Nuuskommentaar: Wat kos ’n menselewe?

Foto: Pixabay

’n Nuwe debat het internasionaal begin en woed nou ook plaaslik in veral die sosiale media – regverdig die ongelooflike koste verbonde aan die inperking en die ongerief daarvan die vermeende voordele soos die spaar van lewens van mense van wie sommige baie oud is, onderliggende siektes het soos MIV/vigs, en gestremdes? Moet die beperkings nie eerder gelos word sodat die ekonomie kan herstel en mense wat ’n groter aanwins vir die ekonomie is se kanse op sukses versterk word nie? In België toon die nuutste syfers immers dat 1,25% van die mense wat die virus opdoen van die siekte sterf, maar hoe hoër die ouderdomme, hoe hoër raak die sterfpersentasie. Mans bo 85 se kanse om te sterf aan die virus is 11% met vroue by wie die kanse om te sterf 8% is (lees hier). Maar daar is ook diegene wat dit nie oor hul hart kan kry om die oues en ander blootgesteldes ter wille van die ekonomie vir die wolwe te gooi nie.

“Hoeveel is een mensenleven u waard? Nu de sociale, economische en zelfs ecologische schade van de pandemie duidelijk wordt, stellen meer mensen zich die vraag luidop.” (Hoeveel is ’n menselewe werd? Noudat dit begin duidelik word wat die skade, maatskaplik, ekonomies en selfs ekologies beloop, is daar al hoe meer mense wat die vraag hardop vra.) So het De Standaard gister gevra na aanleiding van toenemende eise wat daarop neerkom dat regerings die koste van ingrendeling moet opweeg teen die koste van veral ouer mense, en mense met onderliggende gesondheidsprobleme. Die vraag dui ook duidelik aan dat die Covid-19-pandemie se koste nie net in terme van gesondheidskoste bereken kan word nie, maar ook in terme van sosio-ekonomiese koste, wat die sleureffek oor tyd in ag behoort te meet. Net die koste aan werksverliese dui reeds aan dat dit alleen reeds bitter duur is. En kan daar geldwaardes gekoppel word aan die verlies aan geestesgoedere, kultuurskatte en verlies aan broodwinners, alles geld werd?

Met ’n onlangse versoek van TLU SA aan die regering om die inperking te laat vaar, is die belangrikheid van ’n gesonde ekonomie herbeklemtoon. Die TLU SA wys daarop dat die regering ook voorheen gewaarsku is, maar desondanks met sy onwerkbare planne voortgegaan het, en die land daarna rommelstatus verwerf het. Dit blyk dat die regering steeds sy onwerkbare ideologie wil toepas.

“Dit blyk dat ons ʼn jaar later nog meer rede tot kommer het,” het Louis Meintjes, die president van TLU SA, gesê. “Ons land is in rommelstatus soos wat ons voorspel het gaan gebeur, maar steeds maak die regering geen aanstaltes om die ekonomiese beleid so te verander dat ons weer by ʼn groeipunt uitkom nie.”

Of die toenemende oproepe uit veral briewekolomme en leserskommentare in die media, asook in die sosiale media, dit bedoel of nie, klink dit baie asof hierdie mense bedoel dat sommige mense so min werd is dat hulle lewens gerus op die brandstapel geplaas kan word ter wille van kostebesparing om die ekonomie weer op dreef te kry.

In ’n beskaafde gemeenskap met ’n morele onderbou is hierdie ’n sensitiewe saak. Reeds kort na die aanvang van die post-1994-Suid-Afrika het dit geblyk dat die grondwetlike bepaling oor elke mens se reg op lewe nie absoluut is nie. ’n Persoon wat van ’n dialisemasjien afhanklik was om te bly leef, se aansoek voor die Konstitusionele Hof dat die staat verplig moes word om die diens te lewer omdat hy self dit nie kan bekostig nie, het misluk. Hy is kort daarna dood. Dié morele keuses teenoor beskikbare fondse is meer alledaags as wat ’n mens dink. Verlede jaar nog het ʼn weduwee naarstigtelik na fondse gesoek omdat haar enigste kind, ʼn 27-jarige dogter, melanoomkanker het en al wat haar lewe kon red was ’n nuwe Amerikaanse middel, maar teen R1 miljoen per dosis. Geen mediese fonds is bereid om daardie koste te dra nie.

Dan raak ’n mens nie eens aan die kwessie van aborsies nie.

Maar dis ook nie so eenvoudig nie. Die ander kant van die munt is dat deur met vasgrendeling die sterftekoers van Covid-19 die ekonomie te verwoes, word ’n enorme aantal lewens óók op die spel geplaas – lewens van mense wat waarskynlik gesonder sou wees en ’n groter ekonomiese impak sou maak as hulle wat weens ouderdom, gestremdheid, chroniese siekte en ander faktore broos is. Verskeie instansies het juis onlangs gewaarsku dat die verliese weens Covid-19 nie te ver in die toekoms nie, kan veroorsaak dat die lewensverliese weens voedselskaarsheid groter gaan wees as weens die pandemie. In sommige scenario’s is daar genoeg kos geproduseer, maar onbevoegdheid en korrupsie verhinder dat dit die noodbehoewendes bereik.

In Suid-Afrika stuur die hele kwessie van hoe die eietydse Sanhedrin wat die pandemie se bekamping moet bestuur, hul werk doen op die howe af. Die grondwetlikheid van ’n instelling wat verskeie kabinetsfunksies oorneem sonder dat die parlement kans gehad het om in te tree, se grondwetlikheid word eersdaags in die howe getoets. Die doel is om diegene te stuit wat besig is om blatant die staat se regeervermoë en grondwetlikheid te kaap.

Kan enigeen dit oor sy hart kry om ’n hedendaagse Herodes te wees wat vir die Bybelse babamoord verantwoordelik was? Dié keer die meestal kwesbare en broses op te offer, of deur ideologiese stommiteit selfs gesonde en intelligente mense van dagoud tot stokoud hul daaglikse brood te ontneem – selfs waar die spreekwoordelike dag veel langer as ’n kalenderdag strek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Babamoord vind reeds plaas sedert die goedkeuri.ng van A borsie.
Om egter kos uit die monde van kinders en armes te neem en vir jouself toe te eien is???? Al wzt ek weet is dat hulle gaan eendag moet antwoord wanneer Genadetyd verstreik het.

Irma

Sarel ek stem heelhartig saam met jou, om so ongevoelig, onbedagsaam en magsbehep te wees om kos te weerhou van inwoners van ‘n land sal NIE ONGESTRAF bly nie.

'n Simpelman

Dit moeilik en sal altyd 6 van een, en halfdosyn van ander wees.
Persoonlik en nie maklik gesê dink ek die mensdom sy kans vat en ekonomie oopmaak (geen lockdown).
Met natuurlik nuwe beskikbare reëls vir beskerming.

Adam Adriaan

Ons kan maar” Him en Haar” oor alles waarmee hierdie regering mee besig is. Die feit bly staan hulle word voorgeskryf om op te tree volgens die voorskrifte van Fourth Dimention/Prison Warders/Brotherhood en Elite. Dit sal nie verander kan word nie, tensy die bevolking van die land wat vir hulle stem, wakker word en sien waarmee die regering besig is. Totale beheer oor die populasie , deur hulle te verarm en totaal afhangklik te maak van die regering.( Slawnery ). NWO voorskrifte.

Fedup

Honestly, each and every life is precious.
We will debate about this government on another day.
All i can say, somewhere a line has to be drawn. Our lives ain’t a puppet show.
As for this economy, there is nothing left.