Nuuskommentaar: Wat gaan met e-tol gebeur?

e-tol

Argieffoto

Die Fariseër het (in die tempel) gaan staan en hy het só gebid: ‘My God, baie dankie dat ek nie soos die ander mense is nie. Hulle steel, hulle lewe nie soos U wil hê nie, en hulle pleeg egbreuk. En dankie dat ek nie soos hierdie tollenaar is nie. Ek vas twee maal in ’n week, en ek gee tiendes van alles wat ek kry.’ Maar die tollenaar het ver weg gaan staan. Hy wou nie opkyk na die hemel nie, want hy het gedink hy is nie goed genoeg nie. Hy het homself op die bors geslaan en gesê: ‘My God, ek is ’n sondaar. Uit Lukas 18, Bybel vir almal.

Probleme in die post-94-Suid-Afrika word nie te dikwels dadelik en skoon opgelos nie. Waar daar drooggemaak word, is daar dikwels ’n ANC-kader wat skelm of onbevoeg is. Dis ’n harde stelling om te maak, maar nie as ’n mens deur die Google-berigte oor e-tol in Suid-Afrika blaai nie. Net te veel keer word die stelling gemaak dat daar kamerade in Chancellor House, die ANC se finansiële arm, is wat omkoopgeld ontvang het.

Dit handel oor die kontrakteurs wat die paaie gebou het (wat glo tot tien keer meer vir die bouwerk as die internasionale norm per kilometer betaal is), tot die Oostenrykse maatskappy (Kapsch Trafficom) wat teen R2,2 miljard aangestel is om die gelde te in.

E-tol het in 2013 werklikheid geword, en watter ongelukkige 13 het dit nie geblyk te wees nie.

Baie onlangs het Outa, die organisasie wat uit verset teen e-tol tot stand gekom het maar nou na alle praktyke van belastingmisbruik kyk, voorspel dat e-tol teen die middel van aanstaande jaar iets van die verlede sal wees.

Met sy pas gelewerde minibegroting het die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, egter duidelik laat blyk dat die regering “besluit” het om nie net met e-tol te volhard nie, maar die stelsel op te knap. “Hoes of betaal is die Wet van Transvaal,” aldus die regering se e-tollenaars. Die ANC in Gauteng en Cosatu stem nie saam nie.

Seker een van die grootste probleme met die e-tol is dat die hele kwessie voor en na voltooiing in ’n web van geheimhouding verstrengel was en eintlik steeds is. Dit is ongrondwetlik, en Outa sowel die Vryheidsfront Plus het die saak reeds hof toe geneem. By geleentheid, in 2012, het die hof gelas dat Sanral dié diggehoude dokumente aan die aansoekers oorhandig waarop die Sanral-hoof, Nazir Ali, bedank het.

Die uwe het destyds in ʼn nuuskommentaar die mening uitgespreek dat Ali in sy eie swaard geval het voor die blik se wurms kon uitkruip.

In 2015 het geblyk dat Ali nié weg is by Sanral nie, en dat sy pos hangende sy aftrede geadverteer is. In 2017 is hy egter deur minister Dipuo Peters as waarnemende voorsitter van Prasa se raad aangestel. Na berig word, het hy net enkele dae tevore by Sanral bedank. Dit is vyf jaar na hy by Sanral in sy eie swaard sou geval het.

Bewerings van korrupsie en bedrog by Sanral word dikwels in die media bloot as feit gestel. Met Ali se “aftrede” in 2015 het ’n Sanral-woordvoerder egter daarop gewys dat in die meer as ’n dekade van Ali se bewind, die organisasie elke jaar ’n skoon ouditverslag gekry het.

Verlede jaar het Sanral ’n aanspraak van Outa ontken dat dié agentskap R36 miljard sou afskryf wat al langer as drie jaar aan e-tol geskuld word. Voorts is ook beweer dat Sanral in net een jaar R5,5 miljard verlies gely het. R3,6 miljard is toegeskryf aan tolgeld-bedrywighede.

Ook verlede jaar het Outa beswaar gemaak omdat die Oostenrykse firma, ETC, teen R2,2 miljard aangestel is om e-tol in te samel. In die tydperk wat hulle hiervoor betaal is, 2013 ot 2017, het die e-tol slegs R2,9 miljard ingebring. ETC het dus 74% van die geld wat ingebring is gekry. Outa meen ETC moes net 17% gekry het.

Sanral, wat volhou om sy bates te bereken deur oninvorderbare skuld daarby in te sluit, het egter aangedui dat dit bereken is teen die bedrag wat ingesamel behoort te gewees het. Sanral het ook volgehou dat ETC ’n Suid-Afrikaanse maatskappy is, maar Fin24 het vasgestel dat dit nou volledig aan die Oostenrykse konglomeraat, Kapsch, behoort.

Gaan e-tol uiteindelik die pyp rook?

Nie as die lot van die Portugese e-tol, wat in 2011 ingestel en in 2013 gesink het, in gedagte gehou word nie.

In 2013 reeds skryf Bonnie Tubbs in ITWeb soos volg: “If recent reports of the dismal failure of electronic tolling in the developed country of Portugal are anything to go by, Gauteng could be headed for similar – if not worse – troubles, considering the parallel nature of SA’s open road tolling system. Earlier this month, Portugal’s largest circulation English newspaper, The Portugal News, reported that the country’s e-toll system – implemented a little over a year-and-a-half ago – has amounted to a ‘dead loss’ for the country’s state-owned roads agency, Estradas de Portugal (EP).”

