapens bekom. Voeg hierby die moontlikheid dat terreurorganisasies soos Al Kaïda en Isis kernwapens kan bekom. Dit sou aansienlike afpersingswaarde aan sulke lande en organisasies bied, met die moontlike gebruik daarvan deur onstabiele leiers onvoorspelbaar.

Selfs net die besit van konvensionele wapens van massa-vernietiging deur muishondlande  en terreurorganisasies sal wêreldleiers erg ongemaklik laat voel, en Trump se sanksies teen die bykomende 18 mense en instansies van Iran staan in hierdie konteks. Dit was ook die verklaarde motief agter die geallieerde magte se omverwerping van Saddam Hoessein, hoewel dit geblyk het die intelligensieverslae waarop gereageer is, was verkeerd. Nogtans, kon die wêreld ’n wrede diktator duld wat massamoord teen sy land se Sjiïete-meerderheid gepleeg het (en waarvoor hy verhoor en opgehang is), en wat gifgas en chemiese wapens teen sy land se Koerde ingespan het (waarvoor hy ook tereg moes staan, maar is tereggestel nog voor hy daarvoor ook verhoor kon word), en wat Scud-missiele op Israel afgevuur het, terwyl hy in ’n stadium uitgesproke aspirasies van wapens van massa-vernietiging gehad het, en ook nie ’n geheim gemaak het van wat hy daarmee beoog nie?

Die VSA en Rusland se uitgesproke voornemens om hul kernarsenale te vergroot hou weinig meer gevaar in as die verskerping van die Koue Oorlog.

Die gevaar is eintlik kernwapens in die hande van terroriste of onstabiele diktators. En solank die Ajatollas die werklike mag in Iran hou, sal die VSA senuweeagtig wees oor moontlike bedreigings vanuit hierdie land – veral as daar die vaagste moontlikheid is dat die land ’n kernvermoë ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Ander lidlande van die kernsperverdrag: Brittanje, China, Frankryk en Groot Brittanje?

JC ·

Het ek ook opgemerk Eish.
Is daar nou twee tipes Verenigde Koninkryk? Die Groot een, en die nie so grote nie?

humor ·

Sjoe, die wereld en ons lewe daagliks onder hierdie gevaar en dan is z ook nog vir ons n probleem, en boonop is niemand ons vriend nie. ?????????????//

Michael ·

Die aarde sal op n punt kom dat hy nie die oorbevolking van mense kan hanteer nie vroeë jare het oorloë die bevolking groei beperk so wat bly oor?

JC ·

Goeie en tydige vraag Michael, ek is nie ‘n “war monger” nie, maar oorlog was nog altyd ‘n natuurlike, amper simbiotiese kondisie, van die mensdom. Dit is net ‘n kwessie van tyd. Hoe meer die wereld elite probeer om in oorreaksie teen die gebeure van die Twee Groot Oorloe, dieselfde te verhoed, hoe meer stel hulle maar net die onvermydelike uit.

Ouma ·

JC. Jou eerste briefie was reg!! Ons Groot Heerser en Meester: se Woord is Altyd rek. Die Bybel se ons sal met swawel en vuur vergaan en Israel sal oorbly! Want dit is Sy Mense! Die van ons wat werklik gered is sal dit oorleef! Al raap Hy ons op voordat daardie groot ontploffing gebeur! Die keuse is steeds ons eie!!

Kom Ons boks ·

Met alle respek Ouma, los assamblief die geloofs-oortuigings in die ander kamer voordat Ouma beginne politieke beskuitjies in die koffietjies druk.

Kom Ons Boks ·

Die volgende wereld-oorlog mag miskien totaal wees en daar mag geensins toegelaat word dat daai vuurhoutjie val nie. Diegene wat dink ‘n wereld oorloggie sal dinge vining vinnig regmaak en balans herstel was eenvoudig nog nie in een nie. Ons het virseker nie woorde vir die leiding wat dit sal meebring nie. Die rooikop-stiefkind Noord-Korea se lawaai moet stilgemaak word – sy voortbestaan is geensins in bedwang nie. Die Iraniers het mynsinsiens wel rede tot kommer – die oormag Soennis (80-90% van Moslems is Soennis en welliswaar die Shiite se antieke aarts-vyande) se eerste prys is die globale eradikasie van die Shiite (en die Weste se kant-kiesery histories ten gunste van die Soennis is petrol op die vuur). Ek respekteer Iran dat hy grootliks sy internasionale verpligtinge tot dusver nakom en ek glo kan nog ‘n model-staat word in die Middel-Ooste. Daar is hoop…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.