Nuuskommentaar: Wat is die ergste: Derde Wêreldoorlog of Zuma?

Pres. Wladimir Poetin van Rusland (2006) Foto: Kremlin.ru via Wikimedia Commons

Pres. Wladimir Poetin van Rusland (2006) Foto: Kremlin.ru via Wikimedia Commons

Wat is die ergste: dit wat pres. Jacob Zuma nou (al weer) kwytgeraak het, of die moontlikheid van ’n Derde Wêreldoorlog? Die antwoord behoort af te hang van die waarskynlikheid dat ’n Derde Wêreldoorlog sal uitbreek, terwyl die Zuma-bashing hier sorg dat mense warm onder die kraag bly vir dinge wat die president sê en doen.

Dit is stellig vir ’n analis moeilik om iets oor Suid-Afrika te skryf wat nie ook in die dryfsand van rassisme, beweerde rassisme, korrupsie, Eskom, plaasmoorde of ander onaptytlikhede vasval nie. Zuma se skadu val meestal breed oor hierdie kwessies.

Maar as na die werklike saakmakende kwessies in die buiteland gewend word, gaan dit dikwels nie veel beter nie. Die IS gaan van erg tot erger in ’n poging om die wêreld te skok, die Midde-Ooste bly maar ’n komplekse slagveld, vlugtelinge trek in massas na die weste en baie kom onderweg om.

Suid-Afrika se rol in die internasionale politiek is dikwels bisar. Pas het Zuma die ongewone gedoen om terreur te veroordeel, of die land ontvang die terroris Leila Khaled as ’n held waar sy hetige toesprake maak wat moeilik as iets anders vertolk kan word as dat sy geweld aanblaas.

Wie het nog tyd vir die skynbaar nimmereindigende toutrekkery in Oekraïne?

Maar dit durf nie vergeet word nie, want dit is stellig die potensiële kruitvat wat die wêreld die naaste aan die Derde Wêreldoorlog bring.

Hier speel ’n ongewone skaakspel hom af waar die reëls ontwikkel word soos die spel vorder. In die omgewing is baie benoude oë, want as die Russiese Beer daarin sou slaag om Oekraïne ingepalm te kry, is daar min waarborge dat ander lande wat voorheen deel van die Sowjet-Unie was, maar hulle nou as lede van Navo en/of die Europese Unie vasgewoel het, ook onder skoot kan kom.

Intussen sterf mense in Oekraïne. Die meeste bronne meld dat die ongevallesyfer op meer as 5 000 staan, maar  volgens die Duitse Allgemeine Sonntagszeitung gaan die Duitse intelligensiedienste van die veronderstelling uit dat die ongevallesyfer tien keer hoër is.

Sedert September verlede jaar was daar formeel ’n skietstilstand in Oekraïne, maar die weste en die Westerse media het hulself gebluf dat dit sake onder die knie gehou het. Dit is voortdurend geskend, en elkeen van die partye het strategiese skuiwe probeer maak.

Die rebelle het die skietstaking opgesê en dadelik groot sukses behaal. Tog is daar ʼn stukkie ironie. Baie inwoners van die vernaamste rebellestad, Donetsk, woon in bomskuilings terwyl die bomme val. Bedags glip van hulle uit huis toe, en gaan was wasgoed in hul wasmasjiene, en maak kos gaar. Hulle het, terwyl die bomme val, gewoonlik elektrisiteit – hier is geen oorlog nie maar die elektrisiteit ontbreek gereeld.

Twee sake het die handhawing van die skietstaking onder druk geplaas. Oekraïne is besig om duisende manskappe op te lei vir ’n groot offensief wat beteken die rebelle moes optree voor hierdie manskappe gereed is om tot die stryd toe te tree. Uit die VSA het ook al hoe meer stemme opgegaan dat die VSA en ander Westerse lande die regering van Oekraïne van wapens moet voorsien – al sou dit die betrekkinge met Rusland tot breekpunt bring.

Intussen het waarnemers van die Organisasie vir Sekuriteit en Samewerking in Europa (OSCE), waarvan Rusland ’n lidland is, gerapporteer dat die rebelle skynbaar deurlopend nuwe wapens ontvang, en dat hul manskappe ook aangesuiwer word. Hoewel algemeen aanvaar word dat dit Russiese wapens is en selfs Russiese soldate, kan die OSCE dit nie bevestig nie, omdat die rebelle hulle nie naby die grens toelaat wat die rebelle beheer en met Rusland deel nie.