As ’n mens weer oor die mislukte Portugese ervaring oplees, en die ooreenkomste met dié in Suid-Afrika ’n mens se oog tref, kan ’n mens net wonder of die regering dan hoegenaamd nie daarvan kennis geneem het nie. Daar is die projek gekelder omdat minder motoriste die tolpaaie begin gebruik het, en weens wanbetaling.

Met die komende verkiesing feitlik op hande maak analiste gereeld die stelling dat pres. Cyril Ramaphosa nou versuim om te hard en vinnig teen staatskaping en korrupsie op te tree, omdat dit die ANC in die verkiesing kan / sal knou.

Maar hoe dan net met e-tol? Met soveel weerstand binne die drieparty-alliansie én binne die ANC self hou dit dan nie ook gevaar vir die ANC in nie? Hou die beweerde omkopers steeds die kamerade in Chancellor House as gyselaar aan?

Of is dit juis ’n verkiesingsfoefie dat Ramaphosa nader aan die verkiesing ruimhartig, en as uitkoms vir die armes en ter stimulering van die ekonomie e-tol skrap? Want geskrap gaan dit geskrap word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hasie ·

Herman, jy som die situasie so mooi op. Die regerende party verwoes ons hele land deur onbekwaamheid en diefstal. En dit wat hulle nie verwoes nie, dit verwoes die eff. Wat ‘n gemors.

Andrea van Vuren ·

Ek het vanoggend oor die Pretoria fm gehoor hoe afgevaardigdes van Sanral witvoetjie soek by ons reeds leeggemelkte, uitgemergelde belastingbetalers. Hulle maak rooskleurige beloftes net om teen die einde van die program te verneem dat Sanral miljarde aan die buiteland skuld. Jammer, ek is n pensioenaris, die OBK is amper leeggetap, my pensioengeld is reeds gebruik en aangewend vir Sanral. Vlieg in jul peetjie in!

zoom zoom ·

As etoll geskraap word dan wil ek my geld terug hê wat ek betaal het.

t ·

Die oomblik wat jy betaal het, het jy die stelsel aanvaar. Jy het jouself bereidwillig verklaar en kan nie nou die geld terugeis nie. Ek hoop nie dit was baie nie.

RC ·

Ek wonder ook of die gebruik gaan word net voor die verkiesing, dan geskrap word en na die verkiesing weer oopgestel word. Lekker word al die ANC kiesers gevang.

Vuisvoos ·

Sekerlik die beste artikel van die eeu. Herman, jy skryf met gevoel, empatie, kennis en insig.

koos1 ·

Is daar enige sukses stories van die ANC?
Behawe as hulle suksesse meet aan hoeveel van hulle lede miljoenêrs word sonder om daarvoor te werk!

Schalk ·

Ongelukkig ja Koos. Hulle het die meeste miljoeners gekweek met die minste kwalifikasies en ondervinding.

Chris Ws ·

E-tol is ‘n euwel.Die paaie WAS REEDS DAAR en reeds betaal deur ons belasting geld en die brandstof heffing sou vir opgradering en verbetering van paaie ingespan word.
Die regering klou aan die e-tol storie soos hulle aan die bankrot SAL klou wat nou WEER ‘n reddingsboei van R5 miljard belasting geld gaan ontvang.Sluit altwee onmiddelik.Dit sal die land miljarde Rande spaar en die sukkelende ekonomie ‘n hupstoot gee.

Realis ·

Lankal al gesê die goewerment is groener as wat ons dink. Hulle omhels die natuurwet van ENTROPIE. Sien 2 hieronder.
entropy
/ˈɛntrəpi/ noun
1.PHYSICS
a thermodynamic quantity representing the unavailability of a system’s thermal energy for conversion into mechanical work, often interpreted as the degree of disorder or randomness in the system.
“the second law of thermodynamics says that entropy always increases with time”

2. lack of order or predictability; gradual decline into disorder.
“a marketplace where entropy reigns supreme”

John ·

Hoor hulle gaan nou die naam na E-trol verander… dit sal glo die padgebruikers baie bang maak. Dat hulle biljette in plaaslike koerante plaas in die hoop dat enigiemand dit sal koop… laaaang stories oor hul liefdevolle werksaamhede waarsonder die land eenvoudig net baie armer sal wees… Ek het glo al op een Oujaarsaand met ‘n megatonner deur een van die hekke 700 km verder heen-en-weer gekry. Die foto sonder ‘n leesbare nommerplaat was ‘n goeie bewys. Mens wonder hoeveel landburgers se tyd word met hierdie speletjies gemors. Hulle is beslis hardop… dis seker.

Johann van Cullinan ·

Hoor hoor. Ek ry tot 3 keer per dag maar minute na mekaar deur dieselfde tolhek, in dieselfde rigting. My motorfiets se nommerplaat is ook gekloon. Daar is ‘n foto waar ‘n Toyota Quantam ook die tolhek gebruik. Hulle kan in hulle peekee invlieg. Ek het nog noout etol betaal nie en sal ook nie. Hoeveel belasting wil die anc nog hê. My 13 de tjek is nie eers ‘n 13 de tjek nie, hullw vat 30 % daar ook. Sowel as vir oortyd. Nee wat. Hou maar jyllw etollie.

Heinrich ·

Klink vir my die oudits is gedoen deur KPMG, die geld was deur VBS en die sommetjies is gemaak deur die SARS IT dept!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.