Nuuskommentaar: Wat is die voorwaardes vir vryheid(sdag)?

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Dinsdag was Vryheidsdag en so ook die 27ste viering van demokratisering in Suid-Afrika.

Vryheidsdag behoort ʼn viering te wees dat almal – ongeag velkleur – ewe veel insae in die land se demokrasie het. Vryheidsdag behoort na ʼn beter toekoms, eerder as ʼn slegte verlede, te kyk. Juis omdat almal nou in dié toekoms kan deel.

Tog het president Cyril Ramaphosa se Vryheidsdagboodskap steeds vasgehaak by die verlede.

Ramaphosa het natuurlik stilgestaan by die nalatenskap van apartheid wat steeds drie dekades later ʼn groot probleem in Suid-Afrika is. Dit leef voort in die opleiding wat mense ontvang, hul werk, veiligheid, waar hulle woon en die bates wat hulle besit. Sodoende word daar op die slegte verlede, eerder as ʼn beter toekoms, gefokus.

Een sin in sy toespraak het dié sentiment perfek saamgevat:

“The democratic breakthrough of 1994 liberated black South Africans from the tyranny of apartheid, but it also liberated white South Africans from the shackles of untruth and the false belief in racial superiority.”

Wit mense is vandag alles behalwe verlos van die “boeie van onwaarheid en valse geloof in rassemeerderwaardigheid”. Dit is egter nie omdat die meeste wit mense vandag glo dat hulle inherent beter as swart mense is nie – of dit enigsins ooit onder apartheid geglo het nie. Dit is eerder omdat die ANC byna nooit ʼn geleentheid laat verbygaan om wit mense te herinner dat ons eintlik rassiste is nie. Die ANC onderhou kunsmatig die leuen dat wit mense vandag steeds in massas rassisties is en glo dat swart mense minderwaardig is.

Dit is hulle wat aan ras vasklou, eerder as gewone mense. Dit is die ANC wat alles wat sleg is op wit mense blameer. Die opsigte waarin swart mense nog agterstande het, is wit mense se skuld. Daar waar wit mense presteer, iets goed doen of net na hulself probeer omsien, is dit rassemeerderwaardigheid, rassisme en ʼn rassistiese vasklou aan mag, welvaart en invloed se skuld.

Sodoende kan wit mense nooit bevry word van die nalatenskap van apartheid nie – juis omdat die ANC dit nie wil toelaat nie. Hulle wil bloot nie hê wit mense moet van die sogenaamde valse geloof in rassemeerderwaardigheid bevry word nie omdat hulle dit as sondebok wil hou. Sonder dié sondebok gaan hulle self dalk verantwoordelikheid moet neem vir dit wat sleg is en fout gaan in ons land.

Vir lank het wit mense, onder wie Afrikaners spesifiek, onder hierdie skuld geleef. Apartheid het bestaan, was immoreel en onhoudbaar – dan moet alles wat die ANC sê sekerlik waar wees. Waarhede wat met leuens vervleg is, het dit moeilik gemaak om nie onder hierdie skuld te leef nie. Die ANC het dit vir lank onmoontlik gemaak om apartheid te veroordeel sonder om groepskuld en boetedoening vandag daarvoor te regverdig. ʼn Mens kon ook nie sê dat apartheid verkeerd was, maar dat die ANC se heerskappy nét so onwenslik is nie. Indien jy apartheid verwerp, ondersteun jy ANC-heerskappy. Indien jy ANC-heerskappy verwerp, gryp jy noodwendig terug na apartheid.

Dit is nie net verkeerd nie, maar ook onvolhoubaar om mense vandag met die morele skuld van die verlede tot toegewing af te dreig. Dit het veral moeilik geraak toe die ANC daarin begin misluk om ʼn beter wêreld vir arm swart mense te skep.

Skielik het dit nie meer so goed gewerk om wit mense se samewerking en onderdanigheid te koop deur hulle rassiste te noem nie. Soos wat dienslewering verswak, het die ANC se rassepolitiek verskerp. In die lig van hul groeiende mislukking het hulle meer desperaat ʼn sondebok – wit mense gevul met skuld oor die verlede – benodig. Dit het egter al moeiliker vir die ANC geraak om morele sederpreke te gee terwyl hul eie kiesers in armoede vergaan. Soos wat hulle in mislukking hul morele hoë grond begin verspeel het, het al minder wit mense op hul skuldpolitiek ingekoop.