Vooruitsigte dat Oekraïne wapens kon kry, selfs defensiewe wapens soos anti-tenkwapens, wat hulle in staat sou stel om hulself teen die moderne Russiese wapens van die rebelle te verdedig, is Maandag die nek ingeslaan. In ’n gesamentlike nuuskonferensie van pres. Barack Obama en kanselier Angela Merkel in die VSA het Obama dié moontlikheid uitgesluit. Beide Obama en Merkel het Woensdag se samesprekings in Minsk as die “finale diplomatieke poging” tot ʼn oplossing beskryf. Oor wat gaan gebeur as die samesprekings misluk, is minder duidelikheid. Dit sal niemand verras as die rebelle die indruk kry dat Oekraïne vir die VSA opofferbaar is nie, want Obama het uitgewys oor hoe belangrik goeie betrekkinge tussen die VSA en Rusland is, onder meer om saam te probeer hokslaan dat Iran kernwapens bekom. Obama het selfs gesê ’n sterk Rusland is belangrik. Uit die berigte wil dit nie voorkom of Obama iets gesê het oor die VSA se huidige afhanklikheid van Rusland om bemanningslede na die Internasionale Ruimtestasie te neem nie.

Rusland ontken steeds dat hy wapens en manskappe voorsien, maar buite Rusland glo niemand dit meer nie. Tydens ’n leiersberaad in München, is die Russiese minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov, lekker uitgelag toe hy die gebruiklike ontkennings gemaak het. Buite Rusland en ’n paar lande soos Suid-Afrika, word Poetin beskou as iemand wat sy eie persepsie van die werklikheid het, wat nie veel met die werklikheid self in gemeen het nie.

Tensy iets voorval, sal die belangrikste samesprekings tot dusver Woensdag in Witrusland se hoofstad, Minsk, plaasvind. In die aanloop het kanselier Merkel van Duitsland, en pres. François Hollande van Frankryk saam na Kiëf gegaan vir samesprekings met pres. Petro Porosjenko van Oekraïne, en is vandaar na Moskou vir samesprekings met Poetin. Die VSA se minister van buitelandse Sake, John Kerry, is ook onderweg gespreek, maar Kerry is nie saam Rusland toe nie.

Poetin het daarna laat blyk dat daar sekere kwessies is wat eers opgelos moet word voor daar enige waarde van Woensdag se samesprekings geheg gaan word.

Soos wat daar nou dikwels op die internasionale verhoog gebeur, sal daar Woensdag ook sogenaamde “parallelle samesprekings” gevoer waar die rebelle verteenwoordig sal wees. Dit beteken dat onderhandelaars heen en weer tussen twee vergaderings sal moet piekel sodat die strydendes mekaar nie self in die oë hoef te kyk nie. Die proses is byvoorbeeld (uiteindelik) suksesvol gevoer om verlede jaar ’n skietstilstand tussen Israel en Hamas te beding.

Hoewel Poetin nie wou sê wat die ononderhandelbares is nie, is dit tog duidelik dat Rusland se basiese vereistes onveranderd bly – naamlik dat Russies ʼn amptelike taal in die oostelike deel van Oekraïne sal bly, en dat ’n vorm van federalisme sal geld wat ’n vorm van selfbestuur aan die oorwegende Russiese dele sal verskaf. Rusland eis ook dat Oekraïne “nooit” ’n Navo-lidland sal word nie.

Bronne verskil oor Oekraïne se toeganklikheid vir die idee van federalisme. Daar was inderdaad weersprekende stemme vanuit Oekraïne, maar die algemene indruk is dat daar waar dit werklik saak maak, veral by Porosjenko self, ’n onversetlikheid hieroor is. Bygesê, die rebelle se aandrang op algehele onafhanklikheid maak Oekraïne erg katvoet. Sou die rebelle instem om nie federale selfbeskikking as vastrapplek vir volle onafhanklikheid te gebruik nie, kan dalk ʼn oper gemoed by die regering van Oekraïne tot gevolg hê.

Intussen dui Oekraïne aan dat hy graag ’n lid van die Europese Unie wil word, en ook ʼn lid van Navo. Hiervan wil Poetin niks weet nie. Die Weste self is langtand hiervoor, juis omdat dit konfrontasie met Rusland ontlok.

Rusland maak dit baie duidelik dat hy nie sal toelaat dat iemand in sy slaai krap nie, en dat hy self sal besluit wie en wat sy slaai is. Witrusland, Estland, Letland en Litaue, en selfs lande soos Pole, hou dus ’n ongemaklike oog op die Rooi Beer, en wie hy in sy beergreep gaan beetkry.

