Nuuskommentaar: Wat is die ‘gedekoloniseerde opvoeding’ wat studente eis?

Studentebetogings op die Wits-kampus (September 2016). Foto:@WitsSRC/Twitter

Studentebetogings op die Wits-kampus (September 2016). Foto:@WitsSRC/Twitter

Een van die eise wat nou konsekwent met die studente-onluste opduik, is dat kampusse en leerplanne gedekoloniseer moet word. Maar dis nie so maklik om te bepaal wat presies hiermee bedoel word, en of daar enige heil hierin te vinde is nie.

“Liberation before education” en die 1976-skoolopstande

Tans lyk dit of die studente-onluste die diepgang van die 1976-skoolopstande begin aanneem. Waar die betogers hulle op die kampusse te heftig teen wet en orde vasloop, word nou na omringende gebiede uitgewyk en misdade gepleeg. Dit herinner nou ook skerp aan “liberation before education”.

Ras as faktor

Ras word ’n al sterker komponent, sodat Max du Preez pas in sy rubriek op Netwerk 24 skryf: “Die legitieme stryd teen witheid (whiteness) het plek gemaak vir ’n aanslag op Suid-Afrikaners met wit velle. #FeesMustFall begin al meer na #WhitesMustFall klink.”

Verskuiwing van doelpale

Rolspelers kla dat die oproermakers heeltyd die doelpale verskuif sodat dit moeilik is om tot ’n ooreenkoms te kom. Boonop kan van die rolspelers net mooi niks aan van die eise doen nie, soos gratis onderrig.

Van die eise het inderdaad vreemd op die ore geval, soos die een dat gratis sanitêre doekies vir vroue uitgedeel moet word.

Dekolonisasie

Maar een wat nou soos ’n vasgehaakte plaat konsekwent opduik, is “gedekoloniseerde onderrig”, of “gedekoloniseerde kampusse,” of “gedekoloniseerde leerplanne”.

Maar wat daaronder verstaan word, is minder duidelik tensy bietjie gedelf word.

Franz Fanon

Daar was voorheen aansprake uit die protesteerders se geledere dat die oproer sterk put uit die leerstellings van Franz Fanon. Dit kan nie ligtelik gesystap word nie, veral nie met die SAPD se aankondiging dat ondersoek ingestel gaan word na die moontlike betrokkenheid van ’n derde mag nie. As Fanon se leerstellings, gewoonlik getregter deur die nalatenskap van wyle Steve Biko, bygesleep word, dan is die land in ’n ernstige krisis. Die probleme en terminologie kan egter ewe maklik, en hopelik meer waarskynlik vanuit ander oorde, verklaar word en daarom word net baie vlugtig by Fanon en dekolonisasie stilgestaan.

Fanon het geweldig baie oor dekolonisasie geskryf, en nie alles lekker versoenbaar met mekaar soos ook sy idees gevorm en ontwikkel het nie, maar ook danksy die vertaling van sy werk uit Frans na Engels wat nie altyd suiwer was nie, en vermoedelik dikwels doelbewus geplooi is.

As vertrekpunt het Fanon geskryf dat dekolonisasie die vervanging van een spesie mens met ’n ander spesie mens behels. Dit is allesbeskrywend.

Voorts, die kolonis gebruik volgens Fanon altyd geweld om kolonisasie in stand te hou, en daarom is geweld aanvaarbaar as manier om geweld daarteen in te span. Die betogers het dan ook baie gou die polisie en veiligheidsdienste daarvan beskuldig dat hulle gewelddadig teenoor die molesmakers sou optree. Minstens soms lyk dit of die storie meer opgemaak as iets anders sou wees, maar deur dit as die waarheid aan te bied “regverdig” dit dat die molesmakers “ook” geweld kan gebruik.

Die klankgreep op die sosiale media waarin gevra word dat ’n wit mens eers moet sterf alvorens die betogers ernstig opgeneem moet word, pas hierby in. Die polisie word terselfdertyd geïnhibeer deur ’n Marikana-tipe vergelyking te tref.

Fanon het dekolonisasie as ’n program van totale wanorde beskryf, en onder meer ’n vriendskaplike vergelyk om dit te bereik, uitgesluit.

Dit is hierdie waarnemer se oordeel dat dit ’n taamlike lang tyd sou neem om genoeg mense in Fanon se leerstellings te “skool” en dit te laat aanhang – iets wat onwaarskynlik is omdat studente gewoonlik net enkele jare op kampus deurbring. Is daar dalk wel ’n derde mag agter die skerms betrokke wat uit radikale dosente, senior studente en ander aanhangers bestaan, sal die bekamping van die protes wel deeglik self van Fanon se leerstellings kennis moet neem. Fanon vir eers daargelaat …

Raakvlakke met die VSA

Soos voorheen deur Maroela Media uitgewys is, is dit wat die molesmakers hier aanvang opsigtelik ’n gedeeltelike navolging van wat in die VSA gebeur. Dit hou weer verband met ’n groeiende rassespanning in die VSA waaroor Maroela ook al gereeld kommentaar gelewer het. En ook wat die sporadiese kampusgeweld in die VSA betref, word iets soortgelyks as die “gedekoloniseerde” omgewing opgeëis. Swart studente, en ook ander minderhede, voel met hul aankoms hulle het op “vreemde plekke” aangekom. Hulle word in ’n kultuur wat vir hulle vreemd is ingedwing. Dit is gewoonlik die gewone (wit) Amerikaanse kultuur. Selfs minderhede se gemiddelde hoër druipsyfer is hierna herlei.

