Nuuskommentaar: Wat gaan aan in die koalisiepolitiek?

(Argieffoto: Reint Dykema)

Landwyd is daar 70 munisipaliteite waarin daar nie ʼn volstrekte meerderheid deur enige partye die afgelope verkiesing bekom is nie. Sodoende was koalisiepolitiek Suid-Afrika se voorland – iets wat ondanks ons groot diversiteit eintlik ʼn ongekende verskynsel in die politiek is. Daar is selfs politieke kommentators wat nou reeds voorspel dat die 2024-verkiesing ook op nasionale en provinsiale koalisieregerings sal afstuur.

Soos wat Tim du Plessis, politieke kommentator, die afgelope Sondag in Rapport skryf, was die ANC toe nie te groot om te misluk soos wat oudpres. Thabo Mbeki by geleentheid gesê het nie. Inteendeel, Suid-Afrika se beste kans om op ʼn beter trajek te kom, is om uit die wurggreep van die ANC se magsblok te kom.

Enige party, ook die ANC, wat nie ʼn volstrekte meerderheid kan bekom nie, moet met ander partye in koalisie tree indien hulle wil regeer. Die ANC handhaaf die posisie dat lede met liefde met ander partye sal saamwerk, mits die betrokke party net dieselfde oor alle kwessies as hulle dink – indien jy nie tot transformasie verbind is nie, stel die ANC nie juis daarin belang om met jou saam te werk nie. Die gevaar staar ANC-lede egter in die gesig dat ʼn verlies aan hul politieke magsblok sal lei tot hul reuse-patronaatsregering se hulpbronne wat afgesny word. Sodoende moet hulle maar net so verwoed beding om by dié 70 munisipaliteite, veral die metro’s, se regering ingesluit te bly.

In magspolitiek is dit egter nie so eenvoudig soos om net ultimatums te stel nie. Indien jy as party in ʼn koalisie wil deel, gaan daar sekere toegewings gemaak moet word – ʼn stywe handdruk terwyl jy jou oë toeknyp, is dikwels ʼn werklikheid van die koalisiepolitiek. Ten minste as jy daarin belangstel om in die regering aan die orde van die dag te deel.

Die ANC het op die ou einde vir die eerste keer in die party se politieke geskiedenis ook beheer oor al drie Gautengse metro’s verloor. Sodoende is nog ʼn stukkie van die ANC se magsblok afgetakel. Hermann Mashaba noem hierdie verskynsel die sogenaamde nuwe Nuwe Suid-Afrika of selfs die post-Suid-Afrika. Dít sluit in die opkoms van ʼn vorm van identiteitspolitiek, streekspartye en kleiner eenhede wat saamwerk oor gedeelde belange.

In reaksie hierop het pres. Ramaphosa genoem hoe dít ʼn duidelike boodskap vir die ANC is en dat hulle terug sal keer na die tekenbord. Gegewe die aard van die ANC se onlangse selfondersoek, beteken hierdie terugkeer na die tekenbord waarskynlik dat die ANC net weer sy beste oudste idees gaan afstof. Soos wat pres. Ramaphosa vroeër vanjaar by die ANC se verjaarsdagviering gesê het: “Dit is ʼn groot verantwoordelikheid om ʼn land te regeer. Die regering moet die beste kaders hiervoor inspan.” Dus is die beleid nie foutief nie, maar moet dit net regtig goed ingestel en toegepas word.

Die DA het nou weer beheer van die drie Gautengse metro’s van Pretoria, Johannesburg en die Oos-Rand geneem en het boonop ook nog burgemeesters in onder meer Thabazimbi, George, Mogale City, Beyers Naude en Knysna gekry.

Pretoria sal vir die volgende vyf jaar deur ʼn meerderheidskoalisieregering regeer word wat insluit die DA, ActionSA, die VF Plus, ACDP en COPE. Dit terwyl ActionSA nie eintlik saam met die DA wou regeer nie, maar op die ou einde die land se welstand bo politiekery gekies het. Die DA het ook nie hierdie sukses sonder onverwagse opwinding verwerf nie – veral met verwysing na Johannesburg en die Oos-Rand. Op die ou einde was dit die EFF, onverwagse koningmaker in die verkiesing, wat met mag en mening die DA in ʼn minderheidsregering gedwing het deur die party te ondersteun.

Gegewe die EFF se geskiedenis van koalisie-“regering” is dit moeilik om hierdie hele storie nie met ʼn bietjie agterdog te bejeën nie. Die EFF is seker een van die slegste koalisievennote moontlik, gegewe die feit dat lede meer in ontwrigting as regering belangstel – die vraag is dan hoe hierdie skuif óf strook met óf verskil van hul koalisiegeskiedenis met die DA. Opposisiepartye het basies die DA gedwing om saam met hulle te werk in minderheidskoalisie – iets wat die DA nie noodwendig verkies het of wou hê nie. So asof ʼn mens sommer so maklik en sonder gevolge kan besluit om as die “amptelike opposisie” die ander kleiner, “stemverdelende klein opposisiepartye” te hand weg te wys.

Die DA ontken natuurlik dat hulle in ʼn posisie gedwing is met hierdie besluit van die EFF. Die DA gaan egter nou as net nog ʼn koalisievennoot in hierdie munisipaliteite met ander koalisievennote moet saamwerk – hulle kan nie net die nuwe ANC in magsblokterme wees met alle ander partye se wense wat geïgnoreer word nie.

So is daar ʼn hele paar partye wat lesse uit hierdie munisipale verkiesings gaan leer. In enige gesonde veelpartydemokrasie is die politiek deurspek met samewerking, toegewings en tot ʼn groot mate afhanklikheid van jou koalisievennote vir sukses. Sodoende gaan elke party wat in hierdie verkiesing tot die regering verkies word, ʼn manier moet kry om ten spyte van of te danke aan, as hulle gelukkig is, koalisiepolitiek die mandaat van hul kiesers uit te voer. Hierdie kwessie gaan veral ʼn belangrike punt wees vir die mikro- en streekspartye wat in die verkiesing na vore gekom het.

Daar is etlike van hierdie partye wat baie streekspesifiek en eintlik baie naby aan die gemeenskap is. Hierdie partye het nou dalk ʼn groot opkoms in die verkiesing gemaak, maar is soos enige ander party nie van oorlewing verseker nie. Veral nie in die konteks van uitgeputte burgers wat desperaat op soek is na enige mate van dienslewering, instandhouding en dalk selfs verbetering nie. Juis hierdie kleiner partye nader aan die mense gaan leer dat dit noodsaaklik dog moeilik is om jou mandaat uit te voer in ʼn politieke landskap waarin koalisieregering byna ongekend is en nog baie onstabiel kan wees. Hoeveel partye gaan tussen nou en die volgende munisipale verkiesing die harde les leer dat “mag bekom” nie noodwendig “mag behoue” is nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.