Nuuskommentaar: Wat hou die landbou positief?

Argieffoto (Foto: markus53, Pixabay)

“Wat hou boere vars?”

So vra Benine Ackerman van die aanlyn-landboutydskrif ProAgri. “Die jaar is ’n moeilike jaar vir die landboubedryf. Dit is die grondkwessie, brandstofpryse, ekonomie, plaasaanvalle en -moorde, veediefstal, stygings in pryse en vele meer, maar steeds bly boere positief.  Een van die groot redes is die voortdurende vordering in tegnologie wat boerdery op die voorpunt van ontwikkeling hou.”

Dit is nie die enigste plek waar die tegnologie as ’n soort reddingsboei voorgehou word nie. Namate die politiek-staatkundige omgewing meer en meer leemtes begin openbaar, is daar al meer tekens dat kiesers hul hoop op die kliniese korrektheid van die tegnokrasie plaas. Ackerman se opmerking oor tegnologie in die landbou staan nie los hiervan nie.

Oor die jare is daar die ongelukkige verskynsel dat tegnologie en tegnokrasie verwar en as sinonieme gesien word. Daar is verskeie definisies vir tegnokrasie wat spruit uit verskillende benaderings en vakgebiede.

Die term tegnokrasie kan op verskillende maniere beskou word, maar hou verband met die Griekse woorde vir tegniek (techne) en mag (kratos). Hans Lenk van die Universiteit van Karlsruhe het nege betekenisse aan tegnokrasie geheg.  Die eienskappe kom grootliks daarop neer dat die menslike foute, soos ook in die demokrasie voorkom, verwyder word en vervang word met ’n soort kliniese ingenieursingesteldheid.

Vanuit die dogmatiek word tegnokrasie dikwels aan die opkoms van sekularisme gekoppel, en filosowe het die vermoë om ’n hele paar vertrekpunte te benut. Dit is eintlik vreemd dat soveel filosowe en demagoë so teoreties diep in die tegnokrasie gaan delf het en selfs doktorsgrade daarin voltooi het, terwyl die tegnokrasie per definisie hom nie juis leen tot die filosofiese nie.

Onder die manifestasies wat ons sien, en gewoonlik verwelkom, is die gesag van veral die grondwetlike howe om met die verkose regerings se regeergesag in te meng. In Suid-Afrika het oudpres. Jacob Zuma hom telkemale in die howe vasgeloop en is sy magsmisbruik vasgevat. In min of meer heterogene lande soos Australië is daar weer bewegings wat ontsteld is oor hierdie magte waaroor howe beskik en in staat is om die demokratiese wil deur niedemokratiese instellings te beperk.

Veral die laaste aantal jare is die bydrae wat burgerlike instellings soos AfriForum, Outa en Freedom Under Law lewer om demokratiese leemtes uit te wys onmisbaar.

Nie dat tegnokratiese instansies in hul “tegnokratiese beoordeling” noodwendig konsensus gaan bereik nie. Die koppestamp tussen AfriForum en Agri SA oor die publikasie van ’n beweerde onteieningslys (sonder vergoeding) is ’n goeie voorbeeld.

Kan mense se goeder trou- reaksie op gebeure ook op ’n manier na die tegnokrasie herlei word? Gaan die tegnokraat dieselfde op die herhaalde besetting van ’n deel van ’n Stellenbosse plaas, en met uitsettingsbevele reeds uitgereik, dieselfde wees as dié van ’n filantroop? Is iemand nie juis ’n filantroop as hy objektief en tegnokraties op feite reageer, en latere hartseer voorkom nie?

Kan die tegnokrasie die leemtes in die demokrasie “regmaak”?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Jerry ·

Dit is nie filantropies, objektief en tegnokraties korrek om net eenkant van n muntstuk as die feite of waarheid voor te hou ten einde latere hartseer net aan een kant te verhoed. Die dag wat meningsvormers en burgerregte organisasies dit kan regkry om beide kante se feite te dek, dan sal tegnokrasie van daai dag af geld en kan dit die leemtes in die demokrasie begin regstel.

lerato ·

Jerry
Ek stem heelhartig saam. Ek glo MM sal my bydrae oor dieselfde ding later plaas.

lerato ·

Tegnokrasie, gaan oor kennis en oor regring dmv kennis

In ons huidige opset ten opsigte van OSV, kan daar twee benaderings wees.

1 Ons sit om ‘n tafel,lig knelpunte uit, probeer middelgrond, bereik, verkry konsensus en beweeg voorentoe.

2 Ons skreeu vir mekaar via sosiale media, sweep mense op, veroorsaak meer polarisasie, en verloor uiteindelik alles deurdat die sterkste mededingers nie perspektief kan/wil behou nie.

Om rasioneel op te tree, kan daar ‘n oplossing kom. Deur emosioneel op te tree, word meer konflik veroorsaak en is almal in die land verloorders

Paul ·

Jy kan al hierdie dinge wees soos die twee kommetators hier bo beduie, maar as jy nie ewewigtig en ‘n realis is nie, is die kans goed dat jy die pot toetentaal gaan missit. In hierdie opsig ondersteun ek Afriforum se weldeurdagte en beredineerde standpunte met in aggenome die realiteite.

lerato ·

Hallo Paul

Dis verblydend om te verneem dat Afriforum namens die boere met die regering onder handel.

Jerry ·

Ek stem saam met Lerato en Paul. Dit is ewewigtig en realisties vir boere om met die regering te onderhandel met weldeurdagte en beredeneerde OSV standpunte. Agri SA het vir ons gewys dat dit die realistiese pad is om te stap omrede dit onsekerheid uit die weg ruim asook dat die samewerking daarop geskoei is om oplossings te vind wat implementering moontlik maak en wat vir die meerderheid boere aanvaarbaar is. Om die regering te los om OSV op hulle eie te implementeer wanneer dit ons belange is wat ter sprake is, is om die minste te se, onrealisties en waansinnig.

Paul ·

Herman, daardie eerste paragraaf van jou is die kruks van die storie, veral die laaste sin. Tegnologie en die gedurige op hoogte wees daarvan is nie vir elkeen beskore nie, maar die in-murg-en-been boer is inherent ‘n persoon vir wie dit ‘n roeping is, hy moet vroeg in die oggend opstaan met die gewaarwording van al sy sintuie, hy moet sy plaas kan ruik, sy ore neem elke geluid waar. Soos met alle vooruitgang in die wêreld sal daardie boere wat nie met die tegnologie bybly nie, meganisasie, veiligheid, nie vindingryk is en gedurig vernuwend dink nie, nie teen die markte kan bly meeding nie, veral nie teen die wêreldmarkte nie. Hierdie boere sal ook die aanslae van die politiek oorleef. Politici moet nie by daardie boere inmeng nie, hulle het werk om te doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.