Intussen is die verslegtende lot van die oorspronklike inwoners van die Krim-gebied wat Rusland gegryp het, die Krim-Tartare nie juis rede tot gemoedsrus nie.

Te veel is op die spel dat Woensdag se beraad werklik die laaste kans tot ’n diplomatieke skikking sal wees, maar dit is ook duidelik dat as daardie samesprekings misluk, die wêreld nader aan ’n kruitvat beweeg (of is dit ʼn kernvat?). Die Weste mag dalk geen aptyt vir ʼn gewapende konflik met Rusland hê nie, en kan die opoffering van Oekraïne ’n “klein” prys wees, maar met Poetin aan die stuur, sal die Weste dalk teen wil en dank ingesuig word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Theuns du Plessis ·

Dit is tog so jammer dat die begrip rassisme verskraal het tot n ongenaakbaarheid van blankes teenoor anders kleuriges ! – in der waarheid is rassisme aan die orde van die dag en komende (ook ontvangende !) van alle groepe af nie waar nie ?

Albert ·

Herman ek was in Moskou in Desember en die gevoel onder die mense is baie anti Amerika en met reg. Die Russe in Oekraïne is skielik verbied om Russies te praat en die kinders mag nie meer in Russies geleer word nie. Die ouer mense se pensioene is gestop natuurlik meestal Russe. Die mense is Moskou het vir my gese dit is hulle oupas en oumas wat so behandel word en daarom is daar op Poetin baie baie druk om op te tree. Met die Roebel se val kry die mense baie swaar. Hulle vra natuurlik dat die gas vir Europa afgesit moet word maar Poetin wil onderhandel wat ‘n goeie ding is.

Herman Toerien ·

Hallo Albrt. Ek het in die stuk verwys na Poetin se aandrank op erkkenning van Russies in Oekraïne. Die wet wat nou herroep is, is eers in 2012 op die wetboek geplaas en dus keer dit net terug na ‘n posisie sooos toe waar Russies nie verbied was nie, maar sekere openbare beperkings beleef het. Dit was op sy beurt ‘n teenreaksie van Porosjenko se voorgangers om Russies effektief tot Oekraïne se ampstaal te verhef – wat bitter weerstand ontlok het. Ek dink Russiese propaganda het die “verbod” bietjie aangedik. Waar ‘n verbod wel oorweeg word, is aan Russiese media afkomstig uit Rusland – nie oor die taal nie, maar oor die aanbied van ‘n weergawe waarmee Oekraïne nie vrede het nie. Benewens Russies is daar ook ander minderheidstale in Oekraïne, en voor Rusland die Krim afgevat het, is die oorspronklike taal, Krim-Tartaars, baie beskerm – iets wat Rusland nou nie so flink doen soos wat Poetin beloof het nie.
Oor toelaes en pensioene – dis maar ‘n moeilike kwessie as die grondgebied fisies onder jou beheer uit is, en die mese in beheer daar onafhanklike lande verklaar het.
Dit bly ‘n komplekse situasie – Oekraïne is berug vir korrupsie. Die afsydigheid wat kort-kort teenoor minderheidsegte uitslaan, plaas Oekraïne heeltemal buite die EU handves (min of meer op dieselfde gronde as wat Turkye sukkel om EU-lid te word). En dan is soveel ou propagandakwessies vir dekades aan die lewe gehou sodat, luister ‘n mens na sommige propaganda, dit klink of die Staliniste en die Nazi;s mekaar steeds uitmekaar skiet.

Rupert Ashford ·

A-ha. Soos ek al vantevore hieroor gese het is niemand se handjies leliewit skoon nie, en niemand se handjies pikswart vuil nie. Amerika en die Weste se weergawe van die waarheid is ook nie altyd die volle waarheid nie – ons het dit tog aan ons eie bas gevoel in SA. Wees wakker…

willem niemandt ·

Dit is jammer dat die een nasie nie die ander nasie ,die sonskyn en vrede gun wat elke mens geregtig op is nie.

Nico ·

1. Lees Leopold Scholtz, die ANC was nog altyd korrup, so wat sê dit van hul toekoms en terwyl hulle in beheer is?
2. Die ANC het in die aanloop tot Mandela se vrylating die swart leierskap in SA gekaap en met vrees die mense gedwing om of te verdwyn, of om die ANC te ondersteun.
3. Erfgeld is swerfgeld. (Kyk punt 1.)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.