Nuuskommentaar: Wat het gratis tersiêre onderrig en Bloemfontein se rioolprobleem met mekaar te doen?

Argieffoto: ANA

Die kabinet sit van vandag af koppe bymekaar om te besin oor die implementering van ’n ANC-voorstel oor gratis onderwys op tersiêre vlak vir behoeftiges, maar dit bly ’n raaisel waar die geld vandaan gevind gaan word, met ’n ekonoom wat die moontlikheid noem dat verdere belasting tot ’n belastingboikot kan lei.

Op die oog af het die ANC se besluit dat behoeftige studente wat aan al die vereistes voldoen, van aanstaande jaar af gratis tersiêre onderrig sal kan ontvang, en die rioolvuil-probleem in Bloemfontein niks met mekaar te doene nie. Verskeie ongelukke het al in Bloemfontein voorgekom van motors en motorfietse wat op die riool, of vroegoggend op die geysde riool gegly het. Die DA het kriminele klagtes teen die stadsbestuurder by die polisie gelê oor die probleem.

Maar daar is tog ’n raakvlak. As die geld om by te hou te min is, en dit wat beskikbaar is nie doeltreffend aangewend word nie, wag daar ’n groot gemors.

Die geld vir die beloofde gratis onderrig, en ook veel meer hulp vir studente uit middelklashuise (waar die gesin se inkomste tussen R150 000 en R600 000 per jaar is), kan volgens ekonome en ander kundiges slegs van die belastingbetalers verhaal word, en dalk ook van die Setas. Dawie Roodt praat van die moontlikheid van ’n belastingboikot as die regering nóg bloed uit ’n klip wil tap.

Die kabinet sit van vandag af tydens sy legotla met die moeilike vraag oor hoe om aan die ANC se voorstel uitvoering te kan gee.

Die hele kwessie speel hom af teen die agtergrond van staatskaping, waar miljarde rande uit die land se ekonomie “onttrek” is. Skynbaar glo sommige mense in hoë kringe nog die fabel van “the government has unlimited resources”. Hoe anders verklaar ’n mens byvoorbeeld dat minister Faith Muthambi 30 van haar familielede teen ’n koste van R300 000 Kaapstad toe laat vlieg het om na haar begrotingsrede te gaan luister – vir die rekening van die belastingbetaler? Nkandla is ook nie met Monopoly-geld gebou nie, soos wat Mugabe probeer het om Zimbabwe se kaartehuis-ekonomie te bou.

Dat die ANC nou met so ’n besluit vorendag kom, is egter ook geen verrassing nie. Die #FeesMustFall-veldtog en die regering (eintlik pres. Jacob Zuma se) se lomp hantering daarvan, het nie net miljoene rande se skade aan infrastruktuur en verlore onderrigtyd tot gevolg gehad nie, maar het die ANC beslis steun by die stembus gekos. Oor twee jaar is daar weer ’n algemene verkiesing, en die ANC sal sake beslis wil “regstel”.

Iewers, as ’n regering nie by die regte punt begin en die klimaat vir gesonde ekonomiese groei skep nie, gaan die bottel bars. In Bloemfontein (Mangaung-metro) loop skuldeisers die paadjie hof toe snuif oor wanbetalings. Opgraderingsprojekte en selfs basiese instandhouding knars dikwels tot stilstand omdat die geld net nie daar is nie. Word erfbelasting en ander tariewe verder verhoog, word die tou van armlastiges wat aanspraak maak op kortings en vrystellings net al hoe langer wanneer bekostigbaarheid onder daardie inwoners se hande uit begin glip.

Iewers moet dan afgeskeep word. Dit kan nie met salarisse gedoen word nie, want dan bly die stadsaal in die slag, of word vullis nie verwyder nie.

Die behoorlike instandhouding van ’n rioolstelsel is ’n abstrakte begrip – daar moet onderhoudswerk gedoen word aan iets wat op die oog af heel goed funksioneer. Swellende kleigronde, wortelindringing, oorbelading van die stelsel en talle ander probleme word eers sigbaar as die probleem letterlik begin oorkook. Oorbelading is ’n probleem wat algemeen voorkom in ’n land wat verstedelik. In Egipte het studies aangetoon wat gebeur as een gesin uit ’n familie “opgehef” word en na die stad trek. Wanneer die familie van die platteland kom kuier, bring hulle ryker kos saam as wat die stedelinge (en hul rioolstelsel) gewoond is. Almal geniet die luukse van ’n moderne bad, en die luukse van weggooidoeke bly net ’n luukse as maklik daarvan ontslae geraak kan word – en die maklikste is om dit in die ketel af te spoel. Vragte wasgoed word saamgebring om in wasmasjiene gewas te word.

Oop ruimtes, soos parke in bewoonde gebiede, word gou met die aanmoediging van ’n paar rand onder die tafel deur ’n meenthuiskompleks sonder dat die rioolstelsel vir die groter belading aangepas word. Woonhuise verander in gastehuise, studentehuise of kommunes.

Kortom, terwyl die behoefte aan behoorlike onderhoud ’n kleiner prioriteit word, en die geld al minder word om al die “gate” toe te stop, word die onderhoudsbehoefte in werklikheid al hoe groter.