Dit is ʼn redelike gegewe dat minderhede bloot weens die aard van die politieke stelsel nie politieke vryheid in die vorm van daadwerklike invloed het nie. In ʼn een-man-een-stem- sentralistiese stelsel is daar slegs vryheid vir die demografiese meerderheid – minderhede se wil word telkens verswelg deur die tirannie van die meerderheid. Met daadwerklike politieke vryheid wat in dié politieke bestel onwaarskynlik is, is sielkundige vryheid meer van belang.

Wat tans belangrik is, is om sielkundig bevry te word van die ANC se apartheidskuld. Dit verwys weereens terug na Ramaphosa se aanhaling. Die blote val van apartheid het ons nie bevry van die sielkundige las en morele skuld nie, juis omdat die ANC daardie skuld lewendig wil hou. Daarom is dit belangrik om self ʼn nuwe vryheidsideaal te kry. Een waarin dit nie net aanvaarbaar is nie, maar ook goed is om ʼn ander en beter werklikheid te wil skep. Een waarin die apartheidskuld van die ANC nie bestaan nie, omdat ons self verantwoordelikheid en eienaarskap van ons verlede en sodoende ons toekoms neem.

Dit is belangrik om eers die idee van vryheid te internaliseer, voordat ʼn mens dit kan uitleef. Sodoende moet ʼn mens eers nuwe sielkundige en politieke vryheid verstaan en vir jouself definieer, voordat jy dit kan uitleef. Die ANC se morele skuldlas van die verlede moet eers verwerp word voordat ʼn toekoms in vryheid gebou kan word. Die ANC se mislukkende regering moet eers verwerp word voordat ʼn nuwe politiek bedink kan word.

Dit is eerder die vryheid wat ons moet najaag. ʼn Vryheid waar ʼn mens in beheer van jou eie gewete, lot, verlede en toekoms is. ʼn Vryheid wat die voorwaardes bevat om ook veilig en voorspoedig aan jou eie toekoms te kan bou. ʼn Vryheid waarin normaliteit nagejaag en bewerkstellig kan word. Ware vryheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Genis ·

As ek kyk wat vandag aangaan, kan ek verstaan hoekom dit so in die ou dae was… Mens hoef nie ver te kyk om te weet die ou mense was slim nie… Maar nou ja…

Hettie ·

Die ANC het absoluut niks om sy kiesers te aan te bied nie, so hy klou aan die verlede of dit van toepassing is of nie, dit is al wat hy kan bied….. ons sal vat ,vat en vat .. en dan is die ongeletterde kieser tevrede!

JohanR ·

Ramaphosa is net vasgehaak….period! Nie my president nie.

Sambok ·

Ja nee-soek net altyd sondebokke en wil wittes skuld gee vir alles waf verkeerd loop

Cobus ·

Ou Cyril het dringend medikasie nodig vir sy verbale diarieë. Weet net nie waarmee hy sy mond gaan skoon spoel nie.

Meerkat7 ·

Die ANC kan maar net nie die goeie verlede vergeet toe alles behoorlik gefunksioneer het nie, en poog om dit negatief voor te hou omrede hulle nie antwoorde het vir die verval die afgelope 27 jaar nie. Tyd dat hulle hand in eie boesem steek en aanvaar dat hulle die kundiges wat nou nog oor is meer nodig het as wat hulle besef. Ek voel nie bedreig deur hulle regulasies nie, want ek weet wat in ons afrikaners steek. Ons sal weer opstaan!

Janee ·

Hy besef dat daar nie ‘n toekoms sal wees met al die korrupsie en die onherstelbare agteruitgang van die land….nou moet apartheid en arme ou Jan ewig die pak vat. Holrug gery al….

Psyggie ·

Om vry te wees impliseer om verantwoordelikheid te kan aanvaar….
Dit wil voorkom asof hierdie belangrike element afwesig is…

Karina ·

Die woord “apartheid” sal nooit ooit by “hulle” verdwyn nie. 27 jaar later en alles is nog altyd “apartheid se skuld” Maak my siek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.