Sodra die minderhede ’n sekere kritieke massa skep, word aangedring dat hulle hul eie kultuur kan beoefen. Die kritieke massa het ook in Suid-Afrika “ingeskop” dat by Kovsies, toe swart studente ’n beduidende groep geword het, hulle op hul eie kultuurkoshuise aangedring, en gekry het. Later, toe hulle ’n getalle-oorwig verkry, is weer aangedring dat die koshuise gemeng moet word (wat ook netjies by transformasie-oorwegings ingepas het).

Die interessantheid is dat verskeie Amerikaanse universiteite nou ook by “kultuurkoshuise” aankom. Die minderhede bly minderhede en kan dus nie veranderinge aan koshuise en kampusse se kultuur teweegbring deur getalle nie. Soms word koshuise in geheel afgestaan om ’n “Afrika-motief” te hê, en soms word gange so afgestaan.

Politiek-korrekte terminologie

In Suid-Afrika word groot getalle swart studente nou by voorheen oorwegende wit, en selfs Afrikaanse universiteite opgeneem. Net soos in die VSA loop hulle hul teen ’n vreemde kultuuromgewing vas, en gou word die analoog tussen die “vreemde kultuur” en onder meer proporsioneel hoër druipsyfers getref. In ’n taai politiek-korrekte omgewing word uitdrukkings soos “uitsluiting” geskep en het Afrikaans self onder skoot gekom.

Simboliek as teiken of strooipop?

Met die #RhodesMustFall-veldtog was dit gou duidelik dat koloniale simboliek ’n teiken sou word. Ironies is by die UK met die verbranding van skilderye, ook minstens een skildery uit die “struggle”-era verbrand. Dit het saamgeval met die destydse beeldestorm wat aanvanklik min met studente of hul probleme te make gehad het.

Nietemin, koloniale era-simboliek sou nie deug nie. Ook dit het ’n parallel in die VSA gehad waar daar aandrang was (en steeds is) dat simboliek wat met die Amerikaanse Burgeroorlog in verband gebring kan word, verwyder moes word. In baie gevalle het van die suidelike leiers groot bydraes tot die stigting van die betrokke universiteite gelewer, en was selfs die stigters of medestigters. Die studente se aandrang het so uitgekring dat ’n deelstaat onlangs ’n verbod geplaas het op die aanbring van die Konfederale vlag op nommerplate.

Dit is dus duidelik wat moet weg, en wat uit die leerplanne moet uit. Wat in die plek daarvan moet staan en steeds verseker dat die leerplanne internasionaal mededingend en op uitnemendheid afgestem moet wees, is minder duidelik.

Wat sou Amerikaanse universiteitsowerhede byvoorbeeld bedoel met koshuise en koshuisgange met ’n Afrika-kultuur en -motief?

Kwame Nkrumah

Op 28 September vanjaar het dr. Leopold Scholtz die plaaslike kwessie ook in ’n artikel op Maroela Media onder die loep geneem. In daardie stadium is gedekoloniseerde onderrig al gewoonlik met drie ander begrippe omskryf – dit moet gratis wees, dit moet swart wees en dit moet Afrika-sentries wees. Hy som op: “In die onlangse verlede het dit egter geblyk hulle wil aansienlik verder as dit (Kwame Nkrumah, eerste president van Ghana, se opsomming dat dit studie moet wees wat relevant vir Afrika moet wees) gaan. Dit gaan oor ʼn ingesteldheid, ʼn anderse kyk na die wêreld, ʼn verskillende logika, ʼn ander geleerdheid wat wegbeweeg van die Westerse model, en ʼn unieke Afrika-manier.”

Scholtz vervolg egter: “… Maar ek moet beken ek verstaan dié soort houding maar ten dele.”

Hy wil dan weet of dit eie aan Afrika is om klasse te ontwrig en ander wat wil klasloop te verhinder om dit te doen, biblioteke en geboue af te brand.

Het daar sedertdien meer lig hierop begin skyn? Is die stemme wat ons gereeld hoor, “we are not criminals”, ’n verteenwoordigende siening terwyl die protesteerders allerhande misdaad pleeg?

Ghandi

Miskien is daar iets meer wys te word uit ’n gedoente nou in Nkrumah se land. ’n Standbeeld van Mahatma Gandhi wat onlangs deur die Indiese president, Pranab Mukherjee, by die Universiteit van Ghana onthul is, gaan geskuif word nadat ’n groep professore die legendariese Indiese staatsman van rassisme beskuldig het, berig The Guardian en verskeie ander koerante.