So is gratis onderrig ook uiters kompleks – die behoud van akademiese uitmuntendheid, oorbrugging sonder om die studietydperk onbekostigbaar te verleng, die kweek van ’n gebalanseerde uitkyk en vele meer. En gaan dit hoegenaamd voorsiening maak vir die beweeg in die rigting van veeltalige inrigtings? Gaan die gesin se inkomste van minder as R150 000 per jaar te verdien die enigste norm wees, of gaan struikelblokke soos velkleur weer tot uitsluitings lei?

As dit nie reg bestuur word nie, kom hier ’n groot gemors.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Andre ·

Dis eintlik baie eenvoudig. Indien die belastingbetaler vir gratis tersiere opleiding moet betaal, dan moet die belastingbetaler seker ook kan voorskryf watter studierigtings kwalifiseer (beslis nie iets soos “humanities, rieldans en ander nuttelose twak” nie). Verder behoort die belastingbetaler dan ook te kan voorskryf wat die toelatingsvereistes sal wees. Indien dit nie die geval is nie, dan kom dit neer op doodgewone diefstal van die werkersklas se hardverdiende geld.

Cornelius du Rand ·

Julle rapporteer slegs oor die punt van die ysberg. Die meeste plattelandse dorpe funksioneer glad nie meer nie. Ek bly in Zeerust. Die rioolwerke funksioneer glad nie meer vir jare nie en die rou riool word net so in die dorp se dam ingetap. Niemand doen iets daaroor nie. Die afgelope paar weke het die riool orals in die dorp uitgeloop in die strate af. Die rede was glo dat die inloop by die rioolplaas verstop is. Die munisipale werkers het glo ook gestaak oor hulle ontevrede was oor hulle klere. Die probleem is baie erger as wat julle dink.

Scout ·

Ek is in Polokwane en in die ou deel van die dorp gaan daar vir die afgelope 6 maande nie ‘n week verby wat ons nie n paar dae sonder water sit agv pype en pompe wat bars. Dan loop water ib riviere in die strate af. Ons krag gaan gereele net af en slaggate in die pad word reggemaak, maar is na 2 dae weer uitgehol. En dan gaan ek nie eers begin mwt sie provinsiale hospitaal nie. Ek se altyd Limpopo is die forgotten province. Ek sal graag wil sien hoe los hulle die gratis onderrig probleem op.

Hans ·

As studente hulp so maklik uitgedeel word,dan moet ‘n doeltreffende verhaling/invorderingsmeganism van die hulp/lenings na voltooiing van studie ingestel word. As studie gestaak word moet terugbetaling onmiddellik begin.

Carel ·

Hulle wil nou mense wat geld oorsee verdien belas. So gaan minder geld land inkom. Wat beteken kort op geld wat inkom en ons land kannie sonder daardie geld nie. Daarteen oor vloei geld land uit van al hierdie Spaza winkelkies eienaars wat nie ‘n sent belasting betaal nie. Hulle maak winkels oop waar ons mense self nie kan nie. Betaal niks vir regestrasie btw persoonlike inkomste beslasting ens. Sal dit nie beter wees om hierdie mense ‘ meestal onwettig’ te belas nie. En so geld in SA hou nie? Hulle almal se geld gaan tog deur ‘n bank rekening! En hulle dwing om hul deel te doen vir land nie? En nie geld wat land invloei nie te belas nie. Ek dink die regering sal op sy rug val as hy agter kom hoeveel geld die ‘mense’ land uitvat. Dit is miljarde op miljarde

Sw ·

Die ANC verstaan nie die dinamika van die ekonomie nie. Maak beloftes wat onmoontlik is om na te kom – waarom borg hul organisasie nie die gratis tersiere opleiding nie?
Hulle is vreeslik slim daarom sekerlik vreeslik ryk ook!

vrikie ·

Munisipaliteite laat ontwikkeling toe sonder om die vermoe van bestaande infrastrukture in ag te neem wat oorbelading van rioolstelsels tot gevolg het.
Bydraende faktore soos gebrek aan beplanning, onkunde en gebrekkige instandhouding is die oorsaak van die steeds groeiende probleem.

John ·

Dis nie toevallig dat die beheer oor die reserwebank skielik so ter sprake is nie… en waar die goudreserwes dan is nie. En na jare se abba die bloedjie uiteindelik papiere het, waar is poste gereed vir indienstreding van die miljoene gewoonte-afwagtendes? Die huidige gewilde naskoolse kursuskeuses lei bloot net na ‘n graad sonder werklike loopbaangerigtheid. Gaan gratis mediese dienste, privaatverblyf, vervoer, kragverbruik en wat ookal bykom? Die bedrag per persoon is enorm en meer en meer eise gaan instroom ook van oorkant ons grense. Enige hokaai gaan die land in ligte laaie laat opgaan… Ons land gaan gly en die na-stank gaan lank bly.

Deon Meyer ·

Verpligte skoolopleiding in Suid Afrika behoort eerder gratis te wees as na skoolse universiteits opleiding.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.