Die professore gebruik verskeie aanhalings, veral uit Gandhi se vroeë lewe, om die beweerde rassisme te staaf. Gandhi het glo verskeie kere in geskrifte gekla dat die Suid-Afrikaanse regering probeer om Indiërs na die vlak van swart mense af te trek. Hy het dan ook geskryf dat Indiërs “infinitely better” as swart Afrikane is. Hy het die k-woord ook mildelik ingespan.

Die professore, wie se petisie deur meer as duisend mense geteken is, voel voorts dat standbeelde van nie-Afrikane deur Afrikane vervang moet word.

Ironies beskik Ghana ook in die hoofstad Accra oor ’n Mahatma Gandhi-universiteit. Dit is ’n klein tegniese inrigting met hoogstens 50 personeellede, en is in 2010 geopen. Soortgelyke instellings met dieselfde naam kom ook elders in Afrika voor. Die Universiteit van Ghana is daarenteen die land se oudste universiteit.

Die reaksie op die professore se aksie en petisie is uiteenlopend, soos oproepe dat die situasie kontekstueel beskou moet word.

Weglaat of verandering van konteks

Sou die professore se soort aandrang ook op Suid-Afrika van toepassing gemaak word, verdwyn die konteks en word dit met ’n simplistiese nie-vergewensgesinde beskouing vervang.

In Gandhi se geval sou die weglaat van die konteks inderdaad dit waarvoor Gandhi werklik onthou word, tot niet maak. Gandhi het inderdaad in sy jonger dae hom vir sake beywer wat nou hoogs aanstootlik is, ook onder meer ’n voorpratery van die kaste-stelsel, maar sy latere lewe het op die teenoorgestelde gedui.

Sou die omgesukkelde studente vir lief neem daarmee dat ander sou verkies om Nelson Mandela as veroordeelde terroris te onthou en daarom van sy nalatenskap ontslae te wil raak? Hoewel dit dalk ietwat ’n vraag van ’n duiwelsadvokaat kan wees, omdat daar so onlangs soos verlede jaar nog, toe die studente-onluste baie sterk die elemente van Fanon gedra het, gereeld berig is dat dié groepe Mandela verkwalik omdat hy swart mense sou uitverkoop het. Ook nou weer het die stemme opgegaan dat die ANC die rewolusie sou versaak het voor dit voltooi is. Dit sluit aan by die raakvlakke met die ou “liberation before education”. Die opoffering van ’n jaar studie is dus “verstaanbaar”.

Rassisme meer as iets anders

Dit lyk dus of dit nie onvanpas sou wees nie om te sê die molesmakers het van swart bewussyn na ’n posisie van rassisme beweeg.

Die ironie is dat die “verwerplike Westerse kultuur” grootliks sy wortels in Afrika het, veral in die antieke Egipte. Dit sou eintlik bisar wees om te dink die Westerse kultuur het nouer kulturele bande met ou Afrika-beskawings soos ook dié van Soedan, Ethiopië, en later Kartago, en nog later die Arabiese beskawing wat onder meer ’n universiteit in Timboektoe opgelewer het, as wat dit met die hedendaagse Afrika-kulture sou hê. Of dan karikatuur-voorstellings daarvan.

Die kwessie van gratis tersiêre onderrig kan dalk aan ’n tydsraamwerk gekoppel word. Om die “dekolonisasie” van kampusse te bestuur gaan ’n baie lang proses met baie distels en dorings wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Corrie

Nou laat die regering en die derde mag wat agter alles sit ‘n paar miljoen USD of GBP aan elke “kolonistiese/blanke” gesin plus reiskoste en visum aansoek fooie betaal na die land van ons verskeie voorvaders se herkoms asook ‘n hervestigings toelaag. Dan kan hulle maar die unieke Afrika kultuur implementeer opfoeter soos hulle wil. Niks sal hulle egter tevrede stel nie. Die aabhitsers sal teen mekaar draai en wie gaan hulle dan blameer?

Wilma Potgieter

Stem saam jou Corrie. Uitstekende plan. Dan ons ontslae van hierdie barbarisme

humor

Waarmee is ons in hierdie land besig. Die realiteit bly die sg. reenboognasie sal in die aardse bestaan nooit realiseer nie nie. Ek neem waar dit gaan ook nie uiteindlik om gelykskakeling van kulture en n identiteitslose massa nie, maar word deur sataniese magte gedryf om n totale donker Godonterende vervalle mensdom te skep.

koos

Lyk my hulle soek ‘n burgeroorlog. Dan mot dit maar kom en klaarkry – dan sal die land weer reg wees. Ek sien in Netwerk24 dat dit nou whites must fall is. Wat anders as Burgeroorlog is dit?

gert

Die lot soek ‘n Burgeroorlog